Monthly Archives: Julie 2016

Maak jou huwelik affair-bestand – Timothy Kieswetter

Timothy AffairbestandMaak jou huwelik affair-bestand – Timothy Kieswetter (Lux Verbi, 2016)

Sommige mense het darem maar ‘n gawe. Nou die dag vra 93.4fm (Radio Namakwaland), waar ek weekliks saamgesels, my om so ‘n insetseltjie te lewer vir hulle teleton. Ek het toe, heel bereid, iets opgeneem en gestuur. In dieselfde Whats-app groep het Henry Pike, my neef (eintlik my niggie se man) ook SY insetsel ingestuur. Ek luister toe daarna en wat ‘n verskil! Teenoor Henry s’n is myne so boring dat mens aan die slaap wil raak, die ene dominee-temerigheid. Syne weer, was so energiek en opgewek dat ek al amper my beursie uitgehad het om by te dra tot die teleton – so inspirerend is hy! Dis mos hoe dit gedoen moet word! Henry is goed, hoor – ook sy sang is uitstekend. Met Timothy (my eie neef) se boek – waaroor dit hier gaan – het ek weer daardie gevoel gekry. Ek skryf ook mos vir ‘n lewe en so aan, maar Timothy skryf soos Amerikaners skryf in hulle selfhelp-boeke. Hy skryf eintlik nie, hy gesels. Hy kuier op papier. Hy val homself sommer in die rede met vrae soos “Timothy, nou hoekom moet ek dit weet?” en bring heeltyd humor in sodat jy dikwels sit en grinnik – en dit in ‘n boek wat oor so ‘n tragiese tema soos affairs gaan! Ek weer weeg my woorde. In my kop lees ‘n ander dominee ook en sê hy ts-ts-ts (daai geluid met jou tong, jy weet mos), “hierdie moes hy meer nuanseer”, of “hierdie is nie teologies korrek nie”. Ek sal ‘n woord drie keer vervang as dit nie teologies reg genoeg is nie, en eers as ek seker is DIT is wat ek wil sê, en die klem is waar ek dit WIL hê (al sê die stem ts-ts-ts, ek stem nie met alle teologie saam nie), dan laat ek dit staan. Alles moet weer gemotiveer kan word as iemand my daaroor sou aanvat – maar niemand het al nie! (Sien jy, dis omdat ek so versigtig skryf!) Oukei, ek oordryf so effens. Maar my goed is doodgoed en goed dood – wel soms. Ek wens ek kon meer soos Timothy skryf – en soos Henry praat!

Timothy het ‘n oulike boek geskryf wat in twee dele verdeel is: (1) hoe om ‘n affair (kom ons aanvaar dit hier as ‘n Afrikaanse woord, of Afrikaans genoeg, en italicize dit nie heeltyd nie) te vermy en (2) hoe om van ‘n affair te herstel. Ek sal oor elk net iets sê:
Wat betref die vermyding van ‘n affair maak Timothy gebruik van die paradys-metafoor en wys wat die versoekings is wat ons uiteindelik uit die paradys verdryf. Let wel:

die paradys is nie ons huidige huwelik nie, maar die drooom van ‘n perfekte verhouding, van volkome aanvaarding – dit wat ons in die wittebroodfase beleef. Ons smag daarna en soek dit altyd weer. Die fout wat ons maak is om te dink my maat moet aan my my paradys verskaf, maar hy, of sy gaan natuurlik nie. Hulle kan nie! Ons moet eerstens aandag gee aan die ‘swart gat’ in ons eie siel, anders gaan ons van die een na die ander beweeg met die hoop dat die volgende my sal genees.

affairs gaan dus uitdruklik nie net oor mense wat jeuk waar hulle nie moet jeuk nie. Dit gaan ook nie oor looks nie. Affairs gaan oor mense met emosionele behoeftes. Affairs is emosionele verhoudings wat seksueel raak. Dit staan op die leuen dat JY my moes gelukkig maak, maar jy het nie, en daarom waai ek, en dis jou skuld. Dis die leuen. Trouens, Timothy maak dit duidelik dat ook JY, onder die regte omstandighede, en met die regte persoon, ‘n affair sal kan hê. Dis hoekom jy NOU reeds dit goed moet verstaan en voorbereid moet wees.

