Monthly Archives: September 2015

Paul Coelho – The Alchemist

AlchemistPaul Coelho – The Alchemist (1993, Harper Collins)

As ek nie iets oor geestelike boeke post nie, lees ek anner goet – soms Deon Meyer, soms een of ander SciFi of iets  romanties wat Maryke by die biblioteek uitgeleen het.  Ek is maar altyd aan die lees. Gaan egter nou nie al daardie boeke beskryf en hier plak nie… Hier het ek nou weer ‘n kleinerige boekie gelees wat’n groot “international bestseller” was en sal daaroor iets skryf, want dit laat mens dink.  Ja, R5 by die NGK Tulbagh se bazaar. Jy sal my altyd by die boektafel kry…

Sjoe, wat om van hierdie boekie te maak?  Dit gaan oor ‘n Spaanse herderseun wat op soek is na sy lewensdoel, sy destiny. Hy het ‘n droom daaroor gehad. Hy vertrek op ‘n reis na Afrika en deur die woestyn na die piramides van Egipte. Daar sal hy ‘n groot skat vind.  Langs die pad ontmoet hy baie mense en leer baie dinge. Die boek is eintlik ‘n metafoor vir die lewe, soos die Alchemie self, wat ‘n tema in die boek is.  Alchemie is mos die proto-wetenskap wat ten doel gehad het om materie te veredel tot dit silwer of goud was, om die middel te ontwikkel wat alles kan oplos (waarin sou jy dit bêre?), om die elikser van die lewe te ontdek (vir ewige jeug) en die “philosopher’s stone” – waarvan mens die vorige goed kan maak, lyk my.  Dit was vir eeue, millenia eintlik, ‘n ernstige saak en die “wetenskaplikes” van die tyd tussen Christus en die Middeleeue het ernstig gewerk aan hierdie dinge.  Uit die Alchemie het ons Chemie (Skeikunde) ontwikkel, maar ook tipes van homopatiese en natuurgeneeskundes en dan allerhande mistiese, gnostiese en selfs okkultiese denksisteme.  Martin Luther het nog ‘n hoë agting vir die Alchemie gehad.  Alchemie is op twee vlakke bedryf (en dis belangrik om die goed te sê, want ek dink dit is wat die boek beteken):
1) die eksoteriese vlak (nuwe woord geleer hier – staan teenoor “esoteries”) is die fisieke vlak van die “wetenskap” van Alchemie.  Alchemiste het die hele basiese Chemie uitgedink: elemente is geeïen en gerangskik, en prosesse is ontwikkel en beskryf hoe om stowwe te reduseer, te vergas, te distilleer, te skei en saam te voeg, te chlorineer en te karboniseer – al sulke goed. Daarvoor het hulle tonne materiaal geskryf en baie ontdekkings gemaak;
2) die esoteriese vlak.  Die Alchemie is egter nie ‘n objektiewe wetenskap soos ons dit ken nie – vir sommige alchemiste was al die esoteriese simbole en komplekse prosesse bloot ‘n metafoor vir die lewe.  Alchemie oorvleuel met die Joodse, Arabiese en Indiese mistiek, maar is ten diepste ook ‘n Christelike mistiek. Dit gaan nie oor lood na goud verander nie, maar mense na dit wat die Skepper vir hulle bedoel het; dit gaan nie oor die ewige lewe hier nie, maar die ewige lewe eendag, en so aan.

