Monthly Archives: Januarie 2011

Alles het beter geword

Alles het beter geword

Soos belowe, brei ek ‘n bietjie uit oor die voordele van ons tyd teenoor die verlede.  Ons kan verskriklik bly wees om in die huidige tyds-“gewrig” te leef (‘n mooi woord), want die voordele is amper eindeloos.  Dink bv. aan die volgende:

In die ou tye is daar ‘n totale oormaat klere gedra.  Alles was formeel.  My pa het feitlik altyd ‘n das aangehad.  G’n niks jeans, t-hemp en plakkies soos die meeste van ons rondloop nie.  Nee – flannelrige langbroek, wat vreeslik warm en jeukerig kon raak, lang kouse – vroeër tye skynbaar nog met sulke ophouertjies van rek bo gehou.  Ek praat nou van mans, nè, so onder die knie.  Dan, die onderbroek.   Niks anders nie as ‘n reuse Y-front (altyd wit) van daardie gaatjiesmateriaal.  [Ek sal my maar nie op die terrein begeef van vroue se girdles en garters en dergelike bloomers, brazieres en “buuste-lyfies” (wat dit ook al mag wees) en ander “vormdrag” en “steundrag”  wat hulle moes help indruk, opdruk en uitdruk nie.  Shame – dit was erg.]  Knarserige leerskoene was die norm, skynbaar altyd te klein of te groot.  Onthou, slegpassend was die in-ding.  Bolangs is daar eers ‘n onderhemp gedra (wat ons genoem het ‘n “wes”), dan ‘n hemp, onderbaadjie, baadjie en jas (indien nodig).  Strikdas.  Dan, om die ensemble af te rond, ‘n hoed.  Tot net omtrent 50 of 60 jaar gelede het alle mans altyd ‘n hoed gedra.  Dit was verpligtend.  As jy baie grand aangetrek was, ‘n pluiskeil of bolkeil, so nie so ‘n slap tipe hoed soos die private eyes van die 50’s (Columbo het nog so ‘n hoed gedra), of ‘n “stetson” (‘n cowboy-hoed soos wat John Wayne gedra het).   As jy totaal informeel was, moes jy steeds iets op jou kop hê, onthou dis verpligtend, en dan het jy ‘n pet gedra.  Maar iets moes op jou kop – om kaal kop te loop, was seker maar ‘n skande, dink ek.  Dan was jy amper klaar aangetrek, want al wat jy nog gekort het was ‘n stok in jou hand.  Ja inderdaad, jy kon nie die huis verlaat as jy nie ‘n wandelstaf in jou hand gehad het nie.  By die voordeur het ‘n hele klomp van hulle in die hall stand gestaan by die sambrele.  Kies maar een daar, boere-ooms was lief vir ‘n kierie met so ‘n gebuigde bokant.  Sommige was grand, so ‘n blink swart, versierde ding.  Ek weet eerlikwaar nie wat jy met so ‘n stok gedoen het nie, maar dit was seker handig om honde van jou weg te hou of om sienswaardighede uit te wys terwyl jy op jou wandeling was, of soos Ben Trovato sê, om vir die ou vrou mee te wys waar die tyd al staan (op die grandfather clock) en daar is nog nie tee gemaak nie!  In die ou tyd was daar baie meer tyd en is daar daagliks gewandel.  Iets wat ek nog onthou, is dat die ooms wat kantoorwerk gedoen het sulke silwer of goue kettinkies wat kon rek aan hulle bo-arms gedra het om hulle moue bo hulle polse te hou terwyl hulle skryf.  Anders was die moue heeltemal te lank.  Ek kan ook byvoeg dat alle klere hopeloos te groot was – reuse kardoesbroeke wat soos ‘n sak aan jou gehang het en ‘n oorgroot baadjie was die normale ding.  O ja, dan die pyp, sigaar of sigaret.  Letterlik almal het gerook.  Die restaurent, fliek en vliegtuig was altyd blou van die rook (daar was wel ‘n rookseksie, maar wat help dit as die rookseksie by die persoon langs jou begin?)

