Monthly Archives: Augustus 2014

Tussen angs en sekerheid – Ferdinand Deist

DeistTussen Angs en Sekerheid – Ferdinand Deist (1978, Tafelberg)

Toe ek teologie studeer het , het ons nie van Ferdinand Deist gehou nie. Vir ons was hy ‘n liberale teoloog. Ons het gesê hy was in die “Deisternis”. Die feit dat hy pyp gerook het, was ook ‘n steen des aanstoots – ek meen, hoe kan mense wat rook gered wees? Gered van wat? Hy rook dan nog… Hy was natuurlik ‘n groot en bekende Ou Testamentikus, meestal by Unisa. Hy het heelwat van ons handboeke geskryf. Maar nou ja, dit was lank gelede en baie dinge het verander. Ek het verander. Ek het nou al van sy ander goed ook gelees en besef hy was dalk maar net ‘n bietjie vóór, of meer waarskynlik – ek was al die tyd ‘n bietjie agter. Ek verstaan nou (eers) waar hy vandaan kom. Anyways, hierdie boekie ook by dieselfde tweedehandse meubelwinkel gekry vir R10 (as die vorige boek hier) en dit lyk my dit het eers aan ene Johann Holzapfel behoort. Dis ‘n baie ou boekie, maar lyk my daar is ‘n nuwe uitgawe uit, by Karl Ahari. Ek het dit dadelik gevat want, soos gesê, vat ek nou alles wat hy skryf, want hy skryf diep.  Dis wel lank terug geskryf en hy gebruik outydse woorde soos “resloos” – my pa het ook so gepreek, as hy gesê het dat mens jou “resloos” moet oorgee aan die Here.

In hierdie klein boekie skryf Deist oor gebed. Sy probleem is dat hy sukkel om te bid. Hy sukkel met die hoekom van gebed – gegewe dat God reeds alles weet, en met die hoe om te bid. Hy KAN mooi bid, maar die alledaagse lewe sluk mens so in dat jy nie by baie gebed uitkom nie. Kan iemand identifiseer? (sien jy my hand hier opgaan…?) Sy boek is sy wonderinge oor gebed en het die Andrew Murray Prys gekry in 1980. Hy bespreek gebed onder die volgende hoofde:

1) Opgesluk in die Alledaagse – die vraagstelling: is gebed net ‘n stuk selfgesprek, is dit sielkundig? Hy beleef dit as ‘n gesprek oor ‘n leegheid met die Afwesige. Dis jy op jou knieë maar daar’s Niks. Jy bid jou gebed maar jy voel dis ‘n gewoonte, ‘n leë roetine.

2) Die ontsnapte geheim – hier deel hy oor “angs en sekerheid”. Mense is so seker oor alles wat met God te doen het. God is so en so en so… Hulle het Hom uitgepluis. Gebed is dit en dat en dat. Mens maak so en so en dan gebeur dit en dat. Een, twee, drie, presto! Hy sê nee, God laat Hom darem nie so in ons boksies sit nie. Dit werk net nie so nie. In elk geval maak die (vals) sekerheid gebed dood. Angs is ook ‘n probleem – dis nou weer die teenoorgestelde. Ek weet nie hoe enige-iets werk nie. Alles is relatief. God kan so wees, of ook sus. Hoe sal ons weet? Ons kan nie eers waag om iets oor God te sê nie. Ook dit maak gebed dood.

3) Gebed as verwondering – sy vertrekpunt is dat gebed met verwondering begin. Dit is ‘n gevoel, ‘n behoefte, ‘n bewondering vir God – wanneer jy bewus word van God se grootheid.

4) Gebed as vertwyfeling – dis vir hom wonderlik dat die Bybelmense so eerlik is met God. Hulle stoei met God, raas en kla. Jeremia vervloek sommer sy geboortedag. Duidelik beteken geloof in God nie dat alles uitgesort is nie. Dink aan Job, Dawid, Prediker. Jesus aan die kruis sê God het Hom verlaat. Deist praat oor twyfel, en hy sê daar’s ‘n twyfel wat wil nee sê, en ‘n twyfel wat wil ja sê. Gebed is twyfel wat wil ja sê. (Persoonlik glo ek nie twyfel staan teenoor geloof nie – geloof is ‘n hartsoortuiging en twyfel is ‘n kopding, twee verskillende foci – hei…).

