God vir jou, Suid-Afrika

God vir jou, Suid-Afrika

16 September 2014

Beskikker van nasies, volke en tale

Ek bid vir die geliefde land, so pragtig met sy ligblou hemel,
diepblou seë, sy ver verlate vlaktes en
gebergtes waar die kranse antwoord gee.

Ek bid vir almal wat dit “ons land” noem:
vir elke blinkoog kind, vir elke ouerhart wat hoopvol broodjies
inpak skool toe – al is die hande wit of bruin of swart.

Ek bid vir die bedroefde land, so vol van haat, geweld,
geskiedenis wat skeur; bedrog, korrupsie hand oor hand,
en egte honger maar nie ‘n werk vir jou, meneer.

Ek bid vir ‘n betrokke land, verset wat bou, nie afbreek nie;
minder praat meer doen wat nodig is, aanhou soek na God se wil,
dit lééf, Hom soek en toelaat dat Hy ons versoen.

Want dís die roepstem van die grond tot God, dís wat die geliefde,
droewe land ons vra: dat ons sal bid en werk en glo en hóóp en glimlag.
Dís ons offer, ons “vir jou”, Suid-Afrika.

Amen.

About Jimi le Roux

For more info visit my website at www.jimileroux.com Beskou all artikels deur Jimi le Roux

14 responses to “God vir jou, Suid-Afrika

  • André

    Ek voel geskei van die Land en beleef dit as groot vryheid.
    Dit gaan tog oor mense. Die Volk. ‘n Volk sonder Land.
    Is dit nie bevrydend nie? Dis nie meer my verantwoordelikheid nie.
    My voorvaders het die land weggegee en ek bedank hulle.

    • André

      Hallo Jimi, jy hoef hierdie kommentaar ook nie te plaas nie. Ek skryf dit maar net vir jou want ek voel ‘n bietjie sleg omdat jy nie my ander kommentaar geplaas het nie. Ek wil maar net verduidelik, dalk dink jy ek is bloot twissiek en daarom plaas jy nie my kommentaar nie, maar ek is nie, ek het regtig bedoel wat ek geskryf het.
      Vir ‘n baie lang tyd het ek gehuil oor “my land” en ek kon geen vrede kry oor wat in “my land” aangaan nie. Die ergste was vir my dat die gees in my nie soveel simpatie gehad het nie maar my eeder genootsaak het om my te skei van “my land”.
      Iets waarmee ek, heelwaarskynlik nog steeds probleme het anders sou ek nie my gevoelens en idees teen ander toets soos wat ek hier op jou Blog probeer doen het nie.
      Ek sien dit ook hier in Duitsland: Gemengde Affiliasie.
      Sodat ‘n mens nie kan onderskei of ‘n persoon se ywer vir “sy land” of vir die Here is nie. Dit loop hand aan hand, selfs hier in ‘n land waar nationalisme heel onpopulêr is.
      Ek gooi nie graag Bybelverse voor iemand se kop nie maar ek dink jy weet self wat ek in gedagte het: “Vreemdelinge in hierdie wêreld” ens. Dit is ons. Die landlose wat soos Hy geen plek vir ons kop kan kry om te rus nie, maar die jakkelse en wolwe het gate.
      I.e.g. ek verstaan hoekom jy nie my kommentaar geplaas het nie, dit sou seker net ‘n stryd ontketen het, ‘n stryd wat dan nou maar vir eers binne in my moet bly.

    • Jimi le Roux

      Aa Andre – nou kon ek jou eerste kommentaar post!

  • Mona-Liza

    Dit is so mooi, so treffend, so aangrypend. Dankie Jimi. Mag ek hom maar deel op FB? Ons is mos maar deesdae digitale dissipels ook. En is daar ‘n vertaalde weergawe beskikbaar?

  • Rynie

    Liewe ds Jimi – hoe raak jy dan nou so ‘n kolskoot in my hart….. dit is baie goed gedoen. Ek kan saam met dit ‘voel’. Baie dankie. Rynie

  • jongds

    Jimi hierdie gebed gee my sommer vanaand weer hoop. Baie dankie.

  • jongds

    Reblogged this on jongds and commented:
    Mag hierdie in elkeen van ons se harte leef. Dankie Jimi.

  • Jimi le Roux

    Hallo Andre – nee, inteendeel, ek HET dit gemagtig of ten minste probeer, want jou punt was goed, maar dit het nooit verskyn nie. Ek het dit probeer soek, maar kon dit nie kry nie! Dalk is dit nog iewers onder goed wat ek moet magtig, of dalk het ek die App op my tablet nie lekker verstaan nie. Jammer! Nee vriend, jou kommentaar is welkom – goed gaan!

  • Henna Naude

    Hooploos, droomloos vir ‘n gelukkige Suid-Afrika maar ons moet hoop verkondig, altyd hoop verkondig soos die. Dankie.

  • Henna Naude

    Reblogged this on Haai, jy! and commented:
    …hoop vir die hooploses en krag vir die mense wat moeg geword het van wag en wag …en wag …

Lewer kommentaar op André Kanselleer antwoord