Monthly Archives: Desember 2012

Hier het die Woord vlees geword

Hier het die Woord vlees geword
24 Des 2012

kom ver
o Ster vanuit die Ooste
skyn ‘n lig op my
wat in die donker bly
skakel skielik aan
die hele hemeltrans
gloria in excelsis Deo
verlig my vrees
met goddelike vrede
et in terra pax
verander deur u guns u seën
in hominibus bonae voluntatis
alles

kom in
hierdie stal die hart vertrek
is leeg en donker woes
nog soms in Betlehem
benoud en tóé maar kom
gooi oop daar’s plek, daar’s plek
rus hier en baar vandag
u kind
van bo gebore nuut geskep
en laat die vensters lag
die klokke lui en sing
en huil en juig die feit die feit
hic verbum caro factum est

Advertisements

Honde-coaching 107 – Wat honde vir mense leer

doggyHonde-coaching 107 – Wat honde vir mense leer

In hierdie deel, waarmee ons ons reeksie oor honde afsluit, kom ons by ‘n hoogtepunt.  Ek wil deel oor wat mense van honde kan leer, want dieselfde instinkte en emosies is ook by ons teenwoordig.  Meer nog, diere het op bepaalde terreine ‘n voordeel bo ons, en DIS waarby ons wil uitkom.  Laat ek egter net eers vir oulaas iets ter wille van ons mindere broers en susters sê:  Wees vir diere!  Jy kan vir diere wees op die volgende wyses:

  • Hanteer jou diere met die nodige begrip en respek.  Hulle is God se skepsels en was hier voor ons.  Alle lewe is heilig.  Leer ook jou kinders goeie dierewaardes.  Gesels daaroor met ander mense as jy die kans kry – versprei die woord…
  • Tree ook aktief op.  Ondersteun die DBV en die ander diere hulpverenigings.  Gee ‘n bydrae en kyk of jy ook andersins kan help.  Ry met ‘n sakkie hondekos (veeartse verkoop klein sakkies of deel dit selfs uit)  en ‘n bottel water (en ‘n leë margarienbakkie) in jou kar en stop as jy ‘n verwaarloosde hond sien.  Hondekos kan nie deur ‘n slegte baas opgeëet word nie en is voedsaam.  Oor die algemeen het ek gesien boemelaars sorg nogal vir hulle ou vriend, op ‘n manier, maar daar is ook aaklige uitsonderings.  As ‘n hond regtig verdwaal lyk, tel hom op en vat hom DBV toe.  En ja, betaal maar iets daar in – dis jou bydrae tot die wêreld.  Teken al wat petisie is teen renosterstropery of wat ook al.  Wees vir diere! Die Here sal jou vir die bg. seën.

En nou wat betref die mense… om ‘n mens te wees het voor- en nadele.  Let op, die volgende is baie belangrik.

In watter opsig verskil ‘n mens van die diere? 

Die Bybelse verhaal sê ons is (1) na die beeld van God gemaak, anders as die diere, en ons het (2) ‘n keuse gemaak vir “kennis van goed en kwaad”.  Beide dui daarop dat ons die volgende eienskappe het, wat diere nie het nie:

  • Ons het laas verwys na ons RASIONELE (verstandelike) vermoëns:  ons bewustelike denke, ons logika, redenasie en besluitneming, ons taalvermoëns en presiese kommunikasie en ons kreatiewe vermoëns;
  • Die bg. “kennis van goed en kwaad” beteken ons het ‘n morele oordeel, ‘n vrye keuse en neem daarmee saam die gevolg daarvan, naamlik om verantwoordelikheid te aanvaar vir ons keuses.  Mense kan dus skuldig wees aan ‘n oortreding en ‘n dier kan nooit nie.  ‘n Mens kon kies, maar ‘n diere reageer net uit instink.

Vryheid gaan altyd saam met verantwoordelikheid.  Hoe meer vryheid, hoe meer verantwoordelikheid –  soos risiko saam met potensiële opbrengs saamgaan.  Jy kan dit nie skei nie. Maar daar is ‘n ander nadeel waarop ek afstuur:

Ons rasionele vermoëns het groot, groot nadele…

Die mens gaan heeltemal op in sy verstandelike vermoë en het vergeet  hoe om uit sy emosies te leef, soos ‘n dier.  Ons hel te veel oor na die rasionele kant.  Die rasionele kant het groot, groot nadele. Ons het vergeet van die emosionele kant.  Wat bedoel ek daarmee?  Die volgende voorbeelde sal dit verduidelik:

