Monthly Archives: November 2012

Verwerk jou spanning, voorkom uitbranding, oorkom vrees – H. Sala

Verwerk jou spanning, voorkom uitbranding, oorkom vrees – H. Sala (2012, CUM)

Het hierdie boek (saam met ander) by CUM se ontbyt verniet gekry, baie dankie (fantastiese ontbyt gewees, ek voel nou skoon honger) en het dit sommer op die trapmeul by Virgin Active deurgelees.  Die temas van uitbranding en vrees het tot my gespreek in my eie toestand, effe fobies en uitgebrand, maar ek is vreeslik jammer om te sê dat dit nie vreeslik waarde toegevoeg het nie.  Duidelik geskryf deur ‘n goedhartige dominee van redelike jare en die helfte daarvan was vir my baie, baie algemeen.  Ek dink in 1996, toe dit die eerste keer uitgegee is, sou dit dalk nuwer opgeval het (en selfs toe was dit al die verwerking van ‘n ouer boek). Die oplossings was vir my net te veel in die trant van glo dat God vir jou daar is, onthou wat die Woord sê, gee meer aandag aan jou gesin, ens.  Almal weet dit, wat mens nodig het is die HOE om daardie dinge te doen, want die haakplek lê daar.  Hy glo rêrig die antwoord vir verandering is 1,2,3 in (1) die begeerte om te verander, (2) ‘n verbintenis om te verander en (3) deurvoering.  Hei, presto… Of om net ons emosies te beheer – soos daardie sielkundige wat net vir sy kliënte sê STOP IT!  Daardie simplistiese paradigma werk rêrig nie met die realiteit nie.   Ek sê nie die boek kan nie vir ander mense mooi dinge beteken nie, ek self het net gevoel been there…long ago.  Dr Archibald Hart se bydraes oor stres, anhedonie (wat Dr Sala wel hanteer, goed so, onder “verveling” (Hfst 9) – so nodig deesdae) depressie en uitbranding is veel meer kernagtig, insigvol, wetenskaplik resent en prakties toepasbaar (en verskyn natuurlik in ons kursusse, nie waar nie?).  Ek het wel van die volgende gehou:

  • P165 – Die herhaling van die waarheid van die Woord as jy vrees, bv. om Ps 23 op te sê, is waardevol.  Ek maak die nota net hier vir myself, Sala het dit glad nie eers so bedoel nie.  Dit klink dalk na nonsens vir jou maar daardie rustige resitering bring inderdaad die gedagtes en breingolwe terug (waarop jou emosies dan reageer) en terselfdertyd voed jy jou gees met nuwe, God-erende inhoude i.p.v. die angstige gedagtes van vrees.  Die meditasie-aspek, die leer deur herhaling, die waarde van affirmations is alles reeds wetenskaplik bewys.  Psigiese noodhulp.
  • P223 – die fases van uitbranding wat hy in ‘n tabel lys het ek nog nie gesien nie.

Nou vir my lekker ontbyt maak!

Advertisements

Honde-coaching 103 – Wees die tropleier

Honde-coaching 103 – Wees die tropleier

Ons het laas gesê ‘n hond is ‘n tropdier en as tropdier vra hy die vraag “wie is die tropleier?”  Elke trop het immers ‘n leier – hoe anders sal die trop weet wat om te doen?  Die sterkste reun is gewoonlik die leier, en onder hom ontwikkel daar ‘n rangorde.  Elke hond weet presies waar hy inpas.  Hond se kind is ook ambisieus en as daar ‘n vakature vir leierskap is, sal hy met graagte inbeweeg, baie-dankie-vir-die-groot­-vertroue-in-my-gestel….  Kyk maar onder die honde wie die leier is – onthou ‘n hond weet nie of hy groot of sterk of oud of klein of lelik is nie, hy tree volgens instink op en in ons huis is dit die klein maar kwaai Pekinees– sy was immers eerste daar – wat die leierskap neem, terwyl die jonger wyfie, nou self al ‘n uitgegroeide wofhond (maar sy weet dit nie), wat maar gedienstig bly.  Hedendaagse honde, wie se troppe veral uit mense (en ‘n ander hond of wat, en die katte plus ‘n parkiet) bestaan, redeneer nog steeds soos ‘n hond en sal ook probeer om die leierskap te bekom.  Die probleem is dikwels  dat die mense hom of haar soos die leier behandel, en dan kom die stoutigheid, kwaaigeid en jaloesie soos hy probeer om sy leierskap uit te oefen.  Nee, dit sal nie deug nie!  Daarom dan die volgende woord aan mense:

Wees JY die leier van die trop

Julle ou troppie daar in julle huis moet ‘n leier hê, nè en as julle nie weet wie dit is nie, vra maar die hond.  Dit is die een vir wie die hond die meeste respek het en by wie hy ook die graagste probeer lê.  Ja, dis soos ‘n hond se gedagtes werk.  Ek en jy moet ook nou hond-se-gedagte kry (aangesien dit onmoontlik is vir hom om mens-se-gedagte te kry, nie waar nie, en die volgende leierdinge meer doelbewus doen:

  • Die leier gee nie aandag nie, die leier kry aandag.  As jy die ou hondjie die hele tyd vryf en vertroetel is hy die baas en nie jy nie, punt.  Pam Whyte (sy is die beste – sien hieronder vir haar webruimte) sê as jy by die huis kom van die winkels af, sluit jy jou deur oop en ignoreer die honde vir eers totaal.  Jy stap by hulle verby en sit jou pakkies neer, terwyl die ou troppie agter jou aandrentel.  Dan draai jy om en gee vir hulle elk so ‘n vryfie op die kop, om darem te erken dat hulle kom groet het.  Dan gaan jy aan met jou werk.  Dis die tipe aandag wat die hond moet kry.  As jy by die huis al jou pakkies laat val en jou honne omhels en oor hulle huil en skree en oor hulle faf, moet jy maar self die gevolge dra.  Honde wil erken word, wil aanvaar word, wil deel van die trop wees, maar as jy hulle die middelpunt van aandag maak, of selfs net te veel aandag gee, stel dit hulle in die moeilike posisie van leierskap.  Angstigheid en neurose is so hulle voorland, want HOE gaan hy die spul lei en beskerm en voorsien van kos?  Pam Whyte sê ‘n hond wil net DAAR wees, DEEL wees, dit is al.  Dis soos ‘n tiener wat daar in die huis rond is en jy vir lang tye nie sien nie, dan kom hy weer uit sy kamer en is soos ‘n skim daar in die kombuis doenig om vir hom toast te maak.  ‘n Aanraking op die kop in die verbygaan, NET as hy na jou toe gekom het, is goed (vir die hond nou, nie die tiener nie).  Jy gaan NIE na die hond toe om hom te gaan vryf nie – dis vreeslik onderdanig.   Hy kom na jou toe.
  • Die leier eet eerste.  Goeie honde weet die leiers vreet hulleself eerste dik (ons sien dit nog in die politiek, nê), en dan beweeg die res in om te gaan polish wat oor is.  As julle dus eet, eet die mense rustig klaar en die honde moet wag.  Na die tyd kry hulle hulle kos, en jy gee vir die leierhondjie eerste sy of haar kos – nie moeilikheid maak in hulle verhoudings nie – en dan die minderes.  So leer hulle almal hulle plek ken en almal is gelukkig.  Hulle kan ook maar so ‘n bietjie wag vir kossies.  As jy sou kos maak en die honde kry eerste hulle s’n (van dieselfde kos), voel hulle al weer soos die koning en begin sommer nuwe reëls opstel  en besluit die menskinders ruk nou hand uit en kort dalk ‘n bietjie dissipline.
  • Die leier stap voor, nie agter nie.  Moenie toelaat dat die hond voor jou by die deur instorm nie.  Laat hy terugval en agter jou aan kom.  Selfde by die hek en as julle gaan walkies.  Kyk bv. hoe Cesar Milan – dog whisperer – ‘n hond wat probeer vooruit trek dissiplineer met ‘n skerp hak in die ribbes en ‘n vinnige tssh… terug met jou!   EK is die leier hier.  Ja, leierskap is ongelukkig ‘n voltydse werk…

