Monthly Archives: Oktober 2015

Sewe dae sonder son – Murray Janson

Sewe dae sonder sonSewe dae sonder son – Murray Janson (1970, NGK UItgewers)

Nog ‘n boekie wat ek by die blubluteek opgetel het vir R2 – soos my kinders dit genoem het toe hulle klein was. Dit ook deurgelees so in die bed, bad en op die strand (ek was die somer nog net een keer op die strand, eergister of so toe dit so super warm was en alle rekords vir hitte in die Wes Kaap oortref is, een plek (Viljoensdrif?) sommer 46.9 grade.  Heerlike strand-dag, min mense, wat ‘n voorreg!). Aardverwarming is ‘n feit, maar gaan ons minder krag verbruik? Natuurlik nie, sit eerder die aircon vir ons aan.

Murray Janson is die vriendelike en sagte oom  (NG leraar) wat al die jare in die Huisgenooit advies gegee het in “Sake van die Hart” – goeie, geestelike dominee-advies.  Nie soos deesdae se Antie Mona-advies wat jou in jou tee laat stik nie – die kan jy mos net lees as niemand by is nie. Ds. Janson sou haar skrywers darem kappitel het, hoor – met die dat hulle so oor die tou trap, meer as een keer selfs, so voor die huwelik. Hy was ook die skrywer van verskeie boeke, van stigtelike en pastorale aard.  Hierdie boek is geskryf toe ek in St 1 (Gr 3) was en die taal is vreeslik outyds: dis net Christus se tere dade en heerlike woorde oral… vandag gelees dat Christus ‘n kruisdors gehad het omdat Sy lewenssappe Hom ontpers is – dis verstommend, ons praat en skryf duidelik in ‘n baie meer eenvoudige en reguit taal.

Met dit alles gesê was die boek baie goed.  Die inhoud gaan oor die laaste sewe dae van Jesus se lewe – die sg. Lydensweek – en Janson spel presies uit wat elke dag gebeur het en plaas dit in Bybelse konteks.  Ek gaan beslis hierdie boek gebruik vorentoe vir dagstukkies of dalk ‘n kursus oor die lydenstyd.

Ek moet regtig by my ernstiger boeke uitkom – ek het Willem Nicol se boek oor Paulus gekoop by CUM… sien uit.  Daar is inderdaad mense wat dink jy moet mal wees om ‘preke’ te wil lees, maar hei – that’s what I do.  Ek lees darem fiksie ook tussendeur, sci-fi, Deon Meyer, enige-iets wat darem meer om die lyf het as die Ena Murray tipe romanse – praat van vervelig!

Advertisements

Die Braambos Brand

BraambosDie Braambos Brand – CJM Nienaber & M Nienaber-Luitingh (Tafelberg, 1987)

Terwyl ek eintlik ernstiger boeke het wat vir my wag, lees ek hierdie boek: R2 by die biblioteek se “Verkoop”-tafel (my nuwe gunsteling boekplek).  In elk geval, dis ‘n versameling geestelike gedigte in Afrikaans, van al die bekende Afrikaanse digters.  Ek is eerlik as ek sê dat ek nie alles goed gevind het nie.  Dis vir my outyds, of baie algemeen – half vervelig.  In die begin moes alles skynbaar rym en dit maak die gedig dood – wel, soms.  Ek dink die samestellers (lyk my na ene Nienaber en sy vrou of dalk suster) wou stroperigheid vermy, maar dit makeer (soos ons hier in die Kaap sê) aan geestelikheid, diepte, passie!! Dit gaan dan natuurlik net tot 1987, wat soos donkiesjare terug is – dit voel dus seker noodwendig outyds.  Ek sou graag die geestelike poësie ná dit wou lees.  Hei, dalk moet ek dit saamstel – en dan gooi ek my eie digsels ook daarin!  Ek het wel baie verse of reëls gemerk, wat ek dalk iewers kan gebruik – ek het byvoorbeeld gehou van Donald Riekert se “Gebed”:

In die stil donkerte

van die veld roep

die kiewietjie beangs, en

God se volle maan

gaan oop

soos baie blomme

Ja, dis mooi – en so eenvoudig.  Ek sien (1) die gedig is in twee dele, met ‘n komma geskei – die eerste deel is die kiewietjie in die donker, en die tweede is God en sy helder maan, dis die ; (2) die natuurbeelde – baie soos Jesus; (3) Ek en jy is mos die kiewietjie wat beangs roep, né; (4) die roep bewerk die opkoms van die maan, oënskynlik – ons kan maar skree; (5) die “volle maan” “gaan oop” “soos baie blomme” wat die donkerte verdryf : dis soos ‘n skildery wat mens voor jou kan sien.  Die maan gaan nie “op” nie, maar “oop”.  (6) Die maan laat die kiewietjie verwonderd opkyk.  (7) Daar’s vir my ‘n vreemdheid in die feit dat die maan “soos baie blomme” lyk, maar dis sagte, mooi beelde en daardie vreemdheid is tipies van wat die kuns wil doen (laat jou dink) en hoe die Here werk (Hy werk altyd anders as wat jy dink). Anyway, die meeste mis ek seker – te dom.

Ek skryf mos self nie-eintlik-regte-gedigte-nie – en persoonlik dink ek dis goed, ten minste sommige (kyk elders op hierdie blog onder “Digsels en Bidsels” – kliek hier) – ek is vas van plan om dit te publiseer en ‘n killing te maak en ‘n groot oorsese reis met die opbrengs te onderneem, maar my faam sal my vooruitgaan en op lughawens en hotel-foyers sal die ‘groot Afrikaanse digter’ voorgekeer word vir sy handtekening en sal mense my hulle eie simpele pogings stuur, ten einde in my deurlugtige spore te probeer volg – wat nie so maklik is as wat hulle dink nie.  Publiseerders kan solank nader staan, maar my kommissie-struktuur is streng, wees gewaarsku.

Ag, ek moet seker maar met my werk begin.


binnekamer

binnekamer

Kom weg, kom weg, kom eenkant –

sluit die deur, sluit jou oë, sluit jou af,

alleen: asem in, asem uit, ontspan…

fokus af, word stil, steek aan

my hart: brandend,

wagtend,

wagtend,

wag

op

U

.