5) Gebed as meelewing – hy praat oor die Bybelse konsep van meditasie, bepeinsing. Hoekom doen ons dit nie meer nie? Gebed is ook om voor God te dink oor die Woord, die lewe, alles – ook om die Woord intens in te leef. In Bybelse tye het hulle die wet oor en oor opgesê – gemymer.

6) Gebed as samesyn – daar is ook iets soos om net by God te wees. Om net te weet dat hy jou ken en verstaan en aanvaar. Jy hoef nie hele tyd te praat nie. Gebed is ook stilte. Gebed is ook om in die alledaagse deur dit en dat aan God herinner te word – ‘n sakramentele oomblik.

7) Gebed as katarsis – gebed is om jou hele lewe, veral die seer en skuld met God te deel. Gebed is ‘n wonderlike ruimte vir belydenis. Belydenis oorwin die Bose en maak ‘n nuwe lewe moontlik.

8) Gebed as geloofsbelydenis – as jy bid, glo jy dat daar ‘n God is. Gebed is ‘n manier om jou geloof uit te druk, te formuleer. In jou gebed sien jy wat jy glo, wat jy van Hom dink. Om te bid maak die ongeloof en twyfel minder en minder – gebed bring altyd groter kennis van God.

9) Gebed as danksegging – mens is vir “arbeid” geskape (wat Deist bedoel as iets positief, eerbaar), maar dit het “werk” geword (iets swaar, moete). Ek word net ‘n rat in ‘n masjien, ek moet effektief output lewer. My waarde is my prestasie. As ek God dank, word ek egter weer ‘n egte mens, wat afhanklik is en wat behoeftes het. Hoe meer ek dank, hoe meer lewensvreugde kry ek, want ek ontdek weer die genade.

10) Gebed as pleidooi – ateïste en so aan praat van God as ‘n “God van die gapings”. Alles wat ons nie kan verklaar nie, sê ons is God. Intussen word die gapings al hoe minder, soos die wetenskap dit mos nou vir ons verklaar, sien? Daar waar ek self kan doen, is ek ok, maar as ek my vasloop, dan moet God ingryp – Hy is mos die “God van die gapings”. (Baie mense leef seker so, maar dis maar ‘n siniese en ongelowige blik op God. Dis nie soos God is nie. God is God van alles wat die wetenskap verklaar en alles wat ek self ook kan doen – DIS die ware God). Deist sê God openbaar Homself as die “God by die mense”. Hy kom na ons toe – nie om net in die gapings te help nie, maar om altyd te help. Daarom roep ons Hom aan. Ons betree sy teenwoordigheid, en sy teenwoordigheid is ‘n aktiewe teenwoordigheid. Om te pleit is ‘n Bybelse terma om te kies om te glo dat God dáár is en dat Hy kan en sal ingryp. Dit bely dat God-by-my is, en dat ek ‘n mans-van-God is.

11) Gebed as lewensliturgie – ons moet leer om die dag deur te gaan met God (kyk na ons wonderlike gebedskursus in die verband: Liturgie vir die Lewe). Dit maak ons egte mense wat leef en werk – met God. In ons dag is daar die verbystering maar ook die hoera!

Ja, dis ‘n mooi boek, want dit vertel van gebed al die dinge wat nie die gewone gedagtes oor gebed is nie: bid net so en so, met (1) geloof, (2) volharding, (3) eensgesindheid en (4) sê (hard) “in JESUS Naam”; dan SAL dit/dat gebeur, gewaarborg – wonders en seëninge!  (Behalwe dit gebeur nie – dis asof die Here Hom nie aan daardie boek steur nie).  Ek wil volgende jaar vir ‘n jaar lank stilstaan oor gebed en sal dan na hierdie gedagtes terugkeer.  Terloops, hierdie gedagtes is vandag algemeen – selfs bietjie outyds – maar vir 1978 was dit regtig iets nuut en belangrik.

 

Advertisements

vir vanmiddag dan

vir vanmiddag dan net dié gebed

20 Augustus 2014

met my drome met my deugde

met my vrae en my vrese

met my skandes en my sondes

met my worstel en my wonder

my besittings my behoeftes

met my iets en met my niets

my als my niks

my vele foute pyne

net soos ek is kom ek o Heer

en sit

by u

fonteine

met my dors en met my hoop

wil ek kom haal wil ek kom koop

sonder prys en sonder geld

my brood en wyn my heuning melk

soos ‘n hert wat smag wat dors is

na die waters waar daar rus is

na die strome in die dorsland

en die helder beke in die sand

na die ooste vloei die Gees

vanuit die tempel word dit dieper

word die dors geles die seer genees

gaan ek dan in en

gaan ek

onder

amen


Die Profeet – Kahlil Gibran

ProfeetDie Profeet – Kahlil Gibran (Van Schaik, 1974)

