Monthly Archives: Mei 2016

Is die Bybel betroubaar? Adrio König

AdrioIs die Bybel betroubaar? Adrio König (CUM, 2013)

Adrio König is Julian Muller, wie se boek ek laas gelees het, se aartsnemesis, kan jy maar sê.  Hulle vat mekaar aan in hulle boeke. Ek het altwee hulle boeke saam van die uitverkoop- tafel af gekoop.  Hierdie boek het ek grootliks in die bad gelees, maar gelukkig het hy – soos van my ander – nie in die water geval nie… haha

Hierdie boek se bedoeling is om te wys dat gelowiges maar die Bybel kan aanvaar.  Daar is immers baie kritiek deesdae oor die Bybel, oor gelowiges, die kerk en sommer geloof oor die algemeen.  Die gelowiges is lekker dom om te glo en die Bybel is immers vol foute.  Dis die tipe ding wat Adrio aanspreek. Die einde is ‘n soort Bybelkunde-handboek van ‘n inleidende aard.  Hy beskryf die ontwikkeling van die Bybel, inpirasie en kanon, uitlegteorie (hermeneutiek) en uitlegpraktyk (eksegese) en maniere van Bybellees.  Meer spesifiek was die volgende interessant:

Daar is inderdaad allerhande verskille in die Bybel. 

Dis nou maar feite. Adrio bespreek bv. vele verskille tussen die evangelies.  Dit is wesenlik en beduidend. Die evangelie-skrywers het elk vir verskillende lesers geskryf en dus die klem verskillend gelê. Hulle het elkeen ‘n storie vertel van iets wat veertig jaar of meer jare vooraf gebeur het. Hulle storie is wesenlik korrek, maar die details wissel (soos dit maar met vertellings gaan).  In hulle tyd het hulle nie gedink hulle skryf “geskiedenis” nie, maar hulle wou eerder ‘n  oortuigende verhaal oor Jesus skryf, wat natuurlik ook  wesenlik korrek is. Ons kan dit ook so aanvaar. Van die verskille en probleemtekste wat Adrio – ek noem hom maar so uit suiwer “bekendheid”, almal ken hom, maar hy ken my nie – bespreek, is:

  • Wat Jesus “werklik” gesê en gedoen het in ‘n paar voorbeelde
  • Die geboorteverhale van Jesus en die opstanding
  • Die skepping (Gen 1-3 e.e.) en evolusie
  • Job se “satan” of “aanklaer”
  • Uitverkiesing (baie is geroep, min is uitverkies)
  • Die plek van die vrou
  • Hoe lees ons die Ou Testament

Die boodskap is geïnspireer, nie elke woord en letter nie

Adrio glo ons moet die BOODSKAP van die Bybel onderskei van die agtergrond, die kultuur, ens.  Die boodskap is die feit dat God alles geskep het, dat die mens sondig is, dan gaan dit oor Abraham, die verbond, Israel en later Jesus Christus en die kerk.  Die kwessie van die heil (verlossing) loop reguit deur, en loop ook uit op ‘n sekere toekomsverwagtings.  Hierdie is die hooftemas van die Bybelboodskap en hulle word so geag omdat dit temas is wat oor en oor in die Bybel voorkom, in verskillende verbande, dat dit teologies belangrik is en op een of ander manier met Christus verbind is. Hy bespreek hulle een vir een en verduidelik WAT by elkeen die Bybelboodskap is – en hoe dit gegroei het. Dit is interessante temas en interessant hoe hy die Bybel daaroor uitlê, iets waarop mens kan teruggaan.  DIT – die boodskap – is wat geïnspireer is, nie elke woord en letter nie.  Wat Adrio dus sê is dat geen van die verskille of probleem-tekste die hoofboodskap raak nie.  Dit gaan oor detail en ons hoef nie te bekommer dat verskille in die Skrif voorkom nie – dis eintlik natuurlik en bevestig op sy eie manier eintlik die egtheid van die geskrifte. Die benadering wat hy voorstaan is ‘n ‘inhoudelike inspirasie-leer’.

Hulle het ‘n ander Bybel gehad as wat ons dink

Dis interessant dat die apostels en skrywers van die Nuwe Testament nie uit die Hebreeuse Ou Testament aanhaal nie, maar uit die Griekse vertaling daarvan.  DIT – die Septuagint – was eintlik hulle Bybel.  Hulle het geglo dit is ewe gesaghebbend as die Hebreeuse Skrifte, en dit het natuurlik meer boeke gehad, want die sg. ‘apokriewe boeke’ was ook deel daarvan.  Omdat ons nie die apokriewe boeke lees nie, verstaan ons nie die relatiewe groot verskil tussen die Ou en Nuwe Testament nie.  Dit het die denke van die Nuwe Testamentiese Jode baie gevorm.  Ons moet dus noodwendig ons siening van die inspirasie verruim, volgens Adrio.  In Bybekse tye was dit ruimer!

