Monthly Archives: Julie 2013

God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles.

Gaum ClaassenGod?  Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles. Fritz Gaum en George Claassen (Tafelberg, 2012)

Ek lees hierdie boek waarin Fritz Gaum praat met 12 gelowiges oor hulle geloof, die wetenskap, evolusie, ens. en George Claassen met 12 ongelowiges oor waarom hulle nie glo nie.   Daar is meer en meer mense wat op grond van die wetenskap of hul logika nie kan glo dat daar ‘n God bestaan nie.  Hulle “ontkering” is dikwels vir hulle ‘n bevryding, alhoewel sommige nog soms wens hulle kon glo, of nog bid as hulle bang is…  Onthou, evolusie is die enigste biologie, dierkunde, plantkunde, genetika, ens. wat vandag bestaan en kan in die breë maar aanvaar word as ‘n bewese feit.  Dit beteken egter nie sommer dat God of die geloof daardeur deurgetrek word nie.  O nee.    Oor die algemeen is die kerk egter glad nie gereed om antwoorde (of selfs net ‘n gesprek) aan gelowiges of die wêreld hieroor te bied nie.  Dis asof die wetenskap vir die kerk glad nie bestaan nie, en hulle/ons tevrede is om net in ons borrel te bly.  Dis natuurlik nie volhoubaar nie. Die kweekskole behoort eintlik Apologetiek terug te  bring as ‘n vak om sulke temas met insig te beredeneer.  Immers leer die huidige generasie (van lidmate) evolusie op skool en universiteit, en voel outomaties aan dat die Bybelse skeppingsverhale nie-wetenskaplik van aard is, tereg so, maar kan dalk ook die hele evangelieboodskap in ‘n kategorie van nie-rieel, verouderd of irrelevant plaas.  Dis wat inderdaad gebeur en is een van die redes vir die groot sekularisasie.  Geloof is meer en meer iets wat sin gemaak het in vorige eras.  Koerante is vol briewe van ongelowiges wat die geloof betwyfel of sommer afkraak.  Die kerk is grootliks stil.  Daarom is boeke soos hierdie goed – dit skep ‘n platform tussen intelligente mense, alhoewel dit vir sommige gelowiges ontstellend mag wees.

My kommentaar hierop (net kortliks, sal dalk in die verband iets meer sistematies wil uitwerk) is soos volg:

  • Ek is ‘n gelowige en vir al my foute kan ek nooit iets anders wees nie.
  • Ek was vreeslik jammer om te sien dat sommige van hierdie ongelowiges die geloof verlaat het deels as gevolg van die liefdelose optrede van Christene: haatdraende preke, arrogansie en  skynheiligheid of bv. die isolering van ‘n dogter op ‘n CSV-kamp omdat sy nie ‘n “getuienis” het nie.  Ek glo dat ons eendag nie net gaan sien hoeveel siele ons vir God beïnvloed het nie, maar ook hoeveel ons van Hom weggestoot het.  Wie gaan daarvoor verantwoordelikheid neem?  Namens al hierdie gefaalde Christene of “Christene” vra ek, Jimi le Roux, om verskoning. Wees asb. meer soos Christus as daardie Christene en vergewe hulle…
  • Ek stem nogal saam met baie dinge wat die ongelowiges sê – al die bydraers is natuurlik baie intelligent en sommige nogal spitsvondig.  Ek is (hopelik) een van  daardie Christene wat ‘n redelike gesprek wil (en hopelik kan) voer, en nie die meerderheid Christene wat nou maar net glo en basta nie.  Maar om regverdig te wees – dit kan nie van almal verwag word om hul hartsdinge op elegante wyse rasioneel te verdedig nie (ek sê nie ek kan nie).  Hulle glo eenvoudig, of leef hulle lewe met ‘n sekere geloof en dis vir hulle genoeg, en inderdaad hulle basiese mensereg.
  • Ons moet eintlik bietjie hokaai met die stereotipeerdery.  Daar is steeds die neiging om strooipoppe op te stel en dan af te skiet – wedersyds.  Gelowiges word voorgehou as dom en alle godsdiens het nog net hartseer en miljoene se dood in oorloë veroorsaak.  Dit is uit en uit ‘n manier om mense te manipuleer en gaan alles oor mag en misbruik.  Almal so patriargaal en chauvinisties.  Ateïste is nou weer hierdie humane en etiese mense wat tog hul eie spiritualiteit het.  Gelowiges (darem nie in hierdie boek nie) beskou “godloënaars” weer as moordenaars soos Hitler en Stalin (ironies, want ongelowiges hou hulle weer voor as gelowiges) of glo dat die hele evolusie net ‘n reuse-komplot is deur die Illuminati om mense van die waarheid weg te hou.  Dis is glad nie bewys nie, maar hulle hou daarmee aan om salaris te trek… (ai, en ongelowiges sê weer predikante weet wat hulle leer is nie waar nie, maar hulle hou daarmee aan net om salaris te trek…).  Ongelukkig is baie van die argumente teen persepsies, stereotipes of populêre Middeleeuse verbeelding, bv. oor die hemel en die hel.  As jy na die Skrif self gaan is die inligting daaroor baie meer beskeie.  Nee aarde, iewers moet mens nader aan die waarheid kom.
  • Wenk aan ongelowiges wat gelowiges wil oortuig:  om dit wat vir mense lief en dierbaar is af te maak as bespotlik is nie ‘n manier om vriende te maak of argumente te wen nie.  Onthou, gelowiges sukkel reeds om die voordeel raak te sien van nie glo nie – dit is ‘n reuse-struikelblok vir julle saak, ouens.  Dit versterk maar net die persepsie dat ateïste spotters is, verhard en liefdeloos.  In die Christenwêreld het ons bv. agtergekom om ‘n argument te wen is nie dieselfde as bekering nie.  Die hele saak van geloof fokus immers nie in die kop nie, maar daarheen sal ek terugkom.  Ons eie fokus is deesdae eerder op die hart deur ons “lewe-van-getuienis”.
  • Natuurlik is daar gelowiges wat aan die stereotipes voldoen, en mens kan jou nogal skaam, en ek doen.  Terselfdertyd kan mens nie die waarheid van die wetenskap aflei uit die foute van die wetenskaplikes nie – nie etiese foute nie, wetenskaplike foute.  Die wetenskap groei mos en word voortdurend geverifieer of falsifieer.  So moet mens nie die geloof afskiet op grond van sommige Christene wat nie goed is daarmee nie, soos die Shofar-Christene wat op Stellenbosch op Dave Pepler gespoeg het (kan mens dit glo?).  Op  daardie oomblik was Dave Pepler (van die TV-program “Groen”) dan baie meer soos Jesus as hulle.  Ai, so jammer, Dave.  Daar is immers ook die Moeder Teresas onder ons.  Ons moet na Jesus se leer self kyk om te sien wat Christenskap is.
  • Dan is daar soms verbasende woede teenoor gelowiges en alle godsdiens, en mens kan die ongelowiges opdeel tussen die “leef-en-laat-leef agnostici” en die aktivistiese anti-godsdiens ateïste” – hulle wat ‘n erg weersin het in godsdiens en op ‘n sending is om die anti-evangelie te verkondig . Beide hiervan is in die boek.  Veral die lg. neem ‘n “fundamentalisme” aan wat alle teenspraak verwerp en gesprek eintlik baie moeilik maak.  Maar die ateïsme kom maar ook in baie vorme en denominasies (waarvan die kerke beskuldig word as bewys dat hulle nie eers met mekaar oor die weg kom nie, en self nie weet wat hulle glo nie).
  • Die wetenskap maak ‘n fout as hulle dink die hele werklikheid kan empiries benader word.  Dit is ‘n baie algemene probleem.  Hulle sê gelowiges se God is ‘n God of the gaps – alles wat ons nie kan verstaan nie, word aan God toegeskryf.  Hoe meer hulle  ontdek en die gaps toemaak, hoe minder geloof het ons oor.  Dis egter nie so eenvoudig nie.  Natuurlik het geloof ‘n histories-psigologiese rol en om sin te maak van die werklikheid is ‘n motief vir geloof, maar dit is ook baie meer.  Vat vir my: hoe meer die wetenskap ontdek, hoe meer glo ek – nie minder nie.  Ek is vreeslik lief vir die wetenskap en wat ook al ontdek word (en dit word weirder en weirder, nie waar nie, die kwatumfisika) vergroot vir my die wonder van God. Geloof het ook ‘n goot regterbreinfunksie en dis asof sommige wetenskaplikes werklik gestrem is in die verband en net aanhou en aanhou om sg. “feite” te verskaf, asof hulle dink hoe meer hulle kan gee, hoe meer gaan ek twyfel.  