Monthly Archives: Maart 2018

Waarlik God en waarlik mens

Het gewonder in watter mate Jesus MENS was aan die kruis – ‘n belangrike vraag vir ons verstaan van wat die kruis beteken 🙂  Toe skryf ek iets op Goeie Vrydag, ‘n work in progress, maar wat!

Waarlik God en waarlik mens

30 Maart 2018 – Goeie Vrydag

 

Wat beteken dit om waarlik MENS te wees

as jy op Vrydag aan ‘n kruis hang? Wáárlik mens?

Benewens dat jy sterwend is, jou hart wat skop

van bloedverlies en skok; jou liggaam afgesak

aan spykers en jou asem kry nie lug, maar as

jy op jou voete beur om op te kom dan kan jy nie,

want daar’s ‘n pen daardeur? Die liggaam in extremis?

Maar wat gaan deur jou hart? Wat vóél jy as jou vriende

jou verlaat het, as jou ma vertrek van smart daar

staan – ‘n swaard het deur haar siel gegaan?

As jy in bloedsweet eintlik tog maar nog wou leef,

wou bly, nog goeie dinge doen soos preek, genees –

of dalk ‘n vrou en kinders kry? Voel mens dalk dat

jy dit alles misverstaan het, buite-om Sy wil gegaan het:

Waarom het U My verlaat, my God?

Voel mens of jou kop wil bars – die druising buite, binne

onophoudelik die drom: verniet, verwerp, verlaat, verlore?

Voel jy die donkerte wat kom, maar wil laat gaan,

sonder enige verstaan jou gees net gee in Vadershande?

Was dit só om waarlik MENS te wees op daardie dag?

 

Ware mens, ware stryd en ware nood is wat God gebruik

om die sonde en die dood op daardie Vrydag te ontknoop.

Advertisements

Theotokos

Iets wat ek nog wou klaarmaak voor Paasfees. Dit pas by ‘n “Pantokrator”, wat ek oorgedoen het en nou ook so lyk. Dis maar so rof soos al my goed!


Klein lydenstydgebed

Klein lydenstydgebed

2 Maart 2018 – Lydenstyd

 

Hemelse Vader,

ek gaan deur die bewegings van Lent:

ek vas van koffie, wyn en soetgoed

(waarvan ek eintlik net die koffie mis, maar darem).

Ek kom nie eintlik uit by meer gebed nie –

eerder minder so – maar voel tans

onder druk, toegesluit, verstomp, gedisfokus.

Ek beleef nie hoë geestelikheid nie!

Ek gee waar ek kan, maar sou waarskynlik

in elk geval gegee het – en dis maar min.

So, dit gaan nie baie diep nie, maar ek

bly bewus van die kruis en u liefde en

hoe ek sukkel, en dis maar uiterlik,

maar die bewegings van Lent

is tans al wat ek het.

‘n Klein-klein offer!

 

Gelukkig is dit U offer wat tel!

Dankie daarvoor, Here!

Amen.