Dissiplineer jou hond

Oor die algemeen is honde baie begerig om die leier te behaag en sal hy baie gehoorsaam wees.  Die  probleem kom met honde wat onseker is ook leierskap (wat m.a.w. dink hulle is die leier) of ‘n bietjie oormoedig is.  In beide gevalle moet hulle vriendelik en ferm wys waar hulle plek is.  Die bg. is die maniere om dit te doen,m.a.w.   laat die hond na jou toe kom en nie omgekeerd nie, laat hy NA jou loop en eet, weerhou aandag deur nie te kyk, te praat of aan te raak nie – dis baie effektief om die hond se pekaters net te ignoreer, kyk net weg en gaan aan asof hy nie bestaan nie (ook baie belangrik vir besoekers) – en wys die verkeerde gedrag onmiddelik uit, soos met ‘n kind wat presies moet weet waar die grens is.  Jy hoef nie die hond te slaan nie.  Dis feitlik nooit nodig om ‘n hond te slaan nie, want dis nie iets wat in die natuur gebeur nie.  ‘n Ferm “nee” – direk by die oortreding – is gewoonlik al wat nodig is.  As ‘n hond nie verstaan waaroor hy gestraf word nie, soos om dit na die tyd te doen – skep jy bloot  verwarring en nog verder stoutigheid.   Dis baie belangrik om te verstaan waarom ‘n hond “stout” is – kom ons sit dit in aanhalingstekens, die probleem is gewoonlik nie die hond nie, maar hoe hy hanteer is of word.  As hy heeltyd blaf omdat hy alleen agter in ‘n vierkant toegemaak is (om ander honde se stemme te hoor) is dit jou skuld, nie syne nie.  As hy jaloers is en met die ander hondemaats baklei, is dit omdat hy nie weet waar sy plek is nie.  As hy angstig is omdat hy nie weet wat om te verwag nie omdat sy mense so onvoorspelbaar optree, is dit jou skuld.  Stel vas wat die probleem is en stel die probleem reg.  Dis gewoonlik al wat nodig is.  Verlaag sy posisie in die trop, soos ons laas keer aangewys het – dit help vir baie probleme.  Enige verdere slanery is dalk net nodig vir skrikmaak-waarde of afrigtings-waarde en ‘n opgerolde koerant is daarvoor voldoende.  Die peits is meer vir waarsku.  As jy ‘n hond met die peits moet slaan om hom te kry om te gehoorsaam is daar eintlik al ‘n groot probleem tussen jou en die hond en het julle hulp nodig.

Jou energie is belangrik

Ek hou van Cesar Milan se aandrang dat die leier  se energie, m.a.w. wat sy houding uitstraal, reg moet wees.  Dis maar waarna die hond oplet.  Dis waarop hy reageer.  Tree op soos die leier.  Baie belangrik:  wees kalm en ontspanne en vol selfvertroue as die leier; wees rustig, wees aanvaardend, wees ferm, vereis korrekte gedrag en beloon dit met ‘n woord en ‘n vryfie op die kop.  As jy gespanne of bang is, of op die hond skree, maak dit hom net nog meer gespanne en opgewerk.  Pam Whyte sê die hond dink jy blaf saam met jou geskree en hy blaf net nog harder – dis heerlik!

Geniet die hond, man – maar wees die leier!

Vogende keer – Die hond se behoeftes.