Inteendeel, hulle kom daarmee vir my meer en meer arm en monochroom voor.  Dis asof hulle die saak met die verkeerde tools – wat nie op my geloof vat nie – probeer benader.  Ek het ‘n gediggie geskryf in die verband (kliek hier…).  Deur die bank het die digters in die boek (ongelowiges – Antjie Krog en Breyten Breytenbach) en al die vroue (gelowig of ongelowig) die saak van God baie beter begryp as bv. die streng feitelike natuurwetenskaplikes.  Dit gaan immers nie net oor die rasionele nie – ook die irrasionele is ‘n feit en ‘n werklikheid van die lewe (en buite die bereik van die empirisme).  Hoe gaan ons daarmee om?  Daar is ‘n rykheid en wesenlikheid aan die verskynsel van geloof wat dit baie meer entrench as wat hulle vermoed, en voor hulle nie op al daardie snare tokkel nie, kan gelowiges maar die ateïste ignoreer.  Daar is inderdaad ‘n groot afval van die tradisionele Christendom in Europa (elders groei dit baie), maar daardie mense neem dikwels weer alternatiewe geloofsvorme aan.  Ongelowiges besef dit dikwels en hul argument is dan dikwels nie teen geloof of spiritualiteit per se nie, maar institusionele godsdiens of die Kerk (ai, en die kerk van hul jeug – gewoonlik die NG Kerk) – maar daarmee is die gesprek op ‘n ander vlak.
  • Terloops, wonders gebeur wel.  Dalk nie soseer in die empiriese sin van die woord nie (alhoewel dit ook gebeur) – maar in die subjektiewe sin gebeur dit dikwels.  Wetenskaplikes staan daarop dat gelowiges van wonders moet afsien, maar hulle moet verstaan dat mens nie in God kan glo as jy nie ook in wonders kan glo nie – dit behoort aan dieselfde domein.
  • Dit pla my inderdaad baie dat die wetenskap dink hy kan vir my sê wat my werklikheid en waarheid is – hy kan nie!  Hou op om vir my te sê dat dit wat my lewe dryf en sin gee “nie bestaan nie”.  Nee, dit BESTAAN vir my en is my WERKLIKHEID en WAARHEID.  Dis soos om te sê jou miskroskoop is toordery, want ek verstaan dit nie.
  • Ek vind dit ook baie arrogant dat die wetenskap soms bloot die moontlikheid uitsluit van enige-iets wat nie reeds bewys is nie, of nou bewys kan word nie, asof ons huidige begrip bepaal wat kan bestaan of nie.    Met ongelowiges wat  die grens van die kenbare en die wetenskap oorgesteek het en nou eenvoudig GLO dat daar geen God is of ooit kan wees nie, kan mens net deel soos met mense van ander gelowe.  Dit is nou hulle geloof en hulle godsdiens teenoor joune.  Science het dan scientism geword.  Einde van die argument.  Goeie wetenskap weet mos ook wat dit nie weet nie.
  • Ek glo dat God en die geloof inderdaad nie logies verklaar kan of hoef te word nie.  God is PER DEFINISIE nie bewysbaar nie.  Die oomblik as Hy bewysbaar sou wees, sou Hy nie meer God wees nie, maar die studie-objek onder ons miskroskoop.  Ons KAN dus nie aanhou om te vra vir bewyse vir God nie – dis ondenkbaar.
  • DIt het my nogal gefrustreer as sommige teoloë hulle geloofsargumente in sulke hoë teologiaans aanbied, asof hulle vir ‘n vakwetenskaplike joernaal skryf – met groot klem op hule grade, ens. – ongelukkig ruik dit vir my so ‘n bietjie na ‘n twyfeltoesmeerdery.  Gee my dan eerder ‘n opregte gelowige of opregte ongelowige wat reguit sê wat hy glo of nie glo nie en hoekom, as om mense te probeer bedazzle met woorde…  Dit gesê, sommige teoloëhet my kop nogal behoorlik geskuif (ek dink aan Johan Buitendag), maar oor die algemeen het ek die bydraes van die “mense” meer waardeer as die bydraes van die “teoloë”.  Snaaks, nè?
  • Inderdaad lê die beste rigting vir my daarin dat geloof en wetenskap twee magisteria behels, wat wel oorvleuel.  Beide is ewe geldig op sy terrein, verdien ewe veel respek, maar praat verskillende “tale” en het verskillende vertrekpunte , simbole en doelwitte.   Dit “praat” eintlik baie moeilik met mekaar.  Empatie is nodig!  As ons elk net ons eie bril opsit sal wetenskaplikes aanhou om te sê die geloof is “onwaar”, en gelowiges sal aanhou sê dat ongeloof nie “sin gee” aan die wêreld nie.  Daar is vir my eintlik redelike oorvleueling in die debat – die een se “genetiese predeterminisme” is dalk ‘n ander se voorsienigheid.  As ons met respek met mekaar begin praat, gaan ons mekaar baie beter begin verstaan.  Inderdaad is dit my geloof dat die wetenskaplik en die geloof dieselfde waarheid en werklikheid van twee kante benader.
  • Sentraal tot die debat is die verstaan van die Skrif.  Gelowiges sowel as ongelowiges lees dit dikwels verkeerd – hulle hamer op stukkies wat letterlik opgeneem word, wat ongelowiges dan gemaklik “verkeerd” bewys.  Geestelike literatuur is veral metafories, figuurlik, poëties – daar is nie ‘n ander manier om oor diep en moeilike dinge soos God, ewigheid, lyding, lewe en dood, ens. te skryf nie.  Daar is letterlike bedoelinge wat ons moet verdiskonteer, maar die groot klem op letterlikheid wat fundamentalistiese Christene daarop plaas, is inderdaad verkeerd, en ons is inderdaad dankbaar vir die wetenskap vir al hul ontdekkings (Bybelkunde is ook wetenskap, onthou) om by ‘n duideliker begrip te kom van die Boodskap en die Skrif.  Ons begrip het ook gegroei.  Duidelik is daar egter steeds grootskaalse misverstand oor die historiese en kulturele konteks waarin die Skrif verstaan MOET word, asook die literatuurtipes – die Skrif is bv. NIE ‘n wetenskaplike handboek nie.
  • Gehou van die definisie van fundamentalisme as ‘n liefdelose benadering (tot die waarheid) – mens sien dit nogal beide kante…