– dan is daar natuurlik ‘n slang in die paradys, en Timothy bedoel nou die persoon wat inzoem, die skelmpie, met die belofte van meer. As ons begin gesels oor ons huwelike het ons die grens oorskry, want ons glo nou HIERDIE een verstaan die hele opset beter, HY gaan dit vir my doen. HY verstaan my, SY respekteer my… Timothy waarsku die skelmpie egter dat sy maar net die skelmpie gaan bly.  Al die beloftes van ware liefde en ‘n komende egskeiding is meestal maar net beloftes – en uiteindelik leuens.  Die prys is net te groot.

– die onbetrokke, ongewillige en onaktiewe huweliksmaat is eweneens ‘n probleem. Hy is soos Adam wat maar willoos laat gebeur wat gebeur. Hy kom nie sy rol na nie. Adam se rol was om as hoof op te tree, om te beskerm en te lei, maar hy staan daar – verlam. Daarom is hy net so skuldig as Eva.  Word wakker (daar’s slange daarbuite), wees die maat wat jy moet wees en maak die kanale van kommunikasie en intimiteit oop!

– Adam en Eva het oortree en nou het hulle ‘n geheim – hulle is naak! Hulle tree nou vreeslik skuldig op en God vang hulle uit binne die eerste sekonde: “hoekom kruip julle agter die bosse weg?” Timothy sê vir mense UIT met die geheime, wat dit ook al is – dis maar net die beste. Hy sê ons moet oopmaak, anders word ons nie gesond nie. Hy verstaan dat mense die “raas en beskaam” wat op hulle wag probeer ontduik en daarom die geheim probeer bewaar. Daar moet egter nie (te veel, te langdurig) “raas en beskaam” wees nie (want iets daarvan kom saam met die territory), maar eerder konstruktiewe hantering, begrip, dankbaarheid vir die eerlikheid, hulp en genesing. “Raas en beskaam” gaan die genesing vorentoe die hele tyd in die wiele ry – sommige kan nooit oor hulle fout kom nie, want hulle word nie toegelaat nie.  (Dit laat my dink aan my ma se wysheid: “eerder ‘n verskriklike einde as ‘n eindelose verskrikking”.  Moet egter nie hierdie wysheid neem as ‘n rede tot skei nie – maak jou huwelik reg, want dit HOEF nie verskriklik te wees nie!)

– Dan kom die ontnugtering: die affair kom uit, of jy kom agter hierdie skelmpie doen dit net nie meer vir jou nie, of jy kom agter jy is niks anders nie as ‘n dekselse dinges wat jou vrou en kinders, wat nou geknak gaan word, nie werd is nie. Onthou net, die skade is enorm – o, die kinders wat so in twee geskeur word… Op hierdie punt verloor couples hulle hoop en vertroue heeltemal. Hulle glo dis oor. Timothy sê nee, hou vas…

Dan kom die verskonings: dis sy skuld, dis haar skuld, dis die duiwel se skuld, die werk se skuld – almal se skuld! Nee, dis MY skuld – is wat jy moet sê. Jy HOEF nie ‘n affair te gehad het nie. Daar was veel beter maniere om jou probleme of jou huwelik aan te spreek.

In die boek is daar natuurlik veel meer oor al hierdie dinge, in meer hoofstukke – ek het dit sommmer so saamgeskraap.

In die tweede deel gaan dit, n.a.v. Jesus se woorde aan die kruis, oor die herstel na ‘n affair. Ek kan dit nie alles bespreek nie en sal net sê – as jy ‘n affair beleef het in jou huwelik, LEES dit!  Jy sal hoop en hulp kry.

Algemene kommentaar? Soms het ek die indruk gekry dat ons werk met ideale omstandighede. Ek is bekommerd dat sommiges eenvoudig nie in staat gaan wees om hierdie dinge te doen nie, wat inderdaad die beste en regste dinge is wat mens kan doen. Hulle is eenvoudig te seer, te reaktief, te onvolwasse, te emosioneel, te alles-wat-dit-slegter-maak.  Maar nou ja, dan het jy ten minste vir hulle die weg gewys en vir nog ander die kans op herstel gegee. Ek sou ook nog meer riglyne wou sien van HOE om die situasies prakties te hanteer bv. die sluwe slange by die werk (wat om te sê en te doen) en by die ander fases van die potensiële affair – maar daar is reeds baie praktiese advies, elke hoofstuk spel die stappe uit. Laat ek oor die algemeen dit sê: DIT is ‘n boek wat ek, wat ook berading doen, oor affairs byderhand sal hou. Dis op die kop, dit bied belangrike insigte, dit groei uit die praktyk, dis waar en dis toeganklik aangebied. Dit slaan die mites een vir een plat en wys die beste pad.

Elke mens in ‘n huwelik (of permanente verhouding) moet eintlik die boek lees!

Die boek is te kry by CUM-boekwinkels na Julie 2016, en ook aanlyn by Lux Verbi, die uitgewers, of CUM se aanlyn-winkel.

 

Advertisements

Die Groot Gebedeboek

GebedeboekDie Groot Gebedeboek (Lux Verbi, 2003)

Ek het hierdie boek al ‘n jaar of wat gelede begin lees, en dit het lank gevat om dit so tussendeur die ander leesboeke deur te werk.  Ek koop graag boeke wat gebede bevat, veral die ou gebede van vroeër eeue.  Dit leer mens ook hoe vorige Christene gebid en geglo het – want jy bid wat jy glo.  Ons is eintlik onder groot misverstande wat gebed betref.  Ons glo bv. dat gebed iets is wat jy vir God sê (meestal eintlik “vra”, nie waar nie?) en dan sê jy amen.  Nee, dis maar net ‘n deel van gebed!  Gebed is eintlik wesenlik om jou hart na God te draai, om sy teenwoordigheid te betree met ‘n behoefte (‘n behoefte na Hom, bedoel ek).  Dan het jy reeds in die gees van gebed gekom. As jy dit beter wil verstaan gaan bid, maar moenie woorde gebruik nie. Sit net by die Here. Luister. Laat jou hart brandend wees – sulke dinge…  dikwels is ons gebede so selfgesentreerd dat ons daarvan kan verstik. Dis soos jou kind wat NET met jou praat as hy iets wil hê – verder vermy hy jou heeltemal. Kom ons laat ons gebede vir ‘n slag oor HOM gaan, nie oor ONS nie.  Dis inderdaad wat die Here ons in die ONS VADER geleer het, maar ons weier mos om sy gebed te bid! Ai, dis hoekom die Here ons ons gebede ook maar meestal moet vergewe. Gebed kan wel gesê word met woorde, maar onthou dit kan ook gelees, geskryf, opgesê, gesing, gedoen, gedans word!  Dis hoekom daar gebedeboeke kan wees wat ons kan inspireer om amen te sê en saam te bid.

Terloops, ons kursus oor gebed, VEELKLEURIGE KLEED, sal jou dalk interesseer.  Kliek hier vir info: http://jimileroux.com/forum/topics/veelkleurige-kleed?context=category-Kursusse+inligting+en+aflaaistukke

Die mooi gebede in hierdie boek is te veel om te noem – en ek het baie varkore in die blaaie gemaak en potloodmerke – maar ek haal sommer een mooie aan, uit die 16de eeu:

Here, U Woord sê

daar is ‘n tyd om te praat en ‘n tyd om stil te bly.

Ek weet baie van praat, maar van stilbly weet ek minder. 

Leer my daarom

die stilte van nederigheid,

die stilte van wysheid,

die stilte van konsentrasie,

die stilte van praat sonder woorde,

die stilte van verwondering en geloof.

Here, leer my om my hart stil te maak

sodat ek die influistering van die Heilige Gees kan hoor

en bewus kan word van die oneindige dieptes

wat  U is.

Amen.


Through the Narrow Gate – Karen Armstrong

Narrow GateThrough the Narrow Gate – Karen Armstrong

Hierdie is ‘n outobiografie wat ek so tussen-in gelees het – een van Andrea se boeke – en ek het gevoel om iets daaroor te deel.  Karen – deesdae ‘n bekende skrywer oor godsdienstige temas – was vir 7 jaar ‘n non en hierdie boek vertel daarvan.  Dis verskriklik interessant hoe dinge daar in die klooster gaan. Die punt is egter dat dit later vir haar onhoudbaar geword het en sy toe van haar beloftes losgemaak is. Sy het vir God daar gesoek met alles wat sy het, maar het Hom eerder daar verloor. Die behandeling in die klooster was vir haar onversoenbaar met wat sy van Jesus of die evangelie geleer het. Sy het agterna haar rug op godsdiens gedraai, maar is tans weer ‘n gelowige “of sorts”, maar nie streng ‘n Christen nie.  Sy het later lank in Jerusalem gewoon en het ook die Joodse en Islam geloof goed leer ken. Van haar boeke gaan oor die ooreenkomste tussen hierdie gelowe.  Ek het baie gedink oor haar ervarings en hoekom dit misluk het, want wat hulle probeer doen het daar is wat ons ook maar doen – om die vlees, die ekkigheid te oorkom. Trouens, hulle gaan verder as enige Protestant in hulle pogings, maar tog slaag hulle nie (ten minste nie in hierdie geval nie).  Ek dink soos volg daaroor:

Om die vlees te oorkom is nie ‘n saak van menslike inspanning nie. Die vlees – of ekkigheid of ego – is deel van die menslike natuur. Sy doel is ons oorlewing, maar sonder beheer word die vlees totaal selfgesentreerd, selfdienend en selfsugtig. In die klooster het hulle die strengste reëls om nie aan die vlees toe te gee nie, en ons vind bv.
-hulle sit nie op sagte stoele nie
-hulle eet wat voorgesit word, nooit wat vir hulle lekker is nie
-hulle staan op die sekonde as hul gewek word
-hulle besit niks en selfs hulle skryfgoed, seep, ens. behoort nooit aan hulle nie
-hulle gehoorsaam sonder vrae of teenspraak selfs die simpelste opdrag
-hulle word gestuur net waarheen die orde ook al wil en hulle aanvaar dit as God se wil
-hulle klere beklemtoon geen skoonheid nie en hulle beleef nie luukse nie – onder hulle sluier is hulle hare kort gekap
-hulle dae word deurgebring in harde werk en baie gebed
-hulle maak nie vriende in die klooster nie en gesels slegs in groepe, nie twee-twee nie
-hulle ondersoek hulle gewete en gedagtes daagliks vir die geringste oortreding en dien dan straf uit om die vlees te kruisig, bv. om al die ander se voete te soen of hulleself letterlik te kasty met ‘n karwats
-hulle kla nooit oor niks nie
-hulle beskou elke uitdaging en probleem as ‘n manier om aan hulle self te sterf

Uiteindelik – dis ten minste die doel – het hulle amper niks van hulleself oor nie.  Die nonne het soos robotte geword: wesens wat nie huil,  lag of raas nie, wat altyd afkyk en sereen glimlag, grasieus sweef in hulle gewade en slegs bestaan om te dien. Ongelukkig word die hele atmosfeer in die klooster egter hard, ongenaakbaar, liefdeloos.  Daar is geen warmte, ondersteuning of vriendskap nie. Die skrywer het bv. baie siek geword – omdat sy o.a. gedwing is om kaas te eet al was sy allergies vir laktose, sy het dus daagliks opgegooi en baie maer geword maar het nogtans vir jare deurgedruk in die geloof dat dit God se wil vir haar was, ‘n toets. Sy was verskriklik ontnugter en ongelukkig.  Dan was daar ook baie teleurstellings in die feilbaarheid en swak voorbeelde van owerstes en priesters van wie sy hoë verwagtings gehad het.   Natuurlik was daar ook die mooi en die saints, maar uiteindelik het sy net opgecrack.  Sy voeg wel by dat die opleiding van nonne na 1962 (na die 2de Vatikaanse konsilie) baie verander het en dat dit tans baie meer menslik is.

Ja, ons kan nie heiligheid opwek nie, want in die mens is daar geen heiligheid nie.  Dit kom van God af. Dis hoekom Paulus sê die vlees word oorwin deur die Gees. As ons die vlees “kruisig” – soos Jesus sê – is dit  slegs met die doel dat ons plek wil maak vir die Gees in ons lewe,  nie om ‘n ander stuk godsdienstige vlees in die plek daarvan te stel nie.  Om met die Gees vervul te word oorweldig ons vlees en dra sy vrug van warm liefde, vreugde en vrede, geduld, sagtheid, vriendelikheid, begrip, empatie en vele meer. Ons doel is ook nie om ons persoonlikheid, individualiteit of emosies in die proses te verloor nie, maar om met ons uniekheid die Here te dien.

Dis belangrike lesse, omdat ons self ook maklik in uiterlike heiligheid kan beland, soos Paulus sê die “gestrengheid van die vlees”, wat slegs tot hoogmoed of hopeloosheid ly, niks anders nie.  Ons eindig met godsdienstigheid, meer vlees.  As daar nie warmte, insluiting en liefde in ons gehoorsaamheid is nie, is ons dalk maar waar die Fariseërs was.  Dit mis die punt totaal.