(Een wat ek nog nie geplaas het nie)
Verskeie vrae oor my kop en skouers
5 Junie 2016
Waarom wil jy op jou skouers ‘n las dra wat die ewige God
op sy almagtige skouers wil neem? Bid! Dank! Gee oor!
CH Spurgeon
Hemelse Vader,
vrees hierdie vrees dalk verlies van dit wat te belangrik is:
my vrou, my werk, gesondheid, kinders?
Is hul my waarde, MY waarde? Is hul narsisties aangeheg,
geïnkorporeer as wie ek is, my identiteit? Is ek dít?
Die wanliefde van ‘n swak ego, dus – nou oorbehep, afhanklik?
Of het ek man en vrou en kinders, ouers, gesondheid, werkvermoë
liewer as vir U – soos ‘n onwaardige? Moet ek dus nog kruis toe,
moet ek daardie EK nog sterf, of moet ek dááraan sterf soos pa,
wat sy kinders aan U ‘afgegee’ het – een krisisnag?
Of soos Jim Elliot (who gave what he could not keep to gain
what he cannot lose): toe hulle sê Jim Elliot het gesterf,
sê Elisabeth nee hy’t jare terug gesterf, net God het dáár geleef?
HOE sterf ek, HOE gee ek af? HOE word U alles, ek niks nie?
Ek begeer om alles af te gee en niks te word, te voel nie, Heer,
die vrede vol vertroue te beleef, to laugh the laugh of faith,
maar weet nie HOE nie; om dit net te sê, te bid is niks – dit help nie –
en Spurgeon het dit mis, want dieper, dieper lê die vrees, die vlees:
katekse, vasgestrengel in limbiese strukture, verwronge sielegroeisel,
maar U kan opereer, o Gees? Die skerp, skerp swaard, u skalpel
kan tussen siel en gees, waar dit gedy, die kwaad uitsny?
(Verdoof my droomloos tog net eers met barbitoon voor U genees!)
Immers kan ‘n mens homself nie kruisig nie, jy gaan maar daarop lê,
– as good as dead, sê ons – of neem dit daagliks op, jy dra dit agter U;
jy moet WIL oorgee, afgee, dit bely, dis al – maar U, U Here,
moet dit aanvat, afvat, op U skouers vat, my los met die
vrede van die vlam van dié votiewe kers wat flikker, flikker,
in die stilte van belangeloosheid (as net vir U) –
‘laat gebeur wat sal gebeur, want God is in beheer’.
O God, maak ons kinders van die stilte,
erfgename van u vrede (Clemens, 1ste eeu).
Maar ek weet eerlik nie of DIT die doel is, Heer, want
om die pyn te sny, die vrees, moet U in die lewe gaan,
die liefde ook verwyder, die passie, omgee daarmee saam,
die vlees is half al met die Gees vergroei,
die mooi en skoon is met die donker en die sleg vervleg,
die liefhê en die lyding saam verdraai –
immers is dit net die liefde wat kan ly.
Die lewe bly dus
beíde
en moet dus so geleef word.
En al dié vrae moet gedra word
op my skouers, in my kop,
maar ek het ‘n God en
ons kan daaroor praat.
Amen.
Desember 14th, 2017 at 05:41
Drie keer deurgelees.
Jou skryfsel ontlok baie vrae, en ek kan nie nou kommentaar lewer nie.
Wanneer ek betekenisvol kan reageer, doen ek dit.
Soli Deo Gloria.
Desember 14th, 2017 at 06:25
Ek wou eers bietjie prut hieroor (en sal nog), maar wil tog ń gedagte deel, nl. dat ek vermoed dat ń klemverskuiwing van “vrees” na “liefde” iets te make sal hê met klarigheid hieroor.
Die perfekte Liefde wat die vrees uitdryf…
Ander gedagtes wat opspring, maar nog ongedefinieerd is, is:
– die koringkorrel wat in die grond moet sterf, om te leef, en
– Jesus wat gekom het dat ons LEWE in oorvloed mag hê.
Mmm… mens sal dalk maar langer hieraan moet kou…
Desember 14th, 2017 at 08:11
Haha, sien jy nou, Trudie? Ek glo met my hele hart dat die liefde die vrees uitdryf (en preek dit), asook jou ander gevoelens hieroor, maar my vraag – waaroor jy ook sukkel om antwoorde te vind – is die HOE! Moet EK dit doen, of sal HY dit van my wegvat? Ek dink die gevolgtrekking is dat ons tans met die pyn en die mooi moet leef – dis menslik. Ons kan dit egter bestuur, verbeter, verlig – so aan, in ons verhouding met Hom. Maar ja – dit bly tans meer vrae as antwoorde!! Beste daar…