Monthly Archives: Oktober 2014

God vir jou, Suid-Afrika

God vir jou, Suid-Afrika

16 September 2014

Beskikker van nasies, volke en tale

Ek bid vir die geliefde land, so pragtig met sy ligblou hemel,
diepblou seë, sy ver verlate vlaktes en
gebergtes waar die kranse antwoord gee.

Ek bid vir almal wat dit “ons land” noem:
vir elke blinkoog kind, vir elke ouerhart wat hoopvol broodjies
inpak skool toe – al is die hande wit of bruin of swart.

Ek bid vir die bedroefde land, so vol van haat, geweld,
geskiedenis wat skeur; bedrog, korrupsie hand oor hand,
en egte honger maar nie ‘n werk vir jou, meneer.

Ek bid vir ‘n betrokke land, verset wat bou, nie afbreek nie;
minder praat meer doen wat nodig is, aanhou soek na God se wil,
dit lééf, Hom soek en toelaat dat Hy ons versoen.

Want dís die roepstem van die grond tot God, dís wat die geliefde,
droewe land ons vra: dat ons sal bid en werk en glo en hóóp en glimlag.
Dís ons offer, ons “vir jou”, Suid-Afrika.

Amen.

Advertisements

Een Lewe – Stan Toler

een leweEen Lewe – Stan Toler (CUM, 2012)

Jip, bargain bin…

Ek is onlangs weer deur Comensa (Coaches and Mentors South Africa) se verifikasie-proses en is ‘n geregistreerde “practitioner” coach. Is mos ‘n lewensafrigter, of wat ek eerder wil noem, ‘n geestelike begeleier.  Dis hoekom ek hierdie boek gekoop het.  Die boek het my ontsettend verveel. Stan Toler, een of ander bekende ou, het ‘n boek geskryf oor ‘n lewe van “totale gehalte”. Dis maar die aartstipiese coaching kursus:

  • Maak ‘n vaste voorneme om nou uit die chaos te kom wat jy jou lewe noem en BEHEER te neem! Hierdie besluit werk uitstekend vir Maandae, veral vroeg in Januarie. “Hierdie jaar gaan anders wees…” haha
  • Kry ‘n visie van totale gehalte – m.a.w. droom groot, ens. skryf dit neer. Teken daarby, sommer drie keer (ok, dis nie alles wat hy sê nie)
  • Kry jou liggaam nou gesond: verloor x kilos, begin oefen, eet net helderkleurige kos, slaap meer, drink meer water, hou op rook en hou op stres. Doodeenvoudig, sien? Just do it.
  • Kry jou geld reg: begroot, gee jou tiende…
  • Kry jou geestelike lewe agtermekaar: begin gereeld bid en begin mediteer, dis goed vir jou
  • Hoe gaan jy die bg. regkry? DISSIPLINE! Deel met verskonings
  • Dan nog: Wat is jou waardes, spandeer tyd met positiewe mense, lag meer, beplan jou tyd beter, kry ‘n partner om jou te help, begin dienswerk doen,kry jou huwelik reg – begin sommer Maandag…

Ek sien in my gedagtes hoe oubaas Toler, skrywer van meer as 80 boeke oor 80 onderwerpe, na die tyd deur alles gegaan het en gevra het: Het ek alles gedek? Ja, ek het alles gedek. Nou moet hulle dit net gaan doen, die swernote.  Na hierdie boek het hulle GEEN verskoning nie!

Wat is die probleem met ‘n boek soos hierdie?