  • ‘n Hond komkommer nie:  ‘n Dier reageer op ‘n bedreiging deurdat sy adrenalien opskiet en hy binne ‘n breuk van ‘n sekonde reg is vir veg of vlug.  Dan veg of vlug hy tot die gevaar oor is.  Dan is sy adrenalien afgewerk en kan hy weer ontspanne neerflop op daardie lekker sonkolletjie op die stoep.  Dis soos adrenalien moet werk.  ‘n Hond is nie bekommerd oor môre nie, en is nie spyt oor gister nie.  Hy voel ‘n veer vir die resessie , die politiek, die droogte of enige van daai dinge.   Hy verknies hom nie omdat hy ‘n medehond se been afgevat het, of op oubaas se tafel sy been gelig het nie – ek meen, die tafelpoot het vreemd geruik en voor hy homself kon kry het hy dit meer toepaslik gemerk (onthou ‘n hond ruik minstens ‘n duisend keer beter as ‘n mens).  Ons egter, het meer kennis.  Ons is bekommerd oor ons werksvooruitsigte, oor ‘n verhouding wat dalk skeefloop; ons is kwaad vir die regering, ons wroeg oor ‘n fout wat ons gemaak het.  Die adrenalien word egter nie afgewerk nie – ons veg of vlug nie….  Dit bou op, ons word angstig en gestres en die liggaam tel skade op op sy swakste plekke.  Sien jy die voordeel van die onkunde  van diere en kinders?  Ignorance is bliss…
  • ‘n Hond het nie ‘n ego nie:  ‘n Dier se selfsug is gebaseer op oorlewing, maar by ‘n mens is dit bietjie ingewikkelder.  Ons rasionele vermoë ontwikkel rondom twee jaar teen ‘n geweldige tempo en ons ontwikkel die besef dat ons ons eie mens is.  Voor dit het ons – soos ‘n dier – maar net alles beleef in ‘n soort van naïewe aanvaarding dat alles soort-van-een-ding is.  Ons kry dan ‘n individuele selfbewussyn, gebaseer op ons persoonlike waarnemings en gedagtes.  Ek is ek…want ek dink my eie gedagtes en maak my eie besluite.  Ek het my eie wil, besef ‘n tweejarige en daarom skree hy: MYNE!  Ek is nie jy nie, ek is ek, ek is anders en uniek en net daar kom die besef dat ek dalk beter is as jy – ek maak mos beter keuses, ander moet meer soos ek wees, nie waar nie?  Die EK of EGO ontwikkel op hierdie manier en is outomaties ingestel TEENOOR die wêreld en teenoor ander mense.  Ons individueer, sê die sielkundige ouens.  Daarmee saam kom die egosentrisme, die groot ego, wat ons in Bybelse terme noem die VLEES, of EIE EK – daardie selfbelangrike en selfgesentreerde ding in ons wat myself in die middelpunt van alles plaas.  Dis eintlik ons oersonde, sê die Bybel, want al die res kom daaruit voort.  Diere het niks hiervan nie!  Hulle dink nie hulle is beter as ander honde nie, hulle gee nie voor wat hulle nie is nie en loop nie rond met ‘n houding nie.  Hulle dink nie – punt, en dis nogal voordelig!
  • ‘n Hond werk nie vir sy waarde nie:  ‘n Hond werk nie – punt, en watter voordeel is dit nie!  ‘n Hond hoef nie sy oubaas se guns te verdien deur homself sus of so te hou nie.  Hy hoef niks te verdien nie en probeer ook nie eers nie.  Wesenlik kan  ‘n hond niks anders wees as net homself nie.  Hy steur hom nie aan sy voorkoms nie en weet in elk geval nie hoe lelik hy lyk nie, shamehonde gee meestal nie aandag aan hulle spieëlbeeld nie, want hulle sien dit soos hulle ons TV sien – ‘n prent van ‘n lelike ou ding wat na niks ruik nie.  Hulle weet dis nie ‘n regte dier nie.  Om te dink dat daardie prent HULLE is, is heeltemal buite hulle verwysingsraamwerk.  Hy weet dan nie eers hy is anders as die mense nie…   Honde voel dus nie inherent minderwaardig of meerderwaardig nie, nee hoekom?  Net mense doen sulke simpel dinge…  Hier is die bottom line: ‘n hond hoef nie te WERK vir sy waarde nie, hy kan maar net WEES.

Al die bg. voordele is die gevolg van ‘n hond se gebrek aan die rasionele vermoëns wat ‘n mens het.  Kom ons voeg net by dat ons so ‘n bietjie oordryf het, nè…  ‘n hond het IETS van al die bg. dinge, maar nie naastenby in die graad waarmee die mens daarmee sukkel nie…

Nou maar wat kan ons doen?

Wel, ons moet duidelik so ‘n bietjie balans terugkry.  Dalk moet jy net eers meer jou diere dophou.  Kyk hoe lekker leef jou kat.  Sy loop oor van hedonisme, kan jy maar sê.  Die lekkerste sonkolletjie, die diepste slaap, die luilekker uitrek – not a care in the world – oorbeweeg na die kosbak toe, my dik vreet, wat sal ek nou doen?  Dalk weer bietjie lê….  Praat van slaap tot jy honger is en eet tot jy vaak is!  Diere gaan nie sommer van spanning dood nie, maar mense gaan…  Leer maar gerus by jou hond iets aan, en let ook op die volgende:

  • Veg of vlug!   Ja, ons moet die adrenalien afwerk, soos diere doen, om ons spanning te verminder.  Die natuur se manier is om aktief te wees.  Hoe meer aktief jy is, hoe meer ontspanne is jy.  Hoe meer onaktief, hoe meer stres bou op.  Kom uit!  Gaan stap, ry fiets, gaan oefen, grawe in die tuin, enige-iets wat jou laat sweet.  Dis baie, baie belangrik.  Nou sal jy beter slaap, maerder wees en beter voel.  Ja, om genoeg te slaap is nog ‘n belangrike les wat die diere ons leer.  En om ten volle te geniet wanneer jy ook kan, vriend – die lewe is kort… leer dit by ou Kolle.
  • Handel dinge af.  Jy dink te veel.  Kry end daarmee.  Ek bedoel eintlik hou op wroeg.  Doen eerder iets.  Tel die foon op of skryf ‘n mail en vra almal se vergiffenis wat jy te na gekom het.  Laat hulle daarmee doen wat hulle wil.  ‘n Berg sal van jou skouers rol.  Kry God se vergiffenis – hy gee vryelik.  Vergewe jouself dan ook:  jy is net ‘n mens, jy was jonk en onvolwasse.  Jy is nou veel wyser.  Deel met uitstaande kwessies.  Gaan praat iets uit.  Doen wat jy moet doen.  Kry ‘n kompromis,  of sny goed af indien nodig – aanvaar en laat gaan die verliese.  Skeduleer afsprake om die uitstaande goed af te handel.   As jy nie reg is om iets te laat gaan nie – ons wil nie vermetel wees oor ernstige sake nie – gee jouself tyd om te rou en trek dan ‘n streep, sodat jy met die lewe kan aangaan.  Dis wat betref wat JY kan doen en dit wat in die verlede lê.  Wat betref die toekoms en alles wat buite jou beheer lê:
  • Glo radikaal – Jesus eis dit immers.  Hy sê ons moet word soos ‘n kind (of ‘n dier, nè) – met omvattende en implisiete vertroue in God.  Dinge sal uiteindelik OK wees, is die GROOT boodskap van die Bybel, as jy dit net kan vat/glo … (as jy dit nie kan glo nie, moet jy maar in jou wroegings aankarring, moet net nie die Here blameer nie).   God is daar, God sal sorg, God is lief vir my – al sterf ek ook, sal alles OK wees.  Leer om oor te gee en af te gee.  Moenie glo die Bybel vra van jou om te “presteer” sodat dinge OK kan wees nie, nee meneer dis wat ons daarvan gemaak het, o nee die Bybel leer dat Christus eens en vir altyd presteer het en dat ons dáárdie prestasie ons eie moet maak.  Nee, by God hoef jy nie te WERK nie, jy hoef net te WEES.  WEES ‘n kind van God, WEES ‘n geliefde, WEES ‘n mens wat foute maak, WEES net.  Rus in sy genade.  Dis geloof.

