Monthly Archives: April 2013

NLP- Ontgin die briljantheid in jou

NLPNLP- Ontgin die briljantheid in jou – Jorgan Harris (2011, Griffel)

Ek self is nie ‘n vreeslike fan van NLP (Neuro-Linguistic Programming) nie – dis vir my baie pseudo-wetenskap.  Ek het die boek seker maar gekoop omdat dit so goedkoop in die bargain bin was.  Nogtans is die belangstelling en nuuskierigheid maar daar, nè, want in die omgewing waarin ek is, veral die berading en coaching is NLP plek-plek groot.  Jorgan Harris is ‘n kliniese sielkundige wat NLP doen, en skryf ‘n Afrikaanse boek wat die saak heel mooi verduidelik.  Van die dinge wat hy sê was vir my baie goed en van die ander dinge is egter vir my maar erg twyfelagtig.  Ek gee so ‘n opsomminkie, solat ek self hierop kan teruglees:

1. Die basiese uitgangspunte van die NLP is so – en ek hang al reeds ‘n paar vraagtekens aan sommige:

  • NLP gaan oor die ontmoet van ‘n ander persoon met respek in sy wêreld – ‘n benadering wat  de rigueur is in vandag se  berading;
  • Ons is gemaak met al die hulpbronne wat nodig is om suksesvol te wees; [?]
  • Die kaart is nie die landskap nie – ons werk met ‘n beeld van die wêreld in ons kop, en ons respek hê vir ‘n ander se beeld, maar moet onthou dat dit net ‘n beeld is.  DIt is nogal baie waar;
  • Die persoon met die meeste kreatiwiteit is in beheer;
  • Alle gedrag het ‘n postiewe intensie;
  • Niks is beter as jou 5 sintuie nie – dis nou om ander waar te neem – [?] hmm, maar skep jy dan nie maar net ‘n persoonlike kaart van ‘n ander nie?
  • Jy sal weet wat jy vir ‘n ander gesê het as jy hulle reaksie sien;
  • Rapport is om iemand in hulle wêreld te gaan ontmoet;
  • Jy is in beheer van jou lewe – [?] in ‘n belangrike mate, maar dis mos ‘n blanket statement;
  • Die lewe is maklik [?] – Harris se eie byvoeging.  Dis ‘n baie intriguing stelling wat vir baie aantreklik klink, maar wat streng gesproke ‘n leuen is.  Hy bedoel dat ons al die negatiewe dinge in ons kop beleef, dat die diere die lewe maklik beleef deur net te doen wat vandag vra, ens.  Iets daravan is waar, maar hei, as jy geen werk, geld of kos het nie is die lewe nie maklik nie.  Punt.  Dis nogal ‘n arrogante ding om te sê.

2. Ons moet positiewe doelwitte stel.  Hulle glo as ons sê “ek wil nie angstig wees nie” die brein dit verstaan as “ek wil angstig wees” omdat die brein nie die “nie” kan kodeer nie.  Sou daar navorsing hieroor wees?  Ek twyfel – ek dink egter daar is ‘n intuitiewe waarheid hierrondom.  Dit is populêr (Jungiaans) om te sê You become what you resist – daardie saak word ‘n reuse ding in jou gedagtes.  Daar is ‘n beter manier om met struikelblokke te werk – deur dit te verstaan, te internaliseer en te verwerk.

3. ‘n Basiese ding by die NLP is om mense op te deel in die visuele, ouditiewe en kinestetiese tipes.  Elkeen het dan een van die drie voorkeur-modaliteite (sien, hoor, of voel) – met mans tipies in die eerstes en vroue in die laastes.  Mens let op na taalgebruik, stemtoon, houding & handbewegings en veral ook hoe mense hulle oë gebruik.   As mense iets visueels onthou, kyk hulle op en na links, as hulle iets nuuts visueels uitdink, kyk hulle op en regs; as hulle ‘n stem of klank onthou kyk hulle net na links, as hulle ‘n klank vir hulle indink, na regs; as hulle dink aan ‘n bekende sensasie soos gevoel of reuk gaan die oë af en na regs, as dit af en na links gaan is hulle in ‘n interne dialoog.  As die oë reguit vorentoe kyk en ge-defokus, is hulle ook besig met ‘n mental process en sal binnekort weer aandag gee.  Die kaart van Harris op p74 is egter presies teenoorgestel as die wikipedia-blad hieroor (“doen” Harris disleksia? – soos die NLP ouens sê – jy “doen” depressie, of skisofrenie)!  Die oë-ding geld egter  net vir 85% van die gevalle, die ander is omgekeerd en vir 85% linkshandiges is dit ook omgekeerd.  Ongelukkig kon navorsing hierdie hele ding glad nie bevestig nie en vind dit geen nuttige tool nie. Toets maar self op mense – baie confusing.

