Monthly Archives: April 2016

El Elohe Israel

El Elohe Israel
Gen 32-33 | 25 Mrt 2016

O God van Jakob, wat in sy angs
U aangegryp het en by Jabbokspruit
U nie wou los nie tot U hom geseën het.
U seën hom wel en sê sy naam is Israel,
omdat hy met God geworstel en oorwin het.
God van my vader, ontmoet my ook by Pniël,
ja, daar in die donker drif, en laat die Son
daar opkom, van aangesig tot Aangesig,
en sal U my behoue bring tot Sigem,
heil’ge grond, ontmoetingsplek met
God, die God van Israel:
my Vadersgod is God,
die God van my verbond,
my God
is U.
Amen.

Advertisements

Naam bo alle name

17 Mrt 2016

Naam bo alle name,
as ek dink ek het U vasgevat
– U op u Naam betrap –
het ek U weer verloor.
U is groter as u grote Naam,
groter as u Name saam,
as al die name wat bestaan!
Maar u Naam en name saam
is vensters vir u onbeskryflikheid,
is woorde wat die Lig omraam
wat na my reik. Amen.


Counter Culture (David Platt)

Platt

Sjoe, ek het lanklaas iets oor my leeslys geskryf. Ek is tans so besig om nuwe kursusse en reekse te ontwikkel en het ook ‘n manuskrip ingehandig by CUM.  Ek het lekker boeke wat vir my wag… Iemand het my gevra om my opinie oor hierdie boek.

David Platt, 2015, Counter culture. Tyndale

David Platt skryf ‘n verdediging van die tradisionele, evangeliese beskouing oor verskeie sensitiewe kwessies soos armoede, huwelike, rassisme, seks-slawerny, immigrasie, aborsie, seksuele morele kwessies soos pornografie en homoseksualiteit. Hy beskryf dit as die ‘Bybelse’ benadering tot hierdie kwessies, maar dit is natuurlik veral die evangelical verstaan van die Woord hieroor, met daardie spesifieke uitlegte en beklemtonings.

Platt begin met ‘n uiteensetting van die evangelie en hy plaas die klem tereg op die groot sonde, nl. dat die mens self God wil wees, sy eie reëls maak en sy eie ding doen.  Vandag steeds – soos die eerste mense – wil ons self besluit wat goed en kwaad is, en vra ons vrae (in ons gesprek met die vyand) oor of God se gebooie inderdaad so is soos dit is, en of dit ooit redelik of logies is. Dit is inderdaad wesenlik dat ons in al hierdie dinge GOD se wil probeer onderskei. Sy Woord is die getuienis van sy wil, en dus ons bron in al hierdie kwessies. Terselfdertyd gee die Bybel nie die antwoorde pasklaar en gereed nie – ons moet dit op geldige wyse uitlê, eksegetiseer, onderskei, aflei en toepas.  Dis waar ons van mekaar verskil, en ons moet eintlik meer nederig wees as om die wat van jou verskil nie langer Christene te noem nie, maar ‘Christene’– soos hy doen. Christene is dikwels vermetel op hierdie manier.  Elke kerk baseer sy beleid op die Skrif, hoor – nie net die Bible-believing, soos hulle hulself noem, kerke nie.

Dit is waar dat die kerk kontra die kultuur bestaan, want die koninkryk van God is ‘n alternatiewe gemeenskap as die wêreld. Ons leef ‘n ander lewe as die wêreld en Platt is reg as hy daarop aandring dat Christene inderdaad anders moet wees – NIE dieselfde nie.  Hy is reg dat daar ‘n geweldige druk op die kerk en Christene is om die wêreldse waardes en moraal te aanvaar, OF andersins uitgestoot te word.  Daar is inderdaad ‘n spanning tussen kerk en wêreld en dit moet ook so wees. Wat ek mis in Platt se boek is ‘n dieper bespreking van kerk en kultuur. Dis immers ‘n groot tema vandag en dis asof Platt nie baie opgelees is daaroor nie. In ons missionaliteit gaan ons na ons kultuur (en ons is nie anti ons kultuur nie, maar pro ons kultuur, want dis ONS kultuur) en ons taak is om IN daardie kultuur dit te bedien en te redeem en te deursuur met God.  Ons moet juis baie praat oor wat dit behels.

Wat betref Platt se temas, die volgende:

  1. Oor armoede, weduwees en wese, seks-slawerny, pornografie, rassisme, godsdiensvryheid en evangelisasie kan mens maar net saamstem, glo ek. Dis egter onsinnig om seks-slawerny en allerhande euwels aan die ‘kultuur’ gelyk te stel. Dis nie die kultuur nie, dis misdaad – selfs die mees ongelowige persoon is daarteen. Christene in Amerika is self super skuldig aan obsene rykdom, vermorsing, oppervlakkige materialisme en so aan.
  2. Hy moes ook eintlik die kultuur se misbruik van die aarde ook genoem het, maar evangelicals is tipies nie so begaan daaroor nie.
  3. Oor aborsie stem ek ook saam. Dis “vrye seks” of casual sex wat die oorsaak is, maar dis die onskuldiges wat die prys moet betaal – met hulle lewe. Daar MOET ‘n beter oplossing wees! Terselfdertyd is die saak moeilik en soms sal daar abosies moet wees.  Dis ook moeilik dat die mense (in Amerika) wat pro-choice is, ook die hawks is wat oorlog wil maak, wat wil platskiet, by wie daar allerhande rassisme en arrogansie is.
  4. Oor die huwelik is ek ook eens, want hier is ‘n groot, groot probleem. As dit in die Bybel oor seksuele moraal gaan, is die groot tema getrouheid en egskeiding. Egskeidings onder evangelicals is bo die gemiddeld, slefs meer as enige godsdiens, ateïsme in gesluit. Iets is nie reg nie – maar die kultuur is inderdaad so dat mense nie meer trou nie. Nogtans is daar min of geen optogte en aksies teen egskeiding. Ek dink ook dat die huwelik iets is tussen man en vrou. Ek stem nie 100% saam met Platt oor sy verstaan van hoofskap en volgelingskap nie.
  5. Oor homoseksualiteit handhaaf Platt die tradisionele standpunt. Dieselfde uitleg en dieselfde gevolgtrekking: wees selibaat. Hierdie benadering ontwyk heelwat van die kompleksiteit van die saak. Strydig met wat hulle glo is daar ook dikwels ‘n lukrake toepassing van wat ons in die Skrif aanvaar en wat ons los, wat kultureel is en wat essensieel, wat morele wet is en wat kulties. Dis moeilik as ons self daardie lyne trek – as ons ten minste daaroor kan praat.

Kortom, die boek is passievol, maar fundamentalisties. Dit maak geen voorsiening vir grys areas nie. Dis ons teen die kultuur: the lines are drawn.  Die Christene is die soos hy, die ‘Christene’ is die uitverkopers. Daar is min begrip of waardering vir hoekom die kultuur is soos dit is, want dis veral die gevolg van ons individualisme, veral Amerikaanse individualisme.  Dis die logiese gevolg. Die Bybelse kultuur van in-gemeenskap-leef is heeltemal anders.  Daar is ook te min intelligente bespreking van hoe Christene hulleself in ‘n kultuur tuisvind. Onthou dat die Christene hulleself aan die begin ook in ‘n heidense kultuur bevind het. Ons soek nou ‘n ‘Christelike kultuur’, maar dis nie meer Christelik nie.  Hoe leef ‘n mens? Onttrek? Boedel oorgee? Wat lê tussen-in? Hoe handhaaf ons die spanning?

Platt beredeneer nie eintlik die tema of die spesifieke kwessies deeglik nie.  Hy preek eerder sy weergawe en basta. Hy konstateer eenvoudig die Bybelverse, met min uitleg of konteks. Hy maak staat op die krag van voorbeelde.  Ek dink nie eers dis ‘n goeie apologetiese handboek vir evangelicals om die wêreld mee te engage nie. Dis tipies Amerikaans – bietjie vlakkerig, maar wêreldwyd bekendgestel met reuse bemarking.

Ek soek persoonlik ‘n dieper werk oor hierdie wesenlike sake, maar ek is seker dat die Here dit kan gebruik en ek bid dat daar daardeur minder euwels sal wees, minder seerkry – en meer mense wat Hom dien.