Weet jy wat?  Dis wat diere doen!  Die hele skepping vertrou op God en jubel oor sy sorg en voorsiening – net die mens speel vals in die groot simfonie…  Nee, leer dit gerus by ou Wagter – op sy dierlike manier  weet hy nogal hoe om te leef.

Jimi le Roux is ‘n geestelike en lewensbegeleier.  Gaan gerus na www.jimileroux.com vir volledige inligting oor ons daaglikse oordenkings, ons geestelike kursusse en ons coaching programme. 


Honde-coaching 106 – Jou hond se emosies

doggyHonde-coaching 106 – Jou hond se emosies

Hierdie reeksie het mos darem seker ‘n doel, nie waar nie?  Ja verseker meneer, en eerste is sekerlik om ‘n bydrae te maak tot die welsyn en welwese van die canis lupus familiaris, ook genoem die canis domesticus, al 400 miljoen van hulle, shame.  Hulle kan nie praat nie en is so lojaal.  Elkeen wat ‘n hond mishandel sal sy straf kry – dis verseker.  Ek staan vir ‘n meer regverdige bedeling vir die honde…  Laai die reeksie af, print dit uit en gee dit vir jou kinders om te lees.  Dis soos die honde in ons huis hanteer gaan word, kinders…  Of gaan gooi dit (anoniem natuurlik) in die bure se posbus…  ‘n Verdere doel is natuurlik maar altyd die trefslae op ons websites, wat nie vanself sal inkom nie, nie waar nie, en laastens, maar (u-hum) nie die minste nie, moet hierdie reeksie natuurlik ons coaching bekendstel.  “Ons” is immers ‘n geregistreerde life coach en geestelike begeleier en “ons” eintlike belangstelling lê veral by mense….  Mense het baie om te leer by die diere, en dis waarop ek nou eintlik afstuur, maar in ons laaste aflewering sal ons daaroor deel.  Hierdie week sluit egter daarby aan, en kom ons spring sommer in:

‘n Hond is ‘n bondel emosies

‘n Mens natuurlik ook, maar ek het gesê later daaroor…   ‘n Hond het ‘n rekenaar in sy skedelholte wat ons noem ‘n brein en dit verskil ‘n bietjie van myne en joune, want soos al die diere se breine het dit minder in van die mense se rasionele vermoë.  Mense het mos daardie groter selfbewussyn, bewuste logika, redenasie en besluitneming, taalvermoëns en presiese kommunikasie en kreatiewe vermoëns.  Maar daardie vermoëns staan bo-op die sg. soogdierbrein, wat ons met alle soogdiere deel, ja ook met Flaffie.  As ons ‘n hond verstaan, kan ons onsself beter verstaan, het ons gesê, want onder daardie rasionele vermoëns het ons dieselfde emosionele reaksies as die diere.  Jip…  Fido het mos basies maar net emosies om die lewe mee te leef, nè – dink net: hy redeneer nie dinge uit nie en hy weet nie eers hy is ‘n hond nie – maar die emosies WERK nogal goed vir hom. Emosies is nodig vir oorlewing – vir mens en vir dier.  Emosies is ‘n dier (en ‘n mens) se fisies-psigiese reaksie op die omgewing. Daarom is ‘n hond (en ‘n mens) ‘n bondel emosies.

Honde se emosies is die volgende:

1) Vrees is die primêre emosie by diere en mense.  Vrees hou diere aan die lewe.  Vrees maak dat zebras uiters versigtig is by die watergat, dat bokke weghardloop by enige skielike beweging.  Vrees maak dat slange en goeters onder klippe wegkruip of sommige diere “dood speel”.  Vrees hou ons uit die gevaar uit.  Honde word deur vrees gemotiveer as ons op hulle skel of met die opgerolde koerant naderkom, as klappers afgeskiet word, om sommer as hulle ver van die gevaar staan en blaf;

2) Angs is veralgemeende vrees.  As ‘n hond oor ‘n langer tydperk alleen gelaat word, mishandel word of inkonsekwent behandel word, kry hy ‘n algemene hoër vlak van adrenalien en word hy senuweegagtig en angstig.  Terwyl vrees ‘n goeie emosie is, ironies genoeg, is angs ‘n slegte emosie.  Vrees skei ‘n klomp adrenalien af en maak hom dus gereed om te veg of vlug, en sodra hy “geveg” het (m.a.w. hek toe gestorm het en die posman weggeblaf het van ons erf af) of “gevlug” het, m.a.w.  ver agter in die jaart vir die groot vullislorrie wat so raas gestaan en blaf het (honde blaf baie uit vrees – soos vir daardie groot wit ding in die lug wat snags vir hulle loer), kan ou Fido, Brutus of Fiefie heerlik neerflop en verder slaap – sy adrenalien afgewerk.  Met angs egter bly die adrenalienvlakke hoog en kan dit die senuagtige hond skade doen, asook wie in die pad kom nè, as hy links en regs byt.  So ‘n hond wantrou uit veiligheid maar later alles en almal – jy weet nooit.