Ek stem nogal meestal saam met wat Adrio sê.  

Onhou, sy benadering is allermins liberaal – hy is eintlik ‘n redelike konserwatiewe teoloog, wat altyd die Bybelse weergawes en tradisionele geloof verdedig (maar nie fundamentalisme nie), maar hy is ook oopkop en wetenskaplik.  Hy is nie ‘n tipiese Calvinis nie – trouens, hy kritiseer baie Calvinistiese goeters.  Ek is mos self al redelik post-gereformeerd.  Hy het al baie roeringe gemaak met sy standpunte.  Baie hou nie van hom nie.  Sommige dink wel hy is liberaal… van waar hulle staan. Ek het egter beslis weer iets geleer. Ek sou egter ander beklemtonings maak op verskeie punte – maar dis nou maar so. Hy bevestig egter die Bybel as die gesaghebbende bron van ons geloof.

Hei – dis mos goed.

Advertisements

Om te mag twyfel – Julian Müller

Om te mag twyfelOm te mag twyfel. ‘n Gelowige se reis – Julian Müller (Tafelberg: 2011)

Jip, bargain bin

Ek sien hierdie boek al lank en wou hom al koop, maar wou ook nie – en het toe ook nie, maar toe ek hom nou hier sien, koop ek hom.  Toe’s die prys reg, kan jy maar sê. Prof Julian Müller van die NGK se Kweekskool te UP was vroeër in die nuus omdat hy so “liberaal” is, en ‘n hele kampanje is teen hom geloods en die bekendste ding is dat hy op die radio geweier het om ‘n eenvoudige ja of nee te gee op die vraag of die graf van Jesus leeg was na die opstanding.  Toe was dinge nou eers hetig.  Baie wou hom uit hê, maar amptelike kerklike ondersoeke het hom onskuldig bevind op enige dwaalklag.

Hy skryf toe hierdie boek om sy kant van die saak te stel, hoe dit hom geraak het, ens. en hoekom hy glo soos hy doen – ook oor die opstanding.  Ek leer hom in sy boek ken as ‘n sensitiewe en diep persoon, selfs diep geestelik, wat baie nadink en ernstig is oor God en Christus.  Jy kan sien die aanvalle het hom seergemaak. Ek sou graag met hom wou koffie drink, want hy lyk vir my soos die tipe man met wie ek kopstukke kan gesels.  In sy boek het ek egter ook agtergekom ons is nie dieselfde nie.

Ek neem nie meer deel aan internet-gevegte nie

Dis moeilik om te reageer op die boek, want ek stem met dinge saam, maar ek verskil ook van ander, en dan het ek weer iets opgemerk oor die algemene aard van ons diskoers onder mekaar.  Laat ek iets daaroor sê.  Ek het opgehou om op die internet deel te neem aan kommentaar op politieke berigte, want dis ‘n mors van tyd.  Daar is twee faksies wat mekaar probeer doodskree: die wittes wat skree kom reg en dis alles julle (eie) skuld, kyk net na Zuma en die swartes wat skree onreg, apartheid, disadvantage, disrespek, racism, white superiority, ens.  Volgens my deel elkeen darem in een ding en dit is ras-stereotipering, ras-vooroordeel, selfs rashaat.  Elkeen het sy unieke verwysingsraamwerk en taal en basuin dinge na mekaar toe uit wat die ander in die ewigheid nooit sal hoor nie.  Dis soos dowe mense wat op mekaar skreeu.  Hier en daar is daar ‘n goeie siel (ek behoort tot diesulkes) wat tussen-in kom en sê maar kyk, hierdie Kuli of hierdie Stefanus bedoel iets geldig, maar hulle word spoedig uitgeskree.  Nee wat, dit moet sommer verbied word.  Dit doen meer skade as goed.

My toepassing op hierdie tipe boek van Julian (mag ek met alle respek maar Julian sê, dit voel al ek ken hom?) is tweeledig:

Ons maak stereotipes en stel strooipoppe op

(1) ons maak stereotipes, strooipoppe eintlik, en skiet dit dan af.  Dis so maklik en so algemeen: die godloënende evolusionis teenoor die regsgesinde pro-war fundamentalis.  Die ondermynende liberale teoloog en die opregte gelowiges. Die ongeredde NG’s en die geredde AGS’e. Die brabbelende charismatic en die tree-hugging social gospel aktivis. Katolieke wat beelde van Maria aanbid en swaarmoedige Calviniste wat net uit Job lees en hul ellende aan die Voorsienigheid toeskryf.  Dis alles stereotipes.  As jy werklik met mense begin praat, vind jy dikwels hulle is intelligent en redelik (maar baie is nie, né) en hulle het ‘n rede (letterlik ‘n Bybelse redenasie) hoekom hulle doen wat hulle doen.  In alle gevalle is dit hulle dodelike erns. Julian was beslis die objek van sulke stereotipering, maar hy stereotipeer self ook, as hy bv. aan die einde onderskei tussen teïstiese Christene vs. postteïstiese Christene.  Ek vind myself bv. nie by een nie, of by albei, van die kategorieë. Dis uiterstes, pole. Sake is doodgewoon meer kompleks.

