Monthly Archives: Augustus 2013

88 Kwelvrae wat gelowiges pla – J van der Watt (red)

88 kwelvrae88 Kwelvrae wat gelowiges pla, Jan van der Watt (red) (CUM: 2013)

Let op hierdie  taai Bybeltoffies (jy’t nie gedink daar’s so ‘n woord nie, nè – ek ook nie!) waaroor mense vrae vra:

  • Aanvaar God buite-egtelike kinders?
  • Is poligamie nog OK, soos in die Ou Testament?
  • Watter Bybelvertaling is nou reg?
  • Wat gebeur met ‘n mens na sy dood?
  • Kan die duiwel my gedagtes lees?
  • Mag ‘n geskeide weer trou – sê Jesus nie ander nie?
  • Is die chip onder die vel die Merk van die Dier?
  • Harry Potter en Liewe Heksie – wat daarvan?
  • Gaan diere hemel toe?
  • Hoe tree ek op teenoor my gay vriend?
  • Wat sê die Bybel van grondhervorming?  Kan jy glo…
  • Kersfees – is dit ‘n heidense fees?
  • Masturbasie, o aarde…
  • Pornografie, Profesie, Sabbat, Selfmoord, Toordery…
  • Facebook, Voetewas…
  • Moet vroue onderdanig wees en
  • wat is die “wit steentjie” in Openbaring?

Hierdie is maar net ‘n paar van die 88 vrae en antwoorde wat Prof Jan [by wie ek die eerste keer my doktoraal probeer doen en misluk het – geen refleksie op hom 🙂 ], Prof Francois Malan, Prof Stefan Joubert (eks-kollega, wie ek steeds as mentor sien), Prof Kobus Kok, Prof Hermie van Zyl, Prof Adrio König, Dr Coen Slabber en Milanie Vosloo geantwoord het – omtrent ‘n heldegallery…  Hier is die lank en die kort: as jy ernstig is oor jou verhouding met die Here, en nadink oor die Bybel, en vrae het (wie het nie?) en meer wil weet, kan jy maar hierdie boek by CUM aanskaf.  Daar’s geen twyfel nie  – ek het self weer ‘n hele paar dinge besef. 

Laat my egter toe om myself te wees en ‘n paar dingetjies uit te lig:

  • Heel taaiste toffies is nou nie daarin nie (homoseksualiteit as sulks, aborsie, ens.) maar nou ja, elke boek het ‘n sekere scopus.  Mens kan nie met een boek alles doen nie.
  • Al is almal werklik hoogs opgelei en so aan, getuig die boek van ‘n denominasionele vooroordeel – dit is maar gemik op die NG-gelowige, sou ek sê.  Die antwoorde is binne daardie hele milieu: kleindoop is die inding en ons geleerde vriende het eintlik maar min kennis van die charismatiese goete:  daarvan getuig die antwoorde oor ‘n gebedstaal, profesie, doop met die Gees, ens.  Nie verkeerd nie, verstaan my mooi – each to his own – maar dis beslis antwoorde vir gereformeerde Christene.  Almal is nie NG-lidmate nie (ook nie ek nie), maar die meeste is seker…  Daar is egter steeds baie vir almal om te lees en oor na te dink.
  • Dis die een ding.  Die ander ding is dat ek nou nie noodwendig met elke antwoord saamstem nie.  Jou vakgebied maak jou nie noodwendig ‘n kenner van alle vakgebiede of terreine, nè? Alhoewel ek nou nie my doktoraal klaar gemaak het nie 😦 , het ek my eie opinies mos, gebaseer op ‘n verantwoordbare Skrifverstaan en blootstelling aan die breër kerk oor baie jare.   Hier en daar het ek dus van “nee” kopgeskud – veral by sommige calvinistiese en/of charismatiese goedjies, die verbondskinders bv. wat alleen gered is as hulle sterf (p233), ens.   Ander goedjies is m.i. net verkeerd/misverstaan: as iemand ‘n vraag vra oor ‘n “slim man” en/of sangoma, beteken “slim man” ‘n “slams”, iemand wat toor (soos ‘n sangoma) – dit gaan nie daar oor Godgewe wysheid nie (p212),  ek stem ook nie saam dat Ef 2:8-9 sê geloof is ‘n gawe van God nie, ons het dit wel vroeër so verstaan, maar die Nuwe Vertaling is reg – die “dit” in die Grieks (touto) verwys nie na die geloof nie, maar na die redding. (p231).  Ek kan darem eerlik sê ek het met verreweg die meeste saamgestem – en wie stem nou saam met alles wat ander sê?

Ten slotte – lekker boek om te lees, of dalk vir Kersfees vir iemand te koop…

Advertisements