Ok, dit het nou ‘n bietjie lank geraak… jammer!

Nota aan self:  As mens iets meer in mens se hande wil gee, moet dit o.a. gaan oor:
  • Die verskil tussen die wetenskaplike en geloofsbenadering
  • Hoe om die Skrif te verstaan
  • Die aard en funksie van geloof
  • Die bestaan van God al dan nie
  • Die ontstaan van alles: skepping/evolusie
  • Die probleem van die sonde en die almag van God
  • Verlossing : Van wat? Wie? Hoe?
  • Wonders
  • Jesus Christus: histories en teologies
  • Die ewigheid: hemel en hel
Advertisements

Fundamentalistiese fulminators

Lees tans die boek GOD? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles van Fritz Gaum en George Claassen… oulike boek, sal nog iets daaroor skryf (dis hier), maar is verbaas hoe “fundamentalisties”, kwaad, eenogig en pleinweg verkeerd sommige wetenskaplikes en/of ander ongelowiges kan wees.  Dis asof hulle afgedaal het na die vlak van die fundamentalistiese en spoegende Christene wat hulle veroordeel – en waarskynlik diep seergemaak het.  Toe skryf ek intussen hierdie gediggie, as mens dit so kan noem – tong in die kies, ‘n gevoel in my (een van vele) hieroor.

Fundamentalisties-wetenskaplike fulminators,  aktivistiese ideoloë en ander allesweters wat geword het wat hulle in ander veroordeel

Jy moet ten minste die beskeidenheid van twyfel hê…  Willemien Brümmer se pa in Amsterdam, 60’s

kyk hier nog ‘n hemeling

fluisterend en paaiend nader nader

kom kyk hier – ‘n kwantumdoopskoper

my makrofagitron beantwoord alle vrae…

(as jy dit reg bewoord – volg die handleiding)

Ruk sy vlerke af! Hy gryp na my, maar mis,

‘n mikrotestalis nou op die grond, geduik,

benouend – gou, die laserpostulator, in die oë!

(veelalle vou oop in ongekende kleure – hemels)

hul het my vlerke beet maar gaan daardeur

sonder weerstand weer en weer geen greep

selfs met die meem-retrogenerator (volle krag)

toe skielik styg ek uit my liggaam uit

my vlerke helderder as ooit en op en op

die laaste wat ek van die fundamentaliste

die allesweters dank die wetenskap gesien het

was hul opwaartse gesigte, kleinerwordend

omnibosters, paradigmapiepers, magisteriameters

alles in die stof

en hul verwondering


Waar is Jesus nou? – Coenie Burger

Waar JesusWaar is Jesus nou? Coenie Burger (CUM, 2011)

Bietjie mosterd na die maal gewees met die boek, soos so dikwels, aangesien ek mos my book hunting in die bargain bin begin (jammer vir die Engels, maar ek is mal oor alliterasie).  Seker een van daardie boeke wat ek eers gedink het is te teologies en moontlik bietjie vervelig… Wat is daar tog nog oor die hemelvaart te sê as die gewone matige  mymeringe en preekpogings om iets nuuts uit ‘n klein tema te pers?  In elk geval, vind dit toe op die “afslagtafel” (jammer die Afrikaans allitereer nie, nè), begin deurblaai en kom toe agter hier is iets belangrik.  Ek het Dr Coenie Burger ontmoet een aand in Zikomo, Strand, toe ek as deel van ‘n afvaardiging van ons kerk  die NGK se Algemene Moderatuur ontmoet het, waarvan hy toe die Moderator was.  ‘n Voorreg natuurlik, maar my bydrae tot die gesprek was toe ek, rondom die koffiekan, vir hom aangehaal het dat koffie beskaafde lewe moontlik maak – ai, van alle dinge.  Dis darem ‘n waarheid (iewers gelees)… Ewenwel, hier maak hy toe – van sy kant af – vir my ‘n hele nuwe wêreld oop rondom die hemelvaart.  Ja, teologies speel hy vir die Springbokke, terwyl ek nog verdiep is in die Rules of Rugby Football.  Die hemelvaart is nie net ‘n nagedagte tot die opstanding nie, maar ‘n ewe belangrike en wesenlike element in Christus se werk.  Dink aan die volgende (hier en daar brei ek uit, so opgewonde is ek hieroor):

