Author Archives: Jimi le Roux

About Jimi le Roux

For more info visit my website at www.jimileroux.com

5 November 2017

 

5 November 2017

Op die Dag van die Here, in Tulbagh by die dam

 

Vader in die hemel, ek eer U vandag

vir hierdie blougrys berge, massief, majestueus,

vir die groen vallei, wit huisies hier en daar gedot,

en die warm windjie wat die riete wieg hier om die dam,

die voëltjies wat kom waterskep – kyk na die voëls

van die hemel, hulle saai nie en hulle maai nie;

maar tog voed julle Hemelse Vader hulle

dankie vir elke seëning wat ek van U beleef!

Laat u koninkryk in my lewe kom, veral daar

waar U nie reeds regeer nie (ek weet waar dit is)

en kom ook déúr my, Koning: as iemand tog

my skryfgoed lees, mag hul nader aan U kom,

mag hulle hart en lewe méér aan U behoort!

Laat u wil geskied, Here: maar nie net

u toelatende wil nie (dié geskied al reeds),

u volmáákte wil – soos in die hemel,

so ook op die aarde – u droom vir ons, vir my,

wat seën en glimlag, wat heel, herstel,

wat u hemel in my wêreld bring.

Gee my vandag vandag se dinge: krag, gesondheid, geld;

U ken my behoeftes beter as ekself, maar ek het mos

besluit om in geloof te vra vir méér, Here,

vir die beste, vir u volmaakte wil (en waarom nie,

U’s mos my Vader), maar ten minste méér as nou.

Vergewe my my skuld, my sonde, vrees en ongeloof

en vir als wat nog op ons agenda is, ek weet daarvan –

nes ek elke grief vergewe, die seerkry en ontsteltenis

– ek laat dit gaan in Jesus’ Naam – en help my

om versoekings te vermy, want ek’s versoekbaar,

Vader; help my na oorwinning toe!

Verlos my van die Bose. Ek weerstaan weereens

sy boosheid. Hy het by my geen mag nie, selfs my sonde

gee aan hom geen houvas nie, amen – ek is verlos!

Maar aan U Here, aan U – aan U, my Vader…

aan U kom toe die koninkryk,

die krag, die heerlikheid

– the power and the glory –

tot in ewigheid!

Amen.

Advertisements

Seisoene van die Siel – Riaan van der Merwe

Vooraf-verskoning…

Ja, ek het lank laas hier ge-post en ek voel duly skuldig. Skuldig, skuldig, skuldig! Mea culpa! Ek is bloot te besig met ander dinge. Ek is – wat is pre-occupied in Afrikaans? Dis soos ‘n toiletdeur wie se slot skielik voor jou geskuif word van VACANT na OCCUPIED: onverbiddelik en finaal. “Hierdie toilet is ‘pre-occupied’ en jy moet maar ander plan maak, jy moet jouself inhou, jy moet wag”.  ‘n Totaal ontoepaslike beeld! Hoe ook al, ek doen verskillende dinge en was BESIG. Ek het wel tussendeur gelees, maar die een is te oorbekend en die ander te nonsens. Die boek hieronder was egter oulik en ek wil iets daaroor skryf. Ek is al weer met ‘n ander oulike boek besig, maar daaroor later.

Seisoene van die Siel – Riaan van der Merwe (2014, Communitas)

Koop dié boek in die Mall by hulle boekeweek, wanneer al die charities tweedehandse boeke uitstal, tientalle tafels vol. Hierdie is weer my tipe boek. Dr Riaan van der Merwe is ‘n leraar en geestelike begeleier wat weet waarvan hy praat. Hy was by Taizé, by Iona, by L’Abri, hy ken geestelike begeleiding en ken die kontemplatiewe spiritualiteit. Hy ken Merton, Nouwen, Scott Peck, Benner beter as ek en jy. Hy het oorsee studeer in dié dinge. Hy was oor die wêreld by retreats en bied dit ook aan. Hy was deur sy eie krisisse. Ek wil eintlik by hom gaan vir geestelike begeleiding (hy’s in die noordelike voorstede van Kaapstad), maar die afstandjie hou my so ‘n bietjie weg – maar dalk moet ek hom tog nader.

Hy skryf ‘n kort boekie, met net die nodige inligting, vol gedigte en gebede, sodat dit meer ‘n handleiding kan wees vir die praktyk as ‘n klomp teorie. Elke hoofstukkie eindig met ‘n “praxis pietatis” – geestelike oefeninge. Die boek gaan oor die seisoene van die lewe en hoe om geestelik met daardie seisoene om te gaan. Ek som op:

Hoofstuk 1 – Sy eie storie en die feit: life is hard, life is beautiful. Die lewe loop in seisoene: daar kom ‘n tyd vir alles.

