Monthly Archives: Augustus 2016

Ontmoeting met Heiliges – Lisel Joubert

HeiligesOntmoeting met Heiliges – Lisel Joubert (Naledi, 2015)

Dis darem maar scary hoe vinnig ‘n boek in die bargain bin beland. Ek weet van hierdie dinge, want ek is mos ‘n bargain bin-kenner, ja, ‘n egte bargain binner. (Daar skenk ek nou weer ‘n woord, hierdie keer aan die Engelse taal, your’e welcome! As ek maar ‘n boek kon maak van al die woorde wat ek geskep en geskenk het aan die Afrikaans en Engels, sou my bydrae wêreldwyd erken word – ek sê maar net).

In elk geval, boeke het in die verlede vir ‘n ewigheid gehou – as jy ‘n boek geskryf het, was jy m.a.w. vir ewig daarvoor onthou. Deesdae skryf almal boeke en publiseer dit, en die boekwinkels moet seker maak daar is altyd vars voorraad op die rakke. Dis soos musiek of flieks – jy kan g’n die ou albums of flieks meer kry nie, dis altyd net die nuutstes op die rakke. Ons is mos in ‘n verbruik-en-weggooi kultuur. Been there, done that, forget it – what’s next?  Dis verkeerd, hoor. Boeke  is ook vandag so. Nuwe boeke het ‘n rakleeftyd van so drie tot ses maande op ooghoogte, en daarna affer en affer, later jeel onner amper op die vloer. Na ‘n jaar word dit afgeslaan tot 50%-60% en na 18 maande is dit bargain bin toe, fienies en klaar, waar ek hierdie uitstekende boek, wat net laas jaar gepubliseer is (Desmond Tutu/Gerrit Brand prys gewen en alles), gekry het teen net R30.  Daarna word die groot stock wat nie verkoop is nie af en toe in CUM se opslaan groothandel outlet store (of so iets) verkoop teen R10 ‘n boek en so aan. Kyk, ek het mos ook ‘n paar boeke by CUM en ek wag self om hulle aan te koop teen daarrie bargain-pryse. Daar lê seker nog ‘n 1500 of so van Padlangs deur die Lewe in die stoor. Dan sal ek vir ewig aan almal krismispersente gee van my boek. Onthou, daar moet plek gemaak word vir die nuwe boeke en CUM-hulle stel elke semester omtrent 200 nuwe boeke bekend! Daar’s nie nog plek vir laas jaar se goeters ook nie, al is dit nou hoe goed gewees (en myne is goed hoor, al sê ek dit self, my familie sê ook so). Dis maar hoe die moderne wêreld werk. As iets vyf jaar oud is, glo ons eenvoudig dis nie meer geldig nie. 

Nie ek nie, hoor! Teen R20 en R30 koop ek heerlik laas jaar se boeke (en vorige jare, ek gee nie om nie) en lees dit in die bed, in die bad, op die waar-ook-al. Dis steeds goeie boeke!

Anyway, Lisel Joubert het hier inderdaad ‘n goeie boek geskryf: sy gee doodeenvoudig kort biografieë van ‘n klomp saints, vaders, skrywers en geestelike leiers deur die geskiedenis tot vandag. Elke keer maak sy afleidings oor wat ‘n “heilige” (‘n saint) is.  Sy werk nie met die katolieke saints nie, maar stel ‘n hele verskeidenheid mense bekend: ek het gelees oor

  • kerkvaders soos Chrusostomos, Hieronimus, Augustinus, Siprianus, Klemens, Origenes;
  • woestynvaders soos Antonius, Pseudo-Dionisius (ek dink hy pas hier in), Johannes van Damaskus;
  • monastici soos Franciskus, Ignatius, Benediktus, Bernardus;
  • mistici soos Johannes van die Kruis, Teresa van Avila, Mechthild van Magdeburg, Juliana van Norwich, Katharina van Sienna, Teresa van Lisieux, Meister Eckard;
  • na-middeleeuse figure soos Dante, Thomas Aquinas, Jeanne d’Arc;
  • reformiste soos Erasmus, Luther, Calvyn, Menno Simons, John Wesley,
  • moderner geestelike mense soos John Bunyon, Karl Barth, Andrew Murray, William Seymour van Azuzastraat, Edith Stein, Simone Weil, Teilhard de Chardin, Hans Urs von Balthasar, Schleiermacher, Moeder Teresa;
  • vryheidsteoloë soos Martin Luther King en Oscar Romero

en dan nog random mense soos Pascal, Bach, Pous Johannes Paulus XXII en nog ‘n hele klomp ander – 85 in totaal. Dis katolieke, ortodokse, protestante, charismate, Jode en hier en daar “ketters” ook. Ja, mens kan van hulle ook iets leer.

Ek het al van die meeste van hierdie mense gelees of geleer, maar het nou meer die MENS leer ken.  Ek het net weer die volgende gesien:

Elkeen van hierdie mense het Jesus met oorgawe gedien, trouens, hulle hele lewe was daaraan gewy om iets van Jesus se boodskap aan die wêreld oor te dra. Elkeen het dit op sy eie manier gedoen en binne die konteks waarin hy was. In DAARDIE konteks het hy probeer om Jesus meer ‘n realiteit te laat word.

Dan was dit goed om weer ‘n bietjie uit te breek uit die maklike ou gedagte dat net my kerk van al die kerke die enigste regte kerk is en dat net ons die dinge reg verstaan. AL DIE RES is verkeerd en basies maar verlore. Ja, so het ons grootgeword! As jy tot bekering kom, bedank jy die NGK, maar daar is seker so hier en daar ook ‘n kind van God nog daar oor (God se genade is mos groot), maar dan nie veel in die ander gereformeerde kerke nie, hulle is maar geestelik dood en die katolieke is helemaal way off – eintlik maar die Antichris se kerk – en goed soos die ortodokse, Mormone en Jehowas was maar die name van way, way off kultusse van gevaarlike mense.  As jy rook is jy verlore en as jy wierook brand is jy katoliek of New Age – beide ewe verkeerd. “Gelukkig” met die tyd kom jy agter jou eie kerk se mense kom ook maar erg kort Christelik en geestelik, al is ons nou ook hoe “reg”(dis vir ‘n lang tyd eers ‘n probleem wat jy nie lekker kan kleinkry nie) en soos jy Christene van ander kerke ontmoet voor wie jy eintlik nederig voel, besef jy wag-‘n-bietjie die Here werk wraggies daar ook en van sy kinders is sowaar daar ook, kan-jy-glo?  Dan val daar sommer ‘n las van jou skouers af.  Ja, daar het die Here my kom vrymaak van ‘n stuk hoogmoed en arrogansie. Iewers het ek net opgehou om te besluit wie gered en nie gered is nie. Dis SY werk.  My werk is om sy liefde aan elkeen te bewys, wie hulle ook al is.  Dit sluit nie uit dat ek glo wat ek glo oor die saligheid nie en dat ek dit mag motiveer en verkondig.  Ja, natuurlik.

Ek het nou weer 85 mense ontmoet wat Jesus met oorgawe gedien het.  Ek kan by elkeen iets leer. En nie een was in MY kerk nie!

Advertisements

Die Boeke van Esdras

EsdrasDie Boeke van Esdras (1996, Libanon Uitgewers, Mosselbaai)

Ons dink ons Bybel se boeke is die Bybel vir almal, maar dis eintlik maar die Protestantse Bybel. Die Katolieke Bybel het ekstra boeke (Tobit, Judit, verdere hoofstukke van Ester, 1 en 2 Makkabeërs, Wysheid van Salomo, Jesus ben Sirag, Barug, Briewe van Jeremia, verdere hoofstukke van Daniël) as die “deutero-kanon” (=tweede kanon). Teologies aanvaar en lees ons as Protestante ook hierdie boeke, maar lei nie dogma daaruit af nie. Omdat dit egter nie in ons Bybel is nie, ken ons dit glad nie. Dis interessant dat Martin Luther (net 500 jaar terug) die boeke van Hebreërs, Jakobus, Judas en Openbaring uit die Bybel wou uithaal. Hy het glad nie geglo dit is Skrif nie, maar sy volgelinge wou nie saamspeel nie. Daardie boeke staan egter heel agter in die Duitse Bybel tot vandag.

Die Ortodokse Bybel bevat nóg meer boeke (die bg. plus ook 1 Esdras, asook 3 en 4 Makkabeërs en die Gebed van Manasse). Hier en daar is daar antieke kerke wat nog verdere boeke aanvaar, soos bv. die Ethiopiese Ortodokse Kerk, wat ook nog die boek van ‘Henog’ aanvaar, ‘n bekende en wyd gelese boek onder vroeë Christene wat in die Nuwe Testament aangehaal word (Henog 1:9 word aangehaal in Judas 1:14-15) en vir omtrent 200 deel was van die Christelike Bybel.  Hulle glo Henog (in Engels Enoch) was die eerste wat letters gemaak het en het hierdie boek in hulle taal, Ge’ez, geskryf.  Hulle glo hulle taal is dus die oudste taal in die wêreld. Ek moet sê die skrif lyk nogal antiek – so lyk die eerste reels van Henog in Ge’ez:

Henog

 

 

Eers in die 4de eeu n.C. het die Westerse (=katolieke) kerk sy” kanon” (=die boeke wat aanvaar is as gesagsvol) finaal vasgemaak. Die ‘Pastor van Hermas’ was bv. ook lank deel van die Nuwe Testament. Ons Protestante het ons kanon van die Katolieke gekry, maar die deutero-kanon weggelaat, in ooreenstemming met die Hebreeuse Ou Testament.