Hierdie boekie gekry (saam met ‘n paar ander) by ‘n tweedehandse meubelwinkel vir R10… ‘n bargain, want The Prophet was sedert 1923, toe dit eers uitgekom het, nog nooit uit druk uit nie en is al in 40 tale vertaal.  Gibran is die derde populêrste poëet van alle tye .  Gibran (1883-1931) is ‘n Lebanees wat in Amerika gewoon het, grootgeword as Maronitiese (‘n tipe Oosterse) Katoliek, baie christelik, maar nie eintlik ‘n Christen as sulks – meer ‘n mystic wat oral iets leen.  Christenskap en Christus is egter ‘n groot tema by hom – hy’t sekerlik baie nagedink.  Hy het populêr begin raak by die hippies (60’s-70’s).

Vanwaar dan die populariteit?  Soos alle mystics (en ek is pro-misties, nie anti-misties nie, want dis in die misterie waar ons geestelike groei eindig, daar by Hom wat ons nooit kan verklaar nie, maar net kan liefhê) handhaaf hy die kompleksiteit en die paradoks, terwyl alle minder volwasse denke eerder probeer om die spanning op te los deur dualismes te trek, veralgemening en stereotipering, formules of 1-2-3 skemas en “wette” wat ‘n (genoegsame) deel verklaar, maar maak of dit alles verklaar.  Die mistikus verstaan dat die teenoorgestelde van ‘n profound truth ook ‘n profound truth kan wees, dat die waarheid nie enkelvoudig is nie, maar veelvoudig, dat ‘n paradoks ‘n saak soms die beste beskryf en dat die mens baie dikwels maar net stil moet staan voor die wonder en die misterie.  Jesus was natuurlik ‘n Meester hierin, en die Fariseërs die voorbeelde van dualisme, reduksionisme en vereenvoudiging wat jou nie eintlik dieper die waarheid inlei nie, maar verder weg daarvan. Dit bring ‘n skyn van waarheid, en ‘n skyn van heiligheid.  Dit maak jou vlak en hoogmoedig.  Dis nie ware godsdiens nie, alhoewel dit vreeslik godsdienstig voorkom.  Hoe kan dit godsdiens wees as dit liefdeloos en genadeloos is?

Wat Gibran skryf is algemene waarhede, van die tipe waarmee die meeste kan saamstem, maar hy sê dit anders, nuut.  As mens dit lees, is daar altyd die a-ha gevoel.  Dit klink amper soos die spreuke van die Bybel.  Ek het sy werk al gelees, maar het oortjies gemaak by die volgende wat vir my uitgestaan het of nuut was – dink daaroor…

  • Oor liefde:  “Net soos die liefde jou kroon, sal dit jou kruisig (pyn en liefde gaan hand aan hand, groot liefde lei tot groot pyn, vra vir God!  Daar is nie net die “lekker” van die liefde nie) en “Wanneer jy liefhet, moet jy nie sê “God is in my hart nie”, maar “ek is in die hart van God””.
  • Sy bekende spreuk op kaartjies en goete oor die huwelik: “Laat daar ruimtes wees in julle samesyn.  En laat die winde van die hemele tussen julle dans.  Min mekaar, maar moenie van die liefde boeie maak nie.  Laat dit eerder soos ‘n beweeglike see wees tussen die oewers van julle siele.”
  • Oor gee: “Wanneer jy van jou besittings gee, gee jy maar min.  Dit is wanneer jy van jouself gee, dat jy werklik gee.  Want wat is jou besittings anders as goed wat jy behou en oppas uit vrees dat jy dit môre mag nodig kry? En wat is jou vrees vir gebrek anders as gebrek self?  Is die vrees vir dors wanneer jou put vol is nie die onlesbare dors nie?”
  • Oor klere:  “Julle klere verberg veel van julle skoonheid, maar steek nie die onaansienlikheid weg nie”  en “Moenie vergeet nie dat skaamte as ‘n skild dien teen die oog van die onreine”.
  • Oor gebed:  “Laat jou besoek aan daardie onsigbare tempel dus vir geen ander rede wees nie as verrukking en soete gemeenskap.  Want as jy die tempel sou binnegaan met geen ander doel voor oë as om te vra, sal jy nie ontvang nie.” (‘n Goeie stelling, want gebed is om God te soek, nie iets van Hom af nie.  As ons Hom het, het ons alles.  Ons begeerte is na Hom, nie na dinge nie.  Gebed is verhouding, nie ‘n tegniek om ietsie vir myself te bekom nie).
  • Oor die dood: “Julle vrees vir die dood is maar net die bewing van die skaapwagter wanneer hy voor die troon van die koning staan wie sy hand tot sy eer op hom gelê gaan word.” Pragtig!