4. NLP hebruik die bg. modaliteite om iemand vinnig op te som en dan sy spraak en gedrag te modelleer, m.a.w. jy praat soos die kliënt en maak sy houdings na.  So skep jy vinnige en goeie rapport.  Dis jou teken van aandag en respek.  Rapport doen alles.  As jy rapport bewerkstellig het, kan jy Leiding neem – m.a.w. suggesties maak (of ankers vuur).

5. Ek hou nogal van die ankers en visuele oefeninge wat die NLP doen.  ‘n Anker is ‘n kragtige suggestie gekoppel aan ‘n emosie en sensoriese modaliteit.  Jy kan iemand vra om te dink aan ‘n aangename ondervinding.  As die emosie op die sterkste is, kan jy hom ‘n suggestie gee, gekoppel aan ‘n beeld, ‘n klink, ‘n gebaar, ens.  Jy kan ook ‘n onaangename ondervinding herleef en van ‘n ander anker voorsien (die slegte ondervinding is emosioneel en sensories geanker) – die herinnering op die persoon se “kaart” is al werklikheid wat hy het en dit kan gewysig word.  Ek vind dit nuttig – dit verander nie alles nie, maar dit gee tog ‘n greep.  Hulle gebruik ook “submodaliteite”,  bv. die lig, fokus, kleur, afstand, ens. van ‘n visuele herinnering wat die kliënt kan verander en mee speel om sodoende meer beheer te kry oor die visuele anker.  Daar is ook ouditiewe en kinestetiese submodaliteite.  Jy kan bv. jou vuis bal of iets vir jouself sê.  Herhaling lê dit vas.  Die volgende visualiseringsoefeninge is ook vir my nuttig:

  • Verbeel  jou jy staan aan die bek van ‘n oop myn en daar is honderde tonnels.  Een van hulle neem jou na die skatkamer met diamante.  Watter een sal jy kies?  Vertrou jou intuïsie en kies een.  Gaan daarin af.  Nou sien jy dit is verlig met fakkels.  ‘n Rots blokkeer jou egter, maar jy kan sien die gang word helderder daaragter.  Dit is die regte pad!  Die blok is die probleem wat jy nou eers uit die weg moet ruim – en dit is ‘n spesifieke emosie wat jou kniehalter;
  • As jy dom en geblokkeer voel, verbeel jou jy sien ‘n helder skynende ligsirkel voor jou op die grond.  Dit is die “sirkel van briljantheid”.  As jy daarin tree, is jy wakker, ontspanne, selfverseker, skerp en briljant.  Bekyk die helder sirkel en manipuleer die submodaliteite.  Gaan staan daarin.  Beleef die helder lig en al die eienskappe van jou briljantheid een vir een.  Tree weer terug.  Ervaar hoe dit wegval.  Tree weer in.  As die gevoel op sy sterkste is, vuur jou positiewe anker.  Jy kan vorentoe altyd die sirkel van briljantheid om jou inroep;
  • Sien jou lewe of loopbaan as ‘n tydlyn.  Kyk terug na waar jy vandaan kom.  Vlieg oor die mylpale.  Wat leer jy?  Watter ankers staan uit?  Gaan ook na die toekoms.  Watter doelwitte sien jy voorlê – watter struikelblokke?  Tree op en af van die tydlyn – manipuleer dit.  Werk daarmee.

6. Van belang deesdae is ook wat NLP noem assosiasie en dissosiasie – jy is ten volle ge-assosieer as jou hele aandag by iets is – as jy ingetrek is deur iets en van jouself vergeet het.  Dis wat die geestelikes kontemplasie noem.  Die NLP soek om iemand te volle te assosieer voor hulle ‘n anker vuur.

7. Mense se taal is van belang vir die NLP – hulle beskryf hulle kaart deur hulle taal.  Die volgende taalfoute (d.w.s. eintlik denkfoute) bestaan:

  • Veralgemening:  oorveralgemening (alles/almal/altyd; niks/niemand/nooit); drywers (moet/mag nie); beperkers (kan nie/kon nie/onmoontlik);
  • Weglatings: etikettering/stereotipering/veralgemening (ek is ‘n mislukking); eenvoudige weglatings (ek is ongemaklik – presies waaroor, wat, hoekom?); vaagheid (hulle gee nie om nie); vergelykende weglatings (hy is ‘n beter mens, hierdie is moeiliker);
  • Distorsies: gedagtelees; veroordelings (dis ‘n siek ding om te doen); oorsaak en gevolg (hy maak my bang – jy bedoel jy kies om met vrees te reageer); interpretasies; aannames.