Hoofstuk 2Organiese geestelike groei behels dat God, wat alleen die groei kan gee, met jou besig is. Wat kan ons doen? Ons kan net doen wat die boer doen: ons kan die beste omstandighede skep vir groei om plaas te vind. Dit doen ons deur die gebruike of gewoontes van ons geestelike lewe, ons “geestelike dissiplines”. Geestelike dissiplines is die ruimtes wat ons in ons lewe maak om God te beleef. Voorbeelde is gebed en die Woord en gaan dan na afsondering, vas, stilte, diens, die byeenkomste, onderwerping, belydenis, studie, lof en baie, baie ander.  Riaan gaan sekere dissiplines by sekere seisoene van die lewe pas.

Hoofstuk 3 – God werk nie op ‘n vaste formule af met elke mens nie. Elke mens se reis is uniek. Maar almal bevind hulle in ‘n seisoen. In hierdie hoofstuk gee hy die kenmerke van elke seisoen, en hy werk met vyf seisoene: Lente, Somer, Herfs, Winter en dan Nuwe Lente. Hy bespreek op ‘n kaart wat die kenmerke van elke seisoen is, sodat jy kan weet waar jy jou bevind, wat die hoofuitdagings en die vernaamste risiko’s vir vasval. Ek is nou in ‘n tipe herfs-winter, met tekens van ‘n nuwe lente.

Hoofstuk 4die Lente-seisoen

Lente is die seisoen van geestelike ontwaking of nuwe lewe. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Studie
  • Aanbidding
  • Viering

Hoofstuk 5die Somerseisoen

Somer is die seisoen van groei en floreer. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Gemeenskap
  • Diens

Hoofstuk 6die Herfs-seisoen

Herfs is die seisoen van vrug en stroping. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Examen
  • Geestelike Begeleiding

Hoofstuk 7die Winterseisoen

Winter is die seisoen van verdieping. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Afsondering en stilte
  • Kontemplatiewe gebed

Hoofstuk 8die Nuwe Lente

Nuwe Lente is die seisoen van herontwaking. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Eenvoud
  • Geestelike ritmes

Hoofstuk 9Liggaam en siel deur die seisoene

Kort gedagtes oor dissiplines wat die liggaam toewy en bou

Hoofstuk 10Anderkant seisoene

“Alles op sy tyd”, sê die Prediker en dan sê dat God ook vir ons ‘n gevoel gegee het van die “onbepaalde tyd”. Ons is deel van iets veel groter.

In ‘n sin is al hierdie temas oorbekend. Dis die temas wat NOU in die geestelike gesprek belangrik is. Dis soos ons geestelike groei NOU verstaan. Ek het self ook oor al oor hierdie temas geskryf (kyk hieronder vir kursusse waarin dit voorkom). Maar ek het wel waarde geput, hoor:

  • Ek het weer gesien wat my seisoen is en ek verstaan beter hoekom ek die dinge doen wat ek doen en hoekom ek voel wat ek voel.
  • Ek het gehou van sommige perspektiewe wat hy bied. Hy is meer gereformeerd as ek en ek is meer charismaties, dalk – maar ek het ook ‘n baie goeie inleiding in die kontemplatiewe gehad.
  • Ek love dit dat hy die vyf seisoene gebruik, van Calhoun, lyk my, bekendstel, nie vier nie, want anders eindig ons in die donker winter en DIT is doodgewoon nie wat die Bybel ons leer nie!

So – dankie.

Ons kursusse wat die tema van geestelike dissiplines insluit is:

Kliek gerus op die skakels om meer hieroor te lees

Dissiplines van die Meester – oor geestelike dissiplines

Veelkleurige Kleed – ons kursus oor gebed

Geestelike Vorming – ons “basiese dissipelskap”-kursus

Geestelike Lewe – ons kursus oor die dieper lewe

 


Ierse Seën

Mag die pad voor jou gelyk raak,
mag die wind van agter waai,
mag die son op jou gesig wees,
en milde reën jou veld besaai –
en tot ons weer ontmoet,
mag God jou in die palm van sy hand bewaar.

My weergawe van die Irish Blessing. Wou nie te veel afwyk van die oorspronklike nie en ook sy ritme behou. Nogtans is dit moeilik – ek soek eintlik beter rymwoorde. En om met die son op ons gesig te reis is dalk iets anders as wat die Iere in gedagte gehad het!  Iemand kan sekerlik hierop verbeter!