Daar’s natuurlik baie, baie spreuke.  Van die spreuke wat ek gemerk het, kan ek nou nie meer verstaan nie!  Ek het wel eers, maar ek het nou toegeslaan – soos ‘n droom waarin jy gewéét het wat die sleutel tot alle waarheid is, maar toe jy wakker word, wonder jy “wat was die sleutel?”.  Ai…


So you don’t want to go to Church anymore – Jacobsen & Coleman

So you dontSo you don’t want to go to church anymore – Wayne Jacobsen & Dave Coleman (2006, Windblown)

Wayne is die skrywer van die bekende The Shack en die trant in hierdie boek is dieselfde – dis merendeels ‘n gesprek.  Dit gaan oor Jake (onthou dis fiksie), ‘n Amerikaanse predikant wat onvervuld en gefrustreerd is in sy kerk. Hy ontmoet ‘n enigmatiese figuur, wie hy sien as die Apostel Johannes in moderne gewaad. Die boek bestaan oor 13 gesprekke tussen die twee, waarin ons ook Jake se verhaal lees – oor die vier jaar waarin hy uit sy kerk is (wat hy help stig het) en ‘n nuwe weg moes vind. Die boek is baie hard op die kerk-as-menslike-instelling, kerk-wat-met-skuld-manipuleer, kerk-wat-mag-misbruik, so totaal teenoor Jesus se denke en bedoeling (en dit gaan oor die evangeliese kerk, né), maar hy skryf nie die kerk af nie. God werk daar, maar die menslike sisteem is so sterk dat enige-iets wat God doen deur mense oorgeneem, gemanipuleer en uiteindelik doodgemaak word. Die vleeslike kerk word altyd weer die substituut vir ‘n lewe in God. Die boek staan eintlik vir die afgooi van daardie juk en vir die vryheid (van skuldgevoel en manipulasie) van ‘n eenvoudige en lewende verhouding met Hom. Dit gebeur alles in die informele huiskerk-sisteem wat hy klaarblyklik voorstaan. Hoera…

Hier is enkele gedagtes uit die boek wat vir my persoonlik uitgestaan het:

  • p24 Het jy nie uitgekom by dit wat jy gesoek het nie? Kyk mooi – dit wat jy gekry het is dalk presies waarna jy gesoek het (jou roete/optrede het jou wel híer gebring);
  • p39 “pas op kleine ogies wat jy sien” (ken jy die kinderliedjie?)  leer eintlik vir kinders ‘n vrees vir God, wat met sy boekie staan en hulle sondes opskryf, as voorbeeld van die vals godsbeeld waarmee die kerk dikwels werk, en die endemiese skuldgevoel wat op kinders en almal afgelaai word (alles gaan oor meriete – die kerk is nie goed met genade nie);
  • p47 Jake, when are you going to get past the mistaken notion that Christianity is about ethics? Hierdie stelling mag jou dalk gooi, maar dink daaraan dat die etiek van ander godsdienste en die humanisme ewe goed is, of beter, want Westerse Christenskap se moraal is uiters laag. Christenskap gaan oor ‘n verhouding met God deur Jesus Christus, MET lewensveranderende (etiese) implikasies;
  • p63 in die kerk is ons grootliks besig om mense te beïndruk – nie noodwendig die Here nie;
  • p72 ons werk onder die illusie dat ons God kan beheer deur die regte dinge te sê en te doen. Om daardie illusie van beheer (oor God en die lewe) prys te gee, is die moeilikste ding (die hele gedagte dat God daar is om in ons behoeftes te voorsien);
  • p79 die kruis is minder van ‘n goddelike straf op die sonde as ‘n goddelike oplossing vir die sonde vir ewig. Dis nie ‘n God wat wreed sy seun offer nie (nadat Hy dit by ons verbied het), maar God wat Homself uit liefde opoffer in Christus vir ons;
  • p94 “The greatest freedom God can give you is to trust his ability to take care of you each day”;
  • p97 As jy ‘n commitment moet vra van mense om bv. iets by te woon, is daar iets verkeerd. Dan kort daar dalk hunger … reality … God’s presence. Kerke baseer hulle besluite meestal op vrees vir mense verloor, inkomste verloor – dis hoe die sisteem werk;
  • Hfst 9 (pp99-114) Dit gaan oor community en die blote saamwees as Liggaam. John, hulle gids, glo hoe minder daar georganiseer word aan ‘n (huis)byeenkoms, hoe beter. Wees net saam as familie en deel mekaar se lewens voor die Here. Geen program, laat die kinders maar daar wees – dis FAMILIE, nie “kerk” nie. Daar is geen “should” nie. As die huiskerk net so organiseer, net sulke standaarde en verwagtings stel as die tradisionele kerk (=manipulasie,want niemand kom daarby nie, maar almal gee voor hulle doen), is dit maar presies dieselfde ding. Eintlik soek ons ‘n plek waar ons onsself kan wees, selfs met ons sukkel en ons sonde. Community is veral NIE ‘n georganiseerde saak nie, maar ‘n spontane. [In die volgende hoofstuk gaan die groep egter uitmekaar uit, en John sê dis goed, omdat Jake “gegroei” (my woorde) het van die verpligte en geprogrammeerde byeenkomsies (wat so gou weer ‘n substituut geword het) na soveel dieper persoonlike verhoudings met mense waarin hy hulle help op hulle journey.  Die groepie staan maklik in die pad van egte community;
  • p132 Religion as ‘n “shame management system”;
  • p139 “Dissipelskap kom eers, dan kom community”  – waar almal met God reg is, ontspring community spontaan… (jammer, ek glo dit glad nie, Jesus het ‘n community gebou van “ongeestelike” mense.  Eers in die insluiting het hulle gegroei);
  • p146 ‘n institution kan nie mense leer om geestelik ts lewe nie – net die geestelike lewe kan. OK.

