Monthly Archives: September 2013

Johan Jacobs – God se plan om natuurlik gesond te leef

Natuurlik-gesond_voorvgwJohan Jacobs – God se plan om natuurlik gesond te leef. (Carpe Diem, 2013)

Ek het Johan en Alicia al ontmoet by wedersydse vriende en toe het hy al iets van sy besondere verhaal vir my vertel.  Hy is naamlik genees van Veelvuldige Sklerose en het inderdaad ‘n storie om te vertel.  Wat ‘n fantastiese ommekeer en ‘n nuwe lewe is dit nie!  Dan is hy ook ‘n kind van die Here en dit maak hom ‘n broer.  Vir my speel dit nogal ‘n rol.

In hierdie boek beskryf hy sy verhaal en dan ook die dieet wat hy glo tot optimale gesondheid sal lei.  Dis baie interessante leesstof.   Persoonlik het ek altyd teenstrydige gevoelens oor inligting soos hierdie.  Laat ek motiveer:

  • Ek glo inderdaad dat ons moet terugkeer na ‘n natuurlike dieet, of so natuurlik as moontlik.  Ek dink dat alle kunsmatige materiale en prosesse nadelig vir ons sal blyk te wees.  Ons heil lê uiteindelik by baie groente en vrugte, growwe grane, neute en bessies,  vars water, ens.  Ek glo ook dat vleis, melk en eiers nie vir ons sleg is nie, bloot omdat dit natuurlike en heel kos is.  Ons is aangepas om omnivore te wees. Bier is beter as Coke omdat dit meer natuurlik is – en so aan. Organies is altyd beter as nie-organies.  Daar is reeds te veel antibiotika en hormone in die ekosisteem.  Ek hou van die primal diet (min of meer), maar daar is ook soveel weergawes – graan (soos vleis, ongeag my bloedgroep) akkordeer bv. baie goed met my.  Dis ironies dat ‘n vegetariese dieet (die teenoorgestelde) ook voorgee om baie gesond te wees.
  • Daarmee saam glo ek dat die mens se sisteem nogal baie tolerant is.  Met al die verwerking en verfyning, al die witbrood en pienk polonie en appelkooskonfyt, natrium belaaide salami en gebrande braaivleis leef die mens oënskynlik nog net so lank (of langer, maar gemeet teen wat?)  as in die verlede.  Die moderne dieet is nie ‘n kits-verdoeming tot die dood nie.  Ek het naby familie (1) wat nog nooit gerook of gedrink het nie en so gesond as moontlik geleef het, volgens Duitse holistiese beginsels, en tog op 55 aan kanker gesterf het; en (2) wat swaar rook (sedert 14), daagliks drink – soms te veel – eet net wat hulle wil en verbasend gesond op pad is na 85.  Dit sê natuurlik nie almal moet dit waag nie – ons weet wat is gesond en wat nie.  Ek sê net mens moet perspektief behou.  Daar is ook altyd die balans tussen kwantiteit en kwaliteit. Daar is ook die kwessie dat die heeltemal organiese en natuurlike dieet nie in supermarkte te vinde is nie – trouens, amper NIKS in die supermark is aanvaarbaar nie.
  • Mense soos ek vind dit moeilik om die waarheid te onderskei.  Mens raak later sinies.  My ma was een van die eerstes wat botter vir margarien verruil het – dis sy wat volgens Dr Kneipp se beginsels geleef het (en ons ook: geen witbruid, witsuiker, peper, olie, ens. ooit gehad nie).   Ek onthou sy het die geel botter eers met die wit margarien gemeng, tot geel margarien uitgekom het.  Alle versadigde vette was sleg, want dit het die are opge-clog.  Net een of twee eiers per week, en dan net met skuldgevoelens.  Vandag is eiers weer ok, en versadigde vette nie meer die groot sondaars nie (eerder transvette).  So gaan dit met baie dinge – die een ou se gif is die ander een se wondermiddel.  Wie om te glo?
  • Persoonlik neig ek na die wetenskaplike kant.  Ten minste kan navorsing vir ons bewyse lewer van ons aansprake.  Ek is ook nie geneig om in groot conspiracies te glo nie.  Ek glo bv. nie mense word siek gehou net om meer pille te verkoop nie.  Ek glo dat as ‘n kompeterende farmaseutiese maatskappy ‘n beter pil tot genesing gevind het, sal hulle mal gaan daarmee.  Natuurlik wil almal geld maak, maar dit geld ook vir die homopate, die wat organiese produkte verkoop, ens.  (die leefstyl is ongelukkig duurder).  Ek vind dat my mediese dokter regtig probeer om my te genees en kan selfs sê dat my spesialis (en voedingskundige) my gratis konsulteer.  Van die alternatiewe gemeenskap kom soms aansprake wat ongemotiveerd, selfs verregaande is, en moeilik om te glo.   Die studies waarna verwys word is nie altyd geldig of betroubaar nie.  As dit dus bv. gaan oor aspartaam, die gebruik van mikrogolwe of kwik-amalgame kyk ek eerstens na die wetenskaplike studies wat oor jare en oor duisende mense gedoen is.  Die produkte raak oënskynlik nie die verre meerderheid van mense nadelig nie.  Tandartse wat daagliks kwikamalgame uitboor en kwikdampe inasem het skynbaar geen nadelige gevolge daarvan nie – hul occupational hazards is heeltemal ander dinge (my swaer is ‘n tandarts).  Dan moet mens bysê dat daar sekerlik diegene sal wees wat supersensitief is, dat daar wel kommerwekkende tekens is en dat mens eerder moet fouteer aan die kant van veiligheid.  Kwikamalgame is reeds in ‘n paar lande verbied, maar veral omdat die kwik in die natuur beland, bv. deur verassings.  Daar is te veel kwik. Aspartaam is ‘n kunsmatige stof en ek sou sê dan eerder ‘n klein bietjie suiker of heuning.  Terselfdertyd moet mens ook sien dat daar nie altyd wetenskaplike konsensus is nie, of dat dit ook gedurig groei en verander – sommige sê dus eet maar eerder botter, en tog het my margarien  die hartmerk op – die beste keuse vir my gesondheid.  Die feite van vandag is die mite van môre.

Ek het dus besluit om my eie weg te vind.  Ek vra ook dat die Here my daarin lei.  Ek eet net wat vir my goed is – wel meestal.  Hier is my bottom line oor hierdie boek:  moenie met jou gesondheid kanse vat nie.  As jy die natuurlike lewenswyse kies wat Johan voorstaan, sal jy verseker die beste kans hê tot ‘n lang en siektevrye lewe, en DIT is sonder twyfel God se wil.  Wat ‘n seën!

Advertisements