Pam Whyte se webruimte: http://www.naturaldogtraining.info


Spiritual Direction and the Care of Souls – Moon & Benner

Spiritual Direction and the Care of Souls – Moon & Benner (ed) (2004, InterVarsity)

Ja, ek lees op die oomblik oor Geestelike Begeleiding (Spiritual Direction) en het mos vir ‘n aantal maande die goeie kursus  gedoen wat Dr Willem Nicol (hoogs gerespekteerde mentor) en Sr Mary Fisher by UP aanbied in die verband – egter nie voltooi nie.  Klomp redes…  Ek lees egter steeds baie hieroor en wil eintlik ‘n soort Spiritual Coaching ontwikkel, iets meer kort-termyn, dalk bietjie meer direktief waarin die beginsels van life coaching, wat ek mos doen, inbegrepe is.  Sal maar sien.  Hierdie boek het my so ‘n paar weke besig gehou.  Dit is meer ‘n teksboek vir teologiese studente, sou ek sê. Dit gee eintlik die spiritualiteite weer (en geestelike leiding in ‘n breër sin) van die volgende Christelike strome: ortodoks, katoliek, episkopaals, gereformeerd, Wesleyaans, social justice en charismaties.  Uit dit alles was daar nogal heelwat te glean, sommige nuut, ander by hernuwing. Die baie deeglike onderskeiding wat dit tref tussen SD en psigoterapie en SD en pastorale beraad was egter waardevol.

P177-181 beskryf 8 funksies van SD bietjie meer volledig en p228-232 gee ‘n sistematiese gevalle-studie, wat nogal interessant was.


Honde-coaching 102 – Wie is die tropleier?

Honde-coaching 102 – Wie is die tropleier?

Ons het laas gesê ‘n hond is ‘n tropdier.  Net in die trop voel hy op sy gemak.  Dis soos hy gemaak is.  Honde leef steeds in troppe en reageer steeds met die tropmentaliteit, maar sy trop bestaan deesdae veral uit die mense van sy gesin, die ander honde daar by die huis  en ook die ander diere wat daar woon.  Onthou nou, ‘n hond weet nie dat hy ‘n hond is nie.  Dis oulik om daaraan te dink dat ‘n groot hond nie weet dat hy groot is nie en ‘n klein hondjie weet nie hoe klein hy is nie.  Hy reageer maar net op sy instink, en sy instink is ‘n tropinstink.  Deel van hierdie instink is om altyd baie bewus te wees van wie die leier is.

Elke trop het ‘n leier

In die natuur het die hondetrop ‘n alfa-mannetjie en hy is die baas en klaar.  Jy is of onderdanig of jy daag hom uit.  As jy hom uitdaag gaan julle vassit en of hy gaan wen en jy gaan sleg daarvan afkom of jy gaan wen en dan is jy die leier – hoera!  In die natuur is dit die mannetjies se instink om te kompeteer vir leierskap, maar glo my die wyfies in die hedendaagse troppe neem ook sommer gou leierskap as dit vir hulle blyk dat daardie posisie leeg is, en dit is inderdaad dikwels leeg, volgens hond se kind.  “Ek sal dan maar die leier wees, baie dankie…” is sy of haar besluit.  Ja, elke hond streef na leierskap.  Die leier besluit of ons beweeg en of ons lê, of ons aanval, wie in is en wie uit, wie gedissiplineer moet word en wie bietjie maniere geleer moet word, ens.  Groot verantwoordelikheid…  Jy kan nie jou hond verstaan as jy nie verstaan

  • dat hy iewers in die trop inpas in ‘n rangorde nie.  Daar is lede bo hom en lede onder hom.  Hy weet (of dink hy weet) waar hy inpas.  Die mense is dikwels bo hom, maar honde dink dikwels die jonger kinders hoort onder hulle (veral almal wat na hom gekom het) en moet op hulle plek gehou word, en dan onder die troppie honde is daar ‘n baie besliste rangorde.  Mnr Reun sal maar leierskap neem en met ‘n paar reuns sal daar seker van tyd tot tyd geskraap word vir posisie.  Die kat is waarskynlik heel onder, trouens meeste honde voel die goed hoort nie in die trop nie en sal probeer om hulle uit hulle trop te verjaag.
  • dat hy ‘n opwaartse ambisie het nie.  Jip, oubaas se honne het planne om op te gaan in die lewe en hy probeer maar altyd kyk of hy nie maar die baas kan word en die toneel kan domineer nie.  En hulle kry dit reg, hoor!  Hoekom sê ek so? Let op…

Wie is die leier?