Dis interessant om te besef dat die Vroeë Joodse Christene nie soseer die Hebreeuse Ou Testament gelees het nie, maar die Griekse vertaling daarvan, genoem die Septuagint. As die Nuwe Testament die Ou Testament aanhaal, haal dit die Griekse Ou Testament aan, nie die Hebreeuse nie. Van belang is dat die vroeë Christene geglo het die Septuagint is net so geïnspireer soos die Hebreeuse Ou Testament. Die deutero-kanon was egter deel van die Septuagint, en daarom het die vroeë Christene daardie boeke in hulle Bybel gehad! Later (100 nC) het die Jode hul eie Hebreeuse kanon ook vasgemaak (dit was nog vloeibaar) en toe eers val die deutero-kanon uit (sommige sê dis omdat daardie boeke verwysings gemaak het wat Jesus as Christus ondersteun) – maar toe was daardie boeke al dekades deel van die Christene se Ou Testament! By die Reformasie het ons toe ook daardie boeke uitgehaal – soos gesê – en die Protestantse kanon kom nou ooreen met die Joodse.

Die punt is net dat verskillende Christene Bybels het wat verskil – sedert antieke tye. Daar is geen manier om te bewys dat ons Bybel nou die “regte” boeke het nie – dis eenvoudig ‘n saak van geloof. Ons moet egter leer om nie die Bybel te aanbid nie – die LEWENDE WOORD is Christus, en die Bybel is die menslike geskrifte wat deur die Gees geïnspireer en gebruik word om ons van Christus te vertel. Ons moet tien teen een ons opinie van “inspirasie” so bietjie wyer maak.

Hierdie boekie het ek vir R4 opgetel by die biblioteek. Dit is die “Boeke van Esdras”, waarvan 1 Esdras ooreenkom met Esra in ons Bybel (maar dit het ‘n paar ekstra hoofstukke), en dan is daar 2 Esdras wat twee Christelike dele bevat, o.a. ‘n verwysing na God se Seun en ‘n Joodse apokaliptiese deel. 2de Esdras is nêrens as kanonies aanvaar nie, maar word (bv. saam met Ps 151) as appendikse by sommige ou Bybels gevoeg. Esdras is die Grieks vir Esra, maar die onderskeie name word so behou, om die verskillende boeke uit mekaar te ken.

Dit was 79 bladsye, nie maklik om te lees nie! Die tweede (apokaliptiese) deel is baie soos Openbaring: verskeie visioene, ‘n engel (Uriël) wat dit verduidelik, beelde soos die arend met drie koppe en twaalf vlerke wat verskillende regerings voorstel, die vrou wat ‘n stad word (laat ons dink aan die Nuwe Jerusalem) en dan God se oordele. Daar is die waarskuwing van ‘n groot verdrukking, maar God belowe om sy gelowiges te bewaar.

Sjoe, soms is die beskrywings erg – amper soos ‘n nagmerrie. Ek haal aan uit 2 Esdras 5:4-8:

4. As die Allerhoogste gee dat jy lewe, sal jy na die derde basuin sien dat die son skielik in die nag sal skyn en die maan drie maal per dag.
5. En bloed sal uit die hout drup en die klippe sal uitroep en die mense sal benoud wees.
6. En hy sal heers wat nie op die aarde verwag word nie en die voëls sal wegtrek;
7. En die see van Sodom sal sy vis uitgooi en ‘n geluid in die nag maak, wat baie nie sal ken nie, maar hulle sal almal die stem daarvan hoor.
8. Die aarde sal oopgaan op baie plekke en die vuur sal ook dikwels te voorskyn kom, en die wilde wesens sal wegtrek en maandstondige vroue sal wangedrogte baar.

Ja, dalk sal ons maar hou by die Openbaring wat ons ken! Ek wil regtig dat ons nou ‘n slag behoorlik deur Openbaring werk!

Lekker dag.