Dit bring my by TV en tegnologie (of die gebrek daaraan) – vandaar die lang wandelings.  Ons het natuurlik ‘n telefoon in die huis gehad, of soos my ouma gesê het, ‘n foun.  Sy het ook van ons mouter gepraat, wat my pa ge-“dryf” het.  My pa was on top of technology, want hy het sommer fonogramme (telegramme oor die foon) gestuur.  Jou telegram was die vinnigste boodskap wat jy kon deurkry na iemand toe – jy het ‘n vorm in die poskantoor gaan invul (of soos pa oor die foun uitgespel), waarna dit oor geteleks is, en ‘n briewebesteller het dan anderkant op sy rooi fiets gespring en gesaag om dit te gaan aflewer.   Dit was iets besonders as jy ‘n oproep van ‘n ander stad gehad het – my pa sou dan amper uitroep “hooflynoproep!” en dan ekstra hard praat.  Daar was ook radio.  Min of meer almal kon kortgolf opvang (met ‘n groot gesuis tussenin) en mediumgolf het ook ‘n paar stasies gehad.  FM, die helderste klank, was ietsie van ‘n luukse en nie almal kon dit opvang nie.  Daardie tyd is nuwe radios ook verkoop as “FM”-radios, darem nie sommer sulke hierjy kortgolf stelletjies nie.  Ons het ook ‘n platespeler gehad.  Nylon of iets is gebruik vir die hipermoderne 33 rpm groot swart musiekplaat (“long playing record”) – voor dit was plate dikker en van bakeliet, of so iets.  Elektronika was nog nie eintlik uitgevind nie, dus: geen TV, rekenaar, selfoon,  internet, ens.  As jou pa iewers rondry en vergeet het om jou by die skool op te tel, kon jy nie bel nie.  Jy het doodeenvoudig gewag.  Mens moes baie wag in daardie tye – maar dit was OK.  Jy was rustig – daar was tyd.  Ons het eintlik heel goed reggekom sonder selfone.  Daar was wel ‘n telefoonhokkie naby, waar jy 5c of 10c of 20c kon ingooi om te bel.  Maar nou ja, hulle was meeste van die tyd stukkend.

Wat motors betref, ‘n uitvinding van so 100 jaar oud:  toe ek jonk was, het mense nie eintlik viersilinder karre gekoop nie.  Dit was te swak.  Daar was net ‘n paar Japanese modelle (en hulle het ‘n slegte naam gehad) wat vier silinders gehad het en dan daardie piepklein Italiaanse minikarretjies met drie wiele wat klein enjintjies gehad het.  Niemand sou in daardie tyd gedink het dat Toyota vandag die hoofverkoper in die wêreld is nie (en dat Korea karre sou maak, sou net belaglik wees) – dat Ford die maak met ‘n slegte naam sou word (op ‘n tyd), en Chev moes baklei vir enige markaandeel hoegenaamd, sou almal stom geslaan het, want daardie tyd was dit maar ‘n stryd tussen Ford en Chev.  BMW en Audi het in daardie tyd sulke pieperige sedannetjies gemaak, en Volkswagen se aanbod was die Kewer (en ‘n derde van alle karre op die pad was Kewers, en dis nou letterlik, en die Kombi. Mercedese was eers so ronderig, en later met sulke effense vlerkies agter by die agterligte.  Onthou, dit was die tyd van die groot karre – reusagtige bonnets, oop kappe, kunsleer banke voor en agter, stuurwiel met silwer ring op vir die toeter, gear lever in die stuurkolom, vlerke agter.  Ramblers, Buicks, Fairlanes, Chryslers, Dodges en die versameling Fords en Chevs. Om terug te keer: ordentlike karre het ses silinders gehad (ons het ‘n Chev 3.8 gehad en dit was nog nie die grote nie – hy was 4.1 liter), en die groter karre was 8 silinders.  Studebaker het hulle nooit verwerdig om iets anders as 8 silinderkarre te maak.  Ja, reuse karre, reuse enjins, reuse snelhede, Mariebeskuit-dun wieletjies, ellendige remme, geen sitplekgordels – in kort, doodskiste op wiele.  Ek onthou dat die meeste karre toe ek nog klein was aangesit kon word deur dit voor met ‘n slinger te draai.  Daar was wel ‘n elektriese aansitter, maar as jy met ‘n pap battery sit, kon jy dan sommer die kar met die slinger start.

