Monthly Archives: April 2014

Everything belongs – Richard Rohr

Everything belongsEverything belongs – Richard Rohr (Crossroad, 2003)

Soos altyd is ek laat vir die bus, want die boek het al in 1999 uitgekom, en baie het al daarvan gepraat, maar ek het dit nou eers voor oë gekry op die uitverkoop-tafel van een of ander boekwinkel. R15, kan jy glo en nuut kos dit oor die R200! Ek lees darem wel al vir jare Richard Rohr se dagstukkies – dis hoekom ek die boek sommer dadelik gevat het.

Dalk wil jy nie die hele stuk lees wat ek nou skryf nie – dis nogal vervelig en lank…

Ek kan nie eintlik die boek opsom nie – alhoewel ek notas vir myself gaan maak – want die boek is te diep vir ‘n opsomminkie. Laat ek dit so stel: my seun het my die boek sien lees en gesê hy wil dit ook lees. Ek sê toe nee, hy kan nie nou al nie. Hy kan die boek eers lees in die tweede helfte van sy lewe – minstens eers na 30. Intussen het ek hom ons kursus Geestelike Vorming gegee om deur te werk, wat hy tans doen, en daarna sal ek hom Geestelike Lewe gee. Selfs dit beskou ek al as baie vinnige groei, eintlik te vinnig. Ek is eintlik self nog te jonk (ek is oor die 50) vir die boek, of te dom, te onervare, te geestelik immatuur.

Ek kan net sê hoe die boek my laat voel, soos met al Rohr se goed:

  • Ek voel ons moet ons kerkdeure sluit en ophou met die speletjie. Kerk is grootliks daar om ego’s op te pomp, meerderwaardigheid te kweek en mense te leer om beter aan te pas by ‘n sondige en verkeerde bestel. Die kerk het die wêreld se waardes een honderd persent oorgekoop en probeer net om meer “suksesvolle” replikas te lewer, met behulp van geestelike trieks. Jesus Christus was heeltemal, heeltemal anders en sou sonder twyfel ‘n sweep vleg as hy by ons kerke moes inval. Hy sou in elk geval nie welkom wees nie, na sy eerste preek – Maak ‘n volle oorgawe aan My: gaan verkoop vandag alles wat julle het en kry My dan môre hier sonder enige-iets, dan lei ek julle na die ware lewe (en dit sal ‘n kruis insluit). Ons kan eenvoudig nie deel met sulke radikaliteit nie. Dadelik moet ons redeneer hoe daardie woorde “eintlik” verstaan moet word en dat dit “eintlik”’ beteken ons hoef nie regtig ons goed agter te laat (soos die eerste dissipels) nie, maar dat ons “eintlik” baie meer nice goedjies gaan kry, soos geld, gesondheid en geluk. Die pad gaan beslis nie ‘n kruis-pad wees nie, maar ‘n heerlike joyride van blessings. Ja, dis soos ek (en jy) redeneer. Nogtans sê Rohr ons kerke is noodsaaklik – al is hulle so swak.
  • Ek voel self ook soos ‘n geestelike loser. Ek probeer verder sien en iets beter verstaan, maar sien dan veral maar net die groot EKKIGHEID, die ego, die vlees, die eie behoefte – hoe klein ek werklik dink, hoe swak my volgelingskap is – ek het nie genoeg woorde vir wat ek voel nie. Nogtans verseker Rohr ons dat God ons liefhet net so en dat daar vir ons ‘n perfekte plekkie is in sy huis, ‘n kamer met my naam op – by wyse van spreke. Ek voel ook teologies totaal onbekwaam as ek bladsy vir bladsy lees hoe waarheid en insig en antwoorde uitrol, paragraaf na paragraaf ‘n nuwe openbaring, perfek neergesit, alles saamgevat, diep gaan haal – hier is iemand wat kan SIEN… In vergelyking is ek soos ‘n halfblinde wat in die mis ronddwaal, hier en daar ‘n waarheid raakvat per ongeluk en dan daarmee loop tot ek iets anders raakgevat gekry het. Dalk moet ek iets anders gaan doen as wat ek doen, maar in die ander goed is ek nog slegter.

