Monthly Archives: Augustus 2012

The Tools – Stutz & Michels

The Tools (Phil Stutz & Barry Michels, 2012, Vermilion)

Ek onderbreek eers my bestaande lesery  met hierdie boek wat iemand vir my gegee het.  Dis nie ‘n geestelike boek nie.  Twee van Hollywood se bekende psigoterapeute gee vyf praktiese benaderings (of tools) om die wesenlike struikelblokke in die lewe te oorkom.  Hulle mors nie tyd met ‘n klomp persoonlikheidsteorie nie.  Op tipiese Amerikaanse manier leer hulle die leser sekere tegnieke om vrees, onsekerheid, ens. te hanteer.  Dit is suiwer pragmatisme, pop-sielkunde.  Dit is vir my verrassend hoe hulle met die geestelike omgaan.  Hulle noem hulle benadering spiritual.  Die skrywers is egter heeltemal ongelowig in die tradisionele sin, maar glo wel aan higher forces – nie eintlik as ‘n vorm van god wat op die wêreld invloed uitoefen nie, maar as beginsels wat deel is van die lewe self.  Nogtans is dit beginsels wat in beheer is, wat misterieus werk, wat ons nie kan manipuleer nie, ens.  Die tools is maniere om by die higher forces in te skakel.  Mens weet nie wat om met die higher forces te maak nie.  Die ironie is dat hulle higher forces beskryf soos ons God sou beskryf.  Hulle dit inderdaad ook The Source.  Wat gebeur het is dat hulle as ongelowiges (Michels is Joods) nie by tradisionele geloof aansluiting kon vind nie, en ook nie by die New Age airy-fairy denke waarvan Hollywood vol is nie.  Hulle wou egter by iets prakties uitkom vir hulle pasiënte.  Die tools (en onthou dit gaan oor liefde, vergiffenis, moed, ens.) werk toe so kragtig dat dit vir hulle oortuig iets meer is aan die werk.  Saam met Jung (en baie Christene) glo hulle dat daar nie baie toeval  bestaan nie – dat die universe saamwerk tot hulle groei en dat ook ons probleme gegee word vir daardie doel.  Hierdie mense moet nog net tot bekering kom.   Dis asof mense deesdae geloof in God onhoudbaar of onpopulêr vind, en dit dan bloot verruil vir geloof in die universe (soos hulle dit ook noem, of net life).  Die inhoud van hulle geloof is egter nog dieselfde – en hulle eindig weer met ‘n geloof, net ‘n minderwaardige een.  Mens weet nie of jy moet lag of huil nie.

Die tools klink byna na die maniere waarop Christene ook die lewe hanteer – die folk Christenskap (as mens dit so kan noem) wat ons ken, wat teologies ongesofistikeerd is, maar wat op God se beloftes “staan”, wat hul probleme “aan die voet van die kruis neerlê” en “die bloed van Jesus pleit” as hulle voor gevaar kom. Dis alles dinge wat nie (op die manier) in die Bybel voorkom nie, maar dis wel tools wat “werk” en wat maak dat mense hulle lewe en probleme kan hanteer op ‘n gelowige manier.  Ek dink ons moet sulke geestelike tools vir mense in die hand gee.  Noem dit maar geestelike oefeninge of geestelike gebruike (of dissiplines) wat mens kan help om as dissipel te leef en die lewe met geloof te hanteer.  Die gevaar is simplifikasie (en hierdie boek is so skuldig daaraan as kan kom), maar dit is iets.  Dit is die teoretiese ivoortoring-Christenskap, wat nie grondraak nie, en feitlik alle praktyk afwys,  wat mense net eenvoudig belangstelling laat verloor.    Ek wil self vorentoe meer werk met die tools wat ek as Christen ken – Bybelse beginsels van liefde, vergiffenis,geloof ens. maar in praktiese formaat verpak – “oefeninge”.  Dit is die value-add wat ek uit die boek saamneem.