Kom ons beweeg na “lewenstyl” (as mens dit so kan noem, ha ha).  Vroeër was die toilet buite die huis – die “kleinhuisie” het agter op die werf gestaan.  Dit was ‘n onbeskryflike aaklige plek, ‘n plank met ‘n gat in en ‘n stappeltjie koerantpapier.  Klomp vlieë, natuurlik.  Daar is nie op die toilet tyd verspil deur ‘n lesery of ‘n getuur nie, nee meneer!  Dankie tog vir die uitvinding van die “binnetoilet” oftewel die “spoeltoilet”.  Die spoelbak was daar hoog teen die muur en daar was letterlik ‘n ketting wat getrek moes word om die toilet te laat spoel – vandaar dat die ou mense sou praat van “die ketting trek”, lank na die letterlike ketting verdwyn het.  Ai, en dan was daar ook die gebruik om onder die bed ‘n chamber pot te hou,  sooo gerieflik dan hoef mens mos nie in die nag na die kleinhuisie toe te gaan nie.  The less said, the better – die lewe het ook vir die chamber maids van hierdie wêreld drasties verbeter!   In elk geval, meer onlangs is die toilet in die badkamer geplaas (‘n onpraktiese reëling), vroeër was dit altyd ‘n aparte vertrek.  Trouens , nog vroeër was daar geen badkamers in huise nie.  Elke slaapkamer het ‘n wastafeltjie gehad met ‘n marmerblad, en ‘n kom en beker.  Uit die beker het jy water in die kom gegooi en dan het jy voor slapenstyd jou lyf gewas met ‘n waslap en seep – soggens net gou gesig gewas en jy was reg!

Onthou – geen haardroërs nie.  Hare was dus maar au naturel – m.a.w. dis gekam en so gelaat soos dit was.  Mans het die natuur gefnuik deur Brylkreem op te sit – ‘n ligte room waarmee jy jou hare natgelek en plat op jou kop kon hou die hele dag.  Ek onthou ‘n advertensie in ‘n fliek. ‘n Klomp mans staan en kyk vir die kamera.  ‘n Wind kom op en almal se hare waai deurmekaar, behalwe een s’n.  Sy platgelekte hare bly styf teen sy kop – aha, die Brylkreem-man!  Grease is the word… Kom ons wees reguit – feitlik almal se hare was in daardie tyd lelik.  Vroue se hare is opge-tease, en ingekrul, maar vir baie mense was dit sondig om jou hare te kleur.  Hulle was dus vroeg grys.  Dan was mense in die ou tyd ook baie vroeg oud – eerlik, op 40 het mense gelyk soos deesdae se 60 – die wear en tear was erg.  Sonskade ook.  Die in ding was tan – almal het ge-tan so dikwels as hulle kon.  Ure en ure is in die son gelê en hulleself beetrooi verbrand, natuurlik.  Om nie eers van die tande te praat nie… onthou, geen ortodonsie, inplantate, caps of bleiking was moontlik nie.  Meeste mense het maar skewe tanne gehad en dit was dit.  As die gat groot was, het die tandarts sommer die tand uitgepluk – spaar jou baie moeite vir die toekoms!  Trouens, dit was ‘n mode op ‘n tyd om al jou perfekte tande op 16 te laat uittrek en te vervang met plastiektande wat wankelend in jou mond vasplak en jou verhoed om vir die res van jou lewe steak, biltong, appels, ens. te eet.  Wat het hulle gedink?

