Monthly Archives: April 2015

Caroline Leaf – Switch on your brain

SwitchCaroline Leaf – Switch on your brain (2013: Baker)

Ek het hierdie boek op die lughawe gekoop vir my kinders om te lees, altwee stel belang in die brein en die een studeer mos in die neurologie van die spraak (o.a. – die kursus is Spraakterapie), maar dit eindig toe so dat ek die boek eerste lees…  Dr Leaf het ‘n BSc, ‘n M in spraakterapie en ‘n D in kommunikasie-patoloog, met ‘n belangstelling/ervaring in neurologie (weet nie waar die D vandaan kom nie, sy sê nie… daar is deesdae soveel degree mills).

Ek sal eerste die kritiek noem, en dit agter die rug kry:

  • dis nou nie alles egte, egte wetenskap nie, eerder self-help gebaseer op aanduidings wat inderdaad nuut en wonderlik is, maar daar is nog baie navorsing nodig.  Almal spring bv. op die kwantum-wa, maar dis so tegnies en moeilik dat nie eers fisici wat goed daarin studeer het, te veel moet sê nie, wat nog te sê die fantastiese afleidings wat alledaagse mense vandag maak.
  • ek is skepties oor al die Bybelverse wat sy ingooi, want sommige hoort nou nie by die plekke waar sy dit gebruik nie… maar nou ja.

Aan die ander kant, sy het iets beet, sy verwys dat dit bars (ongelukkig ook na bietjie pseudo-wetenskaplike plekke) en sy het onteenseglik ‘n amptelike best-seller geskryf en is all over the place oor die internet en met seminare, videos, optredes, TV en
alles.  Sy is ‘n uitgesproke Christen en verskyn gereeld op TBN – die boek is eintlik ‘n Christelike boek.  Sy sê dit bewys dat die Bybel nog altyd reg is oor ons gedagtes, ens.

Haar boek sê min of meer die volgende:

  • jou brein beheer nie jou mind nie (ons kan dit nie in Afrikaans sê nie, ek sou sê “rede”), jou mind beheer jou brein.  Persoonlik sou ek eerder wou sê dat die mind en die brein (in my taal: die siel en die liggaam) ongelooflik vervleg is en mekaar beïnvloed;
  • “choices are real” – keuse is nie maar net die onwillekeurige en onkeerbare afskeidings van die brein nie.  Ons het WERKLIK vrye keuse (sjoe, hieroor kan mens ook baie sê, ek sou sê binne perke en binne die konteks)
  • soos ons dink, so verander ons ons brein fisies.  Dis natuurlik letterlik waar – vandag is dit algemene kennis dat die brein “plasties” is, m.a.w. dit skep bane en vernietig bane.  Dit waaroor ons baie dink skep sterk bane – “bane” is ‘n fisiologiese begrip, want proteïne word gemaak en neurone word geskep (neurogenese) – ek hoop ek sê dit reg – en nuwe sinapse vorm en sulke egte biologiese dinge.  Ons denke is dus in daardie sin werklik SKEPPEND.  Sy sê die brein WORD wat die brein DINK.  Herhaling is natuurlik o.a. wat ‘n baan vaslê.
  • denke verander ons DNA – in die sin dat die DNA meer of minder kan coil (ek het iets daaroor gelees in Scientific American) – wonder bietjie oor hierdie een…
  • denke skakel gene aan of af.  Haar tese is dat die hele DNA ‘n gegewe is, maar dat spesifieke gene daarop aan- of afgeskakel kan word deur omstandighede (stres is eintlik die groot ding hier, maar sy verwys na giftige denke vs. positiewe denke). Sy beweer bv. as jy glo jy gaan diabetes kry omdat jou ma dit gehad het kan jy dit kry omdat jy dit geglo het – m.a.w. dat jou negatiewe denke daardie potensiaal kan (mede-)aktiveer, nie net die insulienweerstandigheid en jou suikerryke dieet nie!
  • positiewe denke (geloof en gebed vir ons) is bewys as effektief om immuniteit drasties op te stoot, ook bv. by die VIGS-viruslading en baie ander siektes
  • sy onderstreep ook die reuse volume navorsing wat vandag oor meditasie  gedoen word.  Sy noem dit “capturing those thoughts”, “the Sabbath in the brain”, of die “default mode network” (DMN) – goeie evangelicals noem dit natuurlik nie meditasie nie… 🙂 .  Dit is waarin die brein gaan as hy ongerig op sy eie werk: breingolwe verander dadelik na rustiger Alfa-golwe, bloeddruk en hartklop gaan af, immuniteit op en ‘n hele lys goeie goed.  Sy beveel 5-16 minute per dag aan – voordele op elke vlak.
  • sy bevestig ook dat “multitasking” teenproduktief is, wat reeds bevind is.  Die brein werk op sy beste as dit doelgerig met een ding besig is.  Die verskil in breinspoed is ongelooflik as mens begin “milkshake-multitask”, soos sy dit noem.
  • sy praat van die bekende mirror-neurone, wat empatie opwek as ons mense in die oë kyk (het al daarvan gehoor)
  • haar verwysings na die kwantumgoete is bietjie bisar, maar die hele kwantumding is maar bisar.  In elk geval dit gaan oor die krag van gebed, gebed oor ‘n afstand, gebed in verhoudings.  Sy sê bv. dat mense wat in verhouding is op ‘n kwantumvlak in verhouding bly en as jy beide se breine op-wire in verskillende stede of lande en ‘n lig in die een se oë skyn, sal dieselfde reaksie in albei se breine gelees kan word – jy sien, daar soek ek die konfirmasie, maar ek love die gedagte!

Dan het sy natuurlik haar 21-dae brein detox plan, wat ek gaan doen!

Die take-home lesse vir my is:

1) Kies waaraan jy dink – fokus op wat mooi en goed en lieflik en loflik is, soos Paulus sê – en glo dit
2) Gebruik belydenisse (affirmations of mantras) wat jy oor en oor kan herhaal om nuwe bane te skep
3) Werk in alles met waarheid en leuen – die vyand het net een tool en dit is leuens.  Meeste van ons vrees is gebaseer op leuens en dus totaal onnodig
4) Leer om te mediteer (ons het kursusse daaroor – Christene noem dit kontemplasie, meditasie is vir ons iets anders) en doen dit daagliks vir minstens 10 minute
5) Hou op om te probeer multitask – doen die een ding na die ander

Ja, ek gaan probeer om hierdie beginsels nie net persoonlik toe te pas nie, maar ook om in my lering in te bring – die soliede goed, natuurlik.  Ek glo hierdie boek het baie waarde.

Advertisements