Monthly Archives: Februarie 2014

Ja Jah Jahwe

Ja Jah Jahwe

U is my krag en my psalm:
groot gevaar nou agter my-psalm,
waters links en regs van my-psalm,
droë grond warm onder my-psalm,
beloofde land daar voor vir my-psalm,
God se hand hier bo-oor my-psalm;
U het my tot heil geword!
Amen.

Jes 12:2

Advertisements

Hoekom ek nie ‘n kreasionis is nie, maar wel ‘n kind van God

creationHoekom ek nie ‘n kreasionis is nie, maar wel ‘n kind van God

‘n Kreasionis is iemand wat glo dat die heelal geskep is omtrent 6000 jaar gelede in presies ses (24-uur) dae, m.a.w. deur Genesis 1 as letterlike, wetenskaplike feite  te lees.   Onthou, dit bots met die wetenskap se beskouing dat die heelal biljoene jare gelede deur die Oerknal ontstaan het.

My goeie vriend en broer in die Here Ernst, daar van Benoni, vir wie ek werklik lief is, stuur vir my ‘n boek wat meer as 60 vrae oor die skepping antwoord – sal sommige nou-nou noem – vanuit kreasionistiese oogpunt, nl.  Batten (red), The Creation Answers Book, 3d ed, 2009, Creation Book Publishers.  Ek waardeer die belangstelling en verstaan dat die bekommernis is dat ek op ‘n manier nie meer lief is vir die Here as ek nie die Bybel (net) letterlik lees nie.

Die vrae wat in die boek bespreek word is o.a.

  •  Is die wêreld in ses letterlike dae geskep?  Hulle sê ja, want dit is presies soos dit bedoel word in die Bybel en so is dit geglo in die geskiedenis.
  • Hoe kan ons die verste sterre se lig sien as die heelal net 6000 jaar oud is?  Hulle doen dit deur ‘n kosmologiese teorie dat die spoed van lig so gewissel het  by die skepping dat die skepping elders biljoene jaar oud is, maar op aarde is net 6000 jaar gemeet
  • Was die vloed oor die héle planeet?  Hulle sê ja, want dis wat die Bybel sê.  Die wêreldwye vloed – 4500 jaar gelede – is die rede vir al die fossiele, en die skuif van die kontinente (in ‘n katastrofale proses).
  • Hoe het die diere op die ark gepas?  Die skrywers het ‘n manier om dit alles te verduidelik, ook die baba-dinosourusse en die diere wat van Australië gekom het, maar Australië was toe mos veel nader, ens. Die feit dat daar nou net sekere diere in Madagaskar voorkom, beteken net dat hulle net daar oorleef het – hulle was eers oral.
  • Was daar dinosourusse?  Ja, hulle glo dinosourusse het nou die dag nog, saam met mense, geleef.  Hulle glo dis die Behemot, waarvan Job praat (in die King James, in Afrikaans en Hebreeus word dit ‘n seekoei genoem) en die drake van al die legendes. Dan ook nog –
  • Koolstofdatering
  •   Evolusie
  • Die ystye

·         Die ander vrae is meer teologies.

Vir ‘n paar wilde sekondes of wat maak van die goed sin, want daar is ‘n sekere logika aan, en dit klink oortuigend, maar dan besef jy weer nee, dis nie reg nie.  Trouens, dis alles verkeerd.  Die redes waarom ek so sê, is soos volg:

1) KOM ONS PRAAT EERS OOR DIE WOORD

·         Die Bybel is God se Woord, maar ook mense se woorde.  Altwee is belangrik.  Dit is deur God geïnspireer en is gesaghebbend in sy getuienis oor God en sy optrede tot die mens.  Dit is egter ook geskryf deur mense in ‘n pre-moderne tyd eeue en millennia voor die wetenskap.  Hulle het geskryf IN hulle konteks, soos HULLE dit verstaan het.  Van elektrisiteit en atome en bosone en kwarke het hulle niks verstaan nie (nie dat ek bosone of kwarke verstaan nie, maar ek weet darem daarvan).  Hulle verstaan van die wêreld was dat

  • Die aarde plat is en op sy pilare staan (Job 9:6).  Net nou die dag (in Van Riebeeck se tyd) het die pous nog Galileo verbied om te sê dat die aarde om die son draai.
  • Dat daar ‘n koepel (uitspansel, firmament – Gen 1:6) oor die aarde is wat die “water bo die aarde” uithou en waarbinne die son, maan en sterre beweeg.
  • Dat storms, donderweer, weerlig, aardbewings ens. alles God se beskikking is (ek sê nie God kan dit nie gebruik nie, maar dat hulle geen begrip vir die weerstelsel gehad het nie) – Job 37:2-4.
  • Dat die niere en hart van die mens die setel van ons denke en emosies is (daar’s baie, google “niere” in die Ou Vertaling , bv. Ps 62:2)  – die woord brein kom nie in die Bybel voor nie, hulle het nie geweet waarvoor daardie sagte goed in jou skedel bedoel was nie.

Hoe anders kon hulle redeneer as hulle nie kennis gehad het nie?  Hulle het sin gemaak van dinge soos hulle dit verstaan het – soos ons maar doen – maar dit beteken NIE ons moet hulle “Bybelse”wetenskap oorneem nie, so min as wat hulle “Bybelse”kultuur en gebruike gesaghebbend is.  Dit is die KONTEKS van die Bybel, nie die boodskap nie.  Die Bybel is dus NIE bedoel om ‘n wetenskap-boek te wees nie, dis NIE gesaghebbend daarop nie.  Mens kan sê dis vol wetenskaplike foute, heeltemal tereg, maar dan gebruik jy weer die wetenskaplike liniaal – dis soos om ‘n gedig af te skiet en te sê dis nie wetenskaplik korrek nie.  Dis sinneloos.  Elke geskrif het ‘n sekere bedoeling en fokus en dit moet gerespekteer word, anders lees ons dit heeltemal verkeerd.   Die scopus van die Skrif is die heilshandelinge van God met die mens – dis soos mens dit teologies kan sê.

·         Sal nou maar nie eers ingaan op die feit dat die Skrif – na sy menslike kant – oor duisende jare onstaan het, en dat daar veel invloede was en dat dit in baie variasies bestaan het oor die eeue en mettertyd vasgemaak is en dat daar geen “oorspronklike”dokument daarvan oor is nie.  Dis asof sommige glo die Bybel is hardop deur God voorgesê en toe deur die skrywers neergeskryf.  Nee, inspirasie het nie so gewerk nie – God se hand was IN die vorming, noem dit maar evolusie, van die Bybel.

·         Dit beteken dat ons nie die Bybel kan gebruik om wetenskaplike aansprake te maak nie.  Kreasioniste doen dit egter wel.  Hulle glo die Bybel bedoel dit letterlik en die Bybel is mos deur God geskryf en is dus onfeilbaar en daarom is die Bybel wetenskaplik korrek en as die wetenskap dit anders bevind, is die wetenskap verkeerd.  Dis presies soos die pous met Galileo gemaak het.  Hulle wil hê ongelowige wetenskaplikes moet ‘n besluit neem om nie die Moslems of Hindoes se skeppingsverhale te aanvaar nie, maar die Jode en Christene s’n, m.a.w. hulle moet eers Christengelowiges word, en DAN kan hulle die regte wetenskap bedryf.   Dis egter nie soos wetenskap werk nie – netnou iets daaroor.

·         Dit maak my op geen manier minder van ‘n gelowige, as ek nie my wetenskap uit die Bybel gaan haal nie.  Ek dink, na ek ‘n bietjie op die web rondgeblaai het, dat die meeste websites wat kreasionisme teenstaan, nie van wetenskaplikes is nie, maar van ander Christene.  Dis asof die wetenskap self maar selde bereid is om in gesprek te gaan met hierdie groepie snaakse mense.  Hulle is soos die ouens wat sê dat daar geen aardverwarming is nie, dat die maanlanding nooit gebeur het nie, dat die Holocaust maar ‘n komplot is, dat VIGS nie bestaan nie, ens.  – ‘n contrarian groep.  Hulle glo dat daar eintlik maar ‘n groot komplot is – dat die evolusionisme soos ‘n groot geloof is van die Satan en die Antichris en die Illuminati wat mense van God probeer weghou.  Is dit skokkend dat Christene  kreasionisme teenstaan?  Nee, dis korrek (dis wat ek ook hier doen), want terwyl kreasioniste dink dat hulle die Here verdedig, is hulle soos die pous besig om ons geloof skade te doen.

2) NOU OOR DIE WETENSKAP

·         Laat ek heel eerste sê die argumente van die kreasioniste (bv. in hierdie boek) is vals.  Dis verkeerd en oneerlik.  Dis eintlik leuens.  Ek voel skaam daaroor.  As ‘n gewone leek (met ‘n belangstelling in wetenskap) sien ek dit op elke blad.  Hierdie tipe argumene kan net deur ‘n baie klein minderheid aanvaar word, báie konserwatiewe Christene (want ek is self nog redelik konserwatief) en waarskynlik baie oud.  Hoekom sê ek dis verkeerd?  Want die oorwig van getuienis is teen hulle.  Hulle fokus op die 10% onverklaarde gebeure, terwyl die wetenskap die 90% verklaarde gebeure neem en daarmee die lyne trek.  Kreasionisme se hoofdoel is nie om die objektiewe waarheid uit te vind nie, maar om die Bybel as wetenskaplik korrek te bewys.  Dit maak dit ‘n geloofsoefening, nie ‘n wetenskap-oefening nie.  Hulle aannames is nie wetenskaplik nie, hulle bewysvoering word aangepas om hulle te pas (sommige mens wat hulle as “bewyse” aanhaal/verdraai, is baie kwaad vir hulle, soos Mary Schweitzer en die “jong” dinosourusse, alhoewel sy self ‘n evangeliese Christen is), hulle redenasies is inkonsekwent, ens.  Mens kan nie elke punt beredeneer nie – daar is nie tyd of die lus of die nodigheid nie – mens kan bv. net die verskillende kreasioniste en hulle stellings google en sien wat die wetenskap daarmee maak.  Dit word een vir een verkeerd bewys.  Dit is op objektiewe gronde onwaarskynlik en onmoontlik.  Doen dit self.

·         Die wetenskap is nie teen geloof nie en nie teen God nie.  Dit sou dit ‘n geloof maak.  Die wetenskap ondersoek die wêreld om ons op die mees objektiewe manier moontlik.  Dit observeer, teoretiseer en eksperimenteer.  Die wetenskap is nie ‘n geslote sisteem, waarin almal saamstem om teen God te wees nie.  Wetenskaplikes kom in alle gelowe en oortuigings.  Wetenskaplikes is ook mense wat na roem en Nobelpryse soek: as iemand ‘n ontdekking kan doen wat die hele appelkar sal omgooi, EN DIT KAN BEWYS, sal hy sowaar sy Nobelprys kry.  Maar dan moet die somme klop.  Die wetenskap is vol heen en weer argumentering en debat, dis waarvan die joernale vol is.  Maar bring die somme en bring die bewyse.  Artikels word nie uit joernale gehou omdat dit ‘n gelowige agenda het nie, maar omdat die aannames, bewysvoerings of somme nie klop nie.

·         Die wetenskap het breedweg nie ‘n geheime agenda nie – ook Hawking sal die dag saamstem as God deur observasie of somme bewys word.  Hy sal geen keuse hê nie.  Dis soos die wetenskap werk.  Dis jammer om te sê dat  die wetenskap in daardie sin nader aan die waarheid is as die kreasioniste.  Dis eerliker.  Ek weet dit klink vir sommige Christene soos heiligskennis, maar soos gesê, hulle lees die Bybel verkeerd en daarom is hulle verkeerd.  Daar is geen komplot aan die gang nie, of die komploteerders (?)werk so subtiel dat hulle werke nog nie sigbaar is nie – wat die wetenskap glo is oop en bloot op die tafel, met bewyse.  As daar ‘n beter teorie kom met beter bewyse, sal dit verseker aanvaar word.  Dit het al baiekeer gebeur.  Natuurlik is daar neigings in die wetenskap en almal wil graag IN wees, maar uiteindelik is dit die bewysvoering wat die deurslag sal gee.  Dis wat die teorie gaan laat staan of val – nie populariteit in die wetenskaplike gemeenskap nie.

·         Wetenskap en geloof beklee werklikwaar verskillende plekke.  Die wetenskap ondersoek die fisieke realiteit en moet dit ook doen en het aan ons baie dinge gebring – elektrisiteit, prente van Mars se oppervlak, ens.  Die somme en bewyse wys vir ons op ‘n Oerknal soveel biljoen jaar gelede, en leer ons oor dinge soos kwasars, swart kolke en subatomiese partikels.  Dis soos ‘n skattejag – baie opwindend!   As dit nie so is nie, sal dit vorentoe uitgewys word.  Dis waarop die getuienis tans wys.  Die wetenskap kan egter nie vir ons leer oor ons verlorenheid en soeke na sin nie, oor wat reg en wat verkeerd is, oor die drome en aspirasies van elke siel, van die dood en die ewigheid en  van verlossing en vrede en liefde nie.  Hoe kan dit, as dit nie God en hoop en die ewigheid onder die mikroskoop kan sit nie?  Daarvoor kyk ons na die Bybel, wat getuig dat daar ‘n Maker is, en dat Hy ons liefhet en kom inmeng het om ons te help op die regte pad, na Hom toe.  Daar lees ons van die doel van ons bestaan op aarde – hoe kan ek daarsonder sinvol leef?  Dis hoekom miljoene mense glo, biljoene eintlik as mens die ander gelowe in ag neem.  Mense het nodig om te glo, dis soos ons gemaak is – glo ons.

·         Wetenskaplikes kan dus maklik Christene wees (of, om eerlik te wees,  Moslems of Boedhiste). Natuurlik is daar wetenskaplikes wat oortuigde ateïste is, maar dan is dit hulle “geloof”.  Dis meer eerlik vir ‘n wetenskaplike om ‘n  agnostikus te wees (iemand wat sê “ek glo ons kan nie weet of daar ‘n God is nie”) as om ‘n ateïs te wees.

Wat glo ek dus? 

·         Ek glo dat God die Skepper is van alles, maar dat die Bybel nie vertel HOE Hy geskep het nie.  Die wetenskap kan dit maar uit-figure.  As die somme na ‘n Skepper toe wys (en ek glo dit sal meer en meer) sal die wetenskap wel daarby uitkom – daar is inderdaad “ongelooflikhede” wat daarop wys, bv. in die Oerknal (verskille van ‘n biljoenste van ‘n sekonde sou maak dat ons glad nie hier kon wees nie) of die geweldige ingewikkeldheid van ons DNS (‘n stuk programming in ‘n speldpunt DNS is soveel soos die lengte van ‘n programkode wat vyf keer om die aarde gaan) of  die bisarre dinge wat die kwantumfisika al hoe meer uitvind.  Soos baie van my generasie is ek opgewonde oor die wetenskap en hoe meer die wetenskap uitvind oor die skepping, hoe meer verwonder ek my in die Skepper.  Dis NIE teenstrydig nie.

·         Ek glo nie die wetenskap is altyd reg oor alles nie.  Die wetenskap werk deur hipotese-stelling, teorievorming, bewysvoering en bevestiging of verwerping van die hipotese. Dit is dikwels tentatief.  Ek glo nie aan slegte wetenskap nie, wat uitsprake maak wat hy nie mag maak nie, bv. oor God.  Ek het nie ‘n probleem daarmee dat die mens deur evolusie ontstaan het nie.  Ek dink God het evolusie gebruik, en toe van die mens  iets heelwat meer gemaak as die diere.  Duidelik was daar die eerste mense, die Adam en die Eva, wat die eienskappe van menswees gedra het.  Ek glo egter nie elke evolusieteorie of elke detail nie, die ontwikkeling van die mens is vir my (wetenskaplik gesproke) baie oper as ander gebiede.  Ek dink egter die breë lyne van die hominiede en die homo-spesies moet aanvaar word – die fossiele is immers daar vir almal om te bestudeer.  Genetika leer ook vir ons nogal baie oor die ontwikkeling van die mens.

·         Ek glo dus Genesis is veral figuurlik, want dit leer my oor die mens as skepsel, oor sy sondigheid, sy noodsaak vir verlossing, oor God se aard, oor die rol van godsdiens en geloof en AL DIE DINGE wat ek nodig het om te verstaan hoe om sinvol te leef.  As dit ‘n letterlike vertelling alleen was, sou dit veel minder betekenis gehad het.  Ek bly ‘n gelowige, ‘n kind van God.  Ek het tot bekering gekom en dien die Here.  Ek leef met Hom, op my gebroke manier, elke dag.