Wat ons gesondheid oor die algemeen betref, is ons dus baie beter af as ons voorsate.  Die ou mense het hulle eie idee gehad oor siektes en genesing, wat totaal onwetenskaplik was.  As jy oorpyn gehad het is dit “reggedokter” (ha-ha) deur warm soetolie in die oor te gooi – nodeloos om te sê dit het geen effek gehad nie.  Gebarsde oordrom was jou voorland.  As jy masels het, moet jy net nooit naartjies eet nie, of bad nie, om te verhoed dat dit “binne toe slaan”, en as baba se tande “in die kaste inskiet” help ‘n bietjie brandewyn op die gums – meer brandewyn werk natuurlik  nog beter!  Brandwonde het dadelik botter, of tandepasta opgekry, en iemand met koors is warm toegewikkel.  Dan sal die koors hemelhoog styg en kan hy dit uitsweet (of sterf).  Tandpyn is behandel met naeltjie-olie en vratjies is met ‘n halwe aartappel gevryf.  Dan plant jy die aartappel en as dit opkom, val die vratjie af. Wat “hulle” sê (“hulle” was ‘n kragtige bron van waarhede) ook gewerk het vir vratjie is om dit op volmaan maan toe te blaas.  Jy blaas net oor die vratjie in die rigting van die maan.  Dan het mense daarin gespesialiseer om te verneem van rate wat sou werk vir dit of vir dat.  Daar was geen logiese verband tussen die siekte en die raat nie, maar dis absoluut geglo. Aambeie?  As jy gebad het, droog jou hande eerste vinnig af, tot dit kurkdroog is.  Droog dan die res van jou lyf af.  Aambeie sal vinnig verdwyn.  Hou aan om op hierdie manier af te droog en jy sal nooit weer las hê nie.  Sekere ernstige siektes van die ou dae bestaan nie eers meer nie – mense het bv. ‘n “senuwee-ineenstorting” gekry (of aan hulle “senuwees gely”).  Baie medisyne is gebruik om “die bloed te suiwer”.  Daar bestaan natuurlik nie meer sulke diagnoses nie.  Een van die ergste goed wat met jou kon gebeur was om “koue te vat” – dit het gebeur as jy te koel aangetrek was, of in ‘n trek gesit het.  As jy verkoue gekry het, het jy gedink aan ‘n keer wat jy dalk voor ‘n oop deur of venster gesit het, of jy sou sê dit het skielik koud geword onlangs, of mense sou sê dit is koud en dan weer warm, koud en dan weer warm.  Daar’s jou verklaring!  Niemand het gedink dit gaan oor verkouevirusse nie.  Jy kon natuurlik ook ‘n “koue op die blaas”, of op die niere kry.  Hou tog net alle vensters toe!

En trek jou wes aan!

Advertisements

Henri Nouwen – Die Terugkeer van die Verlore Seun

 

 

 

 

 

Henri Nouwen – Die Terugkeer van die Verlore Seun (Lux Verbi, 2007)

Nouwen is een van daardie skrywers wast die kontemplatiewe wêreld vir ons oopmaak. Hy gee dieper antwoorde, op dieper vrae, as waaraan ons gewoond is en waarvan CUM vol is. Hierdie is weer so, en vir my was dit wonderlik. Dit is die Afrikaanse vertaling van die oorspronklike uit 1992. Dit gaan oor Nouwen se reis met Rembrandt se gelyknamige skildery.

 

 

 

 

Eers bespreek hy die skildery in detail en dan beskryf hy hoe hy die karakters een vir een beleef (m.a.w. mee identifiseer):

Die verlore jonger seun is die rebel wat in elkeen van ons is. Ons wil ons eie ding gaan doen, weg van pa se beperkende toesig af. Ons wil egter van hom vat wat ons kan kry. Ons wil iets van Hom hê, maar nie vir Hom nie. Dan die punt van selfontdekking en bekering. Die verskil tussen seun en slaaf. Hierdie temas ken ons en het ons al oor gepreek, maar ek het nog nooit gepreek oor die volgende nie:

Die verlore ouer seun. Die verhaal is van ‘n man wat TWEE seuns gehad het. Hy het altwee lief en wil altwee by sy fees insluit, maar altwee wil nie kom nie – altwee is kwaad en verlore. Die ouer seun is die verantwoordelike een, maar verbitterd, krities, sinies. Hy kan nie sy broer liefhê nie. Hy sukkel met genade. Hy voel God is onregverdig. Hy meet alles aan prestasie. Ook hy sukkel om die seunskap te voel. Die pa reik ook buitengewoon na hom toe uit en nooi hom na die fees van vergiffenis en insluiting.

