Monthly Archives: Desember 2017

Verskeie vrae oor my kop en skouers

(Een wat ek nog nie geplaas het nie)

Verskeie vrae oor my kop en skouers

5 Junie 2016

 

Waarom wil jy op jou skouers ‘n las dra wat die ewige God

op sy almagtige skouers wil neem? Bid! Dank! Gee oor! 

CH Spurgeon

 

Hemelse Vader,

vrees hierdie vrees dalk verlies van dit wat te belangrik is:

my vrou, my werk, gesondheid, kinders?

Is hul my waarde, MY waarde? Is hul narsisties aangeheg,

geïnkorporeer as wie ek is, my identiteit? Is ek dít?

Die wanliefde van ‘n swak ego, dus – nou oorbehep, afhanklik?

Of het ek man en vrou en kinders, ouers, gesondheid, werkvermoë

liewer as vir U – soos ‘n onwaardige? Moet ek dus nog kruis toe,

moet ek daardie EK nog sterf, of moet ek dááraan sterf soos pa,

wat sy kinders aan U ‘afgegee’ het – een krisisnag?

Of soos Jim Elliot (who gave what he could not keep to gain

what he cannot lose): toe hulle sê Jim Elliot het gesterf,

sê Elisabeth nee hy’t jare terug gesterf, net God het dáár geleef?

HOE sterf ek, HOE gee ek af? HOE word U alles, ek niks nie?

Ek begeer om alles af te gee en niks te word, te voel nie, Heer,

die vrede vol vertroue te beleef, to laugh the laugh of faith,

maar weet nie HOE nie; om dit net te sê, te bid is niks – dit help nie –

en Spurgeon het dit mis, want dieper, dieper lê die vrees, die vlees:

katekse, vasgestrengel in limbiese strukture, verwronge sielegroeisel,

maar U kan opereer, o Gees? Die skerp, skerp swaard, u skalpel

kan tussen siel en gees, waar dit gedy, die kwaad uitsny?

(Verdoof my droomloos tog net eers met barbitoon voor U genees!)

Immers kan ‘n mens homself nie kruisig nie, jy gaan maar daarop lê,

as good as dead, sê ons – of neem dit daagliks op, jy dra dit agter U;

jy moet WIL oorgee, afgee, dit bely, dis al – maar U, U Here,

moet dit aanvat, afvat, op U skouers vat, my los met die

vrede van die vlam van dié votiewe kers wat flikker, flikker,

in die stilte van belangeloosheid (as net vir U) –

‘laat gebeur wat sal gebeur, want God is in beheer’.

O God, maak ons kinders van die stilte,

erfgename van u vrede (Clemens, 1ste eeu).

Maar ek weet eerlik nie of DIT die doel is, Heer, want

om die pyn te sny, die vrees, moet U in die lewe gaan,

die liefde ook verwyder, die passie, omgee daarmee saam,

die vlees is half al met die Gees vergroei,

die mooi en skoon is met die donker en die sleg vervleg,

die liefhê en die lyding saam verdraai –

immers is dit net die liefde wat kan ly.

Die lewe bly dus

beíde

en moet dus so geleef word.

En al dié vrae moet gedra word

op my skouers, in my kop,

maar ek het ‘n God en

ons kan daaroor praat.

Amen.

Advertisements