Nou ja, met dit in gedagte sou ek sê dat die boek self uit twee vlakke bestaan (soos alle goeie literatuur), en ek neem die  vlakke verder:
3) die verhaalvlak.  Die shepherd-boy (ek dink nie ons lees ooit sy naam nie) se reis na die piramides, waar hy verstaan hy sy destiny sal vind.  Hy ontmoet baie mense: ‘n sigeuner, Melgisedek (die boek het baie Bybelse en Christelike temas), ‘n glas(kristal)handelaar, ‘n Engelsman, verskeie skelms, die meisie van sy drome en die Alchemis. Hulle help hom op verskillende maniere aan.  Dan gebeur baie dinge: hy verkoop sy skape (wat sy hele lewe was) om sy droom na te jaag, hy skenk ‘n deel aan die koning, hy vertrek op die reis, hy verloor alles (drie keer), hy spandeer ‘n paar jaar op ‘n syspoor maar leer baie dinge, hy trek met ‘n groot karavaan mense deur die woestyn, hy ontmoet Fatima by die oase, hy leer die tekens lees wat om hom is, hy ontmoet die alchemis wat hom na die piramide neem en ‘n wonder doen – en hy ontdek sy skat.
4) Die betekenisvlak. Eerstens dink ek al hierdie mense beteken iets.  Mens moet daaroor nadink. Die herder het Bybelse konnotasies, die kristalhandelaar staan vir iets (verheldering of dalk die een wat nooit die journey wou aanpak nie), die skelms en diewe staan vir die Bose en die Alchemis staan vir Christus, wat die menslike na die goddelike omskakel, by wyse van spreke.  Dan is daar baie lesse in hierdie metafoor, of gelykenis, sommige obvious en ander minder so (en ek mis seker ‘n paar belangrikes):
–die lewe is ‘n reis en daar is ‘n destiny vir elk.  Ek sou dit wou skakel met ons skeppingsdoel, wat ook God se wil vir elkeen is;
–as ‘n mens doelbewus sy skeppingsdoel begin nastreef, begin die grootstse avontuur van sy lewe.  Dit behels baie opwinding en ook baie hartseer, maar dit oortref die alledaagse, voorspelbare lewe by verre;
–as ‘n mens op die reis gaan, span die hele heelal saam om jou te help (deesdae sal so iets New Age genoem word, alhoewel dit ‘n onlangse term is – die gedagte is egter oud. Ek sou ‘n stelling soos hierdie met die Here in verband wou bring, want wat is die heelal dan nou eintlik?);
–daar is allerhande tekens op die reis, wat God gee, en ons moet leer om die tekens te onderskei;
–die reis sorteer jou uit in terme van wat belangrik is en wat nie – wat werklik jou skat is.  Jou “skat” mag dalk verander;
–jy moet op die reis die Alchemis ontmoet, wat jou tot by jou ware doel sal neem;
–die reis is sirkulêr – jy kom weer by die begin uit (en jou skat was altyd daar!)

en al sulke dinge… Ja, dis een van daardie boeke wat jou laat dink.  Dis propvol wyshede, van die Kahlil Gibran tipe, sou ek sê. Oor die algemeen is dit ‘n baie inspirerende boek – een wat jou baie oor jou eie journey laat dink.  Dis ‘n soort “Pilgrims Progress”, maar in ‘n ander toonaard.

Advertisements

Op soek na God … buite die kerk? – Annes Nel

AnnesOp soek na God … buite die kerk? Annes Nel (2003, Lux Verbi)

Ek was mos eers half vies vir Prof Annes, want ek het gedink dat hy my doktorale werk sal oorneem nadat my studie-leier, Bobby Loubser, so ontydig oorlede is. Annes het mos vir Bobby by Zoeloeland opgevolg. Dit was dalk ‘n misverstand want ek het nooit van hom gehoor nie. Dit was nou jare terug, hoor. Neem kennis dat ek nog nooit – tot vandag – vir Annes ontmoet het nie. Ek het hom eintlik in ‘n boks gesit as tipiese droë NG proffie – hoogs geïnstitusionaliseer by die universiteit, en so gereformeerd en rustig as wat kan kom, so ‘n droë ou wat al pyprokende oor die verbond uitwei. So ken ek hulle, maar ek was dalk verkeerd. Uit ‘n vroeëre boek van hom wat ek gelees het (dis ook op hierdie blaaie), het ek al gesien Annes is nie ‘n bad ou nie. Hy is nie die tipiese NG dominee nie. Trouens, ek bemerk ‘n sensitiewe siel. Dis asof hy ‘n ander, moeiliker pad gestap het. Ek sien ook weer in hierdie boek sy hart. Hy werk nou in die buiteland – hy’t spore gemaak. Nou na die boek toe:

1) Die boek gaan oor die mense wat die kerk deesdae verlaat en hoe die kerk daarop moet reageer. Dis nie eintlik ‘n wetenskaplike boek of behoorlike studie nie, maar Annes sê self dis eintlik meer om ‘n klomp mense (wat deel was van sy informele studie hieroor) ‘n stem te gee oor hoe hulle voel. Die eerste deel van die boek is net hoe seer die kerk en sy predikante die mense gemaak het en hulle laat waai met die kritiek hoorthey don’t pull their punches! Ek sien Annes het ook sy deel verontwaardiging, trouens hy klink al goed dik vir die kerk. Hy’t al ‘n paar potjies geloop, lyk my. Oor die algemeen stem ek saam dat mense sulke dinge beleef: liefdeloosheid, twis, kompetisie, jaloesie, magsug en die vreeslike ou ekkigheid (of wat ons die “vlees” noem): kyk na my groot bediening, kyk na my leierskap, kyk na my kennis, kyk na my wonderlike geestelike lewe – kyk hoe nederig is ek al weer… so subtiel en “geestelik” sorg ek dat ek maar net die man is wat darem eer ontvang. Ek is ook so… nogtans pla dit my dat die geestelike leiers so ongeestelik is. Die kerkraad is dikwels die vleeslikes en die geestelikes sit in die banke: die tannies wat so oorgegewe leef aan die Here. Dalk moes hulle die kerkraad gesit het. Kerkraadslede het dikwels nie ‘n clue van enige spirituaiteit nie, maar hulle maak die besluite – hoe werk dit?  Dis omdat ons “prominente” lede kies.

2) Hier en daar kry ek die predikante egter jammer, want mense verwag mos alles van hulle. ‘n Predikant is mos ‘n egg laying woolmilk-pig, volgens Christian Schwartz. Hy moet alles kan doen. Dis veral sy taak dat die gemeente groei en dat daar herlewing uitbreek – anders is hy ‘n loser. Hy kry maar altyd kritiek: as hy op die jeug fokus, is hy treurig met ou mense, as hy goed preek skeep hy weer die huisbesoek af – jy kry die prentjie. Sommige van die respondente in hierdie boek vra van die predikant wat geen predikant kan gee nie. Hulle soek ‘n volmaakte kerk.  Ek is so bly ek is uit daardie game uit – kon nie meer nie…

3) So ‘n paar varkore wat ek gemaak het in die boek – interessante goedjies:

– p42 Jesus se gelykenis van die Barmhartige Samaritaan is baie radikaal – die priester en die Leviet gaan nie verby omdat hulle nie onrein wil word nie – die man was nie dood nie, en hulle was ook nie op pad tempel toe nie, hulle kom van die tempel af. Hulle help eenvoudig nie omdat hulle nie lus is nie – hulle is eenvoudig liefdeloos, hulle tradisie sê hulle hoef nie DIE ou te help nie, so waarom sal hulle?  Wat die Samaritaan betref het die Misjna (die vroegste Joodse kommentare) gesê: “Hy wat die brood van ‘n Samaritaan eet is soos een wat varkvleis eet”. Samaritane is elke week deur die Jode in die sinagoge vervloek en in die daaglikse gebed is God plegtig gevra om tog nooit aan die Samaritane die ewige lewe te gee nie. DIS hoe erg dit is dat juis ‘n Samaritaan kom help het – en almal kom leer wat liefde is.