Hoe weet die honde wie is die leier van die ou troppie? Wel, die een wat die besluite maak, die een wat die kos bekom en uitdeel, die een wat dissipline toepas, die wat jou kan ignoreer of aandag gee. Daar is nog ‘n manier om te weet wie die leier is – die leier is die een wat die meeste aandag kry. Die ander honde bewys onderdanigheid deur agter die leier aan te loop, agter hom of by hom te lê, deur hom te gaan lek, hom oor die algemeen te beskerm en om oor die algemeen ‘n goeie troplid te wees. Hier is die probleem: in menige huise is hond se kind die baas, want hy kry die meeste aandag! Ja, as mense die hond sien, word hy eerste gegroet, gestreel, dadelik mee gepraat, lank in die oë gekyk, en draf die mense gou om hom van ‘n koekie te voorsien. Natuurlikerwys glo hy dus dat hy die leier is, nie waar nie? Hulle het hom dan as baas aangestel. As leier mag hy dus as leier optree en sy gebied afmerk (honde onseker van hul plek doen dit ook), met die ander honde baklei, alle vreemdelinge van sy gebied afhou, en enige oortredings dissiplineer deur ‘n geniepsige knyp. ‘n Leier het immers verantwoordelikhede! Pam Whyte (en sy is die beste hoor, ‘n Suid-Afrikaanse Dog Psychologisthttp://www.naturaldogtraining.info) sê ‘n hond wat op sy rug voor jou kom lê vir ‘n krappie sê net eenvoudig: “Kom slaaf, krap my maag!” As jy dit doen, bevestig jy net weer sy leierskap. Hy het jou behoorlik in die sak – jy’s goed geleer!

Die meeste probleme gaan oor leierskap

Ja, die meeste probleme met stout honde, onseker honde, kwaai honde, byterige honde, bakleierige honde, ens. het te doen met die feit dat hulle nie weet waar hulle in die trop inpas nie of wie die leier is nie. Nou tree hulle maar soos die leier op. Let op:

• Die volgende gedrag verhoog ‘n hond in die rangorde van die trop: alle gevat, gestreel, gekoer, in die oë kyk, en algemene ge-faf oor Fiefie bevestig dat hy upwardly mobile is! Going places

• Die volgende gedrag verlaag ‘n hond in die rangorde van die trop: om self kalm en ferm leiding te neem, om nie aan hom oormatige aandag te gee nie, heel tyd met hom te praat nie of te veel in die oë te kyk nie.

Baie probleme word opgelos deur reeds net ‘n hond se status in die trop te verlaag. Daarby sal ons nog kom.

Laat ons duidelik stel dat die hond ook heel gelukkig is om nie die leier te wees nie – hy wil eerstens net behoort en tweedens weet waar sy plek is. Hy ken die rol van volgeling wees ook reeds instinktief.

Mens, hier is dus die les:

As jy nie die tropleier gaan wees nie, gaan hy dit wees. Dis nodig dat jy maar die tropleier moet wees. Kom ons stel dit so – as Fiefie die baas is of dink hy is en dit gee vir niemand probleme nie en hy word soos ‘n mens behandel en kan nie eers meer ‘n hond wees nie, maar almal is ok daarmee en dink dis vreeslik oulik, is dit seker maar ok.  Gelukkige hond!  As oubaas se honne egter duidelik weet dat oubaas, en nie honne nie, die leier is, sal hy ‘n goeie en gelukkige hond wees. Hy sal by oubaas of ounooi kom lê, telkens net sy snoet kom druk om te wys hy is nog daar en gereed vir diens, en oor die algemeen rustig en gehoorsaam wees. Onthou, hy wil net ‘n hond wees, net ‘n trop hê en ‘n goeie leier kan volg. Dis nou jy, mens, en volgende keer sal jy geleer word om ‘n goeie hondetrop-leier te wees.

Volgende keer – Wees die tropleier.


