Monthly Archives: Junie 2011

Hands & Fehr – Spiritual Wholeness for Clergy

Hands, Donald R & Fehr, Wayne L: Spiritual Wholeness for Clergy (Alban Institute, 1994)

Ek het hierdie boek al jare gelede deurgegaan, maar moes hom onlangs weer deurlees vir ‘n student wat hieruit ‘n werkopdrag ingelewer het. Dis asof ek dit weer nuut gelees het en ek is absoluut beïndruk. Trouens, dit is vir my ‘n bestiering, omdat dit ‘n goeie bydrae maak vir die geestelike begeleiding-program (spiritual coaching) wat ek aan werk vir leraars, maak ook elkeen wat na heelheid soek in sy lewe. Ek wil die program ‘n opvolg maak van ons huidige “Innerlike Heling”. Hands & Feher se boek gaan oor leraars wat uitgebrand is en wat weer in kontak gebring moet word, met hulle self, God en ander. Hands & Fehr se value-add is die sinvolle etiologie wat hulle verskaf (die proses van deformasie) , asook ‘n tipe circumplex-model waarmee hulle werk. Ek kan van hulle gedagtes gebruik, maar sal dit moet uitbrei na vier dimensies (waarmee ek werk), nie net hulle drie nie, en dan dit oor die boeg gooi van heelheid (soos ek in die eerste kursus reeds gedoen het), nie net intimiteit nie.  Goeie, deeglike boek.  Al Alban se goed is goed (www.alban.org).

Advertisements

Robert E Webber – Ancient-Future Time

Robert E Webber: Ancient-Future Time (Baker, 2004)

Webber skryf ‘n boek oor die sg. Christelike Jaar, ‘n regula wat vir my meer en meer beteken soos my lewe aangaan.  Dit orden my lewe en my aanbidding en verplig my om alles te dek, nie net my gunsteling temas nie.  Dit gee my die geleentheid om jaar vir jaar deur Christus se werk te gaan en bied geleenthede vir vas en fees.  In ons evangeliese en charismatiese tradisies (ja, dis tradisie en ons klou vreeslik daaraan) ken ons dit net skraps – hou net by Kersfees, Paasfees en Pinkster, maar daar is meer.  Soos die postmoderne mens terugloop op sy wortels ontdek hy weer hierdie gebruike, wat steeds deur die grootste deel van die kerk gevier word.  Die mens van vandag wil wegbeweeg van ‘n serebrale, rasionale geloof en wil beleef, wil doen.  Twee strome uit die tradisionele kerk bestaan dus (selfs in die tradisionele kerk): die charismatiese en die kontemplatiewe.  Elkeen is nodig want dit verskil en vandag se mens se geloof is soos die huisheer wat uit sy skatkis ou en nuwe haal. Mense voeg by hulle geloofsbeoefening wat vir hulle sinvol is en iets unieks ontwikkel. Ja, die gevaar is uiterlikheid en formalisme – m.a.w. as ek deur die motions gaan as my hart nie daarin is nie, as ek dink dat dit al is wat nodig is.  As daar geen verhouding is nie.  Nee, daar moet ‘n diep persoonlike verhouding met God wees, maar elke inhoud het tog reeds ‘n vorm, hierdie een is net ‘n vorm wat na die eeue (dis eeue-oud) ons steeds sinvol lei en doelgerig wys op Hom waaroor alles gaan.  Webber gaan deur die hele Christelike jaar in sy boek (en elke deel het sy klem en temas), en ek het nogal deeglik daardeur gegaan, maar hou dit vir verwysing – dis so ‘n tipe boek.  Vir die wat belangstel, gee ek eerder ‘n oorsig oor die Christelike Kalender:

DIE EERSTE DEEL GAAN OOR DIE LEWENSLOOP VAN JESUS

1. Advent – die jaar begin met die vierde Sondag voor Kersfees, waarin ons die koms van Here verwag (en ook die wederkoms);

2. Kersfees is die 12 dae tussen 25 Desember en 5 Januarie en celebrate die geboorte van die Here – ook in ons moet Hy gebore word;

3. Epifanie op die 6de Januarie is die Oosterse Kerk se Kersfees, en in die Weste gaan dit oor sy verskyning in meer algemene terme: dit gaan oor sy aanbidding deur die drie wyse manne, sy doop en die begin van sy bediening.  Die roep van sy dissipels, sy wonders.  Dit gaan daaroor dat God in Jesus die aarde besoek en hoe ek daarvan deel is. Epifanie is die dag, maar die Tyd na Epifanie is die 6 tot 9 weke daarna afhangende van waar Paasfees in die jaar lê;

4. “Aswoensdag” is die sewende Woensdag voor Paasfees. Aswoensdag is die begin van die “Vaste” (Lent) of wat in ons kerke “Lydenstyd” genoem word – ‘n 40 dae (Sondae uitgesluit) tyd van vas, belydenis en barmhartigheid.  Die tema is Jesus se verwerping en lyding en wat dit vir ons beteken.  Die Vaste loop uit op “Lydensweek” of “Heilige Week” – die laaste week van die Here, wat ingelui word deur Palmsondag.  Dit is ‘n spesiale week vol betekenis en loop op na Goeie Vrydag en sg Stil Saterdag;

5. Paasfees, die opstanding van die Here is ‘n groot fees en lui die Paastyd in – die 40 dae waarin Jesus verskyn het tot op Hemelvaart.  Die temas is oorwinning (ook oor die Bose), nuwe lewe en die Here se intrede vir ons by die Vader.  Paasfees terloops is op die eerste Sondag na die eerste volmaan na die lente-ewening (in die Noordelike Halfrond).  Dit is steeds naby die Joodse Pasga, waar dit alles begin het.  Die verskil kom in by die gebruik van verskillende kalenders, Pasga is op die 15de Nissan (wat begin die aand van die 14de).  Ons gebruik die sg. Gregoriaanse kalender.

6. Tradisioneel loop Paastyd tot op Pinkster, maar in Suid-Afrika is daar tradisioneel Pinksterdienste (d.w.s. ‘n aparte Pinkstertyd) in die 10 dae van Hemelvaart tot Pinstersondag – dit gaan oor die Heilige Gees: sy krag, sy vervulling, bekering, ens.  Pinkstersondag is die 50ste dag na Paasfees.

DIE TWEEDE DEEL GAAN OOR DIE NALATENSKAP VAN JESUS

7. Na Pinkstersondag is dit Koninkrykstyd of wat die ou kerke noem “Ordinary Time” – tot en met Advent, m.a.w. omtrent ses maande.  Hierdie tyd vloei uit die vorige: Jesus het opgevaar, die Gees is uitgestort en die kerk moet aangaan met sy werk.  Dit gaan oor proklamasie en bediening, oor die koninkryk. Ons preek oor Jesus se lering en wat dit vir ons beteken.  Ons leef as Christene in die wêreld.  Die eerste Sondag in hierdie tyd (na Pinskter) is “Trinitatis” (Drie-Eenheid) en die laaste een is “Christus die Koning”, net voor Advent, wanneer alles weer begin. Hervormingsdag is op 31 Oktober, wat ons herinner dat hervorming inderdaad nodig was, en steeds is…


Winn Collier – Holy Curiosity

Winn Collier, Holy Curiosity (Baker, 2008)

 

Ek het hierdie boek gekoop omdat ek alles koop waarvan Phyllis Tickle die voorwoord skryf.  Dis die tipe boek wat ek tans lees: kontemplatief/emergent.  Hierdie een is ook so.  Dit gaan nog oor die tema van Jesus, soos baie van die vorige boeke wat ek gelees het.  Winn Collier het my beïndruk met sy idiomatiese en ryk beskrywende Amerikaans en my weereens skaam laat voel vir ons steriele Engelse dagstukkies, alhoewel ons werklik ons bes doen met woordeskat, idioom, ens. – ons is eenvoudig nie Engels nie.  Maar nou na die boek.  Collier hanteer Jesus se uitlokkende en interessante vrae en maak dit op ons van toepassing.  Ek som net kortliks die hoofstukke op:

1) Adam, waar is jy?  Adam en Eva sit volgens die skrywer agter die bosse, met hulle vingers in hulle ore, terwyl hulle hardop hum en maak asof die hele katastrofe nooit gebeur het nie. IN hierdie chaos in vra God WAAR IS JY – ‘n antwoord wat elkeen van ons moet ken voor ons kan vertrek;

2) Waar is jou aanklaers? Jesus spreek die owerspelige vrou vry voor sy tot bekering kom – ‘n skandalige, onverstaanbare en wonderlike daad van genade.  Veroordeling is nie sy ding nie.  Sy liefde tot aan die kruis lei tot bekering;

3) Waarom is julle bang?  Ja, waarom? Collier skryf ‘n goeie hoofstuk oor vrees. Hy vermaan nie die dissipels in die storm omdat hulle vrees nie, maar omdat hulle nie vertroue het in Hom nie.  Hy wil hê ons moet net besef Hy IS NOG IN ons boot.  Jesus verhoed nie die storms nie, trouens Hy slaap rustig daardeur.  Hy sê nie als gaan altyd OK wees nie, maar Hy sê ons moet vashou aan die feit dat Hy daar is.  Vrees is normaal. Jesus ken vrees baie goed.  Ons pogings is meestal om vrees te vermy, maar vrees is iets waardeur ons moet gaan;

4) Hoeveel brood het julle?  Ons honger en dors is eintlik na Hom en Collier eindig by die nagmaal as simbool daarvan;

5) Is julle dom?  Ja, Jesus vra dit vir die dissipels wat nie verstaan as Hy hulle leer wat mens rein maak nie.  Ons geestelike tradisies kan ons ryk maak of ons arm maak – dit is ‘n tweesnydende swaard.

  • Sometimes the Bible in the hand of one man is worse than a whiskey bottle in the hand of another (p80) – Miss Maudie in To Kill a Mockingbird.

6) My God, waarom het U my verlaat?  God voel afwesig, nogtans praat Jesus met Hom.  ‘n Interessante en moeilike plek wat ons ook ken.  Henri Nouwen sê op hierdie plek:

  • Where God’s absence was most loudly expressed, God’s presence was most profoundly revealed.  (p98) Dit was immers aan die kruis waar God sy grootste werk gedoen het.

7) Is julle verward?  Die dissipels weet nie wat Jesus bedoel as Hy sê dat hulle hom sal sien en dan nie meer sal sien nie, ens.  Ons het ‘n neiging om ‘n Jesus te maak na ons eie beeld en behoeftes.

  • Do we really think it is possible to follow the ways of God without having our world turned over?  Do we really expect to follow  a God we always understand, who always conforms to our expectations? (p105)
  • You can safely assumeyou’ve created God in your own image when it turns out that God hates all the same people you do. – Anne Lamont (p106)
  • Confusion is a sign that we heard God correctly! (p107)

8) Glo jy dit?  Jesus laat Lasarus sterf deur nie te gaan toe hulle Hom roep nie.  Hy sê vir Maria: Ek is die opstanding en die lewe. Wie in my glo, sal lewe al het Hy ook gesterwe.  Glo jy dit?  Collier skryf oor geloof, veral geloof in ‘n tyd wat God onverstaanbare dinge doen – nie geloof as manier om God te manipuleer nie.  Glo ons werklik?

  • When we reduce God’s relevation and liberal character to mere formulas, we expose how we want safety and control more than we want God.  This will never do. (p188)

9) Hoekom twyfel jy?  Collier skryf ‘n goeie hoofstuk oor twyfel vanuit Petrus wat op die water loop en toe sink.  Eerstens moet ons erken dat ons voel wat ons voel.  Geloof en twyfel is nie vyande nie, geloof en ongeloof is wel.  Collier skryf oor waarom ons twyfel – meestal is dit omdat ons op soek is na die waarheid, en ons is nog nie heeltemal daar nie.  Daar is ook ‘n slegte soort twyfel:  as ons bang is vir wat geloof van ons gaan verwag.  Aan daardie twyfel moet ons twyfel – op Collier se T-hemp staan: I have doubts about my disbelief (tipiese postmoderne stelling!).  Geloof vra ‘n daad van aanvaarding sonder bewyse.  Daarna kan die waarheid volg.  Waarheid volg op geloof.  Geloof volg nie op die waarheid nie, want dit is geen geloof nie, dit is bewysvoering.

  • Thou doubtest because thou lovest the truth – George McDonald (p134)
  • There are two ways to slide easily through life: to believe everything and to doubt everything; bith ways save us from thinking – Alfred Korzybski (p137)
  • To have faith, in Matthews sense, is to be open to the surprising posibilities of God and of ourselves – Frank Rees (p138)

10) Wat wil jy hê?  Hy sluit af met hierdie diepste vraag, wat Jesus aan die blinde Bartimeus vra. Die meeste van ons kan nie daarop antwoord nie – ons is of te out of touch met wat in ons is, of ons dink ons behoeftes en begeertes is nie appropriate nie.  Ons begeertes is sondig en selfsugtig. Bartimeus het so lank gely dat hy sy begeerte baie goed ken. Hy is ook nie skaam om dit hardop te sê nie.  Colliers  sê ons moet leef met ‘n diep dors na die lewe, met ‘n oorgawe en ‘n lus.  Ons moet dit vir God kan sê.  What dwells in your soul?

 

 


Pinkster 2011

Pinkster 2011

Dwarsoor ‘n swart geskroeide veld

kan die Gees se heilig-spokerige vuur

steeds gaan en in die donkerdonker uur

sal sy vlamme blou-groen staan.

Stuur o Heer u Heilge Gees

oor uitgebrande lande en laat

die hemelblomme blom: maanblou

groen oranje geel en witwit puur.