Monthly Archives: Oktober 2016

Die Weg-gewer – Bob Burg & John David Mann.

weggewerDie Weg-gewer. ‘n Storie oor ‘n kragtige sake-idee. Bob Burg en John David Mann. (Naledi, 2008)

Nooit van die boekie geweet nie! Dis ‘n sake-filosofie boek in die lyn van Who moved my Cheese en The Greatest Salesman in the World.  Dis een van daardie teen-intuïtiewe boeke wat leer dat om te ontvang jy moet gee, om ‘n leier te wees moet jy dien, en so aan.  Moenie ‘n go-getter wees nie, wees ‘n go-giver (die Engelse titel van die boek).  Almal soek hitte by die kaggel, maar jy kan eers hitte verwag as jy die vuur gestook het met hout.  Jy moet eers gee.  Wie’t ook sulke taal gepraat? Jesus, ja.  Die hele boek val my op as die manier waarop Jesus besigheid sou doen, as Jesus ‘n besigheidsman sou wees – en ek glo Hy sou ‘n uitstekende besigheidsman wees.

Trouens, ek het net gister (Sondag) gepreek oor amper dieselfde tema: dat jy nie seën kan ontvang as jy nie seën kan gee nie, dat jy bietjie moet vergeet van die ontvang-kant (almal in die kerk en in die besigheid is franties oor die ontvang-kant), maar dat jy moet werk aan die gee-kant. Die ontvang-kant sal dan vir homself sorg, want ‘n vloei sal aan die gang kom. 

Hierdie outeurs deel vyf “sake-wette”, naamlik (ek skryf dit op my manier):
1) Die wet van WAARDE – jou waarde is wat jy gee, nie wat jy (in geld) verhaal nie. Voeg waarde toe, so ver as moontlik;
2) Die wet van VERGOEDING – jou inkomste word bepaal deur die hoeveelheid mense wat jy bedien, en die kwaliteit van jou diens (die gedagte is om so veel as moontlik mense te probeer dien);
3) Die wet van BEINVLOEDING – jou invloed word bepaal deur hoe hoog jy ander se belange bo jou eie plaas (om op HULLE belange te fokus gee jou ‘n “magnetiese persoonlikheid”)
4) Die wet van GELOOFWAARDIGHEID – die belangrikste waarde-toevoeging wat jy kan bied is jouself (glo in dit wat jy as MENS met ervaring en empatie kan bydra)
5) Die wet van ONTVANKLIKHEID – om te kan gee moet jy ook oop wees om te ontvang (anders wat gee jy?)

Ja, die boekie het my nou vreeslik aan die dink. Ek is nie ‘n sakeman nie, maar werk ook met mense en bedien hulle (en moet leef van hulle terugploeg). Dit onderstreep eintlik alles waaraan ek glo.

Nog twee goed:
1. cudos (in Afrikaans sê ons sommer net “koedoes”) aan Hein Kruger van http://www.krugerinternasionaal.co.za wat dit in Afrikaans laat vertaal het
2. As jy voorrade soek – ek het hierdie gekoop by BB (Bargain Books?) Diamond Pavilion, Kimberley. Hulle het hope gehad op uitverkoping teen R20. Koop vir al jou leiers, sê ek.

Advertisements

Die beoefening van vrede in tye van geweld – Pema Chödrön

vredeDie beoefening van vrede in tye van geweld – Pema Chödrön (Naledi, 2011)

Ek het hierdie boekie vir R20 gekoop daar in die Diamond Pavillion, Kimberley (ja, kan jy glo), en kom nou eers by dit uit.  Ek het eers gedink dis ‘n Christelike boek, maar toe besef dis ‘n Boedhistiese boek.  Nogtans het ek dit gelees – dis kort, in mooi Afrikaans en bevat interessante temas wat nie net eng aan die Boedhisme behoort nie.  Dis die eerste Boedhiste-boek wat ek lees, maar ek was verbaas hoe “Christelik” baie van dit is wat die outeur probeer oordra.  Baie kom ooreen met Jesus se uitsprake, en dit klink vir my ook amper soos Christelike skrywers oor die “dieper lewe” – ek dink aan Andrew Murray.  Daar is natuurlik sekere basiese beginsels wat alle godsdienste onderlê, want dit is eenvoudig maar die algemene waarheid. Niemand kan daarteen stry nie. Die boekie was min of meer interessant, alhoewel ek nou nie op elke detail saamgestem het nie, hoe anders?

Die vraag van Pema – sy is ‘n bekende Boedhistiese geestelike en skrywer – is wat mens kan doen te midde van al die geweld, haat en aggressie om ons?  Wat gebeur in ons harte as mense haatvolle uitsprake om ons maak, hoe reageer ons daarop?  Die Boedhiste se antwoord hierop is dat mens jou hart moet losmaak van uitsprake, mense en gebeure om jou – dat jy nie moet toelaat dat dit jou “haak” nie.  Jy behou jou vrede en jou liefde.