In elk geval,  die vyf tools van Stutz & Michels – wat ooreenkom met Christelike gebruike – is die volgende:

1) The Reversal of desire – om pyn of vrees te hanteer.  Dit behels ‘n visualisasie oefening om die vrees te betree en te beleef en dit dan agter te laat.

2) Active Love – om negatiewe gedagtes oor ander mense te vervang met liefde.  Dit behels ‘n visualisasie oefening om suiwer liefde soos ‘n lig op hulle te projekteer.

3) Inner Authority – om met gesag aan jouself uitdrukking te kan gee teenoor mense.  Ons “skadu” (‘n argetipe in ons denke) verhoed ons om met gesag op te tree en hulle tool behels ‘n visualisasie oefening om die shadow te differensieer en te integreer (klink soos wiskunde).

4) Gratefulness – om negatiewe gedagtes en kommer te vervang met dankbaarheid teenoor The Source.  ‘n Oefening om in die zone van die gratefull flow te kom.

5) Jeopardy – om wilskrag op te vorder deur die sterfbed-perspektief.  Daar is net soveel tyd.

Ek het die vyf tools, en iets van ‘n Christelike respons daarop, vir myself deegliker opgesom en as jy wil kan ek dit vir jou aanstuur.  Ten slotte – negatief: by tye betwyfel ek Stutz & Michels se opvoeding geheel en al – dis vlak, asof daar feitlik geen dieper psigologiese verwysingsveld bestaan nie – om van ‘n filosofiese, literêre of selfs die mees basiese teologiese agtergrond nie te praat nie.  Dis asof hulle kursusse in “sielkunde as tegnieke” gevolg het, dis asof ons na dr Phil kyk.  Van hulle stories het ‘n opgemaakte kwaliteit.  Ek sien nêrens hulle kwalifikasies nie. Positief:  die ironie is dat hulle met belangrike temas werk (vrees, liefde, aanvaarding, dankbaarheid, wilskrag) en dat die tools sekerlik vir mense sal help.  Dit teenoor baie ander wat baie praat of baie empatiseer, maar nooit by konkrete hulp uitkom nie – hulle sal sê hulle glo nie daaraan nie, maar hulle is eintlik bietjie toolless.  Om die waarheid te sê, ek het die tools begin gebruik… dit is werklik nuttig “om iets te hê om te doen” as jy sekere situasies of emosies beleef.  Soos gesê, wil ek tog iets hieruit neem vir myself – my vraag sou wees “hoe tree ‘n gelowige op in sulke omstandighede” en iets prakties daarvoor te gee.

Advertisements

Wie sê julle is Ek?

Wie sê julle is Ek? – Jan van der Watt (red), Stephan Joubert, Francois Tolmie, Pieter de Villiers (2010, CUM)

Die mooi van hierdie boek is dat ek drie van die vier outeurs ken:  by Prof Jan het ek desjare met ‘n doktorsgraad begin en dit nie klaargemaak nie (ek het ‘n lys redes, maar voel steeds regtig sleg daaroor, prof – ‘n beurs van Nijmegen om Spiritualiteit daar te studeer mag dalk help vir closure); (Prof) Stephan Joubert ken ek as kollega in Johannesburg (en beskou ek steeds as my mentor) en Prof PGR de Villiers het eeue gelede vir my Nuwe Testament Honneurs gegee in Stellenbosch.  Is dit nie oulik nie?  Net Prof Tolmie van UV het ek nie persoonlik ontmoet nie, maar ons ken hom as ‘n slim man wat baie boeke skryf.  Hierdie boek het skynbaar van die rakke afgevlieg want daar is nêrens meer ‘n kopie op die aanlynwinkels nie – ek self het een by PNA gekry vir R39.00 in die bargain bin, en wou hom lees om my versameling boeke oor Jesus meer volledig te maak.  Ek het mos 2011 my “Jesus-jaar” gemaak en net oor Jesus gelees, en het ook ‘n jaarkursus oor Hom gemaak (Jesus-Notas – kliek hier) en dit was ‘n wonderlike journey.  Ek IS ‘n Jesus-volgeling.  Anyway, gegewe die skaarste aan die boek, as iemand een wil hê, kan hy by my hierdie een koop vir ‘n bargain van R99.oo alleen…