  • Die lyste en lyste clichés is algemene kennis – gereelde lesers van vrouetydskrifte sou presies so ‘n boek kon skryf, tien teen een beter. ALMAL weet reeds AL hierdie dinge – daar is NIKS nuut nie. Daarom lees dit so moeilik soos ‘n stigtelike boek waarin ‘n vers ‘n preek word en dan draaitjies maak uit my persoonlike (gaaap) ervarings en “belangrike dinge” wat ek agtergekom het in my bevoorregte lewe…
  • Die tweede probleem is dat dit eintlik nonsens is op verskeie vlakke:
    • EEN: Dis ongelooflik moeilik vir mense om die bg. te doen. Om net te sê verloor gewig, hou op rook, eet meer kool, ens. beteken ‘n ronde nul.  Min kry dit sommer reg en ongelooflik min omdat Oubie Toler gesê het hulle moet. Sê eerder HOE en sê dit op ‘n nuwe, ander, opwindende manier wat ‘n beter kans het as die 100 ou maniere.  (Dis die value-add van life coaching: in die coaching VERHOUDING kan hierdie dinge makliker gebeur as dour waar jy op jou sofa deur ‘n boekie blaai);
    • TWEE: Mense verskil radikaal. Is almal regtig lysie-mense, deadline-mense, 3-stappe-tot-‘n-blink-kombuisvloer-mense? Nee – die boek neem hoegenaamd nie in ag dat mense verskil nie. Wat is Oubaas Cliché se raad aan diegene wat anderster bedraad is en wie se lewe happily deurmekaar is. Moet almal SOOS HY raak?
    • DRIE:  Moet ‘n mens ooit al hierdie dinge doen? Ek dink aan Kierkegaard (vorige boek) wat gesê het al hierdie besig-wees (baie-werk-om-te-doen) is die mees ridiculous ding ooit. Hy lag sommer as die trem modder op hulle baadjie spat, want hulle was dan so haastig op pad na ‘n vergadering toe… presies soos miere wat iewers op ‘n Vrystaatse vlakte in hul miershoop haastig heen en weer flits, werk om te doen, vergaderings om by te woon, nuwe memo bespreek van die koningin-mier… Werk-werk-werk, besig-besig-besig en dan is jy dood. Nee, die gesprek moet wraggies op ‘n dieper vlak gevoer word. Dalk is die ou op sy sofa beter af as die ou in sy vergadering.

Anywaycoaches probeer darem ‘n dieper ding dryf en so aan. Persoonlik dink ek my coaching kursus is beter (kliek hier as jy wil), maar ek moet hom eintlik nog beter doen. Dis steeds te liniêr en formule-agtig. Op ‘n ander dag sal ek dit doen.

Vir eers maar die bargain bin vermy.


The Life of the Soul – Samuel H. Miller

lifeThe Life of the Soul – Samuel H Miller (Word, 1951).
(Het die boek al weeeke gelede gelees, maar was so besig dat ek nie iets daaroor kon plaas nie). 

Hierdie boek ook by die tweedehandse meubelwinkel opgetel en nou ja, ek lees mos graag oor die siel…  al is dit so ‘n horing-oue boek.  As dit oor die siel gaan, is dit nie noodwendig ‘n kwessie van nuwer is beter nie.  Miller was die Dean van Harvard Divinity School, ‘n Baptis – wat snaaks is vir iemand wat oor die siel  skryf – Protestante weet mos eintlik min van die tema, werk nie met die diep dinge nie, eerder aan die uitreik, organize, tentopslaan, mikrofone staan maak, bekering preek, gemeentes stig en so aan…  In elk geval, wyle dok Miller praat anders oor die siel as die ou Katolieke, dis asof hy sy eie sielsteorie uitgedink het (soos ons protestante mos doen), maar dis asof hy wel ken van die mistici, so ‘n bietjie, en die kontemplatiewe, so effens.   Wat ek wel weet is dat hy skryf soos ‘n poëet – elke sin ‘n kunswerk, ‘n kragtoer,  pragtig!  ‘n Paar notas – nie als is aanhalings nie, ek gesels met myself saam:

1. Hy skryf nie eintlik wat die siel IS nie – hy glo wel die siel is in WORDING en moet geoefen en geleer word, en is nie net ‘n statiese vonk iewers nie (ch1);
2. “Godsdiens” in volle krag is ‘n baie sterk mag met ‘n radikale boodskap wat mense voor God stel met ‘n keuse.  Ons moet dit steeds besef, al is ons in ‘n tyd waarin God se boodskap verflou het en die woord “godsdiens” nie meer so positief is nie (ch2);
3. Om God te vermy is egter om jouself te vermy.  Omgekeerd, as jy ‘n lewe leef waarin jy van jouself afgesny is, leef jy ‘n “dooie” lewe waarin ook God geen rol speel nie (ch3);
4. Jesus het geld, mag en trots as gevaarlik vir die siel gesien (p41);
5. Mense is geneig om toe te stem tot die publieke opinie, maar het geen private opinie nie.  Hulle leef dus oppervlakkig, na buite, sonder persoonlike diepte.  Jung het gesê dat tussen die groot uiterlike realm en groot innerlike realm die mens staan, wat nou na die een, en dan na die ander kyk, en dikwels die een as absoluut aanvaar deur die ander te ontken.  Hy beskryf dus ‘n skeiding (p46);
6. Tog is elke mens totaal alleen – met ‘n geweldige kloof tussen hom en enige ander persoon – maar in sy totale alleen-wees is God daar, en moet hy alleen vir God ja of nee sê (p65);
7. Om te sê “ek glo” is so onverklaarbaar as om te sê “ek het lief”.  Dis ook dieselfde ding.  Bekering is om vanaf ‘n duisend distractions te draai na jouself – jou eie intieme alleen sentrum, jou siel – en God daar werklik te konfronteer en te aanvaar.  Dit is ook presies wat gebed is: om keer op keer terug te keer en God daar – in jou siel – te ontmoet (p67);
8. Die ewigheid is vir ons onverstaanbaar, maar dit bly die grond vir ons geloof en vir die sin van hierdie lewe.  Ons kan nie ons enigste sin hier vind nie, want history is little more than a madhouse (p72). Kierkegaard het gesê ‘n man wat altyd besig is, altyd haastig by sy kos en sy werk – soveel om te doen – is die mees ridiculous ding wat hy al gesien het (p73).  So een is so belangrik soos ‘n miertjie in ‘n miershoop en is besig met suiwer ontvlugting;
9. Iemand wat nie na iemand anders regtig kan luister nie, kan nie na God luister nie, of bid nie, want gebed is in die eerste plek om te kan luister.  Die groot gepraat is inderdaad die euwel (p83);
10. Hoe gee die siel uitdrukking aan homself?  Tog nie deur die rasionele letterlikheid van dogmas en belydenisse en formulerings nie.  Dit doen vir die siel niks. Die kommunikasie van die siel is simbole, rituele en stories – dis die taal van die siel.  Om vandag die godsdiens te stroop van alle simboliek en misterie en te eindig met die onverbiddelike letterlikheid en logika van ‘n paar dogmas, is om die godsdiens self weg te stroop tot niks (p85).  Al die psigo-analiste het hierdie feit geken;
11. Die gesonde siel (wat ons sal noem heiliging/sainthood) vind krag deur eenvoud en aanvaardingDeur (1) abstrakte teoretisering kom ons nooit by heiligheid uit nie, want heiligheid is so prakties soos vloere was, motorbestuur en vergaderings bywoon en deur (2) God vas te maak in ‘n formule is om ‘n formule-aanbidder te word.  En om in kommer die hele lewe op ons skouers te neem soos Atlas is om te dink dat ons God is, uiters vermetel.  Christus is van ‘n eenvoudige, praktiese lewe die beste voorbeeld (p87);
12. Die siel is op sy gesondste as ‘n aanbidder – in ‘n (sakramentele) ruimte waar God is en hy oop is vir God se inspraak en wil.  Dan kan God se wil geskied op aarde, soos in die hemel (p89);