Nee aarde, dis ‘n gevaarlike boek, op baie vlakke, uitdagend, geskryf deur ‘n katoliek, ‘n monnik, ‘n mistikus, ‘n ou wat die Boedhisme kan aanhaal (maar hy is so uitverkoop aan Christus dat ek daarvan ween) – maar wat Jesus se radikale boodskap voorhou en sê ontsnap, ontsnap die wêreld se denke, laat jouself agter, kry ‘n greep op God, val in Hom, verloor jouself in Hom, word uit die bestaande orde uit verlos, leef die GROOT lewe waarin jy niks het nie, niks om te verloor nie, niks om te bewys nie, niemand is nie. Hy wink ons na ‘n vryheid wat vir ons te veel is, soos die man wat na ‘n leeftyd in die tronk geweier het om vrygelaat te word. Hy wink ons na ‘n lewe van gebed wat die kleinlikhede oorkom en die groot Misterie betree en daarmee oukei is (sonder om God net altyd te probeer uitpluis en manipuleer), wat die paradokse en onkunde kan vashou en daarmee oukei is en dit oorkom, na ‘n lewe wat deur groot liefde en groot trane getransformeer word, en daarmee transformerend in die wêreld leef.

Ek weet nie – ek gaan nou weer ‘n paar bladsye moet byskryf by my reeds lywige opsomming van Rohr. Dan sal ek dit iewers file en met my lewetjie aangaan, nè. Immers, rekeninge moet betaal word, deadlines moet gehaal word, geld moet tog inkom, mense moet ge-manage word, jy wil ook goedjies koop, jy wil jouself uitleef op ‘n manier. Gelukkig is ons klein lewetjies ook vir God aanvaarbaar en goed – ook dit het ‘n plekkie in sy hart. Immers is ons gewone lewe – waartoe ons verordineer is – ons geestelike lewe, of altans moet dit so wees dat ons ons gewone lewe geestelik leef. God het ons lief, wat ook al gebeur. Dit is die evangelie.

Ek sou nie sê jy moet hierdie boek lees nie. Dit mag jou dalk ontstel, soos vir my. Ek moet nou eers winkels toe gaan.

Advertisements

Padlangs deur die Lewe – Jimi le Roux

PDDL CompressedPadlangs deur die Lewe – Jimi le Roux (CUM, 2014)

Het gister die hele dag gevat om deur hierdie boek te lees – oggend vroeg tot laataand.  Ek voel nou nog behoorlik suf.  Al my ander werk, om van my ander leeslys nie eers te praat nie, is op holdMaar die boek is so goed, ek koop dit sommer self – soos Gary altyd sê!  Die “outeur” gebruik die vier dimensies van die lewe (1. Verhouding tot God; 2. Verhouding tot ander; 3. Verhouding tot die wêreld; 4. Verhouding tot myself) om 50 temas wat gaan van geestelike groei, gebed, vergiffenis, liefde, woorde,  werk, geld, die aarde tot prioriteite, selfbeeld en vele meer in dagstukkie-formaat aan te bied.  Die hele lewe word deur die lens van die Skrif beskou, met ‘n spesifieke praktiese padlangs-styl en ‘n life coaching-klem.  ‘n Moet vir elke boekrak en Krismiskous…

Ja vriende, dis mý boek wat deur CUM aanvaar is, nou geproeflees moes word en binnekort drukkers toe gaan!  Hulle het al ‘n boek van my (en Timothy) op die rakke, maar oor hierdie eerste, behoorlike boek voel ek net so trots, dankbaar, moeg, tevrede, ontevrede, geseënd en onseker  – verskoon dus die jakkals-stert-prysery!  Dit is ons reeks Padlangs deur die Lewe (ek dink dit was in 2010), maar opge-zhoes en uitgebrei met meer as 140 nuwe oordenkings (wat my die hele Desember geneem het om te skryf).  Dit sal beskikbaar wees in CUM – ek dink September of Oktober.

Dankie, Here!


God is groter

God is groter

Palmsondag 13 April 2014

 

God is groter as die kruisig kruisig skare skree.

God is groter as die kap-kap spyker vlees in twee.

God is groter as die blind vergewe weet nie wat hul doen.

God is groter as die God verlaat daar hang en waarom dan?

God is groter as die genadesteek die water bloed die vloek.

God is groter as die kreet die gees gegee die donker doek.

God is groter as die haastig graaf die grond verwonde lyk.

God is groter as die ter helle aarde daal die dood af sak.

God is groter as die alreeds drie dae balsem ruik al Here.

God is groter as die klip die engel wat die graf betree en sit.

God is groter as die hemel heelal opstaan lewe lewe skree.