Monthly Archives: Maart 2011

Sondebelydenis vir Aswoensdag

Sondebelydenis

Aswoensdag, 9 Maart 2011

neem my van my sonde weg

my altyd skaduwee

die vleeskant van my spektrum

en draai my om – bekeer my

Gees na waar U woorde vloei

verlig my, Lig

vergee my u omhelsing

Advertisements

An emergent manifesto of hope (Doug Pagitt & Tony Jones (ed)).

Doug Pagitt & Tony Jones (ed).  An Emergent Manifesto of Hope.  2007, Emersion, Baker.

Hierdie boek is vol bydraes van leiers uit die ontluikende kerk (emergent church) en gee ‘n verklaring, min of meer, waarom hulle doen wat hulle doen en voorbeelde van wat hulle doen.  Ek het – as mede-ontluikende Christen – daarvan gehou, alhoewel sommige bydraes nogal vervelig was.  Dit het net weer vir my bevestig dat (en dit is waaroor dit gaan, as jy gewonder het):

  • Die tradisionele kerk is nie opgewasse vir die nuwe generasies of die toekoms nie en drastiese verandering is nodig om weer relevant te wees vir ons kultuur;
  • Ons geliefde spesifieke evangeliese en charismatiese tradisies het ‘n spesifieke tyd en konteks gedien en dit is nie meer oral so nodig nie.  Ons prediking en metodes rondom persoonlike redding is bv. moeilik om in die Bybel terug te bind  – in die Bybel het mense op ander maniere tot bekering gekom.  Ons moet dus weer kyk na die Bybelse onderbou en die kontekstuele toepassing – ons is geneig om die twee te verwar;
  • Ons moet oor die algemeen sien hoe verweefd ons evangelie met die modernisme is – dit is heeltemal te individualisties, kommersieel en rasioneel.  Dit is ook so gerig op geld, geluk, voorspoed, sukses en glitz dat Jesus of die eenvoudige Nuwe Testamentiese kerk glad nie meer daarin herkenbaar is nie;
  • Nie net die vorme van ons evangelical tradisie moet verander nie, maar ook van ons inhoude.  Ons boodskap van heil is bv. hopeloos individualisties – ‘n individualisme wat Bybelse tye nie geken het nie (p81: The individualization of soteriology seems to fall short of the salvation imagery we find in the Biblical drama);
  • Die emergent beweging moet egter nie net die tradisionele kerk dekonstrueer nie, maar ook ‘n alternatief rekonstrueer – wat baie doen, en dit gee aanleiding tot baie opwindende vorme en variasies van kerk (bv. p71: ipv hul Paasfeesviering het hul ‘n park in ‘n swak gebied gaan skoonmaak en regmaak.  Vroeg op Paasoggend het die vroue eerste daarheen gegaan en al die gemors opgeruim, waarna die ander gekom het om plante te plant en vier ton sand in ‘n sandput afgelaai het vir die kinders.  In hul diensie daar het hul hande gehou en vir mekaar gesê: Hy het opgestaan – Hy het waarlik opgestaan!  In daardie oomblik was teologie en praktyk een, en het hul in die opstanding geglo soos nooit vantevore nie)
  • Die kerk se wisselwerking met die konteks, die kultuur kry nou baie aandag en al die bg. word verstaan onder die term “missionele kerk”.  Die klem van die ontluikende kerk is op community, verhouding, insluiting en gesprek en ortopraksie (eerder as ortodoksie).
  • Die modernisme wil alles reduseer tot eenvoudig verstaanbare skemas, terwyl die post modernisme werk met teenstrydighede, paradokse, chaos en misterie.  Die christelike geloof is immers vol daarvan: God as Drie-in-een; Jesus as God-mens; die mens as saint-sinner; redding as dit wat God/ek doen.  Dit is multiplekse en omniplekse denke.

Daar word ‘n vrye en radikale reimagining gedoen oor redding, kerk, sukses, teologie en metodologie (p 222: Always remember that – evangeliese – methodology flows from theology – waarom ons dus ook na die boodskap moet kyk)  Daar is ‘n kort opsomming van die verskil tussen existing en emerging church op bl 100.  Emergent kerk en postmoderne denke (vir sommige ‘n vloekwoord) is nie ‘n irritasie of randverskynsel wat sal verbygaan nie. Tradisionele kerk is aan die verbygaan en iets moet dringend emerge om sy plek te neem.  Hierdie gesprek sal in die toekoms alle kerke raak, ja hierdie sal DIE KERK RAAK van die toekoms.

‘n Paar aanhalings

  • What if we not only cultivated Christian fellowship through worship and small groups, but also held as a high priority the building of relationships with people who are not part of our church, even people who are very different than us? (p39) – m.a.w. dit is ‘n doelbewuste bediening in ons kerke om mense te leer om met ander in ‘n missionele verhouding te wees.
  • In asking me if I was a Christian (pastor aan ‘n kind in sy gemeente), and accepting my preteen answer, he essentialy told me that I wasn’t part of the community.  I wasn’t in; I was out.  And so I found myself spiritually homeless (p43) – ja, ons klem is om die evangelie ekslusief te hou, maar Jesus se bediening (let maar op) is strykdeur inklusief.  Al wie hy uitsluit is die skynheilige geestelikes!
  • In being centered in Christianity, we are  affirming that we are more concerned about where we find our centre than where we find our edges. (p49)
  • Not only soul, whole body!  Not only whole body, all of faithful community! Not only all of faithful community, all of humanity!  Not only all of humanity, all of God’s creation!  (p83)
  • Jesus was not countercultural as much as he was nonconformed within culture.  As a cultural insider, he embodied a message of life in those places where the culture advocated death.  Jesus lived in two realms simultaneously – both within human culture and submitted to the reign of God (p132)
  • It seems safe to say that “spirituality” is the religion of the twenty-first century (p166).  In die konteks dat hierdie generasie se soeke na die goddelike heeltemal by die tradisionele kerk of tradisionele geloof verbygaan;
  • What if we let go of our need for a branded and marketbale entity and turn instead toward a new way of living and being in the world (p168) – dit gaan oor die poging van die kerk om vas te klou aan die status quo terwyl hy net probeer om meer effektief, bemarkbaar en relevant te wees (alles eerste orde verandering), maar nie die paradigma te verander (tweede orde verandering) nie.

Die groot gevaar van eet (Deel 3)

Die slot-aflewering van ons hoogs wetenskaplike studie oor waarom ons nie behoort te eet, drink of asem te haal nie.  Die internet bewys aan ons dat dit tot ons dood sal lei.  Sterkte.

7)  Die gevare van suiker

Kom ons hanteer dit sommer nou en handel dit af.  Ons leef in ‘n suikermal wêreld.  Ons eet 470% meer suiker as wat ons in die natuur sou eet.  Ons kan suiker ook nie vermy nie, dis in alles:  ons tamatiesous, peanut butter, brood, bredies, soppe, groentes, ens. kry suiker by.  Hier is die gevaar.  Ons liggame is nie gemaak om soveel suiker te eet nie. As ons suiker in die bloedstroom kry, word insulien afgeskei om dit af te breek.  Halfpad deur ons lewe is die hele insulienmeganisme egter oorwerk en in sy peetjie en breek dit.  Dan sit ons met diabetes, wat natuurlik dodelik is.

Die probleem is dat verfynde suiker ‘n leë voedsel is: gestroop van alle voedingstowwe behalwe koolhidrate, is dit suiwer kilojoules.  Dit doen niks vir jou nie as om jou te laat vet word.  Dis egter nog niks – om suiker te metaboliseer stroop die liggaam homself van natrium, kalium, kalsium, magnesium en aluminium.  Om daarvoor te vergoed word jou liggaam se pH al hoe suurder.  Hoe meer suiker, hoe suurder jou liggaam – die oorsaak van o.a. Alzheimers, atritis, Chron’s,  psoriasis,  seniele demensie en wandelende bene.

Nee, ons moet dadelik ophou om suiker te eet.  Dit is totaal onnatuurlik in die dieet – geen dier neem soveel suiker in nie.  Daar is minstens 76 gevare daaraan verbonde.  Een daarvan is dat dit jou brein se werking onmiddelik vertraag – sinapse vuur 50% stadiger en ‘n glaserige blik in die oë ontstaan, veral hier teen 14:30.  Geweldige moegheid tree in en die pasiënt moet slaap.   11 glase water is nodig om een glas Coke se skade aan die brein te herstel, maar wie kan nou 11 glase water drink?  Geen wonder nie dat ons in ‘n idiotiese samelewing woon wat nie meer 7 met 8 kan maal sonder om ‘n calculator uit te ruk nie.

Moet nie meer ‘n kriesel suiker iewers ingooi nie – onthou, kos was nie bedoel om lekker te wees nie, maar om ons aan die lewe te hou.

8) Diverse ander gevare

Die volgende is almal dodelik vir die liggaam en moet ten alle koste vermy word:

  • Alkohol – alkohol (etanol) is ‘n kragtige senugif wat in ‘n laboratorium berei word en veral gebruik word vir die preserving van embrio’s e.a. wetenskaplike monsters.  In die liggaam kruis dit feitlik onmiddelik die bloed-barrier na die brein, waar dit die pasiënt dronk laat voel en onbeheersd laat optree. 
  • Olie en vet – moet asb. niks in diep-olie braai nie.  Teen ‘n sekere temperatuur verander olie se chemiese verbindings en word dit gewone plastiek (akrielamied).  Geplastineerde hoender dus, is wat ons as take out eet, geplastineerde vis, chips, ens.  Jy kry die prentjie.  En om plastiek te eet lei tot kanker, punt.  Harde margarien is erger as botter – ook suiwer kilojoules (onthou vet is 3000 keer so energiedig as koolhidrate), maar dit word kunsmatig vervaardig.  Dis bv. pikswart voor dit geel verkleur word uit en uit sodat dit soos botter kan lyk.  Vroeër was margarien wit, maar dit het nie so goed verkoop nie.
  • Peper – peper breek nooit af nie, soos DDT – al die peper wat jy ooit eet bly in die liggaam tot jy oud is en maak van jou ‘n behoorlike korrelkop, en dis nie net woordspeling nie.
  • Sout – soos ons reeds gesê het, het ons nou genoeg natrium (sout is natriumchloried) gekry vir die res van ons lewe.  Dit verhoog die bloeddruk dadelik met 30 punte en hoë bloeddruk gee weer aanleiding tot probleme soos hartaanvalle, beroertes en die dood.  Stop dit!
  • Kleur, geur en preserveermiddels – hierdie stowwe is totaal en al kunsmatig.  Dit word vervaardig in groot fabrieke vanuit verf en ander chemikalië en word in groot hoeveelhede bygevoeg om te verhoed dat ander kunsmatige kosse skei, vrot, van kleur verander, ens.  Tamaties word bv. met tamatiegeursel aangevul om meer soos tamatie te proe, letterlik.  Al hierdie produkte word nie deur die liggaam herken nie, en veroorsaak hewige reaksies.  Kanker is die vernaamste siekte, asook chroniese inflammatoriese en outo-immuun siektes asook obsessiewe gedagtes.  Lees die etiket en as dit nie net die kos self bevat nie, sit dit terug.
  • Kunsmatige versoeters – aspartaam is vandag ‘n biljoen dollar industrie en tonne daarvan word vandag orals ingewerk om suiker te vervang.  Ongelukkig bevat aspartaam, asulfaam-K, ens. kragtige industriële gifstowwe (veral fenielalalien en aspartiet) wat suksesvol aangewend word teen slakke, sprinkane, rondewurm e.a. peste. Die feit dat dit ons koffie soet laat proe – gag dan het dit nog daardie leë chemiese smaak – behoort ons nie te oorreed om dit in te neem nie.  Dit word in verband gebring met kanker, visuele probleme, gewrigsprobleme, fibromialgie, MS, duiseligheid, hoofpyne, menstruele probleme, nagmerries en reisnaarheid.  Asseblief.
  • Coca Cola – daar is reeds verwys na die suiker of kunsmatige versoeter daarin (elke glas Coke het 12 lepels suiker in) – ons kan maar net byvoeg van die kragtige suur daarin (fosforsuur – kyk maar self).  Gooi ‘n vuil 2c stuk in Coke en sien dat dit blink gevreet is die volgende dag.  Gebruik Coke om ghries van jou enjin af te haal, of om verf te stroop.  Nou ja, dis wat dit doen aan die binnekant van jou maag – maagswere, duodenale poliepe e.a. aandoenings van die ingewande is die gevolg, asook ‘n uiters lae pH.  Jy kan Coke i.p.v. swembadsuur gebruik.
  • Take aways – ons het reeds verwys na dit wat diep in vet gebraai is – geplastineerdekos, m.a.w.  Laat ons dan net byvoeg dat take aways totaal te veel vet (dikwels in die vorm van kaas) en sout bevat en uiters ongesond is.  Dit lei tot ‘n vetterige lewer (soek maar op) en die hele metaboliese sindroom waaroor dit deesdae gaan.  Take aways vat omtrent al die gevare wat hierbo genoem is saam in een oorprysde pakkie.  As jy weekliks take aways eet, is daar nie hoop vir jou nie – jy was gewaarsku.

9) Die gevare van water

Ten slotte:  moet in hemelsnaam nie water drink nie.  Daar is nie suiwer water op die planeet oor nie.  Water bevat 230 soorte vreemde chemikalieë wat tot chroniese laegraadse inflammasie en dus outo-immuun reaksies lei, asook kanker.  Ons sal nie eers op die hele klug van gebottelde water ingaan nie.  Gebottelde water is ‘n anomalie, ‘n absolute bemarkingstruuk dat ons iets so algemeen soos lug en sand benodig in spesiale bottels.  Ver meer water word gebruik om die bottel te maak as wat die bottel kan bevat en die berge plastiekbottels wat 250 jaar neem om te vergaan groei net aan en aan.  Dit is ‘n skande dat elkeen nou loop met ‘n botteltjie water, ha ha en die “behandelde water” wat so verkoop word is niks anders nie as gesuiwerde kraanwater.  Ironies is hierdie water so suiwer dat dit minerale in ons liggame oplos en uitspoel en weereens tot ‘n lae pH aanleiding gee.  Dieetkenners waarsku dus ernstig teen die oormatige gebruik van gebottelde water.  Kraanwater is weer so gechlorineer en geflurideer dat ons maar netsowel chloor en fluoor by die lepelsvol kan eet, hou dus verby.  Soveel mikroflora het al in die dunderm gevrek van al die chloor dat geen hoeveelheid probiotika dit weer kan herleef nie.  Ha ha en dan eet mense die kunsmatige, versoete, gekleurde, gegeurde, gepreserveerde produk genaamd “joghurt” om hul spysvertering aan te help, shame, onbewus dat dit geen egte joghurt is nie.  Egte Bulgaarse joghurt is ‘n kragtige pekelrige en suur produk met so ‘n skerp reuk dat jy jou neus moet toedruk wanneer jy sluk). Moet in hemelsnaam ook nie “vars water” uit ‘n rivier drink nie, ‘n derde van alle water op aarde is so besoedel dat die visse daarvan vrek.  En hoe sal jy weet watter water dit is.  Cholera, bilharzia, difteria, Geelkoors, en Nylkoors en elefantitis word almal deur slegte water veroorsaak.  Nee asseblief, los die water maar eenkant.

Dit is veral ‘n mite dat mens agt glase water op ‘n dag moet drink – niemand weet waar dit vandaan kom nie, maar dit word deur artikelskrywers herhaal en herhaal todat mense dit nou glo.  Jou liggaam het ‘n eie sisteem wat vir jou sê as jy water nodig het en ons noem dit dors.  Dink net, as jy agt glase water per dag moes drink, sou jy al die pad moes kamerverlaat en jou niere, blaas en baas sou dit nie kon verduur nie.  Dr Tim Noakes het dit bevestig. Gelukkig doen niemand dit nie, alhoewel dit steeds weekliks in tydskrifte herhaal en herhaal word.  Dis nou joernaliste wat hul lyf koskenners hou.

10) Die gevare van lug

Hiermee dan die laaste aflewering van ons insiggewende reeks.  Asemhaling is ook besonder ongesond en behoort eerder gestaak te word, hoe eerder hoe beter.  Daar is baie redes:

Besoedeling is seker die vernaamste:  dit is die 13de grootste bron van sterftes in die wêreld.  Dit is oorbekend dat die lug gelaai is met tonne en tonne giftige gasse soos koolstofdioksied, koolstofmonoksied, swaelwaterstof en koolwaterstowwe – sulke goed.  Dit is die uitlaatgasse van derduisende fabrieke en miljoene motors.  Verder bevat die lug tabakrook (wat self bestaan uit 91 gifstowwe), gifstowwe wat op plante en diere gebruik is, vlugtige gasse afkomstig van verf en chemikalieë.

Lug is ook vol kieme, waarvan stafillokokkus hemolitus en pneumokkus aurelius die vernaamste is.  Griep is jou voorland.  Hou summier op asemhaal of gebruik ‘n masker, soos Michael Jackson of soos baie Oosterlinge wat nie skaam is om goeie maniere te hê nie.

Sommige koop ‘n apperaat genaamd ‘n ioniseerder.  Dit sou nou negatiewe ione in die lug vrylaat wat dan nou so gesond is.  Toetse het egter bewys dat dit hoë vlakke van osoon in die lug kan laat, en osoon in hoë dosisse is natuurlik giftig.

Dan is daar die probleem van lugversorgers (air conditioners), wat die lugweë uitdroog en tot lugweginfeksies aanleiding gee.  Onthou dat mamma altyd gesê “moenie in die trek sit nie”, nou ja ‘n lugversorger veroorsaak ‘n permanente trek.

Dan het mense die nare gewoonte om ‘n air freshener te spuit nadat hulle iewers was.  Bo en behalwe die feit dat die reuk daarvan gewoonlik veel slegter is dit wat dit veronderstel is om te maskeer, bevat dit gevaarlike vlakke van ftalate.  Al vyf soorte ftalate modifieer die hormoonvlakke, veral van kinders, en lei tot groot probleme.  Maak jou eie spray van water – dit bind met die onwelriekende molekules en neem dit grond toe – as dit nog onlekker ruik, spuit net nog water.   Nog beter, vermy swaeldraende voedselsoorte soos kool, uie, knoffel en aspersie.

Slot

Dames en here, dit is dus afdoende bewys dat ons nie vleis, hoender, vis, suiwel, groente, vugte, neute, stysel, suiker, olie en vet, sout en peper, preserveermiddels of take aways moet eet nie, nie water, melk, vrugtesap, alkohol of Coke moet drink nie, en liefs glad nie moet asemhaal nie.

Jammer dat my verhandeling bietjie lank geword het – dit was eintlik nog die verkorte weergawe.

Lekker dag!

(Volgende keer deel ek oor my gunsteling kosse)