13.  Die siel het baie meer krag as wat mens ooit kan dink, en dis asof God baie meer verwag as wat ons doen.  Ons lewe uiters klein en bemoei ons met die triviale.  Een van die groot kragte van die siel is vergiffenis. Mense ontvang vandag meer vergiffenis en vryspraak by sielkundiges as by die kerk, by wie hulle veroordeling en skuld beleef  – kyk vir Jesus en die Fariseërs om te sien hoe om mense in of uit te sluit (en moet tog nooit van Jesus ‘n Fariseër maak nie, dis totaal verskillende spesies) (p94);
14. Geloof is glad nie ‘n intellektuele ding nie, maar die deep-hearted, single-minded and full-bodied oortuiging dat genade wil inkom en ons lewe wil ondersteun (p97).  Ons moet meer werk met genade as ‘n goddelike krag;
15. Communion is ook die krag van die siel (p97) – in verhouding leef, en so is nederigheid (p99), wat niks anders is nie as die besef dat daar iets veel groter bo my is, en dat ek deel daarvan is.  Dit is nie waardeloosheid nie (‘n baie onchristelike emosie), maar die besef dat ek waardevol is in verhouding met God en ander.
16. Shame, in 1951 het hy gedink die mens so moeg soos ‘n hond wat al die bene in die wêreld geruik het (p114)– van al die “stimuli” wat op hom inwerk.  Wat van ons dag?  Die waarheid bly egter dat die stimuli ons siel doodmaak – vandaar die afsondering, die stilte, die stop.
17.  Ons gebed van praat en dan hardloop (hit and run) moet nou end kry.  Dis geen gebed nie.  Gesprek is ‘n afwisseling van praat en luister, woorde en stilte.  Sonder beide is daar geen kommunikasie nie.  Ons mite is dat ons God moet vind in ons gebed, moet tref, moet raakpraat.  Gebed is eintlik die antwoord op die besef dat God met ons praat, ons gevind, getref het met sy Gees, sy genade. (p126);
18. Ons wil weergebore word, maar dit is onmoontlik sonder heelwat sterwe aan ons kant.  Om te vra vir nuwe geboorte is om te vra vir sterwe van die oue (p138).  Daarom dat soveel “weergebore” mense (wat g’n niks “weer gebore” is nie) sulke infantiele Christene is – dikwels meer so as baie onweergebore Christene – vol van hulle self en hulle belangrikheid en hulle regte en hulle issues, ai en so hoogmoedig en arrogant en wetties en veroordelend en liefdeloos en sonder genade.  Nee, vele nederige, liefdevolle en diensbare persoon sonder ‘n “getuienis” is nader aan die koninkryk as sulke “weergeborenes”, want hulle doen die doen.
19. Ons wil Christenskap hê sonder die kruis (van self-verloëning), ons wil dit inspan om vir ONS, vir MY te verhoog en te verhef en alles geriefliker te maak.  Ons wil die crucifix uit die kerk haal en kussings daar indra (p143). Ons soek net die seën, die glory, die blessings, die prosperity – maar nooit die prys nie, wat naamlik behels dat EK (en sy voorspoed en glory) nie belangrik is nie, maar HY – en JY.
20. Die siel moet oefen.  ‘n Man kan nie sê: I have been playing tennis now for forty years.  Next Tuesday afternoon I shall pick up a violin and start playing Brahm’s Violin Concerto.  Geestelike dissiplines, dus (p154).
21. Ons moet voorberei vir God – vir die wat nie op God voorberei is nie, sal die hemel hel wees!  Hy sê die lewe word nie net geleef en dan plak ons hemel of hel aan die einde nie.  Ons lewe reeds die hemel en hel hier en groei reeds in een van beide.  Daar is drie vlakke van lewe: ‘n lae vlak waarin die lewe ontken en vernietig word (hel), ‘n middelvlak waarin ons deur die motions gaan sonder denke of sin , arm of ryk (die wêreld) en ‘n hoë vlak waarin ons ryk en diep leef, vol waardering en betekenis (hemel).  Laat ons nou reeds hemel (toe) LEEF, want time is the little death (we die day after day whether we want to die or not), maar na die dood, kom die opstanding (p154-5).  Dit het Christus geleer.

Ja sjoe, dit was eintlik ‘n goeie boek – vol waarhede wat ek beslis wil gebruik in my bediening en skryfwerk.