Die vader. Ons is seuns, maar ons is bedoel vir vaderskap. Ons moet word soos God is. Nouwen sien in die vader van die gelykenis God in sy manlike sowel as vroulike gedaante. Sy strengheid, sowel as sy sagtheid. Hy is nie onregverdig nie, maar wel baie lief. God se hart is seer omdat Hy so liefdevol is. Hy wil sy seuns by die huis hê, en met hulle ‘n fees deel. Ons is ook op pad, deur ons geestelike groei, na daardie liefde, genade, aanvaarding, aanvaarding. “Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is”, sê Jesus.

Hy beskryf dus ook die geestelike reis, van bekering tot by volwassenheid. Persoonlike voel ek ook dat die Gelykenis van die Verlore Seun die ware Bybelse illustrasie is van wat bekering is en ek wil dit ook gebruik om een of ander Christenskap 101 of so iets te maak. Mens kan die hele gelykenis dan bv. verder neem in ‘n kursus oor geestelike groei. Hierdie boek sal my daarmee kan help.

‘n Paar aanhalings

Pa aan die ouer seun: “Jy was nog altyd by my. Alles wat ek het is joune”

Die kernboodskap van die evangelie word in die gelykenis van die verlore seun vasgevat en die luisteraars word opgeroep om hulle eie keuses daaroor uit te oefen. p.70.

Dit maak nie saak of ek die jonger of ouer seun is nie, God wil my net huis toe bring. p.86.

Die pa vergelyk nie die twee seuns nie. Hy het hulle altwee volkome lief en druk sy liefde uit volgens elkeen se persoonlike lewensreis p.88

Ek hoef nie te wag tot alles gereed is nie, maar ek kan feesvier oor elke geringe teken dat die koninkryk naby is. P.125

Vanuit God se oogpunt is slegs een verborge daad van berou, een geringe gebaar van onselfsugtige liefde, of een kort oomblik van ware vergiffenis nodig om God van sy troon te laat afspring en te laat hardloop na die terugkerende kind en om die hemel met die klank van Goddelike vreugde te vul. p.126


Thomas Merton – Contemplative Prayer

 

 

 

 

 

Thomas Merton – Contemplative Prayer, Darton, Longman and Todd, 2005 (eerste uitgawe 1969)

Ek wil hierdie jaar baie meer lees oor die kontemplatiewe lewe, en hierdie boek van Thomas Merton was ’n baie goeie begin. Dit is ‘n classic aan monnnike e.a. contemplatives oor wat kontemplatiewe gebed is. Ek het al ‘n jaar of twee daarmee begin, maar nie ver gekom nie, veral omdat die eerste deel nogal histories en droog is. Dit gaan na die kerkvaders toe en dui aan hoe kontemplatiewe gebed as ‘n eg Christelike gebed ontwikkel. Die ideale teenvoeter vir diegene wat dink kontemplasie is ‘n “oosterse” of boedhistiese ding, of New Age, wat nou ewe skielik deur Christene gegryp is. Vir hoofstukke word die een na die ander kerkvader, woestynvader, leraar, mistikus, ens. van die Westerse en Oosterse kerk aangehaal in wat die gebed van die hart en trouens, ‘n kontemplatiewe houding teenoor die hele lewe. Contemplatio (alhoewel Merton dit “meditasie” noem) is ‘n uit en uit Christelike gebed – trouens die hoogtepunt en kroon van alle gebed. Dit rig sig uit en uit op die Here Jesus, en wil die vals voorstellings en aanwendsels van die self oorkom. Dit wil by Hom wees, die Bron van die Lewe. Ek wil die temas lys (alhoewel die hoofstukke nie titels het nie) – net om ‘n idee te gee waaroor dit gaan:

• Wat is kontemplasie, stilte en die gebed van die hart?

• Wat is die rol van intensie en metode in die gebed van die hart?

• Wat is die rol van die gedagtes in die gebed van die hart?

• Wat is die rol van die self (ego) in die gebed van die hart?

• Wat is die balans tussen kontemplasie, liturgie (publieke gebed) en aksie?

• Wat is die rol van leegheid, donkerheid, stilte en woestyn in die soeke na God?

• Wat is die rol van wanhoop (dread) – ontologiese angs – by kontemplasie?

