Monthly Archives: November 2013

Dekaloog – tafels van genade

Dekaloog – tafels van genade

I

Ateïste, agnostici, skeptici, politeïste, panteïste, egoïste,

Christene, Jode, Moslems, Hindoes en Boedhiste,

die wat die geldgod, seksgod, plesiergod, statusgod aanbid

of hul kar, hul girlfriend, spieëlbeeld, kinders

en almal wat aan iets verslaaf is –

God het ons lief.

II

Die wat voor ‘n afgodsbeeld sou buig, ‘n totem, Boedha of Maria,

of geloof heg aan gelukbringers, St. Christophers en amulette,

wat touch wood sê, bygelowig is oor katte, dertiens, sewes,

wat wywater, doopwater-uit-die-Jordaan, salfolie, kruise eer

of Dominee se gebed, Pastoor se seën begeer –

God het ons lief.

III

Meinediges, godsverdomde lasteraars, God-is-my getuie-sweerders,

onder-die-rok-in vloekers, kragwoordknopers: F-woord, D-woord,

enige woord, die wat OMG, gots, goeds of koots roep, skellers,

pragtigbid-Fariseërs wat in ons biduur eer ontvang en almal

wat onverskillig Godsnaam bid: Here, Here, Here, Here –

God het ons lief.

IV

Sabbatsverbrekers, -werkers en –skofwerkers,

Sondagsportspelers, -inkopers, -swemmers en –in-die-oog-breinaaldstekers,

kerkvermyders-om-te-gaan-visvang, Sondagdikvreters-en-dan-gaan-slapers,

klipchristenkerkgangers wat hoogmoedig op die vorige lot neersien,

alle goddeloses wat aan Hom deur die dag of week geen ag gee –

God het ons lief.

V

Vader- en moederbedroewers, -bevloekers, -bestelers-as-gevolg-van-dwelms,

in-die-ouetehuis-niebesoekers; pa en ma disrespekteerders en onteerders,

ouer-geslag aflaggers, leierskap ignoreerders en wetsoortreders,

rebelle, misdadigers, verbrekers, ondermyners, getattoëerdes,

nie-samewerkendes, sektariërs, kerk-afstigters en -verlaters –

God het ons lief.

VI

Moordenaars, manslagters, doodslaners, -skieters en –stekers,

aborteurs, genadedoders, selfdoders, laksmanne, skerpskutters, soldate

selfmoordbommers, terroriste, geweldenaars en psigopate,

haters, wrokkiges, beledigers, vernederaars en laat-sleg-voelers,

magsbehepte leiers, manipuleerders, afdrukkers en uitwerkers –

God het ons lief.

VII

Hoereerders, egbrekers, owerspeliges, saamwoon oor-die-tou-trappers,

gays, lesbiërs, transgenders, cross dressers, perverte, pimps en prostitute,

gesellinne en hul geselle, hookers, flashers, wankers, pornsurfers,

uittrekkers-in-die-gedagtes, borsgleuf-begeerders, hygroman-inrygers,

geestelike tante-seksweerhouders, affair-met-die-orrelis onreines –

God het ons lief.

VIII

Stelers, diewe, skelms, bedrieërs, verneukers, kantoor-vaslêers,

kuberkrakers, phishers, grys produkte-kopers, musiekaflaaiers,

omkopers, korruptes, tenderbedrieërs, onnodige reisers en eters (polities of kerklik),

oordadige kersfeeskopers, kosweggooiers en -vermorsers, aarde–opmorsers:

plastiekgooiers, koolstofpompers, petrolvreters, suurstofdiewe –

God het ons lief.

IX

Leuenaars, vals getuies, waarheidbuigers en –verswygers, verdoeselaars,

glo-myself-liegbekke, politieke spinners, statistiek-wanaanbieders,

affair-wegstekers, in die geheim sex chatters, agteraf-bellers, SMS-stuurders,

(weervoorspellers, visvangers, tandetrekkers), skelm-rokers moenie-vir-ma-sê,

alledaagse liegters: wit leun, halwe waarheid, voorgee, vroom front voorhou –

God het ons lief.

X

Begeerders, jaloerses, afgunstiges, afkrakers en suurdruiwe-sieners,

Bitterbekke, gun-ander-niks minderwaardiges, kastige morele beterweteriges,

nydiges, kleinlikes, inhaliges en suiniges, skimpers en skinderaars,

materialiste, kapitaliste, kompeteer-met-die-bure rat race-rennendes,

ontevredenes, onvertrouendes, onvredenes en ongelowiges –

God het ons lief.

 

 

Advertisements