Monthly Archives: Augustus 2015

My getuienis

My getuienis

EK was ‘n diep gelowige kind en

‘n skeptiese grootmens – en is dit steeds.

Ek was ‘n sektariër, ‘n ekstremis,‘n fundamentalis,

‘n Jesus-hippie en profeet – en is dit steeds.

Ek was ‘n gereformeerde, ‘n rasionele teoloog,

‘n kontemplatiewe mistikus – en is dit steeds.

Ek was uitverkoop aan Jesus, ‘n klipchristen

en ‘n weet-nie-wat gelowige – en is dit steeds.

Ek wil nie baie preke, profesieë hoor nie,

maar ek glo dat God oral om my praat.

Ek sien dat godsdiens mensewerk is,

maar dit bly my troos en my waarheid.

Ek verstaan dat Christus alles is, my pogings niks.

Ek verstaan dat Hy my hou, nie ek Hom nie –

ek verstaan nou dat geloof net DIT besef.

ek vermoed dat liefde al is wat bestaan.

ek stry die goeie stryd,

ek hardloop op die harde pad,

ek hou aan die geloof.

ek sien net HOM

Advertisements

Tussen

Tussen

Tussen

gereformeerdes het ek gehuil en in tale gespreek, maar tussen

charismatics het ek nie my hande opgehef nie. Tussen

liberales het ek aan wonders vasgehou, maar tussen

fundamentaliste gesê dat die wetenskap tog reg is. Tussen

Protestante het ek ‘n kers aangesteek, maar tussen

evangelicals het ek wyn gedrink. Tussen

Christene was ek so ontuis soos tussen ongelowiges.  Tussen

almal was ek niemand, sodat ek dalk iets kon wees vir iemand

en myself (en daar is geen ander plek nie, as

tussen)