  • Jesus is nie dood nie, maar leef vandag – in die hemel, by God – maar hy LEEF;
  • Jesus is nie ver weg nie, maar nader en meer betrokke as ooit, want Hy sê vooraf dat sy weggaan vir ons tot voordeel sal wees:  nou is Hy nie net by 12 dissipels nie, maar deur sy Gees by alle mense;
  • Jesus het nie sy mensheid afgelê nie, maar het sy mensheid vir ewig deel van Homself gemaak en na God toe geneem.  Deur Christus het God die mensheid en menswees permanent en ewig omarm.  Hy dra nou vir ewig  die merke aan sy hande en voete.  Dis nogal ‘n GROOT gedagte – onthou God maak ons as mense en aanvaar ons as mense.  Ons menswees – insluitende ons gebreke as mense is vir Hom kosbaar, want Hy wil met ons in gemeenskap tree en staan persoonlik in vir alle tekortkominge aan die kruis. Dus moet ons mekaar se menswees (en ons eie) ewe genadiglik aanvaar;
  • Ons maak ‘n fout as ons dink die “hemel” is iewers ver weg en Jesus dus afwesig en onbetrokke.  Die hemel is deel van hierdie werklikheid en die deel daarvan waar God absoluut regeer.  Dis hier by ons, net in ‘n ander, ewige en heerlike dimensie.  In alle geval moet ons dit nie as VER sien nie;
  • Trouens, elke keer waar dit gaan oor die opstanding, hemelvaart en wederkoms is daar baie klem in die taalgebruik op “kyk”, “sien” en “nie sien nie”.  Die Woord beklemtoon dat Jesus by ons is, maar ons sal Hom net nie sien nie – of ons sal Hom sien, as ons dalk net anders kyk…
  • Jesus se gaan SIT aan die regterhand van God beteken nie dat Hy gaan rus het, omdat sy werk nou oor is nie.  Hy gee nie nou die leisels oor aan die Gees nie.  Nee, God Drie-Enig gaan nou in versnelde gang (top gear) voort om die mens met Hom te versoen.  Christus se dienswerk vermenigvuldig daar in die hemel, en Burger sorteer dit n.a.v. die ou indelings onder drie hoofde:
  • Jesus  het ‘n PROFETIESE taak by God. Hy is inderdaad nou en persoonlik betrokke by sy kerk.  HY voeg by die gemeente wie gered is, HY bou sy kerk en die hel kan dit nie omwerp nie, HY stop Paulus in sy spore en sê “Ek is Jesus”, HY stuur sy Gees om ons te help en wandel persoonlik tussen die kandelare van die gemeentes met ‘n boodskap vir elk.  Aan hierdie taak het ons, sy Kerk (as sy instrument en gemeenskap) ‘n rol – jy kan maar sê ons maak ‘n bydrae tot Christus se voortgesette sending na die wêreld.  Hy is klaar besig die hele wêreld oor en ons mag maar join…  Hy sê Kyk, EK IS MET JULLE.  Die doel is om die wêreld tot GELOOF te bring;
  • Jesus het ook ‘n KONINKLIKE taak by God.  Hy is DIE HERE, die vroegste belydenis, wat die Christene dadelik in konflik met die staat gebring het.  Immers was Caesar die Here.  Nogtans bely hulle ‘n hoër alliansie en ‘n hoër gesag.  Ons glo ook tot vandag dat Jesus IN BEHEER is van die wêreld.  Hy is die Here, die Koning en die Oorwinnaar.  God is besig om alle mense en magte, alles in die skepping, onder EEN HOOF, nl. Christus byeen te bring.  Dis bietjie van ‘n raaisel, maar dis wat die Woord sê.  Elke knie sal buig, en elke tong bely…  Dit is waaroor hierdie tyd – tussen hemelvaart en wederkoms – gaan.  Christus se koningskap is ons grootste HOOP.  As koningskinders (of gemandateerde verteenwoordigers) werk ons ook vir die vestiging van sy koninkryk, vir reg en geregtigheid en vir vrede;
  • Jesus het ook ‘n PRIESTERLIKE taak  by God.  Sy priesterlike werk was aan die kruis net die eerste helfte. Nou, vir die eeue daarna, gaan Hy voort en tree vir ons in by God.  Hy pleit vir ons, omdat Hy ook mens is.  Sy offer as Lam is altyd voor God.  Sy offer as Lam is natuurlik in die nagmaal ook altyd voor ons, nie waar nie – en Burger sê tereg ons maak heeltemal te min daarvan.  Ons moet self nou priesterlik in die wêreld leef, aangesien die kerk sy koninklike gesag en profetiese stem in die wêreld verloor het, en nou veral as getuies kan leef deur priesterlike diens.  LIEFDE is die doel.

So, waar is Jesus nou?  As gevolg van die hemelvaart is Jesus OP DIE TROON, praat Jesus met God oor my en jou, en is Hy aktief besig om alle mense na Hom toe te trek, soos Hy vooraf beloof het.  Hy stuur die Gees, hy gebruik mense, die Woord, die Kerk, die sakramente, ampte, ens., maar HY werk.  Niemand kan Hom keer nie. Hieroor moet ek preek…