• Watter gevare of vals voorstellings moet ons van bewus wees?

Die boekie sal dalk vir sommige nogal moeilik wees (afhangende van jou agtergrond), maar was vir my uitstekend. Om ‘n contemplative te wees, is ‘n roeping en beslis nie vir almal nie. Maar om ‘n kontemplatiewe houding in die lewe in te slaan is baie nodig vir alle Christene. Ek gaan beslis hierdie boekie weer lees en gebruik in ‘n reeks wat vir ons voorlê, nl. Contemplatio.

‘n Paar aanhalings:

Every man who delight in a multitude of words, even thpough he says admirable things, is empty within. If you love truth, be a lover of silence. (p33)

Recollection is listening for God’s will, in direct and simple attention to reality. (p82)

Prayer then means yearning for the simple presence of God, for a personal understanding of his word, for knowledge of his will and for capacity to hear and obey him. It is this something much more than uttering petitions for good things external to our own deepest concerns. (p82-83)

Iro “suffering”: Prayer must be accompanied by “conversion”, metanoia, that deep change of heart in which we die on a certain level of our being in order to find ourselves alive and free on another, more spiritual level. (p89)

In meditation we do not seek to know about God as though he were an object … We seek to know God himself, beyond the level of all the objects he has made and which confrints us as “things” isolated from one another… The infinite God has no boundaries and our minds cannot set limits to him or his love. (p98-99)

God is invisibly present to the ground of our being: our belief and love attain to him, but he remains hidden from the arrogant gaze of our investigating mind which seeks to capture him and secure permanenty possession of him in an act of knowledge that gives power over him.  (p103)

Uitstekende definisie van die gebed van die hart:  Meditation or “prayer of the heart” is the active effort we make to keep our hearts open so that we may be enlightened by him and filled with this realisation of of our true relation to him. (p103) Dis nie ‘n aksie van my kant af nie – nie eers ‘n “luister na sy stem” of “soeke na Hom”, of “ontvang” van Hom nie, dis ‘n brandende hart wat op Hom en Hom alleen gerig is, anderkant eie gedagtes, woorde, beelde en motiewe.

Contemplative prayer is, in a way, simply the preference for the desert, for emptiness, for poverty (p.111).

 


Francois Wessels – Wie was Jesus regtig?

 

 

 

 

Francois Wessels. Wie was Jesus regtig?

Hierdie boek het my nogal verras.  Ek het gedink om hom vinnig deur te scan, want dit is ‘n wetenskaplike boek, vol van die historiese Jesus, verligting, Schweitzer, Bultmann ens. tot by die Evangelie van Tomas, die Q-bron, die Jesus Seminaar en John Crossan se beskrywing van Jesus as ‘n alternatiewe filosoof.  Dan kom beskrywing van verskillende kante van Jesus as geesdrywer/as profeet van Sofia, as hasidiese rabbi, as opstoker profeet, as Messias, ens.  Dit het nogal al hoe interessanter geword.  Dan sluit hy af met die aanhaling van Tom Wright se vier riglyne vir verantwoordelike geskiedskrywing (mbt Jesus):

  • Volkome histories-positiwistiese historiese ondersoek is onmoontlik – die laag van geloof, dogma en tradisie sal altyd daar wees
  • Ons moet ons bes probeer om vas te stel wat werklik gebeur het – maw tsv die bg moet ons nie tevrede wees met die vertelde Jesus alleen nie
  • Tekste is die draer van ‘n worldview en ons moet die Joodse en antieke wêreldbeskouing goed verstaan
  • Ons moet die bedoeling van die skrywer verdiskonteer sowel as die outonomie van die teks (‘n en-en benadering).

Dan gee hy ook vyf sleutels wat baie belangrik is vir enige wetenskaplike Jesus ondersoek:

  • Hoe pas Jesus in die Judaisme van sy tyd in?
  • Wat was Jesus se doelstellings?
  • Waarom is Jesus gekruisig?
  • Waarom is Evangelies wat hulle is?
  • Hoekom het die vroeë kerk begin?

Wright maak heelwat van die opstanding om die laaste vrae te antwoord.  Die boek het ewe skielik vir my ‘n baie interessante wending geneem, ter voorbereiding vir die Jesus Kursus wat ek beplan vir Padlangs.  Alhoewel ons kursus nie wetenskaplik in sy aanbieding sal wees nie, maar sal fokus op geestelike groei, kan mens so iets nie skryf as jy dit nie op gesonde wetenskap baseer nie.  Wat veral belangrik is vir my, is om deur ons eie kerklike tradisie te breek (die makgemaakte, gesaniteerde Jesus, dus) om by die Jesus van die Nuwe Testament te kom en te probeer verstaan waarom sy claims so erg was dat hy daaroor gekruisig is.  Daardie radikale Man is ons Meester en maak sy aansprake ook steeds in ons lewe.  Dit is daardie essensie wat ons wil vasvang (so ver moontlik).

Die waarde van hierdie boek, as die laaste een van verskeie oor Jesus wat ek in 2010 (ter voorbereiding van ons kursus) gelees het (en almal sal tot die kursus bydra), was vir my soos volg:

  • Die verstaan van Jesus as Jood en die Joodse konteks in elke opsig
  • Die verstaan van die rede waarom Jesus gekruisig is.  Ons bestaande (kerklik-tradisionele) begrip is nie voldoende nie.  Ons dink dit is blote nydigheid van die kant van die Fariseërs, omdat ons nie die Joodse en Romeinse konteks verstaan nie.  Jesus was meer as ‘n godsdienstige andersdenkende of irritasie – iets in sy boodskap was so radikaal dat Hy ten alle koste uit die weg geruim moes word.

 


ALLES gaan agteruit!

Dumbing down, noem hulle dit. Almal word dommer. Hoërskoolkinders het 150 jaar gelede Grieks op skool geleer, en ‘n 100 jaar gelede Latyn. Toe ek jonk was het die slim kinders gekies tussen Duits of Wiskunde. Duits is deesdae te moeilik vir kinders en net enkeles in die skool doen dit, gewoonlik as buitemuurse vak. So het teoloë in die verlede Grieks en Hebreeus gedoen, juriste Latyn, maar hierdie verpligtinge word deesdae laat vaar. Ja, te moeilik. In die verlede het mense koerante en boeke gelees en BA geswot met tale, geskiedenis, ens. Hulle het kennis gedra van musiek en kultuur. Of hulle baie gelowig was of nie, hulle het die Bybel geken en kerk toe gegaan. Maar die totale aard van kennis het nou verander. Kinders doen eerder praktiese en toepasbare vakke (en dis ook makliker). Kennis is nie meer dit wat in die kop is nie, maar die miljoen maal meer wat beskikbaar is op die internet. Kundigheid raak al hoe meer gespesialiseerd – mense is veral kundig op een klein gebied. Kultuur het uitgebrei tot ‘n vlak en eenderse wêreldkultuur en bestaan maar uit dit wat Hollywood aanbied. Ja, ons “kultuur” is nou hip hop en Cartoon Network en McDonalds en die wel en weë van Brad Pitt en Angelina Jolie. Inheemse kultuurgoed soos om jou taal ordentlik te kan praat, jou volksliedjies en eie geskiedenis te ken is boring, belaglik en in elk geval polities inkorrek. Eerder meer uitvind oor Lindsay Lohan en ander super-rykes se sogenaamde probleme…

Ek is jammer, maar ek weet nie of dit alles goed is nie. Kinders lees nie meer koerant nie en kyk nie nuus nie. As dit so aanhou, sal ons kernfisici hê wat nie weet wie die land regeer nie (en nie omgee nie), silikoonvlokkie-ingenieurs wat net CD’s koop van (…amper noem ek name, maar ek verwys na “sangers” wie se “liedere” net bestaan uit sinnelose rympies op ‘n lekker stampritme – jy weet, die topverkopers), of bestuurslui, bemarkers of pastry chefs wat nie weet waar Skotland is, wie Mandela eintlik was, of waar om die boek van Genesis te vind nie. Eenvoudige volksliedjies soos My hartjie, my liefie is reeds totaal onbekend. Ons praat dus van basies dom mense met baie kennis van net een spesifieke veld. Tweeduisend jaar terug het mense hele Bybelboeke uit die kop geleer, honderde jare gelede het Chinese met abakusse in sekondes bewerkings soos vierkantswortels en logaritmes gemaak, en selfs my ma moes op skool hul tafels tot die 15x tafel memoriseer. Dit was algemeen, maar ons gryp na die calculator as ons 7 met 8 moet maal. Ons kan nie een vers uit die Bybel memoriseer nie, dis te moeilik, wat nog te sê ‘n psalm. Dis letterlik die masjiene wat ons so dom gemaak het, en die TV is die hoofsondaar; daar is bevind mense se breingolwe gaan summier in stupid mode in, as jy die TV op hulle rig.