Almal moet soos ons wees

(2) Mense verskil en ons dink almal moet soos ons wees.  Wat betref die Christelike geloof moet ons aanvaar dat daar baie variasies is en dat dit ook verband hou met mense se kulture, kontekste en vele subjektiewe en objektiewe faktore.  Hoe de ongeluk gaan ons almal dieselfde kan dink?  Nogtans is elkeen op sy eie perd besig om die ander te oortuig dat HY eintlik reg is en dat almal nou dadelik moet ophou glo soos hulle doen – alhoewel dit vir hulle ten diepste “werk” – en dat hulle sy spesifieke geloof moet aanneem.  So wil die konserwatiewes hê Julian moet die bekering van sy tienerjare herontdek en saam met hulle kom praise & worship en hy dink nou weer hulle sal beïndruk word deur sy diep teologiese argumente en dan hulle bygeloof en verduistering laat staan.  Not gonna happen!  Geloof word in elk geval nie oorgedra deur argumentvoering nie – dis ‘n hart-saak, ander dinge het daarop ‘n invloed (die verstand net ‘n bietjie). Ek self is redelik liberaal in my kringetjie (maar wie weet, dalk is ek baie konserwatief – Julian self sê hy is g’n “liberaal” nie), want ek is immers baie post-modern (en post baie ander goed), aanvaar wat die wetenskap ons leer oor die skepping en die mens en is g’n fundamentalis nie (van die lelike soort, elke woord het soveel konnotasies, mens kan amper nie meer praat nie).  Nogtans WIL ek glo soos ek tans glo, dis wie ek is, dis wat ek nodig het, dis my journey – en ek WIL nie soos Julian dink en glo nie, dit voel vir my vreemd en ver en Godloos en sinneloos en ek glo nie dit alles nie, want ek HET wonders sien gebeur, en beleef die Here op my piëtistiese manier en “gereformeerde geestelikheid” is my ‘n kontradiksie-in-terme (ek oordryf, natuurlik) en teoloë bymekaar vermy ek so graag soos ek supergeestelike tannies vermy (en dis gráág).  Ek is ek en Julian is Julian is wat ek sê.  Bless hom en alles, maar sy boek het my nie geswaai nie, alhoewel ek hom “gehoor” het.

As jy tot hier gekom het, is dit ‘n wonder…

Nou net ‘n paar dinge oor sy boek – en die leser wat nou tot hier gelees het is dapper, of seker uiters verveeld, weet nie (kan sê net wat ek wil, want daar sal niemand wees nie):

(1) Geloofsekerheid: nee en ja

Ek stem saam dat “geloofsekerheid” (p8) nie te veel oordryf moet word nie (die Bybel doen nie), want mense koppel dit aan hulle wispelturige emosies, maar die ander kant is dit: geloof is vir mense hulle anker en dit gee inderdaad vastigheid, sekerheid, rus, vrede.  Anders sou ons wraggies nie tot hier gekom het nie.  Geloof en sekerheid is natuurlik twee verskillende dinge – geloof is tentatief, sekerheid-in-onsekerheid.  As ons die aanskoue het, sal die geloof verval.  Tot dan klou ons aan die geloof vas, in geloof kan jy maar sê – en ons mag twyfel, natuurlik, dan vertel ons ons twyfel vir die Here.  Ek is egter seker – in geloof – dat my geloof die beste ding vir my is en dat my toekoms en einde by Hom is (m.a.w. dat ek gered is).  Daardie hartswete beteken vir my ontsettend baie.  Ek gaan dit nie weggee nie!

(2) Is ek ‘n dweper, of is jy ‘n dweper?

Oor die “dwepers” (p34) – ek vind intelligente geselskap oor geloofskwessies ook verkieslik bo ‘n kring van “dwepers”, maar ek wonder tog wat dwepers is.  Ek wonder of Julian my dalk ook met daardie kwas verf, gegewe my oorvroom dagstukkies en my trane en my geloof in wonderwerke en die feit dat ek ‘n piëtistiese evangeliese gereformeerde charismatiese Christen is wat kontemplasie doen, in tale spreek en in evolusie glo. Ek kan nie eers noem waaroor ek alles liberaal voel nie. Is ek egter ‘n dweper of is ek nie?  Gee ek ooit om?  Is Julian nie dalk die dweper nie?  Die een se regte en goeie Christen is dalk die ander se dweper.  Ek neem bietjie aanstoot aan die woord. Dalk is dit al die verwerping wat ek uit NG geledere beleef het vir jare. Ons (gereformeerde) kerk was mos vroeër jare ‘n sekte genoem – sleg vir ‘n skoolkind. Ek het hulle egter vergewe en het closure gekry en alles, maar dit sit mos hier iewers.  Dis hoekom ‘n deel van my saam met Julian voel.

