Monthly Archives: Januarie 2014

Die Sewe Pilare van Gesondheid. Dr Don Colbert.

ColbertDr Don Colbert, Die Sewe Pilare van Gesondheid. (CUM, 2007)

Ek koop hierdie boek in die bargain bin, eintlik CUM se “outlet”-winkel – al die boeke wat moet goedkoop uitverkoop, vir R10 of R20.  Dis m.a.w. “my tipe boek”… J Dr Colbert is ‘n mediese dokter en ‘n Christen en bemoei hom met voeding en (natuurlik) ‘n gesonde lewe.  Hy sluit aan by die opkomende beskouings dat daar groot fout is met die moderne dieet.  Hy behou egter die goeie balans, wat maak dat ek van die boek hou.  Lyk my hy is ‘n skrywer van baie boeke en het sy eie radio- (of is dit TV), program – bekende ou dan in die States.  Sy sewe pilare van gesondheid is die volgende, en ek skryf ‘n paar punte by elk (net vir die wat wil, né):

Pilaar 1. Drink meer water

  • Ons moet aansienlik meer water drink – ons is dikwels gedehidreer
  • Baie algemene simptome soos hoofpyne ens, kan verdwyn deur net voldoende te drink
  • Ons moet ‘n glas water drink (met suurlemoensap, né) as ons opstaan, en dan tussen etes (nie te veel saam met etes nie) elke keer ‘n glas water.
  • Dr Colbert is soos baie van hierdie ouens nie lief vir kraanwater nie – die chloor en die fluoried is nie goed nie, en dan is daar nog ‘n wavrag ander dinge wat pla: hormone, swaarmetale, gifstowwe, ens.  Dis waar die ingewikkeldheid maar begin, want gebottelde water is ook nie goed nie (plastiek – sekere plastiek is goed, glas is nog die beste),  so mens moet gefiltreerde water drink, nie gedistilleer nie,  maar dit moet ‘n alkaliniserende filter wees, want sommige bottelwater is te suur.  Daar is lyste van Amerikaanse gebottelde water en hulle pH’s, maar dis alles onbekend en laat my nêrens.
  • Koffie is heel gesond en die grootste bron van die gemiddelde Amerikaner se anti-oksidante – dus so 3 koppies is goed (ek ignoreer vir eers die deel oor die watse organiese koffie, met die watse gefiltreerde water en die watse organiese melk met die stevia, geen suiker – doen dit op my (ou) manier). Dis nou goeie nuus…
  • Ek self volstaan maar by “drink meer water”: gebottelde water as ek kan en ek probeer om uit glasbottels te drink. Daar is gemeenskappe wat nie eers lopende water het nie.

Pilaar 2. Slaap en rus ordentlik

  • As mens nie genoeg slaap nie, word jy siek op allerhande maniere.  Slaap is wesenlik nodig vir ons gesondheid, 7-9 ure per nag.
  • Stress, koffie, Red Bull en nog ‘n klomp goed steel jou goeie slaap.
  • Dr Colbert bespreek dan ‘n goeie slaaphigiëne (gaan-slaap-gewoontes) en sommer die probleem van snork (die hoorder se probleem, nie die snorker s’n nie!)
  • Hy hou nie van sterk medikasie om te slaap nie (net kort termyn), maar sê Valeriaan, Melatonien, Kalsium en Magnesium en goeters wat ek nie herken nie, is beter.
  • Hy glo ook aan die siesta en die “power-nap” – so drie-uur vat die liggaam mos weer ‘n dip.  Dis waar die ou mense gaan skuins lê het.
  • Ek probeer self beter slaap – sukkel ook so bietjie deesdae, bedkassie vol pilletjies soos ‘n oumens, hoe meer jy wil slaap, natuurlik, hoe minder slaap jy!  Jy moet dus probeer om nie te wil slaap nie, maar teen 01:30, glo my, WIL jy slaap.

Pilaar 3. Eet beter kos

  • “Lewende voedsel”, volgens hom, is die natuurlike kos soos groente en vrugte, neute, sade en olie, vleis en grane.  “Dooie kos” is vol bleikmiddels, preserveermiddels, kleurstowwe, vullers, ens. ma.w. die gepreserveerde en verwerkte kos  – goed in pakkies en boksies.
  • Hy bespreek hoekom slegte kos populêr is – dis natuurlik bekombaar, beskostigbaar, lekker en nogal verslawend (mos vol suiker, koolhidrate en vette).  Ek het dalk bietjie van ‘n probleem hiermee, sal dalk iets daaroor sê.
  • Dan bespreek hy alles wat sleg is:
    • Verwerkte kos bevat suiker en vet en preserveermiddels, geursel en kleursel, maar min of geen vitamiene of minerale nie – addisionele byvoegings tel nie eintlik nie
    • Al suiker se nadele en daar’s baie.  Hy hou nie van die kunsmatige versoeters nie –veral nie Aspartaam nie.
    • Witmeel gee energie, maar nie voeding nie.  Dis meel wat wit gebleik en super verfyn is, sodat al die goeie vesels en goete weg is.  Daar’s NIKS oor nie.
    • Slegte vleise is al daardie polonies en salamis en russians en worsies en pasteie – dis vol vette en soute en gepak met natrium om dit te preserveer.  Ons kry heeltemal te veel natrium in, dis so ongesond vir ons bloed.  Is salpeter nie ook natrium nie?
    • Vette: gehidrogeniseerde of gedeeltelik gehidrogeniseerde vette is transvette (as ek dit reg het). Kyk uit daarvoor op pakkies kos.  Dis in margarien, koekies, beskuitjies en pasteie en vele meer – sommer oral.  Dis in kitskos, soos McDonalds chips – 8g in ‘n groot pak chips.  Skynbaar baie!  Baie nadele word vir transvette aangeteken. Van hierdie vetter is so kunsmatig, hulle sê dis een moleluke weg van plastiek as jy dit oorverhit.  Ook versadigde vette en poli-onversadigde vette is nie lekker nie – koudgepersde olyfolie is goed, sê hy – min of meer.
    • Hokaai op die vleis en suiwel – jy mag dit eet, maar ons oordoen dit.  Stop met die worsies en gerookte vleise vir die grootste deel.  Mens hoef ook nie elke dag vleis te eet nie.
  • Colbert is heeltemal teen radiated – geïradieerde kos (so iets) – waar kos met gammastrale bestraal word om die organismes daarin te vernietig.  Dit word algemeen gedoen, daar is ‘n simbool agterop die pakkie, en natuurlik kon honderde goeie toetse nie ‘n probleem uitwys nie.
  • Wat om te eet?  Wel,
    • lae GI kosse (laag in suiker en verfynde stysels dus) – ons moet alle bygevoegde suiker uitsny – wat ek al amper regkry
    • tonne groente en vrugte (eintlik organies, maar laat dit maar daar) – 5-13 porsies op ‘n dag!  ‘n Goeie bord kos is half vol groente/vrugte, kwart stysel en kwart proteïne.  Hele paar vrugte eet op ‘n dag.
    • Volgraan en niks ander grane nie (ander grane is skynbaar beter as koring)
    • Goeie vette, veral mono-onversadigde vette (bv. suiwer olyfolie, avokados, olywe, peanut-butter en neute.  Moenie olies te warm maak nie, ag ‘n lang storie.  Dan ook Omega 3 olie – soos in olierige vis (nie Hake, en so aan nie).
    • Verkieslik organiese vleis of dan die maerste vleis wat jy kan kry, sny alle vet af – kalkoenbors, is ‘n voorbeeld; sny rooivleis tot op 2x per week.  Ai…
    • Vis is nou weer so vol kwik, kies dus tongolese tuna – ag, asseblief…
    • Suiwel afskaal, of na bokmelk oorskakel (hallo?) – eet wel goeie onversoete yoghurt
    • Donker sjokolade is goed vir jou – eet gerus
  • Ek love dit dat hy sê mens moet rustig eet en jou kos eers seën (wat ek nou doen).