Dit gaan verder as net kennis. Die lewe was in die verlede baie meer beskaafd. Mans het ‘n hoed en ‘n jas gedra, selfs ‘n sambreel, en ‘n das aangesit as hulle uitgaan. (Ok, ek dink ons het gevorder hier…) Mans het onderhemde gedra, etes is in gange bedien, met gepaste wyne, glase en eetgerei by die onderskeie gange (alles kennis wat vandag heeltemal uitgesterf het), en daar is aangetrek vir aansit-etes, beddens het lakens, komberse en bedspreie gehad, en ‘n gastekamer en ekstra stelle linne was gereed vir gaste. Vroue het kennis gehad van kook- en bakkuns, en van preservering en konfyte. Mans kon dinge regmaak. Liedere het in die verlede regte woorde gehad, nie vandag se parrapa pappa pa pa, papa pa pa, parrapa pappa pa pa, papa pa pa, keboem (dis nou letterlik). Melodie is pleinweg verruil vir ritme, dis net soveel makliker. Die kuns is gewoon uit musiek gehaal, seker omdat gevoel word dis onregverdig om te diskrimineer teen die sonder talent. Talent en jare se oefening is elitisties. Trouens, om vandag onder jou ma se rok uit te vloek (en dis nou ook letterlik) is lekker zef en maak jou “sang”-groep, wêreldberoemd, ha ha. Alles wat commin is, is nou baie in. Sal ons spekuleer hoekom? Om te vloek is die nuwe humor, weereens veel makliker as om iets snaaks uit te druk, dubbelsinnigheid in te werk of ‘n punchline te verskaf. Om Afrikaans te praat met Afrikaanse woorde is ook baie moeite en ons mix ons taal eerder op met Engels, wat veel grander is.

Mens sien die verval ook in gesinne. Die ouers was nog ordentlike mense met nederige maar vaste werke en funksionerende huishoudings, meestal vroom en Calvinisties (deesdae ‘n vloekwoord), maar die kinders het uitgerafel: dronkgatte, rondvallers, lui en useless. Darem nou nie almal nie, nè? Baie mense trou nie meer nie (hoekom sal hulle), slaap nie meer op skoon lakens nie, of laat na om te was. Daar is geen opstaantyd, etenstyd of slaaptyd nie, geen gesonde reëls, roetines of gesinstradisies nie. Ouers weet nie waarheen met dissipline nie, en is verleë maar magteloos oor hulle onbeskofte en ongehoorsame kinders. Selfs kleintjies kyk in die middel van die nag na plus 18 flieks en speel moorddadige speletjies op die rekenaar waar die bloed teen die mure spat. Ha ha.

Die fliek “Idiocracy” bied ‘n guitige blik (dit het ‘n perk) op die toekoms. Die mense van die toekoms is vreeslik dom (hier is ‘n vraag uit hulle IK-toets: As die een emmer 5 appels het, en die ander emmer 3 appels,hoeveel emmers is daar?), met ‘n aandagspan van sekondes, maar met darem ‘n gesonde belangstelling in seks: hulle kyk graag na seks in elke winkel, restaurant en ander openbare ruimtes en lag hulle dan dood. Om hulle verval alles, maar die masjiene hou dinge darem aan die gang.

Nee, ek sê dis alles rubbish. Hierdie jaar gaan ek met hoër standaarde leef!

[Naskrif: Volgende keer sal ek deel oor hoe die wêreld verbeter het…]