Die volgende is ‘n paar hoogtepunte – let op hoe Christelik sommige goed klink:

  1. Ons hart moet oop en “sag” bly teenoor mense – veral teenoor die wat werklik onaangenaam is, jou vyande. As jy eweneens met woede reageer en terug aanval is jy en jou vyand presies dieselfde. Oorloë behels immers twee kante wat beide voel dat hulle reg is. Hulle harte het rigied geword en hulle alleen is reg.  Dit verskaf die regverdiging vir hulle aanval.  “Oorlog en vrede begin in mense se harte”. Sy sê egter: “jy kan nie iemand haat as jy in sy skoene staan nie”.  Dus, jy beleef die ongemak, maar hou jou hart sag.  Jy verstaan jou vyand deur empatie en behou jou liefde.  As jy in die ongemak bly – wat baie moed verg – “saai ons die saad van vrede”. Jesus het ons ook geleer om vir ons vyande te bid, te seën en lief te hê.  Sjoe, dis moeilik om toe te pas, maar dis duidelik dat die siklus van geweld gebreek moet word.  Dis ook presies wat Jesus self gedoen het, nie waar nie?  Hy het nie gereageer nie.  Dit vra en bewerk ‘n hartsverandering – iets wat ons beslis preek.
  1. Dit is ‘n moeilike hartswerk, want ons is almal geneig om dadelik te reageer en ons eie voornemens te oortree. Ons moet egter onsself vergewe, want hulle glo elke mens is reeds goed genoeg en volmaak. Die mens is inherent onskuldig.  Ons noem verkeerde dinge natuurlik “sonde” en sonde lei tot skuld en skuld tot straf. Ek glo egter self glad nie dat die mens “net sleg” is nie.  Daardie idee is nie Bybels nie.  Die mens is sleg EN goed (dis die praktyk EN die Bybelboodskap) – maar die mens is nie goed genoeg om homself te red nie.  Dis waar Christus inkom. Hy red ons wel! 
  1. As ons dus die ongemak in onsself beleef oor ‘n ander se geweld of ons eie geweld, moet ons leer om geduld te beoefen. Ons moet die moed hê om te WAG – nie dadelik te reageer nie. Die Boedhistiese uitgangspunt is dat daar geen “oplossing” vir ons ongemak is nie. Dis ‘n misverstand. As ons net hierdie ou regsien, of net daardie ou uitskel, sal dinge in plek val en sal daar vastigheid en veiligheid kom. Hulle klem is eerder dat dinge wesenlik tydelik, vlietend en verbygaande bly.  Elke “oplossing” waarin ons vastigheid soek sal ook maar weer verbygaan.  Ons moet eerder leer om met die ongemak te leef.  Dis vir my maar ‘n negatiewe gedagte, maar daar is natuurlik ‘n waarheid in.  Hierdie wêreld is inderdaad gebroke, en vra ons geduld (lankmoedigheid) en geloof.  Dis verbygaande, ja inderdaad, maar ons beleef nie net hierdie wêreld nie, ons beleef ook alreeds die koninkryk.  Ons wag vir heelwat “oplossings” by die Here, en die Eendag is inderdaad vir ons die finale “Oplossing”.
  1. As ons geduld bly beoefen, leef ons met baie groter aanvaarding van ander en onsself. Ons hou op om alles te veroordeel of in “reg” of “verkeerd” te sorteer. Ons leer onsself beter ken. Ons leer helderder dink, want aggressie, versluier ons denke.  Dit word dalk makliker om elke omstandigheid die keuse uit te oefen om dag en oop te bly.  Humor en speelsheid is maniere om aan híérdie kant van die skerp snykant te bly as ons seergemaak of uitgelok word.  Ons leer om die “shenpa” te herken – dit is die “hoek” of sneller wat voor ons gehang word deur mense se stellings, aanvalle of gebeure wat ons uitlok om te reageer met woede of vrees.  As ons die stuwing in ons voel opkom, weet ons dat ons gehoek word en kan ons dit vermy.  Ons leer om los te kom van ons “verknogtigdhede” – ‘n woord wat my laat dink aan ‘n ou Christelike konsep dat ons “passies” ons probleem is.  Ons “passies” (of “sondige motiewe”) voer ons mee en lei tot sondes. “Doodsondes” omlyn in die Katolieke Kerk dan wat hierdie “passies” is wat ons verkeerd lei.
  1. Ons moet ons houding teenoor pyn verander. Daar sal altyd pyn, ongemak en dood wees. Lyding is deel van die lewe, maar Boedhiste glo lyding maak ons nie ongelukkig nie.  Wat ons ongelukkig maak is die feit dat ons wil hê alles moet perfek wees, dat ons daarteen baklei.  Ons soek al weer “oplossings” en vastigheid. In die Boedhisme is daar dus ‘n aanvaarding van lyding.  Ons moet ophou om onsself as vis-à-vis die lyding te posisioneer (as ons vyand).  Ons moet eerder die grens tussen ons en dit ophef en daarmee assosieer. Dis ONS lewe. Dis hoe dit is. Ons moet eerder daaruit probeer leer.  Lyding maak ons nederig, dit leer ons empatie, dit transformeer ons.  Dis weer ‘n kwessie van in die ongemak bly en nie toelaat om “gehaak” te word nie.  Ons moet in ‘n “positiewe onsekerheid” bly.  Sjoe, ons sien dit anders. Ons glo wel iets daarvan, want ja, lyding is deel van die lewe, maar lyding is ook die gevolg van sonde, en sonde is ons vyand.  Ons gaan daarteen baklei.  Ons gaan doen wat ons kan, en dit wat ons nie kan nie gaan ons aan God oorlaat.  Ons sluit ‘n wonder nie uit nie, en verder vertrou ons die Here IN die omstandighede.  Dan glo ons dat die ewigheid geen lyding meer sal hê nie.  Mens kan dit baie beter bespreek, maar lyding is ‘n ingewikkelde probleem en ek skryf reeds al te lank oor die boekie!  Die Boedhistiese standpunt laat my egter sterk dink aan Paulus.  Op meer as een plek (Rom 5, Rom 8) is sy “oplossing” vir lyding doodgewoon God se liefde.  In ons lyding is God se liefde ons realiteit, en in daardie realiteit is daar ook hoop.  God is natuurlik ook ‘n God wat verlos – né?  God is my sekerheid in die onsekerheid. 
  1. Ons moet in die “deernisvolle volharding” bly – of wat hulle ook noem “loving-kindness”. Dis ‘n absolute Bybelse woord, alhoewel ons daardie woord (“goedertierenheid”) as ‘n Goddelike eienskap sien. Nogtans is dieselfde tipe ding ook ons opdrag: om konstant met liefde teenoor vyande op te tree.  Om te bly seën as ons vervloek word.  Pema beskryf dit as ‘n asemhaling-oefening: jy asem jou negatiewe reaksie in (maak kontak daarmee) en asem dit dan doelbewus uit.  So werk jy dit uit jou uit.  Ag, ja wat – gaan nou nie daarteen baklei nie. 