Gebed vir ‘n land

‘n Gebed vir ‘n land

14 November 2012 – Geweld in die Wes Kaap eis 2 lewens, miljoene rande skade

 

Hemelse Vader, ek bid vandag vir ‘n land van vrede –

‘n land waar elkeen veilig kan voel,

‘n land waar elkeen eerlik kan werk en sy wins kan geniet,

‘n land waar elkeen werk het om vir sy kinders te kan sorg;

ek bid vir ‘n land waar integriteit op prys gestel word –

‘n land waar die regering werklik vir die mense is,

‘n land waar die arme en behoeftige opgehef kan word ,

‘n land waar u waardes op alle vlakke uitgeleef word.

Ek bid vir ‘n land waarin respek ‘n plek het,

waarin ons om ‘n tafel kan sit,

waarin ons ‘n pad kan stap,

waarin ons soos u kinders dink en reageer.

Ek bid vir daardie eendagland, Here,

en ook vir my eie land

Suid-Afrika,

Amen.


Binnevlam

Binnevlam

4 Oktober 2012 – Vir die Lééf-gebedskalender 20 Jan 2013

 

Ek wil vandag die binnekamer

van my hart betree, Here,

en die deur agter my gedagtes toetrek.

Ek wil my hart op U rig

totdat dit brandend is vir U

– soos van ouds.

Amen.


Honde-coaching 101 – Honde is tropdiere

Honde-coaching vir mense

Deur Jimi le Roux – lewensbegeleiding, geestelike begeleiding

www.jimileroux.wordpress.com

www.jimileroux.com

Die mens is mos ‘n wese tussen die diere en die engele en ons kan onsself nie verstaan as ons nie die diere verstaan nie – met die engele is dit bietjie moeiliker, ek dink wel hulle verstaan hulleself dalk beter deur ons te bestudeer…  Ek wil dus graag my skrywery onderbreek deur ‘n paar ongereelde uitgawes te blog oor ons hondevriende, by wie ek al soveer geleer het.  As dit ‘n verskil kan maak aan die “hondelewe” wat baie van hulle het, sal ek voel dit was die moeite werd.  Laat weet wat jy dink!

Honde-coaching 101 – Honde is tropdiere

Ons begin by die begin.  Sonder die volgende kan jy nie jou hond verstaan nie.

Vyftien duisend jaar gelede het honde saam met mense begin leef, maar voor dit was daar geen honde nie, net wolwe (canis lupus) en wildehonde.  Gegewe dat hulle so slim is (of is dit skelm), het hulle by die mense begin ronddraai, want daar was kos.  So het hulle mak geword – vriende gemaak, kan jy sê.  Die mense het hul kleintjies in die hande gekry en mak grootgemaak, en so het die hond (canis lupus familiaris) ontstaan.  Alle honde vandag, van groot tot klein, is uit daardie eerstes geteel.

Hier is egter die eerste belangrike ding van ‘n hond:  ‘n hond is ‘n tropdier.  Honde is nie gemaak om alleen te wees nie.  Hulle behoort altyd aan ‘n trop.  Voor  hulle mak (en honde) geword het, het hulle in troppe geleef – soos hulle wilde broers steeds leef – en daardie mentaliteit is steeds in hulle.  En so leef hulle steeds in ‘n trop – of so dink hulle.  Sy huidige trop is natuurlik die gesin waaraan hy nou behoort.  In daardie trop reageer hy nog soos ‘n pure hond.  Hy kan nie soos ‘n mens dink nie – hy dink omtrent soos ‘n kind van twee, sê hulle (d.w.s ‘n kind van twee met lewensgevaarlike tande) – maar hulle is baie goed daarmee om soos ‘n hond te dink.  En soos ‘n pure hond reageer hulle as tropdiere.   ‘n Tropdier gehoorsaam die volgende reëls:

Lê by die trop. 

Die trop lê saam.  As daar nie gejag word nie, lê hulle maar daar en doen maintenance – m.a.w. hulle lek en krap hulle vlooie.  Hulle slaap.  Hulle doen hulle sosiale dinge.  Hulle lê selfs teen mekaar – die kontak is vir hulle lekker.  Die saamwees is hulle connection.  Dis soos hulle bond.  Hulle gaan lê veral by die tropleier om te wys hoe gehoorsaam en gereed hulle is.  As hy daar opspring en blaf, is hulle reg vir enige-iets.  Selfs al gaan lê hulle daar op hulle eie, hou hulle daarvan dat die trop naby is.  Daarom sal ‘n hond altyd by die mense probeer lê, verkieslik by sy baas se voete.  Hy hou nie daarvan om van die trop afgesny te wees nie.  Dis vir hom soos verwerping.

Beweeg saam met die trop. 

In die natuur is die hondetrop altyd aan die beweeg, deur hulle gebied.  As die trop beweeg, moet almal bybly.  Dit is baie belangrik.  Daarom stap ‘n slim hond altyd agter sy tropleier aan (sy baas natuurlik, sal nog daarby kom).  As sy baas opstaan om buitentoe te gaan, stap die goeie hond saam.  As dit lyk asof hulle in die kar klim, sal die goeie hond ook probeer inklim – tensy die goeie hond nou al weet hy ry nie in daai ding saam nie.  Ja, baie honde het lui geword, want hulle het agtergekom die trop bly maar net daar op die erf rond.  Ai, deesdae se honde is nie soos vanmelewe se honde nie…

Wag vir die trop. 

‘n Hond wil met die trop beweeg, maar die trop wil nie altyd dat die hond saamgaan, bv. werk toe, of winkels toe nie.  Die trop beweeg sonder hom….  Dan kan die hond niks anders doen as om net te wag nie.  Hy bly heeltyd in wag-modus (soms alleen daar agter die groot hek die hele dag – hoe hartseer) en kan eers weer soos ‘n hond voel as sy trop terug is.  Hy het nie eers behoorlike aptyt nie.

Beskerm die trop.

Die trop is ons trop, en ons werk is om ons trop te beskerm teen vreemdelinge.  Nie waar nie? Daarom moet ons die trop (dis nou die huismense, nè) attent maak as daar vreemdelinge by die hek verskyn, en in die geval van ‘n groter hond moet ons hulle met ‘n wilde gegrom ontmoedig om ons terrein en jaggebied (dis nou die erf, nè) te betree.  Dis tog wat van elke goeie troplid verwag word – ons bydrae tot die trop, wees dankbaar.  As ons ons terrein net so oorgee, wat sal van ons word?  En as iemand die leier, of een van die leiers, bv. die een wat vir ons die kos gee, benader op ‘n manier wat vyandig lyk, sal ons nie huiwer om met ‘n groot geskel beswaar te maak nie, of self so ‘n voorbarige een van die leier weg te byt nie.  Dis ‘n plesier, o leier, tot u diens.  Die trop kom eerste.  Alles vir die trop, is die hond se leuse.

Mens, hier is die les van die trop:

Honde is nie gemaak om alleen te wees nie.  Honde is tropdiere, onthou?  Ja, ‘n eensame hondjie wat agter ‘n groot hek vir sy trop wag om terug te keer, is hartseer, verkeerd.  Honde is tropdiere – het ek dit al genoeg kere gesê?   ‘n Hond sonder ‘n trop is ‘n hond op soek na ‘n trop.  ‘n Hond sonder sy trop is hartseer, onnatuurlik.   DUS:

1)  verstaan as ‘n hond by sy trop wil wees (m.a.w. by jou wil lê).  Gee maar vir hom ‘n plekkie daar by jou voete.  Moenie ‘n hond “aanhou” as jy hom heeltyd gaan uitsluit nie.  Dit is wreed. Nog belangriker as kos is sy behoefte aan sy trop,want in sy trop is waar hy kos sal kry.

2) Dis nie altyd prakties dat ‘n hond in die huis is, of iewers saamgaan nie.  Dan moet ‘n hond minstens ‘n maat hê.  Daar moet darem minstens twee van hulle wees, om hulle eie troppie op te maak.  Dit verlig die spanning van die alleenheid darem.  Geen eensame diere agter hekke en deure nie!

Volgende keer – die tropleier (dis nou jy!)