3) Woede of aggressie is nodig in die natuur, aangesien dit die meganisme is waardeur diere hulle terrein beveilig.  Hulle terrein is die bron van hulle kos en dus hulle oorlewing.  Diere probeer dus ander diere weghou van hulle terrein.  Adrenalien is weereens die brandstof en Flaffie is hoogs omgekrap as die posman, pamfletuitdelers, kinders wat speel, mense met stootkarretjies, tantes op ‘n wandeling of die ergste nog:  ‘n ander hond hulle veiligheid, voorsiening en hele oorlewing kom bedreig deur voor die hek te kom verskyn.  So iets sal hy nie duld nie.  Met volle oorgawe werp hy hom in die stryd en met besondere dapperheid verdryf hy die vyand.  Die mense doen mee deur heeltyd op hom te skree as hy so te kere gaan.  Dis altyd ‘n hoogtepunt!

4) Terwyl alle diere woede en aggressie beleef (wat “goeie”, funksionele emosies is), is haat selde iets wat by hulle voorkom.  Cesar Milan sê: There is no hatred in the animal world.  Diere hou nie maklik ‘n wrok teen ‘n ander nie.  Hy loop dus nie met ‘n veralgemeende woede nie.  Sy woede is ‘n korttermyn adrenalien-ding.  Hy maak maklik weer goed.  Hy vergewe dadelik – veral vir oubaas, die leier.

5) Selfsugtigheid word nou nie eintlik gewoonlik as ‘n emosie geklas nie, maar dis nogal ‘n sterk motief by diere (en mense), en betrek eintlik ‘n klomp emosies (vernaamlik vrees, woede en jaloesie).  Ek gooi dit hier in, want anders sal ons nie ons diere verstaan nie.  Tropdiere (soos mense) het ‘n sterk neiging om te wil uitstaan, om aandag op hulleself te vestig , om die leier van die trop te wees, om belangriker te wees as die ander.  Daarom doen ou Snuffels die volgende:

  • Snuffels probeer aandag ontvang.  Op baie maniere probeer hy gesien word, gewoonlik deur voor jou te staan of te lê, of in die middel, of voor die TV; of mee gespeel word of hy sal teen jou skuur.  Ook om ‘n scene by die hek te gooi, of selfs om met die ander honde te baklei is om te wys hoe kragdadig hy deesdae is en hoe min nonsens hy eintlik nou vat.  Kyk vir my!
  • Snuffels probeer as leier optree (wat ons deeglik hanteer het) en in die diereryk gaan dit nie oor die beste voorstel maak nie, maar oor eerste wees by die kosbak, voor loop, en die ander ouens op hulle plek hou…  Hierdie is MY TV…  Elke tropdier probeer opgang maak in die rangorde.
  • Snuffels is nogal jaloers.  Hy laaik dit niks as ander honde aandag kry of voorgetrek word nie, en sal met hulle baklei om hulle ‘n bietjie onder te sit.  Besoekers word soms met aandag ge-assosieer, en as die deurklokkie dus lui, moet ek sommer vinnig die ander ouens uit die pad kry, sodat die besoekers  maar net vir my sien en hopelik my maag krap uit onderdanigheid.
  • Deel van die bg. kompeterende gedrag is die lelike ding wat diere het en dis om almal teen die underdog te draai.  Ons speel lekker saam, maar as een aangeval word, spring almal sommer in, of as die baas een hond berispe, is die ander ook dadelik by om te wil dissiplineer.  Deel van die motivering is om aan die leier te wys ek is aan sy kant, en deels is dit omdat ek self so ‘n bietjie uitstyg en belangrik word.

Onthou, ‘n hond het ‘n mentaliteit van ‘n kind van so 2 of 3.  Al die bg. gedrag is wat ons as kleinlik, kinderlik en onvolwasse sou beskou as mense, maar let maar op hoe dikwels mense presiese net so optree, nie waar nie?

6) Skaamte of verleentheid is iets wat diere beleef.  As daar vir hulle gelag word, is honde baie skaam – kyk maar hoe hulle ore hang, hulle wegsluip of probeer verdwyn.  Dis omtrent sad om te sien.  Moet dit hulle nie aandoen nie.

Kom ons kyk na die “positiewe” emosies:

7) Opgewondenheid  is ‘n besliste dierlike emosie.  As die wildehonde jag, is hulle lewendig en opgewerk, hulle spring rond en blaf.  Die geblaf werk hulle net nog meer op.  Dan laat waai die leier en almal is agterna…  blaf, blaf.  Adrenalien is hoog.  Ook as die honde deur die Engelse edelliede bymekaargemaak word vir die jag, gaan hulle so te kere. Terug na jou agterjaart:  as  die kar by die huis stop, is die trop opgewonde en gaan tekere, of as die kossies nou amper neergesit gaan word.  Of as iemand met hulle stoei of ‘n speelding vir hulle gooi.  Ons het al gesê dat jy dalk maar die adrenalien moet afhou, veral by Brutus, Hercules of Hitler.

8) Liefde.  Wat is liefde?  Kom ons kyk eers wat gebeur in die natuur.  Wolwe paar lewenslank met een maat en daar is verhale van hoe hulle rou as hulle maat doodgaan – bv. deur mense geskiet word, nè?  Wildehonde paar ook so (soos wolwe paar net die alfa mannetjie en wyfie – nie die res nie).  Ons mak honde paar nou nie so nie (tensy daar nou net een maat beskikbaar is, nie waar nie) – hulle word maar letterlik aan die neus gelei deur watter teef ook-al op hitte is. Hei, die spesie moet voortbestaan… en sulke paardery gaan mos nou nie eintlik oor liefde nie.    Wolwe, wildehonde en ons mak honde is almal egter verskriklik geheg aan die trop en die leiers.  Daar is mooi verhale van hoe hulle mekaar se kleintjies oppas, hoe hulle gewonde troplede help, ens.  Ons honde het dieselfde instinkte:

  • ‘n Hond se kenmerk is getrouheid en lojaliteit. Honde is baie getrou aan die trop en die leier, m.a.w. aan oubaas.   Hulle wag die hele dag dat oubaas sal terugkom van die werk af – of die gesin van vakansie af, shame.  Daar is baie verhale van Fido (wat beteken “ek is getrou”) wat op oubaas se graf bly lê, en so aan.  Dit is baie mooi.  Noem dit maar liefde.  Miskien gaan dit nie soseer oor die liefde nie, maar oor die verlies van die trop…
  • Intimiteit en vertroue ontwikkel.  Jy vertrou vir Brutus om speels vir jou te byt as julle stoei, of laat hom toe om sy snoet teen jou te druk of aan jou te lek (ja, maar nie eintlik in die gesig nie – draai net jou kop).  Dis die manier hoe ‘n hond aan jou vat en skep sosiale bande.   Hy weer sal toelaat dat ounooi in sy ore kyk, en sy lyf deurgaan vir vlooie, maar sal nie iemand anders toelaat nie.  Noem dit maar liefde.
  • Die moeder (en vader) -instink by honde kom na vore as daar kleintjies is.  Die ma is baie beskermend en dikwels die reun ook.  Dit neem af soos die kleintjies groot word – na ‘n paar weke is dit asof sy nie meer besef dis haar kinders nie…  maar wie weet, en ek is seker sy is bly om hulle daar rond te hê.  Daar is soms stories van ma-honde wat sommer katte of ander diere soog.  Te cute.  Noem dit maar liefde.

9) Gelukkigheid – noem dit maar tevredenheid of vrede.  Bruno is sielsalig-gelukkig as sy maag vol is, as hy voel hy is sommer ‘n meneer in daardie troppie van julle, as die son op hom skyn daar op die sementstoep en as hy so vaak voel soos honde omtrent tien keer ‘n dag voel…  Heerlik!  Honde vra nie veel nie – hulle geluk kom sommer vinnig.  Honde komkommer nie oor môre nie… ook nie oor gister nie.  Trouens, honde ken nie kommer nie.  Wonderlik!

Ja, ons kan baie by honde leer – maar daaroor volgende keer meer, in ons finale aflewering.

Volgende keer – Wat honde vir mense leer.


Honde-coaching 105 – Probleme met die honde

 

doggyHonde-coaching 105 – Probleme met die honde

Ja, dis dikwels maar ‘n “hondelewe”, as jy ‘n hond is.  ‘n Hond trek dikwels aan die korste ent, maar omdat hy niks anders ken nie, reageer hy maar instinktief op sy omgewing en kry dit reg om meestal aan te pas.  Trouens, honde is met min tevrede.  Hulle behoeftes is basies insluiting by die trop en die basiese fisieke versorging – en ideaal gesproke die dingetjies wat ons laas keer genoem het, nie waar nie, wat ‘n hond nou werklik gelukkig maak.  Soms is daar werklik ‘n probleem met ‘n hond, en dit is gewoonlik NIE DIE HOND SE SKULD nie, maar die manier hoe hy hanteer word.  Ja, dit is ONS SKULD.  Jy kry nie eintlik probleem-honde nie, maar wel probleem-eienaars.  Kom ons kyk na wat kan gebeur:

Honde-simptome

Kom ons verdeel die “simptome”, eerder  dan gedragsprobleme, onder ‘n paar hoofde:

1. Daar is die “gedragsprobleme” wat nie eintlik probleme is nie, maar inherent aan die ras van die hond, bv. wakker klein hondjies wat kwansuis nie mag blaf nie, groot waghonde wat nie kwaai mag wees nie, sleetrek-honde wat nie mag hardloop nie, soek-en-vind honde wat nie mag grawe nie, ens.  Asseblief!  Wat het jy gedink?  Ken die ras van jou hond en verstaan dat hy doelbewus GETEEL is om so te wees.  Aan daardie gedrag kan nie veel verander word nie, en as jy hom daaroor gaan slaan, moet jy self met ‘n peits bygekom word;

2. “Gedragsprobleme” wat eie is aan hondwees.  Honde WIL ‘n trop hê, ‘n leier hê, ‘n leier wees, die trop beskerm deur vir nie-troplede te blaf, en dies meer.  Dis ook g’n probleem nie – jy kan dit maar hoogstens beter bestuur.  ‘n Hond wil ‘n hond wees.  Die meeste “probleme” met honde is dat ons hulle soos mense behandel – en dan ook nog soos mense aantrek, in die pram stoot, asseblief tog, en al sulke onsinnige dinge.

3. Gedragsprobleme omdat honde gefrustreer of verwaarloos word.  Honde SAL (presies net soos ‘n mens) depressief of “stout” raak as hulle heeltyd op hulle eie gelaat word, veral waar daar nie ‘n uitsig is nie.  ‘n Hond KAN nie alleen in ‘n agterplasie toegesluit word nie, dis nie reg nie.  Laat ons JOU daar toesluit…  Ja, te veel mense hou honde aan wat nie regtig vir hulle kan sorg nie, en ons praat nie van kos en water nie.

4. Gedragsprobleme omdat honde siek of oud is, is nie eintlik in die scopus van ons verhandeling nie, geëerde dames en here, maar kom ons noem dit net as ‘n moontlikheid.  Maak seker jou hond het nie ‘n pyn iewers nie.  Is sy tande reg – jy het hom tog nie soetgoed gevoer nie?  Is sy heupe seer?  Veearts toe asb.  Diere moet ook lewenskwaliteit hê.

5. Gedragsprobleme omdat diere verkeerd hanteer word.  Dis seker waar die meeste probleme inkom.  Hier gaan dit oor bv. die volgende:

  • Diere wat wantrouig is teenoor alle mense omdat hy afgeknou of verwaarloos is.  So ‘n dier sal aggressief wees om homself te verdedig;
  • Diere wat oormatig teen besoekers en ander buitestaanders reageer – deur kwaai te wees en aan te val.  Sulke diere is OF onseker van hulleself en nerveus (ek gaan die woord nou meer gebruik, dit klink hoogdrawend) en dus aggressief, of beskou hulle self as die leier omdat hulle al die aandag kry (en in hondegedagtes dus die leier is) en dis mos deel van hulle pligte;
  • Diere wat met mekaar baklei omdat hulle jaloers is om die aandag self te kry (veral voor besoekers) en wil verhoed dat die ander een aandag kry, of omdat hulle leierskap-stryd nie uitgesort is nie, bv. twee reuns;
  • Diere wat oorgestimuleer word en wie se adrenalien al by sy ore uitloop.  Onthou, in die natuur slaap ‘n hond 18 uur van die dag.  Hulle lê maar daar.  As daar gejag word, of ‘n vyand skielik verskyn word opgespring – adrenalienvlakke onmiddelik hoog – en word gehardloop, gejaag, gespring en veral geblaf.  Die geblaf moedig mekaar aan en hou die adrenalien hoog.  Dan is die gevaar oor, of die jag verby (of die posman weer weg), en word weer neergeplons, die adrenalien afgebrand deur die veg-of-vlug aksie.  Binne ‘n minuut is ou Fido al weer in droomland.  Ons kan NIE die hond se adrenalien hoog hou deur heeltyd met hom te speel (of te veel speelgoed te gee nie), of deur heeltyd aandag te gee of hom op te sweep nie.  Let op dat as ons heeltyd skel of sy naam skree, of in ‘n hoë, opgewonde stemtoon praat, dit maar net sy spanning opjaag.  Jy blaf op hom!  Daardie hond moet iewers van sy adrenalien ontslae raak en soos ons raak hulle ook verslaaf aan adrenalien en later baie aggressief.  Asseblief – hou sy adrenalien en joune laag.  Hou dinge rustig.
  • Diere wat pleinweg onseker is omdat hulle leier onseker en inkonsekwent en eerlikwaar bietjie bang vir hulle is, en nie weet wat volgende gaan gebeur nie.  Of die mense gaan om jou hang en op die grond met jou rol of hulle gryp die lat en slaan jou boude bitter seer al om die huis – om geen rede nie.  Onthou, die hond sal nie maklik verstaan dat dit verkeerd was om naar te word in die badkamer nie.  As jy sy neus daarin gaan druk, beteken dit steeds vir hom ‘n ronde nul behalwe dat jy nou baie kwaad is en hy moet maak dat hy wegkom.  Terloops, ‘n hond moet wat my betref ewe veel binne en buite wees – tensy dit nou ‘n helemaal buitehond is, ook goed, maar as jy ‘n binnehondjie aanhou SAL daar glipse en goed wees, dis immers net ‘n hond, ek meen ‘n glips is ‘n glips.
  • Diere wat bederf is deur al die aandag wat hulle van mense kry en heeltyd meer wil kry en regte bedorwe brokkies geword het: onbeskof en opdringerig en sommer voorskriftelik en ongemanierd.  Staan heeltyd waar almal hulle moet sien, probeer aandag trek op allerhande maniere (hou maar dop), lelik en jaloers op ander, kwaai en snipperig – al sulke dinge.

 Wat om te doen met ‘n probleemhond

Wel, skakel eers die obvious en fisieke dinge uit.  Doen dan stiptelik die volgende:

A) VOORSIEN IN DIE HOND SE BEHOEFTES

  • Laat hom deel wees van die troppie – hy wil maar net daar by julle wees.  Gee hom ‘n vryfie op die kop as hy na jou toe kom.
  • Sorg vir goeie (en darem ook lekker, shame) kos en baie vars water.  Ja, sy eie plekkie en sy kombers.
  • Sorg vir sosiale omgag.  Daar moet darem twee honde wees, mense – as jy die hele dag nie daar gaan wees nie.  Dis belangrik.  Gee vir hom ook sy TV na die straat toe.
  • Gaan stap met hom op gereelde basis.  Dis belangrik.  Gee hom kans om sy adrenalien af te werk met fisiese oefening en sommer “die nuus op te tel” teen die lamppale.

B) VERSKAF DOELGERIGTE, RUSTIGE EN STERK LEIERSKAP

  • Besluit jy is die leier en begin kalm en assertief optree in jou houding, gedrag en reaksies.  Staak alle geskel en geslaan.  Dit help bitter min – trouens dit doen gewoonlik meer kwaad.
  • Staak alle oormatige  aandag aan die honde.  Hou op met die vryf, die in-die-oë-kyk en die gepraat en gekoer.  Wees vriendelik, beskikbaar,insluitend, erkennend, ens.  maar dis genoeg.  Dink hond – nie mens nie!
  • Verlaag die hond se status in die trop.  Die bg. doen dit reeds nè (goed so), maar die volgende is baie effektief.  As ‘n hond stout is, ignoreer hom onmiddelik.  Draai weg van hom of stap uit.  Onthou, hy doen dit vir jou onthalwe – he plays to the audience.   As hulle baklei, stap uit.  Isoleer hom onmiddelik.  Kyk dadelik weg – GEEN oogkontak.  Jy kan jou hande voor jou oë of gesig hou, of ‘n tydskrif.  Meestal sal die hond ophou en na jou staar.  Jou gesig het verdwyn en daarmee saam sy hele rede om te doen wat hy doen.  Dis interessant om te sien hoe hy heen en weer loop om te kyk waar jy is, of jou te dwing om sy performace gade te slaan.  As hy dit nie regkry nie, sal hy maar by jou voete gaan neerplons.  Sy haal jy sy fut uit.  Onthou, jy mag dit net doen met ‘n stout hond – maar dit wys hom wie’s die baas.  In die trop kyk die leier weg van ‘n hond wat uitgestoot word.  So ‘n hond bly dan (baie angstig) vir die leier kyk tot die hom vergewe en hom weer aankyk.  Dan voel hy weer goed!
  • Begin goeie grense implementeer.  As die hond oortree, sê vir hom streng “nee” en ignoreer hom dan dadelik.  Cesar Milan gee die hond net ‘n skerp stekie in die ribbes met die vingers (of die hak) en ‘n harde TSH!  en gaan aan met sy dinge.  Hond se kind word nooit die middelpunt van die aandag nie.

Voer die bg. konsekwent deur.  Die bg. is ‘n soort van ‘n cure-all.  Dit werk vir die meeste alledaagse probleme.  As dit nie werk nie (maar hou aan), moet jy verdere hulp soek.  Daai hondjie van jou het al ‘n lekker wil van sy eie of is dalk al net so neuroties as sy baas…  shame!  Meer ernstig – sommige honde is al so kwaai gemaak dat hulle ander honde in die straat sal doodbyt, en ook gevaarlik vir mense is.  Sulke honde het eintlik nie ‘n toekoms nie – dis jammer.  Onthou ook die wet.  As jou hond sonder dat hy aan ‘n leiband is buite die erf iemand gaan byt is die volle skade joune.  Honde – veral gevaarlike honde – moet te alle tye onder beheer gehou word.

Dog fight mode

Ten slotte sal ons iets sê oor die hond wat baklei.  Onthou, ons reeksie is maar baie inleidend.  Volgens Pam Whyte is ‘n hond wat voluit in ‘n geveg is in ‘n transtoestand.  Dog fighting mode is ‘n ernstige toestand. So ‘n hond veg vir lewe en dood en sal jou nie eers hoor skree nie.  Ons praat nou nie van keffertjies wat mekaar skraap en wegjaag nie, ons praat van die regte ding.  Verhoed dat jou hond ooit daar gaan.  As die honde klein is kan jy hulle probeer uitmekaar maak, maar jy sal sekerlik ook ‘n byt of wat opdoen.  Gryp hulle weg van mekaar.  Verras hulle deur hulle skielik met water te spuit, of roep die vee-arts in.  Daar sal fisieke skade wees en probleemgedrag sal sekerlik erger word.  Mense wat hondegevegte reël, hoort nie onder ons nie, maar moet uit die samelewing verwyder word.  Ek sal maar nie my sin hier klaarskryf oor wat van hulle moet word nie – ek dink aan ‘n Pit Bull of veghond met skerpgevylde tande, of so iets…

Volgende keer – Jou hond se emosies

 


Honde-coaching 104 – Jou hond het behoeftes

doggyHonde-coaching 104 – Jou hond het behoeftes

Ek is glad nie iemand wat dink almal moet ‘n hond aanhou nie – allermins!  Trouens, ek glo veel minder mense moet honde aanhou, aangesien dit so ‘n verantwoordelikheid is.  Volgens my moet mense wat ‘n hond wil aanhou eers ‘n kursus volg (soos hierdie een), daaroor eksamen skryf, ‘n inspekteur van die DBV moet die perseel kom besoek en die mense bietjie uitvra en hulle aanbeveel en slegs dan behoort hulle toegelaat te word om ‘n lisensie te kry om ‘n hond aan te hou.  Net soos met ‘n vuurwapen, ‘n motor en ander verantwoordelike uitdagings.  Dis wat ek dink.  Ek self wil nie eers noodwendig altyd ‘n hond hê nie, a.g.v. die verantwoordelikheid, en ek is ook nie noodwendige ‘n hond-mens nie, maar ek verstaan wel honde – glo dit as jy wil.  As jy ‘n hond wil aanhou, moet jy goed besef dat ‘n hond die volgende van jou vra.  As jy die volgende nakom, sal jy egter ‘n maat duisend hê:

‘n Hond wil deel wees van die trop

Ons het reeds voldoende hieroor gedeel en ek sal net herhaal dat jou hond wil deel wees van die troppie daar in die huis – dis nou die gesin waarvan hy deel is – en dat jy hom nie moet uitsluit nie.  Gooi sy hondekombersie daar by jou voete en wys hom waar hy moet lê.  Wys hom die reëls en tree konsekwent, ferm en regverdig op as tropleier.  Dan is hy ‘n gelukkige hond.  Om uitgesluit te word van die groep is vir hom, soos vir jou, baie sleg.

‘n Hond het darem kos nodig

Kom ons handel dit af dat die hond daagliks kos en skoon water moet hê, dis seker vanselfsprekend.  Dis minder belangrik as die eerste punt, snaaks genoeg, want in die natuur gaan hulle partykeer dae sonder kos as hulle jag.  Maar – soos hulle in die trop sê – ons suffer sààm. Kos gaan nie opmaak vir verwaarlosing andersins nie, maar natuurlik moet die hond eet.  As daar goeie pille staan, sal hy nie honger ly nie – alhoewel met sommige honde moet jy die pille wegvat, want hulle sal bakke en bakke vol vreet. Nee, alle mapstieks, jou gewig… Hou by goeie kos – goedkoop koop is duur koop, want dit gaan in en uit (in plasse, sies) en gee nie voedingswaarde nie.  Jou hond eet dus twee keer so veel.  Alle honde hou van menskos, maar wees baie versigtig.  Hou net by die basiese.  Die volgende is gevaarlik vir jou hond:

  • Xylitol – kunsmatige versoeter in kougom, lekkers, gebak, ens. – kan die dood veroorsaak;
  • Sjokolade, koffie, alles met kafeïen in (ook tee) – teobromien daarin kan ook fataal wees;
  • Rosyntjies, druiwe (ook appelpitte, perskepitte, ens. – bevat sianied) is giftig en kan nierversaking beteken;
  • Knoffel en uie bevat stowwe wat die rooibloedselle aantas en die diere baie siek maak.  Om te kook verminder NIE die gevaar nie – hou dus verby met al die gekookte mensdisse soos bredies, lasagne, bobotie, pastas – ons kook mos vreeslik met uie en knoffel (baie lekker); ook babakos bevat soms knoffelsout;
  • Avokadopere, blare, pitte, ens. is dodelik vir honde (geen chips met guacamole), dit bevat persien; ook makadamianeute is baie giftig;
  • Melk is nie noodwendig giftig vir ‘n hond nie, maar kan vinnig lei tot diarree en allergie, veral met klein hondjies.  Honde drink water (katte ook, maar dis ‘n ander saak);
  • Alkohol se effek op honde is baie erger en kan ‘n hond in ‘n koma bring,
  • Vet en bene is so lekker vir die hond, maar wees versigtig.  Vet is ongesond en kan ook tot pankreatitis lei en bene kan splinter.
  • Ten slotte: geen soetgoed nie – jy gaan betaal vir slegte tande trek – en beperk sout.  Geen rou vleis of eiers nie, rou deeg (baie pynlik vir die hond), speserye, ens.

Vomering en diarree is die eerste tekens dat daar fout is.  ‘n Hond wat net lê, geen aptyt het nie, ens. moet dadelik veearts toe geneem word.  Ander tekens is allergie, gejuk en gekrap.  Dis dalk jou eie skuld.  Hou maar by hondekos of basiese, gekookte menskos.  Gekookte rys met bietjie gekookte hoender (of goedkoop “hondevleis”) bo-oor kan vir jou baie geld spaar, alhoewel daardie hondevleis maar kan stink.  ‘n Hond is ‘n hond en hy vreet mos eers, en proe later.  Dis hoe ons eet in die trop, ja…

Ander fisieke behoeftes

Ja, naas kos en baie skoon water het ‘n hond veiligheid en skuiling nodig.  Verkieslik ‘n eie plekke of hoekie, met sy kombers en bakke en sy speelgoed.  Dit gee hom ‘n plekkie van sy eie.  Dan natuurlik ‘n plek waar hy poefie kan maak, om die wetenskaplike term te gebruik.  Onthou, ‘n hondetrop beweeg histories rond in hul gebied en daarom poef hulle waar hulle wil en move aan.  ‘n Kat weer bly op haar gebied en daarom begrawe sy haar doings.  Hier’s twee belangrike woorde vir die honde-eienaar:  pooper scooper.

Unieke sosiale behoeftes

Die volgende is baie belangrike behoeftes vir elke hond en ek verwys na Pam Whyte vir die volgende:

  • ‘n Hond wil ‘n TV hê.  Ja, ‘n TV.  Gelukkig nie ‘n mens-TV nie, ‘n honde-TV.  ‘n Honde TV is ‘n uitsig.  ‘n Hond wil kan uitkyk op die straat.  Hy wil agter die voorhekkie kan sit en kan sien wat aangaan.  Hy wil deel wees van die scene.  Hy wil die honde wat verbykom kan groet  – ja, blaf (gun hom maar ‘n bietjie blaf, hy is net ‘n hond).  ‘n Hond in ‘n toe agterplaas met geen uitsig nie is net hartseer, en as dit ‘n groot hond is, is dit ‘n resep vir gedragsprobleme.  Depressie of frustrasie is jou voorland.  In die natuur is daar nie mure, hekke of deure wat agter jou toegaan nie.  Honde is nie daarvoor gemaak nie. Gee hom ‘n TV;
  • ‘n Hond wil speelgoed hê.  Pam Whyte beveel  koeihoewe aan, wat jy by die veearts kan koop, sommer baie goedkoop.  Honde kan vir ure daaraan kou.  Dis natuurlike en instinktiewe gedrag wat hulle kalmeer en  psigies gesond hou.  Net jammer daai goed kan na ‘n tyd so stink.  Hulle wil dit naamlik daar by die trop kou…
  • ‘n Hond moet oefening kry.  Dit is baie belangrik dat jou hond gaan stap.  Adrenalien bou op en as hy dit nie kan afwerk nie (veg of vlug), gaan hy maar in die tuin grawe, nie waar nie, of iets kou – soms die kar se bumpers – of oor die algemeen woelig wees.  Dus – al is dit nou moeilik – gaan stap met jou hond.  Kyk wat doen Cesar Milan – dog whisperer van formaat – om sy behandelings vas te lê.  Hy gaan stap met Fido – lekker lang ente. Hy laat g’n toe dat Brakkie vooruitloop of dwars trek nie, o nee meneer, jy bly langs my, ontspan, kyk voor jou en geniet die stap.  As ‘n hond rêrig oorgestimuleer is (‘n groot probleem), laat hy hom sommer eers op die trapmeul sy energie afhardloop.  Walkies laat ‘n hond sommer goed voel en goed slaap.
  • ‘n Hond wil die nuus lees.  Pam Whyte voel egter dat ‘n hond op sy walkies die nuus moet kan lees – by die lamppale natuurlik.  Hy wil ruik wie daar was en natuurlik sy merk ook laat.  So word hy deel van die groter honde-kultuur daar in julle straat.  Gun hom dit!

‘n Hond het aandag nodig

Gee aandag aan jou hond op die regte manier.  Ons het reeds hieroor gedeel.  Nie te veel faf oor Flaffie nie, nè?  Nie te veel in die oë kyk, vat en aanspreek nie.  Nee, hy is NIE die middelpunt van die aandag nie.  Vergeet die gekoer en gepamperlang en gevryf en magie-krap en daardie dinge – dit is nie ‘n wrede waghond waardig nie.  Hy stam van wolwe af, liewe land.  Behandel hom waardig.  Dit skrei ten hemele dat mense hulle honde oppiep en klere aantrek en in hul handsakke ronddra soos babas.  Asseblief!  Onthou, die arme dier kan nie praat nie – hy skaam hom morsdood, maar wat kan hy doen?   Nee, gee hom sy plek daar in die trop, voldoen aan sy behoeftes soos hierbo genoem en gee hom ‘n vryfie op die kop as hy na jou toe kom.  Dan is Oubaas se honne doodgelukkig.

Ten slotte: wees ‘n honde-rassis

As jy nou “serias” is oor jou hond, moet jy ‘n honde-rassis wees.  Dit beteken jy moet darem weet waarmee jy deel.  Elke honde-ras is geteel met ‘n rede.  Elkeen het sy sterk en swak punte.  Jy moet weet wat dit is en dit in ag neem.  Moenie van ‘n Husky verwag om ‘n goeie waghond te wees (of nie te grawe of te hardloop nie) – hulle is gemaak om te hardloop – of van ‘n Jack Russel om stil en rustig rond te lê nie.  Hy is maar woelig.  Elke  hond tree maar net op vanuit sy instink.  Moenie hom daarvoor verkwalik nie.

Volgende keer – Probleme met honde