– p160 God neem uiteindelik verantwoordelikheid vir alles wat in die wêreld skeefloop – alhoewel Hy nie daaraan skuldig is nie. Hy neem dit op Hom om dit reg te maak. Hy is natuurlik die enigste een wat kan. Dis mos soos wat ‘n vader maak as sy kinders aanjaag: hy gaan betaal hulle skuld, kry hulle uit die selle, sorteer dinge uit met die bure, laat die stukkende vensters regmaak, en so aan.  Die Vader doen dit vir ons in Christus.

(Oukei min of meer hier het die boek in die badwater geval – ek was SO vaak! – en dis ‘n bietjie waterbeskadig van hier af…)

– p 173 Ek glo nie eintlik dat dit ‘n basiese Bybelse gedagte is dat geloof nooit iets is waarop ‘n mens aanspraak kan maak nie. Ook nie dat Paulus in Rom 10:14-17 een saak duidelik wil stel nie, nl. dat “om te glo begin by die feit dat God ons aanspreek nie”. Natuurlik spreek God ons aan (Paulus praat daar oor die prediking), maar sy aanspreke gaan oor die hele wêreld, ook aan Israel, sê Hy. Ek vermoed Van de Beek, die Nederlandse teoloog waarmee Annes sy boek afsluit, mik op die gereformeerde uitverkiesingsgedagte. ‘n Eenvoudige lesing van die Bybel sê dat God se appél uitgaan aan almal en dat hy ‘n gelowige reaksie verwag – van almal. DIT is die grond vir sommige se verwerping. Natuurlik is daar ‘n uitverkiesing (ons lees dit in die Bybel), maar dit is die goddelike parallel van ons verkiesing van Hom. Die twee gaan saam en is in ‘n sin dieselfde ding. Die mens het in die Skrif uitdruklik ‘n vrye wil, anders kan daar geen basis vir ‘n oordeel wees nie. Dit is ‘n basiese regsbeginsel (wat ons van Hom kry). Nee, ek is nie meer veel van ‘n gereformeerde nie – dit klink net heeltemal te vreemd aan die Skrifboodskap.  As ek deur die Nuwe Testament blaai, slaan die gereformeerdheid my nie hard nie.

– p174 Ek hou van die gedagte dat Jesus God se weg na ons toe is, soos Hy God se waarheid en lewe is (Joh 14:6). Annes/Van de Beek sê dis hoekom Christus vir ons genoeg is – dit gaan nooit oor ons godsdienstigheid nie. Dis waar – ons het altyd die plus, plus by die kruis.  Dit ontken egter nie die Skrifwaarheid dat Hy ook ons weg na God toe is nie. Weereens moet mens dit saam sien. Om deur Christus aangeraak te word, beteken mos dat my lewe verander – mag mens nie daardie verandering verkondig en verwag nie? Natuurlik – die Nuwe Testament doen dit (in die paranetiese gedeetes) vir bladsye agtermekaar.

– p185 Ek hou van die feit dat hy sê kerke moet ruimte maak vir verskillende lewensfases en ook verskillende geloofsfases, alhoewel ek dink mens kan die geloofsgroei ouliker indeel as wat hy doen. Hy is egter reg dat mense in verskillende geloofsfases met mekaar baklei in kerke, figuurlik gesproke. Die een se behoefte is om bewyse te hê dat ons reg is en almal verkeerd en die ander (wat meer gevorderd is, maar deur die eg. beskou word as minder gevorderd) het die behoefte om weg te kom van eng boksies wat in elk geval verkeerd is.  Die eerste noem hulle liefdeloosheid ywer vir God, maar die tweede noem dit net liefdeloosheid.

-p190 Ek hou van Annes se gedagte dat as ons die gemeente bymekaar sien op ‘n Sondagoggend in die diens, so ‘n paar honderd, dit nie eintlik die kerk is nie. ‘n Beter beeld van die kerk, sê hy, is wat jy kry as dit bv. vakansie is, of die wat Sondagaand ‘n kleingroep sou bywoon. Die kerk is baie kleiner as wat dit mag lyk. Ek wonder hoekom hy so sê?  Ek voel ‘n waarheid aan, maar dit hang seker af wat mens met kerk bedoel.

