5 November 2017
Op die Dag van die Here, in Tulbagh by die dam
Vader in die hemel, ek eer U vandag
vir hierdie blougrys berge, massief, majestueus,
vir die groen vallei, wit huisies hier en daar gedot,
en die warm windjie wat die riete wieg hier om die dam,
die voëltjies wat kom waterskep – kyk na die voëls
van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie;
maar tog voed julle Hemelse Vader hulle –
dankie vir elke seëning wat ek van U beleef!
Laat u koninkryk in my lewe kom, veral daar
waar U nie reeds regeer nie (ek weet waar dit is)
en kom ook déúr my, Koning: as iemand tog
my skryfgoed lees, mag hul nader aan U kom,
mag hulle hart en lewe méér aan U behoort!
Laat u wil geskied, Here: maar nie net
u toelatende wil nie (dié geskied al reeds),
u volmáákte wil – soos in die hemel,
so ook op die aarde – u droom vir ons, vir my,
wat seën en glimlag, wat heel, herstel,
wat u hemel in my wêreld bring.
Gee my vandag vandag se dinge: krag, gesondheid, geld;
U ken my behoeftes beter as ekself, maar ek het mos
besluit om in geloof te vra vir méér, Here,
vir die beste, vir u volmaakte wil (en waarom nie,
U’s mos my Vader), maar ten minste méér as nou.
Vergewe my my skuld, my sonde, vrees en ongeloof
en vir als wat nog op ons agenda is, ek weet daarvan –
nes ek elke grief vergewe, die seerkry en ontsteltenis
– ek laat dit gaan in Jesus’ Naam – en help my
om versoekings te vermy, want ek’s versoekbaar,
Vader; help my na oorwinning toe!
Verlos my van die Bose. Ek weerstaan weereens
sy boosheid. Hy het by my geen mag nie, selfs my sonde
gee aan hom geen houvas nie, amen – ek is verlos!
Maar aan U Here, aan U – aan U, my Vader…
aan U kom toe die koninkryk,
die krag, die heerlikheid
– the power and the glory –
tot in ewigheid!
Amen.
November 6th, 2017 at 15:11
Baie Dankie Jimi, jy wat elke dag die Here se Woord in in my hart kom le! Mag jy en jul almal daar Geseend wees! Liefdegroete Erna