    Appendix

    Jacobsen voeg ‘n appendix by waarin sy sieninge nogal uitkom: Hy behoort nie aan ‘n kerk nie, hy glo hy behoort aan die Kerk en dis genoeg. Hy glo aan community, maar nie  aan “regular fellowship” soos in kerkdienste nie. Hy sien nie commitment aan ‘n “local church” in die Bybel nie. Hy glo nie institutions bewaar ons van dwalingnie, INTEENDEEL, dwaling floreer in institusies. Hy is nie teen kerk nie, en sê nie dis verkeerd nie, maar hy is diep bekommerd oor die kerk as instituut – wanhoop is eintlik die woord, ongeloof in soos dit is…  Hy glo werklik egte geestelike groei en egte community is te vinde buite die kerk (en wat van egte missionaliteit?)

    Gevolgtrekking
    1. Die boek gaan oor die geestelike lewe buite/na (“post”) die tradisionele kerk en as sulks is dit deel van die post-moderne Christelike beweging. Dit is wat “emerge” aan die ander kant van kerk. Dis egter nie tipiese emergent materiaal nie, want dié werk meer met kerk.
    2. Die fokus is op community en ‘n opregte verhouding met God. Dit is geheel en al verdraagsaam, insluitend en vertrou op God om te werk.  Dit veroordeel nooit.
    3. MINUS: Ek sou egter sê dis baie idealisties – dis asof almal daar in die huiskerk so close met God leef, maar back on the ranch (dws in die kerk) deel ons maar met alle soorte. Dit is regtig naief (en hoogmoedig) om te dink dat die Vroeë Kerk nou juis só was soos John leer, want dit neem die antieke Joodse konteks nie in ag nie. Hulle het juis leraars, ritueel, ens. gehad.  Trouens, die hele Amerikaanse allesweet en ons-doen-dit-net-soos-die-vroeë-kerk (‘n fallacy op alle vlakke) is so anachronisties as wat dit irriterend is.  Alles werk ook so pragtig uit vir Jake in sy journey with Father – kind genees van asma, $10 000 tjek op die regte tyd, ens. Hoe pragtig…  Trouens die hele ding is airy fairy, asook teologies en histories foutief. Dis net verkeerd.
    4. PLUS: Daar is baie waarheid natuurlik, in hoe kerk vandag funksioneer, en mens wil inderdaad soms die vlaktes inhardloop, maar ek is bevrees presies dieselfde gebrokenheid sal jy in enige opvolgende manier van Liggaamwees kry. Daarop sou John sê ja, maar hulle is real daarmee, terwyl dit by tradisionele kerk onderdruk moes word. Eintlik is die kinders van die Here – ewe real en ewe vals – maar oral, ook daar by John-hulle se super-community.