Oor die algemeen sê Annes dat mense weer die kerk sal vind (1) as ons oop is vir oortuiging, (2) wanneer ons nederiger raak, (3) wanneer mense maar hulle twyfel kan uitspreek, (4) wanneer God weer ‘n gesig kry (=Christus), (5) wanneer ons ‘n medelydende kerk word.  Ja, dis alles goed en wel, en die kerk het ‘n groot probleem, maar daar is nie ‘n one size fits all oplossing nie. Die nuwe generasie kom na ons in honderde vorme en verwagtings. Ek glo die kerk gaan opdeel in honderde soorte niskerke en -bedieninge. Ons moet nie daarvoor bang wees nie, maar die globale prentjie behou en besef dit is alles deel van DIE KERK VAN CHRISTUS. Dan kan mens NOG baie daaroor sê!  Dis bv. belangrik dat kerke begin om die ongekerkte Christene te aanvaar en te bedien – nie net seergemaak te vermy nie. Dis moeilik as mens in die kerk is – jy VOEL die verwerping!

Hier onder iewers het ek Jamieson se boek bespreek – dit gaan ook die bediening van mense buite die kerk.


Ferdinand Deist – Die Son het Vlerke

DeistEk dink hierdie een was R5 by die dorpsbiblioteek se tafel.  Ek is mos lief om Deist se oordenkings te lees, alhoewel ons jare terug geglo het dat hy in die “Deisternis” is, omdat hy dan nou so liberaal is. Nou ja, baie van wat ons beskou het as liberaal, het later maar algemeen geword – soos dit maar gaan met liberaal en konserwatief. Ek het grootgeword in ‘n “sekte”, bedoelende dat ander (merendeels die “susterskerke”) dit van ons gesê het. Ons was wel ‘n gereformeerde kerk, maar was evangelies, het ‘n orkes in die kerk gehad en sommige het hulle hande opgesteek. Ek moes al my skooljare ly onder die verwerping (saam met die apostolie-kinders en die meisie van die Jehova Getuies, en wat kan ‘n kind tog help wat sy ouers glo), maar vandag het elke NG gemeente ‘n orkes en mense mag hulle hande opsteek en lê hulle klem op ‘n “persoonlike verhouding” met God. Ek wag nog dat iemand vir my om verskoning vra dat ons hulle bloot  voor was! Ek kan darem noem dat ons kerk en die NGK – waaruit ons kerk in 1944 gebreek het – in 2004 ‘n versoeningsdiens gehou het in Durban en vir mekaar gesê het jammer en dit het vir my ook baie persoonlike genesing ingehou. Nou ja, Deist was ook maar net sy tyd voor. Dit wat hy toe gesê het, hy is oorlede in 1997, is vandag maar die gewone taal. Trouens, in so ‘n mate dat ek die boekie plek-plek vervelig gevind het. Nogtans moet mens darem iets hê om in die bad te lees en so het ek deurgedruk, en die volgende was darem tog vir my die nuggets, soos die
Ingelsman sê:
1) p29 – ek het besluit om bietjie meer te skryf oor die 14 “kruisstasies”, volgende jaar, dalk in ‘n kursus oor Pase, of in ons daaglikse gebede, in Lééf Tydskrif.
2) p53 – Deist skryf oor die “sonde” dat dit so ‘n “vae en verslete” woord geword het dat dit nie meer baie beteken nie. Hy noem dat die Bybel verskillende woorde gebruik vir wat tussen God en mense verkeerd geloop het (onthou hy was ‘n Ou Testamentikus) en die Hebreeus gebruik o.a. woorde wat “afdraai”, “kontrakbreuk” of een of ander “vergissing” beteken. Ek wil meer hieroor lees.
