Monthly Archives: Januarie 2017

Nog vrae, Here

 

As ‘n man u Naam bely en hy

versigtig leef, en dit en dat vermy

wat U nie sal behaag nie

(rook, drink, dobbel, vloek)

en tyd maak om te bid

en in u Woord U soek –

en as ‘n ander man sê hy glo ook,

maar harder leef en vloek

en hom minder steur aan reëls

en sê “God alleen kan oordeel,

los dit tussen Hom en my”

en ek by hom meer liefde kry

vir ander mense: is

SY God nie groter,

SY geloof nie regter, égter nie?

Die verkeerde een wat lief het,

is regter as die een wat reg het,

maar glad nie God se liefde wys.

Dit los my nog met baie vrae…

 

Advertisements

17 Julie 2016

17 Julie 2016

Almagtige
Alomteenwoordige
Teenwoordige
Inwonende
Liefdevolle

Ek prys U vir u goedheid, Here, wat rigting gee in ‘n ambivalente wêreld.
Ek prys U vir u genade, Here, wat wys dat die reg nie net wit en swart is nie.
Ek prys U vir u liefde, Here, wat betekenis gee aan ‘n andersins betekenislose wêreld.

Maak my goed, Here, gee my genade, laat my liefhê – soos U.

Laat my gebed nie oor my gerief of gemak gaan nie, Here, maar oor wat U met my kan doen. Wat is u wil vir my in hierdie tyd – hoe moet ek lewe? Ek weet: met goedheid, genade en liefde!  Kom Heilige Gees, en verander my – IN my  omstandighede – en maak my soos U sou wees in hierdie omstandighede. Ek bid dat hierdie gebed U sal eer.

Ek kan egter nie stilbly oor die feit (en U het dit reeds in my hart gelees) dat ek hoop dat die omstandighede ook sal verander nie, Here! Ja, dit is deel van my gebed, want ek is ‘n mens wat voor God buig.

Gee my dus vandag wat ek vandag benodig, Here. U ken dit soveel beter as ek – en U ken my begeertes ook!

Aan U kom toe lof, eer en heerlikheid, majesteit en krag – tot in ewigheid!
Amen.


Nuwejaarsgebed

Noudat ek my nuwejaarsgebed
gebid het, sien ek dit:
‘n boom, ‘n bos in Sinaï.
Als wat ek U vra vanjaar,
my kinders, huwelik, bediening,
als wat ek U voor vertrou,
vertrou en vra U mý
op hierdie Nuwejaar. Ja,
U wens my dit van harte toe!
So – ek sal die takke snoei en
aan die grond werk,
maar die groei – dat van
dié lote sterk sal word –
kan net U, en dat dit bloei
en blom, Here (geen mens
kan blomme maak nie!) –
en dan die vlam, die Vlam,
wat dié bos ú bos maak,
dís die saak wat in my brand:
dat daar ‘n Vuur sal wees,
‘n brandbos, braambos,
dié jaar, dié trek, ‘n Syn,
‘n Sinaï in die woestyn,
u Teenwoordigheid,
is my gebed.
Amen.