Hierdie boek gaan oor “Jesus deur die oë van ander” en is eintlik redelik algemene Bybelse inligting – oor wat sy dissipels en familie van Hom gesê het, sy vyande, die engele en die duiwels, ens.  Verder gaan dit oor wat gesê is oor Jesus se wonders, reise, kruis, opstanding, ens.  Ek self het gehou van die opsommings van wat in Romeinse, Joodse en vroeg-Christelike geskrifte oor Jesus gesê is.  Die boek is nie ‘n Bybelkundige boek oor die verskillende beskouings oor Jesus nie, maar ’n boek vir gelowiges om hulle geloof te versterk.  Dit het my geloof weer versterk, in die aanslag wat vandag op geloof in Christus gemaak word:  sommige mense sê sommer Jesus het nie eers bestaan nie of die “Christus-mite” of -idee  is op ‘n wonderwerkende, charismatiese persoon  in Judea toegepas.  Ek sukkel om dit te glo, soos ek met ‘n vorige skrywe hier gesê het, vanweë die vroegheid van die getuienis, en hierdie boekie bevestig dit weer vir my.  My dank aan hierdie geleerde vriende, wat dit so duidelik maak.

 


Wat Adam my van seks geleer het

Timothy Kieswetter – Wat Adam my van Seks geleer het (2011, Maranata Uitgewers)

Ek is baie trots op hierdie boek, aangesien Timothy my neef is.  Ek dink hy het ‘n uitstekende boek geskryf.  Timothy bring goed bymekaar wat ek nie dink al goed bymekaar gesit is nie (en hy het dit goed bymekaar gesit) – [1] die evangeliese agtergrond wat ons deel, [2] die Bybelse voorbeelde en figure wat ons ken en [3] ‘n kontemporêre en verantwoordbare seksbeskouing.  Die integrasie van die drie maak vir ‘n produk wat baie leesbaar en hoogs relevant is.  Seks is ‘n tema wat ten spyte van al die openheid van ons wêreld daaroor maar nog taboe-erig in die kerk is, en sommer gou-gou aanstoot wek.  Toe ek jonk was, was die kerk se beskouing op seks dink ek of (1) ‘n sonde waaraan ons almal skuldig is en dus die dood verdien as die Here ons nie red nie, of (2) dis in sulke eteriese taal beskryf as ‘n heilige daad van eenwording van siele dat jy skaars kon aflei waarvan die oom praat.  Dit het maar ‘n raaisel gebly. Meestal is dit net dood verswyg en so ploeter die volk dus maar in die donker aan, by wyse van spreke!  Timothy – wat besig is om as seksuoloog te kwalifiseer – werp helder lig op die tema en skryf prakties, reguit en met humor ‘n wetenskaplik verantwoordbare boek oor temas van vlerksleep en versoekings regdeur tot prostitusie en die Kama Sutra. O aarde, die meer behoudende onder ons gaan nie van alles hou wat hy sê nie, maar ek ken Timothy as ‘n persoon van integriteit wat weet wat hy glo en daarby staan.  Ek respekteer dit en sê well done!

 


Abel Pienaar – Saam op soek na God

  Abel Pienaar. Saam op soek na God (Griffel, 2010)

Het Dr Abel Pienaar se kort boek gelees.  Hy was eers in die NGK, maar het die Christelike ortodoksie verlaat en beskryf homself as ‘n vrydenker en agnostiese gnostikus.  Laat ek eerstens my respek teenoor Dr Abel bevestig. Hy lyk na ‘n nice persoon en het duidelik die moed van sy oortuiging gehad.