(3) Ja, ek dink dit was leeg…

Wat betref die leë graf en die opstanding (p75): Mens moet nie ‘n knee jerk reaksie hier hê nie, maar koel daaroor nadink.  AAN DIE EEN KANT: Christus is die eerste wat opstaan en dan kom ons, aan die einde. Dis een van die betekenisse van die opstanding. Hoe sal ons opstaan? Sal ons liggame fisies uit die grafte herrys en herleef?  Paulus sê dis nie werklik ons fisieke liggame nie, ons kry op daardie oomblik ‘n geestelike liggaam.  Hy sê vlees en bloed gaan nie die ewigheid in nie.  Ek verwag eerlikwaar ‘n fantastiese geestesliggaam wat kan vlieg en alles!  Eerlik. Waarom sal ons dus daarop aandring dat Jesus se aardse liggaam moes opstaan, want dis nie met sy fisieke aardse liggaam dat Hy aan hulle verskyn en verdwyn en deur mure geloop het nie.  Dit was mos ‘n verheerlikte ligaam.  AAN DIE ANDER KANT: die Bybel getuig van ‘n “liggaamlike” opstanding, dat die grafte LEEG sal wees en dit lyk of Paulus daaraan dink dat die aardse liggaam gebruik sal word vir die hemelse, so iets.  Laat ons maar eerlik sê dis ‘n misterie – Paulus sê dit self en ja, dalk moet ons maar ‘n bietjie nederiger wees oor ons uitsprake.  Die dissipels getuig egter onomwonde dat die graf leeg was en ek glo hulle, veral omdat ek glo God KAN dit doen.  Kom ons wees eerlik: word dooie lyke weer na drie dae lewendig? Nee. Is dit wetenskaplik moontlik? Glad nie. Glo ek Jesus het uit die dood opgestaan, dooie liggaam en al? Ja, ek doen! Ek moet die ruimte laat dat God die onmoontlike doen, want Hy is God. Dis my verstaan van Hom. Julian noem Hom dan self die “Altyd Moontlike” – nie die Onmoontlike nie!  Of ek dit verstaan of nie, of ek dink sulke dinge gebeur of nie, ek glo dat dit in Jesus se geval gebeur het. Mens moet darem bysê dat Julian ‘n groot voorstander van die opstanding is , maar hy beklemtoon dat die verskyning van Jesus aan mense die bewys van die opstanding is, nie die leë graf nie. Dis asof die gedagte dat ‘n dooie liggaam na drie dae opstaan net te veel is om te glo, maar hy wil die opstanding handhaaf.  Ek sukkel egter bietjie met die argument, want dis tog asof hy glo dat Lasarus lewend geword het.

Ek het wel ‘n broertjie dood aan wetenskaplikes (ek sê nie dis hy nie) wat die empiriese benadering net so op geestelike dinge wil toepas.  Jy kan net sowel God met ‘n liniaal wil meet.  God is per definisie onbewysbaar (op die manier). Hy word deur die geloof gevind en geloof werk eenvoudig nie so nie. En om geloof as ‘n ander magisterium te sien as die wetenskap, wat ewe geldig is, maar nie onderhewig aan die bewyslading van die wetenskap nie, maak dit nie BYGELOOF nie (p122), dis GELOOF. Trouens, dis presies wat geloof is. Julian beklemtoon self die misterie-aard van baie goddelike dinge en wys die dwingende en reduksionistiese logika daaroor af.

(4) Moet die kerk waai?

Hy voel soms dat die kerk (en georganiseerde godsdiens) eerder van die toneel moet verdwyn (p87), want daar is soveel baggage (en laat ek byvoeg irrelevansie, magspel, seerkry ens.) maar laat ek maar net in sy oor fluister dat sulke uitsprake kan maak dat hy teenstand kry in die kerk, want hy lei mos predikante op van die kerk (waaraan hy nie meer baie glo nie).  Dis soos sales reps van Nike wat in hulle opleiding geleer word dat hulle maar moet gaan tekkies verkoop, maar tekkies maak in werklikheid geen verskil aan prestasie nie, trouens dis dalk nadelig.  Ek self glo die kerk in sy huidige gedaante het baie werk voor – baie! – maar in wese glo ek aan die kerk.  Maar ek glo hy doen ook.

(5) Gaan ons nie Eendag weer ontmoet nie?

Ek was verbaas dat hy dit as totaal onbybels afskiet dat pastore op begrafnisse suggereer (p113) – ek is seker dominees doen dit ook – dat ons almal in die hiernamaals weer herenig sal wees daar by die Here.  Hy sê eenvoudig die Bybel leer dit nêrens nie.  Dalk glo hy nie aan die voortbestaan van die “siel” nie, of dalk glo hy die “ewige lewe” gebeur intens persoonlik.  Ek weet nie, vir my is daar genoeg suggesties in Jesus se woorde en verder in die Nuwe Testament dat ons in die hiernamaals van mekaar bewus sal wees. Ek gaan nie nou daarop in nie, maar ek glo dit graag!

(6) Tentatief of entoesiasties panenteïsties? Het so gedink!

Ten slotte (ek skip sommer ‘n klomp punte): teïsme en panenteïsme.  Ja, soos gesê word al die ou teïstiese Christene (die 90+ % gelowiges wat glo dat God buite die wêreld om bestaan, maar daarop ingryp) m.i. gestereotipeer. Dis vir my strooipopperig. Hulle is die slegte ouens wat in die briewekolomme van koerante ook maar meestal die wrap kry. Ek is wel ‘n voorstander van die panenteïsme – soos ek dit daar lees – nl. dat God in alles is, maar ook groter as alles is.  Dis mos waar! Sy immansie EN sy transendensie word beklemtoon.  Ek stem eintlik saam met en doen (al vir jare) die dinge wat die “postteïstiese” Christen glo, volgens Julian, maar dit sluit nie vir my uit dat God in die wêreld ingryp nie, of in my lewe ingryp nie, of die natuurlike orde versteur NET soos Hy wil nie. EK glo wel daar is dalk meer – wêreldbeskoulik en teologies – agter dit alles en het nog nie so goed daarop ingegaan nie.  Ek handhaaf my panenteïsme dus tentatief.

Ek dink dis nou genoeg.  Regtigwaar! Die uur wat ek hieraan wou spandeer is nou al drie ure.

Slotsom: ek is ek en Julian is Julian en ek dink koffie saam sou nice wees.


Mariza van Zyl – Dik vir Dieet

Dik-vir-Dieet-1000Mariza van Zyl – Dik vir Dieet (2016, Naledi)

Mens is regtig moedeloos met boeke oor gesond-eet, want dis vir my duidelik dat kenners nie meer ‘n clue het nie.  Elke kenner is natuurlik oortuig van sy standpunt, dis vir seker, maar die standpunte loop nou so deurmekaar en teen mekaar dat ek persoonlik totaal verward is.  My een dokter raak angstig as my cholesterol nie onder 5 is nie, en my ander dokter reken 7.2 is ‘n heel “normale cholesterol vir ‘n man van jou ouderdom”.  Syne is ook daar en dit pla hom min.  Ek het ‘n dokter wat op ‘n kursus langs my gesit het twee vrae gevra, nadat sy by Tim Noakes se konferensie was: (1) veroorsaak versadigde vette in jou kos hoë cholesterol in jou bloed, en (2) gee hoë cholesterol in jou bloed jou ‘n groter risiko vir hartsiektes?  Haar antwoord: “op albei vrae, waarskynlik nee”.  Dis nou Tim Noakes hulle wat die hele cholesterol-ding op sy kop wil draai.  My (ander) dokter sê weer “kyk, dis goed nagevors” – drink jou statiene.  Steeds is elke produk op die rak trots “Lae Vet” en eet ons margarien dat dit bars, want dit het die amptelike hartmerk van gesondheid.  Dis totaal teenstrydig!  Ek kon vandag letterlik nie volvet joghurt kry nie (vir een van Maryke se koeke), lyk my nie dit bestaan nie, alles is Lae Vet, of nog beter Vet Vry. Dis ironies dat juis daardie “gesonde” laevet-produkte nou as ongesond beskou word en heeltemal vermy moet word.  Noakes-hulle het immers ook lêers en lêers vol navorsing wat hulle aanbied in hulle saak.

Nou ja, dis hoekom ek hierdie boek gekoop en gelees het.  Ek moet sê, dit was heel interessant.  Ek stem saam met Mariza dat (1) mens dieet-raad by ‘n dieetkundige moet kry, en nie by ‘n dokter nie, want dis twee verskillende velde en (2) dat mens maar alle “diëte” moet vermy, insluitende Banting.  Trouens, sy vat ‘n hoofstuk en skiet hulle almal uit die water, lae GI-dieet, die Mediterreense dieet, kilojoule-tel dieet, alles!  Elkeen het nadele, maar darem ook voordele.  Sy is ook teen dogmatiese “voorstanders” van sekere diëte – wat hulle dieet-evangelie hand en tand verkondig, tydig en ontydig, soos Paulus sê, alhoewel hulle eintlik min opleiding en insig in die veld het. Ja, dis baie irriterend. Dit werk vir hom en daarom SAL dit vir my ook werk, en MOET ek my ook nou bekeer, soos hy nou laas week gedoen het. Verkeerd op ‘n paar punte!  Die rede is eintlik dat die saak telkens meer ingewikkeld is as om maklike reëls te maak, bv. om ‘n hele voedselgroep uit te sny. Haar benadering is (eenvoudig gestel) bloot om jou produkte en gesonde beginsels te ken en dan “Beter-eet” toe te pas – om die beste keuses te doen, minstens 80% van die tyd.  Hou dinge organies en natuurlik, en so onverwerk as moontlik.

Dit klink baie verstandig.  Nogtans is dit nie ‘n grap om toe te pas nie – trouens, dit kan mens heeltemal moedeloos maak.  Kyk bv. na die volgende “gesonde opsies” wat ‘n ou soos ek sou dink hy doen: soggens All Bran met ‘n piesang, of dalk museli met (lae vet) joghurt.  Dan nog ‘n vrug iewers en vanmiddag een of twee snye brood (saadbrood, of iets lae GI van die winkel), met margarien en kaas, en dalk ‘n snytjie ham vir smaak.  Vanaand aandete verkieslik ‘n bord kookkos, maar dikwels is dit vis uit ‘n pakkie met stir fry, ons maak dit dikwels met oven chips, of op ‘n koue dag spaghetti en mince.  Sulke kos. Ons mag dan maar daarby ‘n bier of glas wyn drink, as daar iets in die kas is, so nie Diet Coke – vermy mos suiker.  Nou ja, as jy dink so ‘n ou eet gesond, het hierdie boek vir jou slegte nuus.  Met so ‘n slegte dieet is jy op pad na groot probleme!  Wat nog te sê van mense wat witbrood en polonie eet, of jam of stroop op hulle brood sit, of Rice Crispies eet in die oggende? Met hulle gaan dit nou eers gevaarlik – arme mense!  Die gevolg is dat ek amper te moedeloos is om te eet, want wat ek eet (soos die bg.) is meestal maar op die “minder goed” lys, terwyl ek die name op die “beste keuse” skaars herken.  Ek weet eerlik nie wat daardie goed is nie.  Al wat ek weet is dat daar amper niks is wat mens meer by Pick & Pay of Checkers kan koop nie.  Al daai goed is maar sleg, behalwe nou die groente dalk, maar ai, die hormone en die gifstowwe.

So wat nou? Wel, ek gaan self maar voort om op my eie manier “Beter-eet” toe te pas en dit is dit.  Ek het wel baie geleer oor die verskillende voedselsoorte en sal breedweg iets hier deel – lees maar die boek self – en ek maak geen aansprake op korrekte aanhaling nie, dis soos ek dit verstaan het:

VET EN VLEIS

Dinge is drasties besig om te verander in die dieetwêreld en mens kan nie meer sê versadigde vette is sleg, maar die onversadigdes is goed nie – sy verduidelik die verskil, maar dis heavy organiese chemie en het my spoedig verloor.  Ons het maar geleer dierlike en harde vet = SLEG, en plantlike en sagte vette = GOED.  Jip, dis ingewikkelder as dit, want vleis het altyd ‘n kombinasie van soorte vet en ons het inderdaad versadigde vette nodig.  Sommige onversadigde vette – sekere plantolies – het nou weer te veel Omega 6, sy hou bv. nie van sonneblom-olie nie.

Ons kan dus maar ‘n vleisie eet, en ja, hoender is maar ‘n graad weg van rooivleis – die onderskeid is meer in die kleur as enige-iets anders.  Hoenders, hoor ek, is eintlik minder goed, want die goed is so vol van die hormone.  Mariza hou, lyk my, die meeste van skaapvleis en minste van voerkraal beesvleis.  Die een loop vry en vreet bossies en die ander word gevoer met hoë dosisse groei-stimulante, hormone, antibiotika, ens. wat alles maar net weer uiteindelik in die kos beland en deur ons geëet word. Sy is egter glad nie ‘n Banting-man (vrou) nie, want daar is ‘n plek vir graan, maar sy stem saam dat hoër vet en hoër proteïen diëte ‘n besliste plek het.

KOOLHIDRATE EN SUIKER

Sy maak dit duidelik dat koolhidrate maar suiker is, want alles breek af tot suiker.  Sommige is eenvoudige suikers, soos “suiker” en ander meer kompleks en breek langer af, soos die meer ingewikkelde koolhidrate.  Wat ek hier onthou is dat dit totaal onnodig en sleg vir jou is om enige suiker toe te voeg by enige-iets, want alle verwerkte produkte is klaar gelaai met die suiker.  Alles het mos ekstra suiker in: jou brood, jou cereals (verpakte cereals het baie min voedingswaarde en tonne suiker – iemand noem dit sugary breakfast treats – behoort te vermy, tot op die goeie All Bran), tamatiesous, sop, peanut butter – amper alles – dis soos die tweede bestanddeel.  Lees maar die label.  Dis hoekom die bg. “gesonde dieet” eintlik sleg is, want hulle haal die vet uit die joghurt uit en sit dan die suiker in – en dit geld vir amper alles wat “lae vet” is.

So kry ons helemaal te veel suiker in en ALMAL stem vandag saam dat dit tot ‘n pletora van probleme lei – diabetes, hartsiektes, beroertes, enige ding.  Verfynde koolhidrate (alles met wit meel), ek glo ook wit rys en pasta, het maar dieselfde effek.  Die ding vandag is om jou koolhidrate drasties af te skaal.  Soos in drasties.  Sy noem daar dinge wat jy wel kan eet in die lyn van koolhidrate, maar ek kan nou veral dink aan afgekoelde mieliepap en afgekoelde aartappels – soos in die volgende dag, dan is die GI laag.  Die res het snaakse name en nee, ek dink die winkelbrode (al is dit hoe lae GI, met allerhande goedjies in) maak nie een die cut nie.  Ek dink mens moet jou eie brode bak met ‘n spesiale meel, het vergeet wat, stone ground, maar dan nie ons gewone ou gebleikte en gepreserveerde witmeel nie.  Iets beter.  Ek vra egter – soos met baie van hierdie dinge:  is ‘n winkelbrood waarby semels en koringkorrels en vitamines bygevoeg is nie BETER as een daarsonder nie? Dan is dit mos al ‘n beter keuse?

Mariza se ding is dat jy jou energie kan haal van OF veral vet OF veral koolhidrate OF beide, maar dat albei dan laag moet wees – as jy nou net vet by jou bestaande lekker-eet gaan voeg, gaan jy soos ‘n ballon opblaas en iewers gaan iets bars.  Dis ook altyd opsigtelik hoe min die dieetkundiges reken ons mee oor die weg kan kom – lyk my ons eet minstens dubbel as wat oukei sou wees.  Vir my beteken dit heel eerstens kleiner porsies, dis al ‘n groot stap vorentoe.

Dan nog wat sweetener betref. Oor die algemeen, nee.  Xylitol en sulke tipes (sy het ‘n woord daarvoor) is meer oukei.  Alle tipe gaskoeldranke, versoete sappe en strope is nie goed nie. Sy sê dis moeilik om ‘n plek vir koeldrank in die Beter-eet program te kry.  Drink water.  Ek self gooi darem sap in my water, liewe land.  Koffie en tee is fine (sonder suiker).

SUIWEL EN EIERS

Lyk my niemand het meer ‘n saak met eiers nie – dis feitlik skoon cholesterol (die geel), maar gaan skynbaar nie in die bloed in nie.  Eet soveel jy wil, lyk  my – sy dek dit nie eers nie.  Wat melk betref: soos baie dieetkundiges is hulle nie lief dat volwassenes melk drink nie, maar sy sê hulle baklei verwoed onder mekaar oor die saak – sommige reken mense moet genoeg suiwel inkry vir die kalsium.  Sy is egter duidelik nie vir laevet melk nie – trouens, sy sê die verskil tussen volvet en laevet in een glas is so min dat dit vir hulle as dieetkundiges geen verskil maak nie.  Dis jou keuse en gaan maar net oor smaak.  Interessant, né?  Die ander kwaai geveg onder hulle is die van botter teenoor margarien.  Lyk my daar is letterlik geen uitslag nie, elkeen het voor- en nadele, maar Mariza maak duidelik dat sy botter verkies, maar spaarsamig.  Margarien is ‘n hoogs verwerkte produk.  Joghurt dan nou nie die versoete soort nie – klink of sy dink aan werklik natuurlike joghurt van ‘n soort wat mens nie by die supermark kry nie.  Wat kaas betref is die reël fermentasie – hoe langer verouderd, hoe beter.  Beleë cheddar, brie, camembert, ens. is beter as jong kase.  Dit gaan nie oor hard of sag nie.  Ek ken egter nie al die kase se name wat sy noem nie – is nie ingelyf genoeg nie.  Alle fermentasie is wonderlik vir die derm, maar snaaks gesnoeg sluit dit nie bier of wyn in nie!

DIE RES

Wat is daar nog?  Nou ja, almal weet soveel as moontlik GROENTE, nie so baie van die aartappels en patatas nie, eerder van die koolsoorte – kool is superkos (saam met bone, lensies en spruite – dis skynbaar baie gesond om winde te los). Mens moet elke dag kool eet, sê sy heel letterlik.  Groente is hoe kleurvoller hoe beter, hoe witter hoe slegter, lyk my. VRUGTE is so-so, lyk my – sommige is maar soet, ander is weer vol gif gespuit.  Was alles af!  NEUTE natuurlik elke dag ‘n handjievol – lyk nie of sy so kwaai onderskei tussen grondneute en boomneute nie, want die Banting-mense haat peanuts, om een of ander rede.  Nou ja, met die bg. kry jy darem die nodigste vette, koolhidrate, proteïne, vitamiene, minerale en die ander fito-goetertjies in.

Soos gesê, lees maar self die boek.  Ek is bly ek het dit gekoop – want ek is nou op die hoogte van die state of the art van die dieetkunde.  Sy glo gelukkig dat mens darem minimum 80% goed moet probeer eet (natuurlik hoe meer hoe beter), maar as jy dan 20% nie so goed kan nie, sal jy skynbaar tog survive.

Hoe lus is ek nou vir ‘n sny appeltert met koffie!

Ns.

Nog iets wat mense moedeloos maak aan eet (die 4de keer dat ek die woord gebruik en hoe jammer dat dit nou met kos moet assosieer) is dat mens nie die verbande heeltemal reglynig kan deurtrek nie – d.w.s. tussen dieet en gesondheid. Sommige mense eet “verkeerd” maar lekker en word baie oud en ander eet “gesond” en ontsê hulle baie dinge en gaan dan vroeg dood. Ek ken hulle persoonlik!  Om op ‘n sekere manier te eet waarborg dus nie werklik gesondheid nie – daar is te veel random faktore betrokke.  Ek glo darem dit waarborg dat jy – n.a.v. ons beste kennis – ‘n beter KANS op gesondheid het.  En dis al iets.


Richard Bauckham – Jesus and the God of Israel

Jesus and the God of IsraelRichard Bauckham – Jesus and the God of Israel (Eerdmans: 2008)

Ek is bly ek’s klaar met die boek.  Het net die eerste hoofstuk gelees, wat vroeër as sy eie boek, “God Crucified” uitgegee is. Ek het die boek gekoop – gelukkig op die afslagtafel – om meer te leer oor die vraag waaroor dit handel: As die Jode dan so erg glo dat daar net een God is en ook dat God een is, hoe kon die dissipels van Jesus sommer vir Hom ook as God begin sien? Onthou die leer van die Drie-Eenheid is eers finaal geformuleer by Nicea in 325 n.C. Sommige reken dus dat die kerk baie lank gevat het – amper 300 jaar – om weg te groei van hulle Hebreeuse basis en onder Griekse invloed die Drie-in-Een God te aanvaar. Bauckham sê nee, van die begin af was daar ‘n “hoë Christologie”, m.a.w. dat Christus eintlik God is wat fisies onder ons kom woon het. Ander sien dit weer so: die Jode het geglo (vandag nog) dat God nie gesien kan word nie, en dat sy verskyning amper iets anders is as sy ware self – dit is sy Shekinach of sy heerlikheid of sy Engel of sy Gees.  Dis nie God self nie, dis ‘n verskyning of manifestasie of projeksie van God – iets wat mense kan gewaarword.  Die Christene het dan begin glo dat Christus so ‘n “verskyning” van God is, volgens hulle.  Bauckham sê daarop ook nee – Christus is God self en basta.  Hy gebruik ontsettende stadige en deeglike argumente uit die Nuwe Testament om te bewys dat Jesus van die begin af die Goddelike “Identiteit” deel, as Skepper en as Heerser. Hulle het Hom eenvoudig beleef as die Joodse God, die Enige God, wat hulle besoek, in Christus en as Christus.

Die boek het my eintlik nie so veel geleer en geïnteresseer as wat ek gehoop het nie. Die res van die boek is verdere hoofstukke wat presies dieselfde punte bewys en hy haal ‘n teks oor bladsye heen uitmekaar en maak lyste en lyste verwysings na die antieke Joodse literatuur.  Ek het gou-gou besef hierdie is eintlik meer ‘n Nuwe Testament handboek vir seminarie-studente – minstens 3de jaars – en ek het my deel mos klaar gedoen, wat dit betref.  Nee, dis te swaar vir eat ek tans lees.  Dit lees amper soos ‘n artikel in ‘n wetenskaplike joernaal. Het jy al daai goed geprobeer?  Glo my, been there, done that, got the T-shirt (en die degree) – dis goed genoeg.

Hierdie boek sal ek vir die kweekskool skenk, dink ek.