3) p56- Hy skryf oor die feit dat kerke lidmate verloor en dat gemeentes alles doen om lidmate terug te lok, bv. deur die diens te vernuwe. Hy is nie daarteen nie, maar sê dit moenie net ‘n nuttigheidswaarde hê nie. Hy haal DJ Malan aan (uit 1934) wat ook skryf oor kerkhernuwing, dat mens nie moet vra wat WERK vir hierdie tyd nie, maar wat is WAAR vir hierdie tyd. Dis baie belangrik, want ons MOET die tye onderskei en is dikwels besig met die waarhede van lank terug, terwyl ons nie hierdie tye se waarhede (vrae en antwoorde) aanspreek nie.
4) p63 – die Skrif se uitdagings is soms kwaai (en Jesus s’n is die ergste, né, as Hy sê ons moet ons (en ons volk se) vyande liefhê, wat min Christene nakom), so mense is geneig om dit te verwater en te rasionaliseer deur allerhande verskonings hoekom die vers nie regtig sê wat dit oënskynlik sê nie. Ons meen die harde werklikheid om ons laat ons nie sulke luukses toe nie. Deist haal in die verband vir (ene) Miskotte aan wat sê “Beroep jy jou op die werklikheid om die eis van liefde en geregtigheid te vervorm?  OF beroep jy jou op dié eis om die werklikheid te vervorm?”
5) p67 – ek het gehou van sy oordenking oor fundamentalisme en relativisme.  Die fundamentalis maak staat op absolute waarhede, wat onomstootlik is (maar dis iets wat mens moet glo) en die relativis sê weer mense se waarhede verskil a.g.v. hulle kontekste (maar hulle is fundamentalisties oor hulle waarheid dat dinge relatief is).  Die een se klem is op sekerheid, die tweede beklemtoon onsekerheid. Deist vra of daar net hierdie twee uiterstes is. Is daar nie tog ‘n middelgrond nie? Soms weet jy jy weet iets, maar jy kan dit nie oproep, of goed uitdruk nie.  Jy weet jy het jou sleutels hier iewers neergesit, maar vind dit nie. Daar is wel ‘n “geloofsoortuiging” wat ‘n sekerheid is, maar tog ook op ‘n aanname berus.  Ek hou van hierdie middelgrond wat hy soek, want ek het geleer in my lewe (en my vele reise, haha) dat die waarheid meestal in die middel lê, waar dit meer kompleks is as die simpeler uiterstes. Geloof is juis iets wat in onsekerheid vastrapplek kry, volgens Heb 11.  Ek self is ‘n redelike relativis, maar as ons hoegenaamd aan God glo, is Hy tog ‘n Absolute – die enigste vastigheid en sekerheid wat onveranderlik staan. Nogtans is ons blik op Hom subjektief en relatief en onvolledig en word deur baie dinge beïnvloed.
6) p69 – ek het gehou van sy bespreking van tyd in die Bybel. Hulle het nie horlosietyd geken soos ons nie (oorlat hulle nie horlosies gehad het nie, mos). Die vroegste mens het NATUURTYD geken: dag en nag, eb en vloed, volmaan en nuwemaan, winter en somer, die sterre se siklusse.  Daaruit het hulle KALENDERTYD ontwikkel:  soveel dae in ‘n maand, en soveel maande in ‘n jaar. Toe kon hulle die jare meet. Dit het hulle in staat gestel om ‘n gevoel van GESKIEDENISTYD te kry, soos ons in die Bybel kry: iets het gebeur in die eerste jaar vam koning so-en-so, of drie jaar na die groot droogte.  Vaste punte in die geskiedenis het hulle ‘n verwysing gegee.  Tyd was iets wat hulle aan hulle afhanklikheid en verganklikheid herinner het en het hulle na ‘n soeke na die goddelike/die ander kant/die ewigheid gelei. HORLOSIETYD is ons manier van leef en dryf ons deur ons dag. Tyd is nou ‘n kommoditeit met ‘n waarde: ons spaar tyd en ons verloor tyd.  Ons is op tyd of agter die tyd. Afrika-mense het bv. ‘n ander belewing van tyd as Europa-mense.  Af en toe, wanneer ons in ‘n krisis kom, besef ons hoe waardeloos horlosietyd is. Ons hardloop ons flou agter die horlosie aan, maar dié slawemeester bied nie baie beloning nie.  Dit bring nie sin nie dit hou mense net besig. Dit is die prys wat ons betaal vir die tegniese samelewing waarin ons leef. Soms wil ons egter daaruit breek. Ons het ‘n  ander tydsbelewing nodig.  Deist verwys na die kerklike jaar: elke jaar, beginnende by Advent (vier Sondae voor Kersfees), neem dit ons deur die hele lewe en leer van Christus.  Dit is ‘n nuwe en vars manier om na ons tyd, lewe en lewensin te kyk.  Dit breek ons uit die gewone mold uit. Daar moet ander maniere ook wees om hierna te kyk.  Hy praat van HEILSTYD – God se tyd vir mense.
7) p103 – dis interessant dat Naaman die Here begin dien, alhoewel hy daar in Sirië gewoon het.  Hy vat grond van Israel saam (amper soos die Jordaanwater wat ons nog hier in die kas het, darem met Jik in) om die Here daarop te aanbid (bietjie weird vir ons, maar volgens sy siening was Israel se God nou sy God, so hy moes dus bietjie Israel saambring), maar vra vir ‘n uitsondering: as adjudant moet hy die koning vergesel in die tempel van Rimmon een keer per jaar om daar te offer.  Hy vra dat die Here dit vir hom sal vergewe – dis soos ‘n staatsplig wat hy het.  Elisa sê vir hom: leek leshalom – gaan in vrede! 2 Kon 5:18-19.  Dis asof hy hom toestemming gee om te sondig – of ten minste nie vir hom verbied nie, maar aan God se vrede toevertrou. Hy laat hom net gaan. Ek wil bietjie daaroor nadink oor wat dit vir ons beteken.
8) p105 – God het ‘n opdrag gegee dat die Amelekiete uitgeroei moet word, man, vrou en kind. Die Jode het daarmee geworstel en besluit dat God beter as die mens weet en as Hy so sê, is dit so. Ons weet nie altyd wat Hy weet nie. Dit het hulle ook daarby gebring dat hulle slegte gebeure aanvaar – God weet hoekom dit met iemand gebeur het.  Hulle het dit genoem qiblat haddin – “die aanvaarding van die beslissing”. Dis ‘n soort fatalisme, God het besluit en nou is dit so.  Deist sê ons moet onderskei tussen fatalisme (aanvaarding sonder geloof) en vertroue (aanvaarding met geloof). Ja, ons leef die op en die af met geloof, nie noodwendig met begrip nie.  Dan is daar diegene wat net weier om die slegte te aanvaar, synde teen God se wil, maar hulle hardloop gou in allerhande probleme in, bv. dat dit nie is soos Paulus-hulle dit hanteer het nie, en dan werk dit prakties ook nie vir hulle uit nie.  Dit werk net nie so nie.
9) p125 – hy praat hier oor Prediker, wat so dikwels gevind het dat die lewe sinneloos is, ‘n gejaag na wind – alles tevergeefs! Die prediker kan nie die lewe se raaisels verstaan nie. Alles maak nie sin nie. Dit bly ‘n enigma.  Dan besef hy dat hierdie enigma God is – GOD is die Enigma, die Paradoksale wat nie sommer deur ons uitge-figure kan word nie.  Ons hele lewe is een groot verhouding (en soms ‘n worsteling) om HOM te probeer verstaan.  Ons verstaan wel iets, maar nie alles nie. DIt lei ons na geloof toe, vertroue.