Jou laaste selfhelpboek ooit! ST Potgieter

 

Jou laaste selfhelpboek ooit! ST Potgieter (2013, Carpe Diem)

Jip, bargain bin.  Dis waarnatoe boeke gaan, myne ook.

Ek was eers beïndruk, toe jaloers en toe eintlik bietjie teleurgesteld.  Ek weet nie of die droom wat die publiseerder van hierdie boek gehad het heeltemal uitge-pan het nie. Maar op die tema, die outeur en die titel behoort dit goed te gedoen het – kyk, selfs ek het hom gekoop, bargain bin of nie. Laat ek by die begin begin – en net kortliks, hoor. Ek het nie meer baie tyd vir anner dinge nie. Besige man. Things to do…

Die skrywer (‘n bekende radio-persoonlikheid en skrywer, ek het respek vir hom en alles) trek weg met die kragtige vergelyking dat die lewe soos Monopoly is. Die dice val, jy skuif jou stukkie, jy kry ‘n kans of betaal ‘n boete (of gaan tronk toe), betaal jou belasting, koop en verkoop en eindig hopelik met ‘n paar huise, of as jy gelukkig is met ‘n hotel op Eloffstraat, want dan is dit net ‘n kwessie van tyd voor jy wen (Monopoly is eintlik baie vervelig op daai manier). As alles oor is, word al die stukke, die dice en die kaarte in die boks teruggekrap. Game over. So, sê ST Potgieter, is die lewe: alles is tydelik, binnekort gaan ons almal terug boks toe, almal eindig op dieselfde plek, die dood diskriminieer nie – maak die beste van jou tyd. So iets. Ek moet sê, dit was nogal ‘n kragtige move om mee te begin. Ek was beïndruk. Ek dag toe as die boek so begin, is hier fireworks op pad.  Ek is immers self ‘n gekwalifiseerde, geakkrediteerde, gesertifiseerde en geregistreerde life coach (meeste daarvan, maar ek hou van alliterasie) en ken nogal daai bedryf.

Toe kom nog ‘n goeie move. Ai, om terug te wees in die Kaap het my taal aangetas! Wat ook al, die skrywer beweeg toe na “WIE IS EK”. Dis ‘n classic move (ai, moet mens regtig sê “klassieke skuif”), want in ons bedryf is dat waar ons begin. Jy moet eers weet wie jy is voor jy gaan bepaal waar jy gaan kom, want dis die EK van die nou wat die EK van die toekoms moet word, verstaan? Die toekoms is die ontplooiing van die een en dieselfde EK. So wie is hierdie EK, verstaan jy? In elk geval, Potgieter beweeg na die ware EK en hoe jy jou identiteit ontdek. Hy gooi my toe egter van balans af met die gedagte dat ons ons ware identiteit in CHRISTUS moet ontdek (oënskynlik in die geheel). Onthou nou, hy’s ‘n sielkundige en ek ‘n predikant (en life coach en nog ander jack-of-all-trades onbenullighede, master-of-none). Kyk, ek weet dat ons ons identiteit in Christus moet vind – ons preek dit as ‘n waarheid en so aan, maar Potgieter maak daarvan ‘n praktyk, wat hy nogal deurvoer tot aan die einde, ‘n terapie. Hy sê byvoorbeeld ‘n alkoholis doen wat hy doen omdat hy nie sy ware identiteit verstaan en aangryp nie. Wat is sy identiteit – of sy “ware self”? Wel, dis God se identitieit: “Ek is” liefde, ek is lig, ek is kreatief skeppend, ek is waarheid, getrou, regverdig, heerser, heilig. As die alkoholis dan nou besef dis sy “vals self” wat so suip, skree en die goed stukkend gooi en dat hy in werklikheid in homself ‘n verantwoordelike en liefdevolle pa is met selfbeheersing en so aan, sal hy sy vals self kan laat vaar en sy ware self aangryp. So ook die “ongenaakbare bankier”, die korrupte politieke leier, verslonsde bedelaar, eensame huisvrou (ai, die stereotipes). In die kerk noem ons DIT bekering. Hierdie redenasie voer hy reg deur – en dit is wat my jaloers gemaak het. Dis deksels goed! Ek het nog nooit die saak so prakties gesien nie en het toe ook dadelik gaan dink aan hoe my coaching model lyk en hoe mens eintlik, in jou ondersoek na jouself, hierdie gedagtes op ‘n baie praktiese manier moet inwerk. Ek het Christelike beraad geleer en het self Sielkunde Honneurs, maar nêrens het ek dit so prakties gesien nie. Ons doen gewoonlik nie life coaching so nie. Ek twyfel of hulle dit op Sielkunde Skool geleer het.

Weet jy wat jy dikwels kry in ons bedryf om die kinders van Jesus goed te leer? Predikante word op ‘n sekere manier opgelei en hulle dink dus op ‘n sekere manier. Teologies. Nou kom daar ouens wat nie werklik teologies geskool is nie en leer ook mense oor die Here. Dit frusteer predikante mateloos, want hulle sien goed anders, hulle lees die Bybel anders (“verkeerd”, soms) – hulle sê dit anders. Die sleg hiervan is dat hulle soms heeltemal van die wa kan afval, maar die goed is dat hulle dieselfde waarhede op vars maniere (vanuit húlle kontekste) kan insien. Die volk daarbuite vind dit dan baie meer interessant en inspirerend as dominee se dogmaties-korrekte geprewel of pastoor se uitgetrapte paadjie oor die doop en die Gees. Dink aan Angus Buchan, Joel Osteen en sulke mense (ek ken meer) – geen teologie agter hulle nie, maar die stadions stroom vol. Nou, ek sien Potgieter so: hy lees die Bybel op ‘n nie-teologiese manier (ek sê nie dis verkeerd nie, dis immers soos 99% mense dit lees) en dan kliek die goed vir hom op sy eie maniere inmekaar. Dan sit hy dit in sy terapie (en in sy boek). Ja, goed so (en dalk het hy teologie geswot, het nie op sy CV gekyk nie).

Daarna gaan die boek ongelukkig vir my afdraend. Hoe ontdek ons ons ware EK? Daarvoor gaan Potgieter eenvoudig na stil word en mediteer. Dit was vir my nogal ‘n teleurstelling. Kyk, ek is pro-meditasie (in sy Christelike vorm, “kontemplasie”) en doen dit gereeld, maar ek laat mense hulle identiteit ontdek op ‘n baie meer bewuste manier: d.m.v. hul waardes, kragte, persoonlikheid, passie, storie – sulke dinge. Vraelyste, gesprekke, toetse. Ek sou dan ook “my identifteit in Christus” heel prakties in ‘n vraelys wou omskakel of ‘n tipe selftoets wat ons kan bespreek. Daardie hoofstuk het nie die tema vir my behoorlik deurgevoer nie.  Daarna pak die skrywer maar elke tema wat hy geglo het in ‘n selfhelpboek moet kom: sukses, deursettingsvermoë, intensies, dankbaarheid, hoop, liefde en so aan – en dis hier wat dinge boring begin raak het. Vir my was dit baie algemeen, soort van ‘n ge-google vir nice quotes en stories en aangevul met Skrifverhale (hy love Paulus, verbasend genoeg – maar ek ook) en ‘n anekdote hier en daar. Toe raak die boek lank – en ek teleurgesteld. Dis maar my belewenis. Ek is seker daar is baie vir wie dit nuwe dinge gedoen het – dan is ek bly.

Is dit die laaste selfhelpboek ooit? Ek dink nogal nie so nie. Ek dink daai titel was dalk ‘n overreach – maar nou ja, ‘n boek verkoop, né. ‘n Selfhelpboek moet m.i. egter kort en kragtig wees, prakties, vol aksiestappe en skemas, geanker aan ‘n paar great idees.  Ek dink EK moet ‘n selfhelpboek skryf!

Jammer vir die Engels en die slang.

 

Advertisements

About Jimi le Roux

For more info visit my website at www.jimileroux.com Beskou all artikels deur Jimi le Roux

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

%d bloggers like this: