Monthly Archives: Maart 2014

Neels Jackson – Op soek na Jesus

Op soekNeels Jackson – Op soek na Jesus (2014, CUM)

Neels Jackson is ‘n joernalis wat jare die kerksake, ens. vir Beeld e.a. koerante behartig het.  Hy is tans die redakteur van die Kerkbode. Ek het nou die dag met hom gepraat oor die Dept van Binnelandse Sake wat so treurig is wat die huweliksbevestigers betref, toe sê ek vir hom ek lees nou sy boek.  Hy was nie vreeslik opgewonde oor die nuus nie (dit is immers nie groot nuus nie), maar het darem gesê hy hoop ek geniet dit.  Neels het alle sinodes bygewoon van alle kerke (by wyse van spreke) en seker na meer predikers geluister as die meeste van ons, tot by Oom Angus.  Dis hy wat die verskille tussen dié kerk se predikante en daardie kerk s’n haarfyn kan uitlê.  Hy het bv. iewers geskryf die Hervormde Kerk se predikante het proporsioneel die meeste doktorsgrade en ook die meeste rokers.  Wat sou dit beteken?  Dan wonder ek ook of soveel sinodes en rook en gepraat nie enige-een van sy geloof sal afsit nie… (my geloof sou in gevaar wees).  In elk geval, dis hoekom ek in hierdie boek belang gestel het – ek het gedink Neels gaan te midde van al die teologie-dat-die-rook-so-trek iets formuleer, sy persoonlike soektog na Jesus, sy slotsom. ‘n Unieke buitestaander-blik.

Ek dink hy het dit gedoen, maar op ‘n ander manier.  Hy is immers nie ‘n teoloog nie, hy is ‘n koerantman.  Hy het gedoen wat vir hom natuurlik kom.  Hy het ‘n koerant geskryf – wel, soort van.  Hy het homself terugverplaas as koerantskrywer in Jesus se tyd, met ‘n opdrag om hierdie nuwe Profeet se storie te gaan dek.  In die 25 hoofstukke van die boek is daar dus die storie van hierdie verslaggewer van die Jerusalem Gazette, Johannes, en sy opdragte, en dan volg die artikel in koerantformaat, net so.  So werk hy deur Jesus se hele bediening.  By elke hoofstuk is daar ook ‘n refleksie op die gebeure – dieselfde Johannes wat op sy oudag deur sy lêers en artikels blaai en probeer sin maak van WIE HIERDIE JESUS nou eintlik is.  Dis hier waar ek Neels se eie refleksie ook sien deurkom.  Hierdie Johannes stoei met die berigte oor Jesus – wat om daarvan te maak?  Daar is geen bewyse vir die aansprake van Jesus Christus nie, en tog is baie mense se lewens radikaal verander.  Dis ‘n kwessie van persoonlik besluit wat om daarvan te maak. As hierdie verslaggewer dan sterf, is dit met vrede op sy gesig.  Hy glo, m.a.w.  – en dit is duidelik Neels se getuienis.

Die boek is goed nagevors (as jy na die medewerkers en bronne kyk) en duidelik die produk van jare se gesprekke en dink oor Jesus.  Ek self sou hier en daar iets anders sê (maar dis mos maar altyd so), maar die verrassing is altyd weer: jy kan net só ver vertel oor Jesus.  Daar is net soveel getuienisse en verhale oor Hom.  Dan kom die soektog by die besluit wat om daarvan te maak.  Soos die evangelies los hierdie boek ook net die verhaal by die leser.  Hy moet nou besluit – wie was Jesus? 

Die boek is eintlik net ‘n hedendaagse evangelie.  Dit vertel in artikel-vorm die verhaal van Jesus.  Dis ideaal vir mense wat die evangelie nuut moet hoor, of nodig het om die hele verhaal oorsigtelik of in makliker vorm te lees.  Ek het die boek geniet, Neels – dankie!

 

Advertisements