Dan egter is ek nie seker wat om van sy boek te dink nie.  Niks is eintlik nuut nie – wat ek lees is maar die tipiese kontemplatiewe dinge wat nou bekend en belangrik word (en wat tog waardevol is).  Dalk wil hy net dit alles in Afrikaans op papier sit.  Ek vind sommige goed in sy boek teenstrydig en is nie so seker of sy verwysings na Freud en Jung, bv. (weet nie van die ander nie) altyd heeltemal reg is nie. Soos altyd is daar maar redelik gestereotipeer oor die ortodoksie en baie dinge, maar ek is seker hy sal saamstem dat hy (moes) veralgemeen – dis maar om ‘n punt te maak.  Mens identifiseer egter nie met die strooipoppe wat so opgestel en dan afgeskiet word nie.  Ek is ook glad nie oortuig dat mens sommer so sito-sito van die “Christus-mite” kan praat as iets wat in die “lang periode” tussen Jesus en die opskrifstelling van die evangelie ingesluip het nie.  Van die evangelies is binne dertig jaar na Jesus se dood geskryf en staan op ‘n sterk mondelingse tradisie – die briewe van Paulus is nog voor dit geskryf.  Dit alles in die leeftyd van mense wat nog vir Jesus geken het!  My eie pa is byna 30 jaar gelede oorlede en ek sal sowaar weet (en beswaar maak) as daar allerhande mitologiese goete rondom hom – hy was effens bekend – verkondig sou word, bv. dat hy nie gesterf het nie, ens.  Ek onthou dit immers nog baie goed.  Natuurlik spreek Jesus se boodskap tot die kragtige argetipes in ons siel, maar ek dink vir ‘n mistikus is Dr Abel te “wetenskaplik”.  Waarheid – ook rondom Jesus – is groter as wat die empiriese behels of wat die wetenskap tans kan verstaan.  Wonders gebeur – hoe jy dit ook al definieer.  Ek kry soms die indruk mense verlaat die een geloof omdat dit in sy wording en wat ook al nou so onhistories en wetenskaplik valsifieerbaar is en aanvaar dan ‘n ander wat ewe min (empiries) bewysbaar is.  Dan weer “my geloof teenoor jou geloof” – en beide staan so op a–priori’s dat dit byna onmoontlik is om daaroor te debatteer.  Mens kan maar net jou eie getuienis gee en ek dink dis iets soos dit wat Dr Abel hier wil doen.  My eie getuienis is dit:  ja, ek verstaan iets van hierdie journey, maar ek dink nie die (mooi van die) kontemplatiewe hoef ons uit die Christelike geloof uit te neem nie – daar is ‘n fantastiese en diep mistiese tradisie in die verband reeds teenwoordig by Jesus, Paulus en sedert die woestynvaders en die hesichastiese tradisie absoluut so.  Andrew Murray en Watchman Nee het bv. in ons dag geskryf oor die dood van die self.  Ons ken daardie dinge.  Persoonlik bly ek net daar.  Ek is ‘n Jesus-volgeling en ‘n Christen – redelik ortodoks seker maar, alhoewel ek nie eintlik van die spesifieke etiket hou nie.  Ek dink ons is op ‘n punt dat ons bereid moet wees om daaroor te bly praat.

Daar is natuurlik vir my mooi stellinge en quotes wat ek kan gebruik!


Gemeenskap

Gemeenskap

As ek net dieper

kan gaan meer

insit harder

werk kan

ons dalk

connect

een

word

ek in jou en

jy in my en

die stroom sal vloei

die spanning sal ontlaai

die weerstand weg (“als wat skei verdwyn”)

en ons sal U waarlik ken, U waarlik ken, o Here.

 

Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is
en julle in My en ek in julle. Joh 14:20.
 
En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God,
en Jesus Christus wat deur U Gestuur is. Joh 17:3.