Pilaar 4. Almal moet oefen en aktief wees

  • Ons moet die liggaam beweeg want die beweging suiwer die liggaam deur die limfsisteem, anders raak mens meer en meer geeftig.  Dr Colbert sê “die water moet geroer word”.
  • Oefening is goed vir jou want dit werk teen kanker, spanning, oorgewig, diabetes, veroudering, spierverslapping, hardlywigheid, slapeloosheid, depressie, longinkorting – al sulke goed.  Ook goed vir jou selfbeeld.
  • Dr Colbert deel oor aerobiese oefeninge: stap, draf, fietsry, swem, roei, dans, trappe klim
  • Anaerobiese oefening – met gewigte – is ook nodig, hei maar die gym is duur
  • Hy is ‘n 100% voorstander van oefeninge soos Joga en Tai Chi (jinne en hy is dan self ‘n Christen, wat sal die Christentannies sê?) – ook Pilates, natuurlik en ten slotte: ball room dancing!  Ek moes weer kyk – ja, ek HET die boek by CUM gekoop…

Pilaar 5. Detoks is nodig vir gesondheid

  • Hy sê ons het noodwenig te veel gifstowwe, plaagdoders, hormone, antibiotika, swaarmetale en ander euwels in ons bloed en ons moet ‘n plan maak.  Dit kom in die lug wat ons inasem, die kos wat ons eet en die water wat ons drink.
  • Hy is een van daardie ouens wat teen kwikamalgame is, maar ek is mos nie so seker nie
  • Dan al die skoonmaakmiddels: verfverdunner, vernis, ammoniak, bleikmiddels, vlekverwyderaars, metaalpolitoer, tapytgom, ontsmettingsmiddels, insektegif, sweetweerders, reukweerders en sulke algemene dinge bevat alles nogal gevaarlike chemikalieë.
  • Hoe kan jy daarmee werk?
    • Jy kan ‘n nou en dan ‘n dag vas
    • Jy kan sweet deur harde werk of die sauna – dis die liggaam se manier om te detoks. In ons moderne wêreld sit ons mos heeldag in lugverkoelde kantore: beweeg nie en kry nooit warm nie, werk nie meer in die tuin nie, oefen in ‘n lugverkoelde gym.   Ons sweet selde.  NEE, ons KAN maar sweet (soos manne, en “sterk” vroue, soos die advertensie sê) – dis goed vir ons…  Die vel is die grootste uitskeidingsorgaan (rêrig)
    • Ons moet natuurlik baie water drink – dit help die vel, kolon, lewer, limf, urienkanaal en alles om die giwwe uit te skei
    • Ons moet dus ook genoeg vesel eet, sodat die gif nie in die kolon gaan staan en aanpak nie
  • Dan moet ons natuurlik organies eet, sover moontlik, want dis nie bespuit nie
  • Ons moet alkali-vormende kos eet, en nie suurvormende kos nie – vermy dus (weereens) stysel, suiker, suiwel, vleis jip, pretty much alles wat lekker is.  Hou slegs by suur vrugte, hope kool, spruite en boontjies (ek is nou sinies…)

Pilaar 6. Voedselaanvullings, ja maar…

  • Ons vrugte en groente en vleis is nie meer wat dit was nie en ons gaarmaak-metodes laat die vitamines verdwyn.  So, almal kan doen met aanvullings.  Veral ouer mense.
  • Die algemeenste voedingstekorte, wat die meeste mense het, is aan Vit E, Magnesium, Kalsium (nie soos ek melk drink nie), Vit A, C en K, dan natuurlik dieetvesel, Vit B’s, D (alhoewel ek nou elders gelees het mens moet dit glad nie aanvul nie) en Kalium
  • Dan skryf Dr Colbert ‘n inspirerende stukkie oor anti-oksidante en vrye radikale en verwys na die fito-voedingstowwe, wat hy in kleure aanbied.  Let op:
    • ROOI kosse bevat likopeen, wat nice is (ek kan dit nie alles noem nie, lees die boek)
    • ROOI/PERS kos soos bessies het flavonoiede soos antosianidien (klink soos gif) en resveratrol – die rede waarom ek elke dag ‘n glas roowyn probeer drink (ek is egter ‘n treurige wyndrinker – ek vergeet)
    • ORANJE kos het karotenoiede, eet jou wortels
    • ORANJE/GEEL kos soos sitrus  het ‘n hele spul goeie goed
    • GEEL/GROEN kos spinasie, krulkool (!) en vele meer het grand luteien en seaxantien
    • GROEN brokkoli en al die kole is so gesond want dit het mos daardie swaelverbindings wat ons so goed ken as ons kool geëet het… (nie ek soseer nie, natuurlik)
    • GROEN/WIT soos uie en knoffel het nou weer ander nice goed, ook appels, te veel om op te noem, kwersetien en so aan
  • Dan moet mens groentee drink, donker sjokolade, borrie en gemmer
  • Aanvullings moenie sommer net gedrink word nie, dit kan heeltemal onnodig of sleg wees – baie is lae kwaliteit en totaal nikswerd.  Sommige is selfs gevaarlik, as die olie galsterig geword het, ens.  Megadosering is ook sleg vir jou.  Kies die beste kwaliteit en volstaan by:
    • ‘n omvattende multivitamien
    • 2 kapsules omega 3 (maar ‘n goeie soort)
    • As jy ouer as 50 is, kan jy byvoeg: Kalsium, ondertong Vit B12, Vit E spysverteringsensieme (ek eet gewone joghurt), ko-ensiem, Q10 en ALS, wat ook al dit is

Pilaar 7. Vryheid van spanning

  • Stres gaan jou doodmaak en daar is heelwat siektes wat daarmee verband hou – Dr Colbert bespreek kortisol se rol en wat dit doen op die lang termyn, wat sleg is
  • Ons moet leer om “opmerksaamheid” te beoefen – dit sluit ‘n paar goed in (1) wat ander noem meditasie of kontemplasie – om stil te word, of (2) mindfulness, in die moment te kom en daarin te leef, te fokus op wat jy presies doen.  Dis great (ek doen dit dikwels), dis ‘n belangrike rigting vir die spiritualiteit en het bewese fisiologiese en psigiese voordele.
  •  Hy deel oor dankbaarheid, erkentlikheid en “heromraming” (reframing) en die voordele van lag en humor – allerhande goedvoel en goeddoen hormone word afgeskei – en vergiffenis.  Ook die belangrike een van diep asemhaling en ontspanning.
  • Dan het hy ‘n baie praktiese advies (wat ek iewers in my coaching moet inwerk) en dit is SPELING – ons moet altyd ‘n speling rondom ons planne sit: tydsgewys (gee jouself meer tyd, ry vroeër), finansieel (spandeer minder, spaar meer) of verhoudings (nie nou reageer nie).  Dan word alles rustiger.
  • Dan ‘n verhouding met God – dis ‘n mooi hoogtepunt

Ja, ek hou van die boek en mens kan sekerlik hierdie dinge as die pilare van goeie gesondheid beskou.  Hier’s egter my probleem (het dit al by ‘n vorige boek ook genoem):

Die liggaam is nogal verdraagsaam en balans speel ‘n rol.  Preserveermiddels, witbrood met jam (heerlik) of ‘n skyfie salami op jou kaasbroodjie in MATIGHEID, m.a.w. af en toe, een keer ‘n week, ens. is oënskynlik ok – ek sien miljoene mense gebruik dit en die feit dat dit (steeds) op die rak is, beteken dat mense darem nie dadelik en in massas omkap nie.  Dis ongesond in oormaat en op die lange duur.  Ook gesonde kos kan jou siek maak as jy bv. te veel goeie vet sou eet en dan oorgewig raak, of wat ook al.  Met die hele dieet moet daar ‘n matigheid wees.  Daar is ook geen waarborge nie – sommige wat vreeslik ongesond eet leef veel langer as sommige van die wat baie gesond probeer leef.  Daar is ‘n gesonde balans nodig van al die pilare en ook van “kwantiteit en kwaliteit”.

Organiese kos is duurder en moeiliker bekombaar vir die gewone mens, soos bv. ek.  Ek weet bv. nie waar om dit te gaan koop nie.  Ek kies dit maar wanneer ek kan.  Miljoene mense in SA ly honger en smag daarna om net kos in ‘n gewone supermark te kan koop.  Ja, ongelukkig eindig hulle met witbrood en polonie en jam (soos ons almal grootgeword het), wat sleg is, maar dis darem kos en bekostigbaar en goed so vir die staat dat die water darem suiwer van kieme is a.g.v. die chloor en dat die mieliemeel versterk word met vitamiene en sulke dinge.  Dalk kan ryk Amerikaners hoor hulle moet net by spesialiswinkels gaan koop (want dis die boodskap), maar daai boodskap gaan nogal verlore in Afrika.  Trouens dis half sinies.

Baie van die adviese is nog onder bespreking en dis baie confusing.  AMPTELIK weet ek nie wat die saak is met

  • Botter en margarien nie –  Flora dan nou sleg, maar dit het die hartmerk op?  Botter ja of nee?  Botter is natuurlik veel lekkerder.  Ek kies dit op grond van my “dis natuurliker”- beginsel en geniet dit.
  • Plantolies ja of nee, en watter een – keer tog vir Canola en Sonneblom-olie is dan ook sleg. Olyfolie was goed, maar is nou weer sleg (moenie te warm maak nie), ens. Wat de …?
  • Eiers en diere-vette: cholesterol ja of nee? Ek lees elke dag ander opinies, en dis nou van dokters en voedingskundiges. Sommige sê vleis en vet is NIE die probleem nie, transvet, graan en stysel is die probleem – hou eintlik van daardie opinie.

Ek is nie geneig om te glo aan ‘n “groot komplot” nie.  Almal wil geld maak ja, maar ook dr Colbert wil (het baie boeke op die mark), en die ouens van die organiese kos, ens. – sommige homopate is dubbel so duur as die dokter.

Ek is geneig om by die wetenskap te bly – dis letterlik beter nagevors en bewys.  Die grootste studies omtrent ooit (naas nikotien) is bv. op aspartaam uitgevoer en dit wys NIE gevare nie, maar alternatiewe ouens wys dikwels na kleiner en swakker studies.  Selfde geld vir my vir mikrogolf-kos, irradiasie van kos, ens. Die gewone kookproses bring nog die meeste chemiese en molelulêre veranderinge aan kos aan.  Ek self glo egter tog maar hoe natuurliker hoe beter (maar let op: dit geld nie vir bv. suiker nie, Xylitol is eintlik veel beter – so kunsmatig is beter as natuurlik, wat mens nogal moedeloos kan maak).  Sien jy nou?

Ek is honger…

 

 

Advertisements

Ek vind dit moeilik/maklik

Jimi Skildery 3

Daarmee dan nou hierdie groepie enamel-goedjies.  Noem dit maar my enamel-fase. Dalk sal ek egter nog enamel-goedjies doen, want ek vind dit nie te moeilik nie – dis nou om dit te doen soos ek dit doen (der kleine Fritzie-styl).  Ja, om dit so grof en treurig te doen is maklik.  Die verf is heel samewerkend en tot ek actually min of meer kan skilder (nog lank weg) hou ek van die akriel.  Om dit eintlik REG te doen (soos regte skilders) lyk my is egter baie moeilik.  Op pad daarheen, moet ek heelwat fyner werk (fyner kwaste) en mooier kyk hoe die werklikheid lyk.  Ek verf soos ek drom speel, of basghitaar: ek kan saam plonk, of saam tjoef (respektiewelik)  en as die lied in drie drukke is, of die ritme eenvoudig sal jy nie eers agterkom dat ek maar basies speel nie.  Maar as daar ‘n nifty baslyn moet wees, of die drom moet fancy intel of die ritme is een van daardie af-aan goete, staan ek op en oorhandig.  Dan’t ek my fun gehad…  Met die skilder sal ek egter verder moet gaan – hoe anders gaan my skilderfaam versprei?


Tweede skilderding (en dit gaan al beter)

Jimi Skildery Enamel BruinWerk nog ‘n bietjie rof en eenvoudig – amper soos der kleine Fritzie, soos my ma sou gesê het – sy KON mos skilder en het my o.a. gewys dat  dinge in die regte lewe nie ‘n swart rand om het, soos in Fritzie se inkleurboeke, nie…  (hoekom lyk dinge egter soms so goed met ‘n swart rand om)?  Ek moet nog fyner werk (en reguiter, sien ek), maar het min of meer die enamel-ding onder die knie.  Gaan ‘n paar sulkes maak op bestelling (ja, ek het al bestellings – van Maryke) vir ons kombuis, en dan aanbeweeg na ander stillewes, soos vrugte en blomme.  Ek sal ‘n tydjie daarby stilstaan… Ek dink as mens dit min of meer kan doen kan jy na landskappe gaan, wat AANSIENLIK moeiliker is, en uiteindelik na diere en mense, wat BAIE moeilik is. Ek self is ook lus vir sulke abstrakte goedjies, of impressionistiese blikke op wat-ook-al, sal maar sien.

Ek moet net byvoeg dat ek die idee gekry het by wat Maria M (Esmelinda Visser, Augrabies) doen – soos gesien in TUIS, Sep 2011, p128).