Ek stem saam dat mens op hierdie tipe leuens moet spring en dit dadelik uitwys en uitroei.

8. Harris bespreek die negatiewe emosies vrees, woede, hartseer, skuldgevoelens, konflik.  Betekenisvolle Emosionele Ervarings (BEE’s) is kragtige emosionele ankers wat die res van ons lewe vir ons probleme kan gee, maar dit ook positief wees.  Hul hanteer dit deur die ou ankers te vervaag en nuwe anker te vuur.  Hulle visualisering in die verband is baie nuttig en gee die kliënt die kans om oor die landskap of tydlyn van die gebeure te beweeg en van ver af (lugballon-oefening) na die BEE te kyk (dissosieer).  Hulle beskou die landskap voor dit, na wat gebeur het en na dit.  Hulle leer iets daaruit of laat hulle onderbewuste vir hulle iets sê.  Hulle kan ten volle met die gebeure assosieer, maar dis nie altyd nodig nie.

9.  Self-esteem word ook aangespreek deur die negatiewe ankers uit die verlede met nuwe ankers te vervang.

10.  ‘n Groot deel van die NLP gaan oor rapport.  Daarmee kan jy goeie verhoudings bou of natuurlik jou produk verkoop, waaraan Harris ‘n hoofstuk wy (maar dis mos so ‘n bietjie shallow).  Ek hou wel van die drie posisies waarin mens met ander kan omgaan:

  • Eerste posisie – bewus van jou eie standpunt en kaart
  • Tweede posisie – respekvol en begrypend in die kliënt se wêreld en kaart
  • Derde posisie – waarnemerposisie, gedissosieer: kyk na die twee van julle en neem waar

11. Hy sluit af met NLP en ons spiritualiteit waarin hy iets sê so oor wat volwassenheid en geluk is.  Dis nuttig, maar ons geestelike tradisie en wat die Meester gesê is hierin eindeloos ryker.

12. Ja, NLP…  in die wetenskap word dit totaal verwerp, hoor.  Die aannames word net nie bevestig nie.  Maar ek dink daar is redeeming qualities…  Ek dink opregte rapport bring jou ver in ‘n egte terapeutiese verhouding, die belangstelling en respek;  die visuele oefeninge en positiewe ankers help kliënte om te deel met gebeure en gedeeltelik daaroor beheer te kry; hoe ons praat is belangrik want emosies staan op persepsies en daardie persepsies is dikwels  leuenagtig.  Die waarheid maak immers vry.

Advertisements

Dieper as Satan – Evard Huisamen

satan_fw2

Evard Huisamen, Dieper as Satan (2011, Griffel)

Ek het hierdie boek al ‘n tyd lank op die rakke gesien en deurgeblaai – as ons mall toe gaan los hulle my mos in die boekwinkels  –  maar nooit gekoop nie.  Sien dit egter nou die dag in die bargain bin tafel (ja, ek koop baie van my boeke daar) en koop dit dadelik.  Die tema (die Satan) is natuurlik interessant en Huisamen weet oënskynlik waarvan hy praat.  Hy het op kweekskool (lyk my as NG leraar opgelei) reeds in bevryding  [‘n bediening aan mense wat demonies belas is] begin belangstel en ondervinding daaroor opgedoen.  Hy het  by die polisie se Okkulte Eenheid betrokke geraak en saam met hulle rondgery om satanistiese bedrywighede te ondersoek.   Hy het sy lisensaat en meesters gedoen oor die Bose en vir jare praatjies by kerke en skole gelewer as ‘n kenner daarvan.  Hy het twee boeke geskryf oor die Bose en het ‘n evangeliese en behoudende standpunt hieroor verkondig.  Lyk my hy het later sy standpunt enigsens verander, met sy doktorsgraad ens.  Dis belangrik om sy agtergrond te gee, want anders is dit dalk net ‘n boek van een of ander teoloog wat teoretiseer, maar nog nooit ‘n duiweluitdrywing bygewoon het nie en op grond daarvan sommer sê daar is nie so iets nie.  So iemand se teorie beteken niks.  Eers kon ek nie verstaan waarom die boek deur Griffel (hulle is nou bankkrot, nè?) uitgegee is nie, want dit dui mos daarop dat die hoofstroom Christelike uitgewers nie kans gesien het nie – te kontroversieel/alternatief.  Ek het nogal baie van sy boek gehou (en hou steeds, moenie my misverstaan nie, ek dink nie jy kan eers saampraat as jy nie dit gelees het nie), maar later het dit duidelik geword sy standpunt is glad nie meer so fundamentalisties, selfs evangelies nie – vandaar dus Griffel.  Kortliks is sy inhoud so iets:

Hy begin by die OU TESTAMENT en maak duidelik dat die satan eintlik glad nie in die OT voorkom nie.  Altans, nie die Satan soos ons aan hom dink nie.  Die hele OT noem die satan op net 3 plekke en daar is hy eerder ‘n engel met ‘n spesiale taak, nl. om as aanklaer in die hemelse hof te dien.  Hy is nie noodwendig evil nie, maar werk onder God se opdrag. Die woord satan met ‘n klein letter beteken in Hebreeus net aanklaer/teenstander en word ook op heelwat meer plekke in die OT gebruik om net gewone menslike teenstanders uit te druk.  Die OT-teologie was (veral aanvanklik) MONISTIES, m.a.w. hulle het geglo alles – goed en kwaad – kom van God af.  Nogtans is die satan se taak beslis om TEEN mense op te tree.

Na die ballingskap en veral in die TUSSENTESTAMENTêRE TYD het daar heelwat verander.  Die krisis van die ballingskap het die Jode laat vra of God regtig vir alle kwaad verantwoordelik is, en hulle ook blootgestel aan die Persiese geloof en denke.

Trouens, die hele Joodse geloof het heelwat veranderinge ondergaan in daardie tyd – teologiese skole het bv. ‘n reuse gewerk gedoen aan die Talmud.  Toe hulle terugkom in Palestina (die meeste Jode  het egter in Babilonië agtergebly) was hulle s’n die oorheersende Joodse denke (teenoor die Samaritane se meer primitiewe Judaisme nog in die ou Kanaanitiese Skrif) – een van die redes vir die skeiding.

In elk geval, hulle verstaan van die Bose het ontwikkel – meer in lyn met die dualisme van die Persiese Zoroastrianisme (ook ‘n monoteistiese geloof).  In die 400 jaar tussen die testamente (dis lank, hoor) was die Joodse geloof onder geweldige druk en vervolging, wat hulle oortuig het dat die satan baie meer van ‘n realiteit is as wat hulle vroeër verstaan het.  Die apokaliptiese denke het ontstaan en apokriewe boeke soos Henog en Jubileë is as Skrif aanvaar – Petrus haal bv. in die NT uit Henog aan.  Daarin word ‘n hele demonologie ontwikkel van Satan (met hoofletter, eienaam) wat eers ‘n engel was, maar wat toe uit die hemel gestoot is, saam met ander engele.  Die Bose se engeleryk word ook daar uitgespel.  Ongelukkig (of gelukkig) word hierdie boeke nie in die protestantse wêreld aanvaar nie, maar dit het beslis die Joodse denke in Jesus se tyd beïnvloed.

In die NUWE TESTAMENT vind ons baie meer van ‘n DUALISME:  God doen die goeie, die Bose sit agter die kwade.  Jesus kom en domineer die Bose heeltemal deur (1) die Satan (in die NT kom die sinoniem duiwel, ook draak, slang ook na vore) se versoekings te weerstaan, (2) deur die uitdrywing van demone en (3) die kruis – in die verdere NT teologie.  Die 4de evangelie het ‘n ander klem en lê min klem op die Bose.  PAULUS maak nie baie van die Satan nie – altans nie om iets oor die Satan te leer nie.  Sy verwysings is sydelings en dikwels figuurlik.  Die boek OPENBARING weer deel baie oor die Satan, in al sy gedaantes.  Dit kom ooreen met die ander apokriewe en apokaliptiese denke en verwys  op gesluierde manier ook na die “val” van die Satan.

Op grond daarvan sê Huisamen dat daar tog moontlik Bybelse grond is om te glo dat die verhouding tussen God en die “aanklaer” van die Ou Testament skeefgeloop het.  Die slotsom is dat die Bybel nie die populêre idee van ‘n rooi Satan met horings (dit kom uit die heidendom) leer nie, beswaarlik na ‘n engeleval verwys, en nie noodwendig die oorsaak van alle ellende na die Satan herlei nie.  Inteendeel, die Skrif se hoofklem is om die MENS se KEUSE (m.a.w. sy morele vryheid) vir die verkeerde te onderstreep as die oorsaak van die slegte.  Die Satan se rol hierin is dikwels opportunisties – hy teer op mense se swak punte.  Hy kan egter nie vir die mens se sonde verantwoordelikheid neem nie.  Dit wat die Bybel solidly oor die Satan leer is min.  Die meeste verwysings het te doen met ‘n bestaande aanvaarding van die figuur van die Bose, maar presies wat dit behels, word selde uitgespel.  Die Satan bly – ironies genoeg – in die duister.  Baie van wat mense algemeen glo,is maar meer kerklike tradisie (bv. sy naam Lucifer) of spekulasie.  Daar is ‘n werklikheid van die Bose – daar is beslis ‘n boosheid werksaam in die wêreld – maar ons sukkel om dit presies vas te vat.

Ek het nie ‘n probleem met die bg. nie.  Onthou in die Skrif is daar ‘wel n voortgaande openbaring oor baie temas.  Hoe God beskryf word, die dood, die hiernamaals – sulke dinge “groei” deur die Skrif.  Die OT ken ook nie ‘n hemel en ‘n hel nie, bv.  Ek het wel ‘n probleem gehad met ‘n paar goed na die einde toe van die boek – hoe later hoe kwater – soos bv. die volgende:

1. die feit dat hy die sg. Deutero-Pauliniese boeke totaal ignoreer (dit is immers in die Bybel, en sê ten minste iets oor die vroeë kerk se geloof oor die Bose), en

2. dan dink ek hy maak ‘n fout om die baie metaforiese verwysings na die Bose as letterlik te beskou en dan af te skiet – as Johannes dan in Op 2:10 skryf “die duiwel gaan sommige van julle in die tronk gooi”, is dit vir hom ‘n groot probleem, aangesien die duiwel, ‘n geestelike wese, mos nou nie mense van vlees en bloed aan die arm kan vat en in die tronk gooi nie.  Dis glad nie wat bedoel word nie.  Hy het mos ‘n doktorsgraad en het Hermeneutiek geswot!  Die skrywer bedoel die duiwel wil mense kwaad aandoen en sal agter die arrestasies van Christene sit.  Natuurlik sal Romeinse soldate Christene fisiek arresteer en fisiek in die tronk gooi – nie die duiwel nie.

3. Dan maak hy te min van die een ding wat die Skrif wel oor en oor leer oor die Bose – hy is oorwin deur Christus, en ons kan hom oorwin in ons lewe.  Hy eindig sy boek op ‘n baie groter minus as wat die Skrif doen.

Hier is my opsomming:

Die Skrif werk met ‘n onverklaarde dualisme – daar is die fisieke werklikheid van die mens se eie verantwoordelikheid, sonde en vrye keuse.  Maar “agter” die fisieke werklikheid is daar’n geestelike werklikheid, want die Satan beïnvloed dit op ‘n manier.  Hoe dit gebeur word nooit verduidelik nie – dit word net aanvaar.  As die Bybel oor die Bose praat, is dit dikwels op metaforiese en retoriese maniere. Ten spyte van die Bose neem die mens die volle verantwoordelikheid vir sonde, nooit hy nie.  Die Bose is egter ‘n mag wat in die rigting van die sonde trek, wat versoek, verlei en mislei.  Die besluit lê egter altyd by die mens.  Ja, die donker figuur van die Bose kom nie werklik uit die donker nie – ook nie na ‘n hele boek oor hom/dit nie – hy bly net daar as ‘n misterie.  Die teoloë is reg as hulle sê ons moet hom net daar los.  Hulle is ook reg as hulle die Skrifwaarheid beklemtoon dat die Bose oorwin is – die enigste feit wat baie teoloë oor die Satan wil aanvaar.  Daar is seker meer daaroor te sê as dit, maar die morbiede belangstelling wat sommige daarin het, of die fantastiese en onbybelse spekulasie oor die Bose help ons ook nie.  Soos altyd is dit die beste om maar net te bly by wat die Bybel sê, al is dit ook min.


egterstevoor

egterstevoor

2 Apr 2013

ons

teen als onbreekbaar ewig

ekstase as jy liefde vind geluk

is om jou lewe diep te deel vervul

daars een soos jy hou altyd hande

vas in die intieme sirkel lag en leer

jou beter ken jy’s jy en ek is ek

jy hou van ander dinge mooi en kyk

jy sien dit so laat ek jou wys

nie so nie man die regte pad is dit

ha ha wie’t jou geleer man vergeet

waar jy vandaan kom dis verkeerd

ek leer jou beter ken en weet

daars meer aan jou ‘n vreemdeling

ek sien jou oor ‘n afstand wonder wie

is jy jy lag so sal ek naderstaan myself

bekendstel kennismaak want ek is nog

alleen