Monthly Archives: Mei 2013

Nick Vujicic – Onstuitbaar

onstuitbaarNick Vujicic – Onstuitbaar (CUM, 2013)

CUM het vir my hierdie boek gegee en gevra of ek dit sal lees, waarby ek nou uitgekom het.  Sjoe… dalk weet jy reeds dat Nick Vijicic die man is wat sonder arms of bene gebore is, en nou oral oor die wêreld getuig van die Here se goedheid.  Sy kragtige getuienis is al gesien op TV en YouTube en hierdie is sy tweede boek.  Hy reis die wêreld vol.  Sy verhaal is vol intelligensie, humor, geloof en passie en baie inspirerend.  Ek het net weer besef ons leef ons klein lewens gefokus op ons eie persoonlike klein doelwitte en probeer iets bymekaar maak om iets te bewys.  Daar buite is mense met veel minder as ons wat besig is om berge te verskuif – sommige staan elke oggend vanaf 5-uur op die straat met koffie en donuts vir boemelaars, ander het Moeder Theresa ontmoet en toe begin om hulp en mediese sorg die wêreld oor te neem na die mees ellendiges via ‘n vloot skepe, nog ander is betrokke by hulp en hoop oral in die wêreld waar die Here hulle ook al lei – alles in die Naam van Jesus.  Dis asof gebrek of gestremdheid mense of in die put van selfbejammering kan dompel of hulle van hulleself kan laat vergeet en uitstyg bo die meeste ander.  Dis natuurlik ook waar vir enige probleem en Vujicic fokus, vanuit sy eie ervarings en van mense met wie hy te doen  gehad het, op die volgende:

  • Mense met gestremdhede, chroniese of terminale siekte
  • Mense met depressie/selfmoordgedagtes, of hulleself seermaak
  • Mense wat eensaam is/wat wag vir ‘n maat
  • Mense wat geboelie word
  • Mense wat oor hul lewensroeping wonder

Van hierdie stories is so roerend dat mens nie die emosie kan keer nie.  Jeremiah was ‘n “sagmoedige reus” in ‘n Amerikaanse hoërskool – ‘n groot ou wat voetbal gespeel het, maar akademies bietjie gesukkel het.  Hy was altyd gaaf, maar is baie geboelie.  Nogtans het hy geweier om te baklei.  Toe die kinders besef het dat hy nie gaan terugbaklei nie, is hy nog meer geboelie.  Een dag in Nov 2008 is hy in die eetlokaal met rissies gegooi en iemand anders het sy broek probeer aftrek.  Jeremiah het uitgevlug, na die toilette gegaan en homself doodgeskiet met ‘n skoot in die kop.  Na die ellende waardeur sy ouers is, het hulle Jeremiah Project 51 (die nommer op sy voetbaltrui) gestig – ‘n aksie om boeliegedrag te bekamp en slagoffers te help. Gaan na http://www.jeremiah51.com.

Die tema regdeur die boek is GELOOF IN AKSIE.  Ek het baie duidelik weer besef (en dit is een van die boek se groot learnings vir my persoonlik) dat geloof tot dade oorgaan, of dit is geen geloof nie.  Geloof gaan outomaties tot dade oor – dis mos wat Jakobus sê, nie waar nie?  Ek moet dit dadelik in my joernaal skryf en daaroor dink.  Hier is ‘n diep waarheid.  Dan het ek ook weer geleer oor hoe mens kan optree in omstandighede  wat jou kan gooi, en van die dinge is:

  • Beleef jou emosies in jou aanpassing, maar trek iewers ‘n streep.  Kry beheer oor jou emosies voor dit beheer kry oor jou;
  • Moenie die eensame martelaar speel nie – daar is baie soos jy en daar is baie te leer.  Daar is baie wat omgee.  Maak gebruik van die ondersteuning wat bestaan;
  • Moenie toelaat dat jou kondisie jou oorneem nie.  Gaan aan met jou lewe.  Jou lewe is meer as dit wat gebeur het;
  • Hou onwrikbaar vas aan God – saam met Hom is dit 100x beter as sonder Hom;
  • Vat dit dag vir dag – met Hom;
  • Vergeet iewers in die proses van jouself en begin ander dien.  Bewys liefde.  Gee wat jy self so nodig het.  Vra – Here, hoe kan U hierdie situasie gebruik?
  • Gee jou eie wil prys in ruil vir sy hoër en beter wil in jou lewe.

Ek sou sê jy moet hierdie boek gee vir enige-een wat slegte nuus gekry het, of wat sukkel met een van die goed hierbo genoem.  Trouens, ek wil ook my kopie vir iemand skenk – ek het dit baie versigtig gelees en dis splinternuut!  Enige-een kan laat weet…stuur vir my die adres.

Ek dink die boodskap vir ALMAL is – vergeet tog ‘n bietjie van jouself en begin om aan ander ‘n verskil te maak!

 

Advertisements