Maar ek is bly ek’s ‘n Christen.

 

 


Christos Pantokrator

dsc_0933-002Ons het Padlangs se kantoor oorgedoen en oorgeverf en die een muur is toe oop.  Ek gaan ‘n mooi leerstoel (nog) daar sit, langs ‘n tafeltjie met ‘n lamp, maar daar kort iets teen die muur.  Ek het dus besluit om iets te verf en gaan twee skilderye maak, waarvan hierdie die eerste is.  Dit is gebaseer op die oudste ikoon van Christus wat gevind is, die sg. “Pantokrator” wat in die St. Katerina klooster in die Sinai Woestyn gevind is, omtrent die 5de, 6de eeu. Die goue dele is wel met blink goud gedoen, wat mooi glim in die donkerte.  Ek is oor die algemeen tevrede met my poging, maar kan blykbaar nie wegkom van my growwe styl nie – hoe verder jy wegstaan, hoe beter lyk dit.  Van naby lyk dit maar oes.  In ‘n sin gee ek nie om nie, want dis nie ‘n foto nie, maar ek sukkel met die klein kwassie en die fyn werk. Dit lyk vir my nog baie kinderlik – jejune is die woord, dink ek.  Maar ja, ek is nog ‘n beginner.  Ek weet nie wat ander doen nie, maar het wel al die advies gekry om na olieverf toe te gaan – dis nog akriel, soos in die kunsklas.  Ai.  Maar nogtans het ek die Here gevra dat dit wel – soos ‘n regte ikoon doen – ook iets van Hom in my kantoor sal indra.


odes

Ode 3

 

Ek klee my nou met die liefde van die Here,

want Hy het my lief. Hy het my altyd liefgehad.

Ek sou nie weet hoe om Hom lief te hê nie,

maar hy wat Liefde beleef weet wat Liefde is.

 

Ek het Hom wat liefhet lief en waar sy rus is, is ek –

en ek sal geen vreemdeling vir Hom wees nie,

want daar is geen jaloesie by die Allerhoogste

en by die Genadige Here nie.

 

Ek is een met Hom: hy wat liefhet het die Geliefde gevind.

En omdat ek die Seun liefhet, sal ek ‘n seun wees,

en omdat ek met die Ewige verenig is, sal ek ewig wees,

en omdat ek my in die Lewe verlustig, sal ek waarlik lewe.

 

Dit is die Gees van die Here, die ware Gees,

wat die mens hierdie weë van Hom leer.

Wees daarom wys en begrypend en wakker.

Halleluja.

 

Effens aangepas uit Ode 3, Die Odes van Salomo

Die Odes van Salomo is ‘n antieke Christelike dokument met 42  liedere.  Dis oorspronklik in woorde en denke, maar diep Christelik en geestelik. Dis moontlik gebruik deur die vroeë Christelike kerk (uit die 2de eeu) by die doop van nuwe lede. Die kopieë wat in Siries gevind is, is vertalings uit Aramees, Jesus se taal, of Grieks.  Meer onlangs is die Odes nuut oorgeskryf as Engelse liedere (The Odes Project), waarvan sommige nou in kerke gesing word, veral hierdie mooi een, Ode 3 – I’m putting on the love of the Lord.  Luister daarna hier: