Monthly Archives: November 2014

Nalopers… of navolgers? Ferdinand Deist

image

Ferdinand Deist – Nalopers… of navolgers? (2007, Lux Verbi)
Soos ek gesê het, was ons nie lief vir Deist toe ek nog studeer het nie. Hy was vir ons ‘n liberale teoloog, gevaarlik onevangelies – in die “deisternis”.  Eers later het ek besef hoe begaafd hy was, en het ek sy stukke begin geniet. Hierdie ene was eintlik minder goed vir my, want dis ‘n heruitgawe van ‘n boek uit 1994 – 20 jaar terug. Met ander woorde, selfs dit wat daai tyd nuwe gedagtes was is nou ouerige gedagtes. Dis preke wat verwerk is en dis geheel en al nie sleg nie, maar ja, dis bietjie outyds. Ek het nie baie geleer nie – en input is mos wat ek soek. Ook baie NG-erig, as jy verstaan wat ek bedoel. Net mense wat nie vroeër jare in die NG Kerk was nie, sal dit verstaan. Jy was maar OF NG OF redelik uit, veral op skool.  Ons kerk was maar so as sekte geag, ekstreem – eintlik was ons net ‘n bietjie voor, want NG Kerke doen nou wat ons daardie tyd gedoen het, met die orkes in die kerk en die handopstekery. Anyway, die NG-erigheid waarna ek verwys in die boek is meer in die taal en teologie van die tyd: gelowiges is “kerkmense” en die gereformeerdheid slaan deur – hoe anders, maar ek bedoel die klem op die verbondsmense en die verbondskinders; desjare het mense nie tot bekering gekom nie, hulle was bekeerd gebore. Maar nou ja, elke ding in sy konteks, en by Deist sien ek ook mooi dinge, vir my:
-ek het gehou van sy onderskeid tussen plesier (iets buite jou) en vreugde/blydskap (iets binne jou)
-hy dink aan geestelike groei presies soos ons gedoen het met die opneem van die kruis, die verloëning van die self, as die “eie ek” wat oorkom moet word. Dis die woorde wat ons almal vroeër gebruik het – die NG-kerk se mooi “geesteliker” stroom (ek praat van daai tyd, né, NGK intussen reeds baie verander), die Andrew Murray stroom m.a.w. met die klem op die “dieper lewe”. Vandag noem hulle dit ‘n bietjie anders. Maar wat ek sê is dat Deist nie net ‘n teoloog-met-sy-pyp (wat so aanstoot gegee het) was nie, maar tog in verhouding met God wou groei, heel eg en opreg
-1994 was die begin van die Nuwe Suid-Afrika en Deist praat móói en reguit met die kerkmense. Hy sê Jood en Griek is in Christus een. Ons moet ons Afrikaner-, Ingelsman- en Xhosa-identiteit uittrek en ons met Christus beklee. Dis hoe ‘n kind van God praat, hoor – HY kom eerste en dan is ons Afrikaners en daardie dinge tweede.
Ek sou graag met Deist wou praat oor die gereformeerdheid en so. Ek is immers self so half gereformeerd (maar nie veel meer as half nie)…

Advertisements

The Missional Quest – Ford & Brisco

BriscoLance Ford & Brad Brisco, The Missional Quest.  Becoming a Church of the Long Run. (2013, IVP)

Ek het hierdie boek gelees as voorbereiding vir ‘n kursus wat ek vir die Christelike Gereformeerde Teologiese Seminarium skryf (soos ander boeke wat ek hierdie jaar gelees het) Jy kan die hoofstuk wat ek geskryf het hieronder lees as jy wil – die skakel wat sê CM#09 Study Unit 8/dis net ‘n proef, verskoon die foute – en selfs vanaf 2015 vir die kursus inskryf). Dit gaan oor “missionele gemeentes” (die boek en die hoofstuk, nie die kursus nie) en dit is ‘n baie belangrike tema vir alle kerke vandag. Ek sal net kortliks verduidelik:

1.Die tyd is verby dat gemeentes ‘n mooi kerk kan bou, mooi dienste kan aanbied en oulike aktiwiteite en dan wag dat die ongelowiges sal kom. Gelowiges uit ander kerke sal kom, ja. Die tye het verander en heelwat minder mense is deesdae gelowig of selfs Christelik in die Weste. Ons leef in ‘n post-Christelike era. Daar is nie meer outomatiese lidmaatskap, deelname of respek nie. Inteendeel, daar is dikwels sinisme oor die Christene – lees maar die koerante. Die Here het ook glad nie gesê ons moet kerke gaan bou en wag nie – Hy het gesê ons moet in die hele wêreld ingaan en dissipels gaan maak.  Fasiliteite is ‘n bonus.

2. Deesdae word dus anders na kerkwees gekyk. Die tradisionele, statiese “kampus-gebaseerde” kerk is in gevaar (en die statistieke bewys dit). Die kerk wat in die post-moderne tyd emerge sal ‘n ander kerk moet wees: dinamies, aanpasbaar, diensbaar, mobiel, gefokus op mense, nie op strukture of aktiwiteite nie.  Dit sal “kerk-in-die-wêreld” moet wees, “kerk-vir-die-gemeenskap”, egte kerk. Ons maak ‘n verskil of ons gaan onder. Die klok het gelui – speeltyd is oor.

3. Daar word dus deesdae van missionele (of missionale) kerke gepraat, of missionele gemeenskappe, missionele kleingroepe, ‘n missionele lewenstyl, missionele leierskap – al sulke dinge. Dit gaan nie oor sendelinge uitstuur na verre lande nie (dit is ‘n onderdeel daarvan). Dit gaan oor ons eie gestuurdheid na die wêreld, elke dag – as individue en as kerke. God is ‘n Sturende God, en in Christus en in die Gees ‘n Gestuurde God. God is altyd komende tot ons. Dis sy aard. Jesus stuur die Heilige Gees, en Hy stuur ons. Elkeen van ons is sy sendelinge, gestuurdes:  daar in ons gesinne, ons families, buurte, werke, gemeenskappe. Die wêreld om ons is die sendingveld. Ons is die lig, die sout, die suurdeeg. ONS maak die  verskil! Dis waaroor die missionele lewe gaan.  Boeke soos hierdie wil help in HOE kerke en Christene missioneel kan wees.

CM#09 Study Unit 8

 


Geel vrugte

Geel vrugteEk is steeds ‘n beginner met die verfery en het daarom gedink ek moet maar eers op stillewes konsentreer – veral vrugte is maklik.  Het tussendeur nog een aangepak – wou iets maak wat lig en helder/vrolik is, vir die kombuis dalk en toe uiteindelik met hierdie poging volstaan.  Foute oral, maar wat – dis nie ‘n foto nie.  Ongelukkig nog in die styl van Der Kleine Fritzie, soos my skilderma sou sê, verwysende na die swart rand om alles, soos in ‘n inkleurboek, maar dit maak dinge vir my regtig makliker en ek het gesien ander skilders doen ook sulke (verkeerde) dinge.  ‘n Ordentlike rand is tog maar belangrik in die lewe.  Ek sal vorentoe hopelik vorder na iets meer natuurlik.  Ten minste HET ek ‘n styl!

 

 


Vrygespreek – Stephan Joubert

Vrygespreek Vrygespreek – Stephan Joubert (2de uitgawe, 2011, CUM)

Ek beskou Stephan Joubert as ‘n mentor – het hom ontmoet as kollega in die jare wat ek by Mosaïek was en sê onomwonde dat hy ‘n 100% opregte en oortuigde kind van God is wat die waarheid van die Woord beter as die meeste sny, wat die tye waarin ons leef beter as die meeste verstaan en wat op voetsoolvlak met die post-moderne mens kommunikeer – ja, beter as die meeste! Ons praat nie eers van sy professorate, pryse, wetenskaplike publikasies, 200 boeke en so aan nie. My definisie van ‘n leier is iemand wat my na ‘n ander plek toe vat, en Stephan doen dit gereeld. Ek “volg” hom, nou nie soos ek Jesus volg nie né, maar deurdat ek graag sy skrywes en e-Kerk goete lees. Hy hou my op hoogte.  Hy het ook my boek (Padlangs deur die Lewe) pragtig aanbeveel – DANKIE! Hy moet nog net vir my help om my doktorsgraad te kry daar by Nijmegen… In elk geval, ek het ‘n paar sulke mentors wat my na ander plekke vat.  Ek kan nóg aangaan oor Stephan, maar jy kry die prentjie.  Koop gerus sy dagboeke, hulle’s uitstekend, maar eers as jy reeds Padlangs gekoop het…

Ek het Stephan se boek “Vrygespreek” gelees wat alles oor GENADE gaan. ‘n Paar punte:

1) Wat my opval is die loslit styl waarin hy skryf. Ek dink nie al sy boeke is heeltemal so informeel nie, maar hierdie een is baie so: tjok en blok, sin vir sin vol beeldspraak en vergelykings, reguit praat, oordrywing sommer ook, Engels waar dit oemf sal gee en so aan. G’n niks teologiese bespiegelings nie, maar kortpad en blitsvinnig vat God uit die hemel die genadepad in Christus en kom bied teen die loopspoed-van-mense sy genade aan, handevol genade, vir die wat daarvoor vra – vir alle genadebedelaars! Hy laat dit seën reën en ons moet net skep! Ja, dis soos dit klink, net nog meer so. Dis asof hy ‘n nuwe taalstyl maak – dis ook soos hy preek. Dit herinner my aan Pieter Pieterse, daai storieverteller wat saam met sy Ingelsman in sy karavaan gebly het en so ontydig en onskuldig vermoor is.

2) sy boodskap klink plek-plek radikaal (ek hou daarvan, maar wonder wat die teoloë sou sê – sou seker sê hy oorvereenvoudig vreeslik, maar hy wil juis deur die fluff sny), maar uiteindelik is dit die gewone evangelieboodskap (en ook heel gereformeerd) en sy doel is juis om mense tot bekering te bring – het ‘n paar “sondaarsgebede” so tussen-in gegooi.

3) Stephan hou g’n niks van die genadelose godsdienstiges nie. Kerke is vir hom dikwels besonder genadelose en liefdelose plekke – totaal strydig met Jesus, en dis natuurlik die waarheid. “Godsdienstige” mense se eerste doel is om nie genade, aanvaarding, inluiting en liefde te demonstreer nie, maar om sondaars te veroordeel en te probeer uithou uit hulle “suiwer” klein groepie suurtiere en bitterbekke. How do you know some-one is a Christian? Because he will judge you.  Ek weet waarvan hy praat want ek was ook so – ek kom uit daardie besonder onaangename en vleeslike stuk godsdiens wat hulle die “heiligheidsbeweging” noem, wat vandag nog steeds deel is, plek-plek, van die evangelicalism van ons tyd. Dis waar ons die muggies van rook en drink uitsif, maar die kamele van liefdeloosheid en hoogmoed insluk. Weë ons! Daardie kerke moet en sal ondergaan, omdat selfs Jesus, die ou Wynsuiper (Matt 11:19) nie daar welkom is nie. Ja, hulle is werklik Christeliker as Christus. Die waarheid is natuurlik dat sulke mense glad nie soos Christus is nie, maar eerder perfekte Fariseërs. As HY sou kom – behoede ons – sal Hy sy sweep saambring en sy tempel reinig.

4) Wat genade betref het dit my getref
– dat dit nie net ‘n tweede KANS is wat ONS kry nie, maar dat die Tuinier (Christus) in Luk 13:6-9 ‘n tweede kans máák. Hy sê vir die Eienaar (God) dat Hy eers intens met hierdie onvrugbare vrugteboom (ek) wil werk – die werk van die Heilige Gees.
– dat dit geheel en al God se werk is, nie myne nie, maar dat ek net in die wingerd moet bly. Kyk, HY gee die lewe vir vrugdra, HY snoei en HY dra vrug deur ons, maar ons moet net daar in Hom bly. So, ons moet net in die wingerd bly – waar die Woord gepreek word, waar die gelowiges bymekaar is, ens. Dan sal die genade deur ons werk. Ek dink DIS wat die verbond (en verkiesing) beteken, wat eerstens (beide) ‘n korporatiewe konsep is: die kerk, die gemeenskap, die volk-van-God. As individue kan ons ons van die genade wat dáár is deel, of onsself daarvan afsny. Wees waar God werk, m.a.w. en dit gaan jou tref.
– genade is God-op-sy-beste. God gee ALTYD genade vir die wat vra, al is dit die duisendste keer; Jesus werk ALTYD met genade met sondaars (maar nie met Fariseërs nie) – kyk maar self.
genade verander ons onmiddelik en geheel en al. NOOIT een keer word na ‘n gelowige in die Skrif as ‘n “sondaar” verwys nie, eerder “heiliges” (t.s.v. hulle sonde) en “kinders”. Genade verander ook ons praktiese lewe in die sin dat ons self liefdevolle genade-uitdelers word – DIS die bewys van dissipelskap. DIS die vrug. Anders het daar – vir al die gebid en gevas en getuienis en bediening – binnekant nie veel ge-happen nie, is die sg. “wedergeborenes” nog maar dieselfde “gewoongeborenes”.

Ten slotte, vriend…Ek het donkiesjare gelede in Parow se CNA Phillip Yancey se boekie deurgeblaai, What’s so amazing about grace?  Daar was fotos van prostitute, gay mense in leerklere in, sulke goed.  Sy vraag was of ons hierdie mense waarlik liefhet soos God hulle liefhet en hoe ons dit wys?  Of ons ENIGSENS soos Christus is – wat “hulle” ingetrek en met “hulle” gekuier en geëet het? Ek kon net so drie blaaie vorder toe ek dit moes neersit.  Ek het trane in my oë gehad van sonde-oortuiging.  Ek kon letterlik nie daardie boekie deurblaai nie.  MY tradisie het eerder beklemtoon dat God sondaars haat (ons het wel gesê Hy het hulle lief, maar haat hulle sonde, maar ons het dit gesê ASOF Hy, en ons, húlle haat) en dat hulle hulself blitsvinnig moet regruk, want brand gaan hulle brand.  Húlle het allermins welkom gevoel in óns kerk, want hulle het myle wyd gehou.  Gaats, selfs ek het baie dae nie welkom gevoel nie, met al my sonde en dinge…   Ja, só lief het ons die wêreld gehad…  Wat Stephan hier skryf het my teruggeneem na daardie dag toe ek nie ‘n klein boekie kon deurblaai nie. 


Die Dag van die Here

Die Dag van die Here

2 Nov 2014

 

Dis die dag van die Here,

dis u dag vandag;

nog liggroen vroeg en vars en mooi –

van die see af waai die koel en ligte bries,

maar dit sal ‘n stormsterk suidooster word vandag,

warmswart sedoos wat sy stof op alles gooi.

Daar’s soveel in my hart dat ek dit nie kan bid nie:

my kommer, donker dinge, vrees (dis maar ek

en hulle gaan dit later dalk hier lees),

maar U weet dit, sien dit vanoggend, Here.

So – by die knop verby bely ek dat U goed is,

getrou, genadig, U sal sorg en U sal seën

in alles is daar u niksontbreking;

so ek sal opstaan, vrolik wees, sterk staan, glo –

en vars en groen gaan lééf vandag,

u dag –

die dag van die Here.