(ek sal weer skryf, maar is dag en nag besig met ‘n manuskrip – ek kla nie!)

Irish Blessing


Opstanding-refleksie by die dam

Opstanding-refleksie by die dam
Paasfees, 16 April 2017

Christus het opgestaan!

Maar wat beteken dit, o Heer? Wat is “op-stan-ding”?
Opstanding is mos ‘n opstand-ding teen die dood.
Opstanding is lewe in die dood en deur die dood –
dis lewe téén die dood in! Dis om teen die wat-ook-al
te staan en hierdie fris en koel suidoosterwind so
diep as moontlik in te asem (God se asem haal) en
hierdie piepklein blommetjies om my raak te sien, te
bestudeer (ja sowaar, en dit in hierdie droogte) en
te besef dat hierdie dam nog net so laag-laag lê as
wat dit laasmaand was, dit het dus nie nóg gesak nie en
die reën is soveel nader, so daar’s genade wat
genoeg is vir ‘n doring-in-die-vlees bestaan en
daar is hoop dat dit sal reën, herstel, genees; hoop
vir ommekeer, vir seën. Dit kan werklikwaar gebeur!
Opstanding is in my kop as ek met wargedagtes
na my Vader gaan (van die vark se peule na die fees
was één besluit gewees toe die seun dít sien vir
wat dit is: dat hy ‘n kind is van die Vader) en ek besef
so lief het God sy Seun gehad dat Hy die lewe gee
vir Hom selfs in die dood, sodat elke een wat eweneens
(ek’s mos ook ‘n kind) na Hom wil gaan, kan kom
en oorvloed vind en geen vorm van die dood sal vrees.
O Gees wat kragtig is, laat my, opstandeling, bely:
dié dam SAL vol loop, dié lewe SAL oorvloedig wees,
in geloof is dit reeds fees: dis tyd vir die oorwinning,
want dís die opstanding!

Hy het waarlik opgestaan!


kruis Kruis

kruis Kruis

Lydenstyd-refleksie

8 Maart 2017

As

jy

aan die Vaste deelneem

is dit moeilik

(en van koffie vas die moeilikste!)

en lánk maar

daar is wel een seën

jy sal jou mislukking sien

jou nie-opdaag-in-jou hart

jy’t gedog gewou dog nie gebid gegee

maar toegeplak met pleisters

van klein-klein kruisigings

jou sonde-aard nog nét so baar

en jy sal weet waarom

Hy

dan

dáár moes hang

en wat genade werklik is


The Last Days according to Jesus (RC Sproul)

sproulThe Last Days according to Jesus. When did Jesus say he would return? (RC Sproul, Baker, New Ed 2015)

Lees weer die subtitel van hierdie boek van hierdie bekende Amerikaanse teoloog. When did Jesus say he would return?  ‘n Deksels goeie vraag! Enige-een wil mos die antwoord hierop lees, nie waar nie?  Veral iemand soos ek, wat my M oor Openbaring gedoen het en sommer hierdie jaar nog ‘n kleurvolle en oulike kursus deur Openbaring wil aanbied.  Onthou, Openbaring is nie waar ons begin as ons oor die eindtye wil leer nie, dis waar ons eindig. Ons begin by die Ou Testament se Messiasverwagting en die profete se beskrywing van die “Dag van die Here”, dan gaan ons na die Messias self – want Hy het toe gekom – en hoor wat HY sê. Dis waar Sproul se goeie vraag inkom. Wat JESUS sê is die raamwerk van ons hele toekomsverwagting (en ons vind dit in Mat 24-25, die sg. “Profetiese Rede”), en dan vul ons DIT in met wat Paulus (opstanding, Antichris), Johannes (Antichris) en Petrus (wederkoms) sê en DAN eers kom ons by Openbaring uit. Sien?

Hier is egter die teleurstelling: Sproul antwoord nêrens die vraag nie!  Nêrens. Die boek is in elk geval toe geen algemeen-populêre boek nie, maar ‘n baie teologiese handboek oor die eindtye. Dit bespreek veral die meriete van die preteriste teenoor die futuriste, as dit by Jesus en die ander Nuwe Testamentiese skrywers kom. Die preteriste sê dat die Nuwe Testament skryf met die oog op dit wat IN HULLE TYD, of in die lesers se tyd sou gebeur – anders sou dit nie sin maak nie, en die futuriste sê dis gemik op die einde, veel later, soos bv. ons tyd of later, selfs duisende jaar later. Anyway, Sproul haal preteriste aan om te wys hy glo hulle is maar reg – maar hy commit hom nêrens aan ‘n standpunt nie!  Dit gaan veral oor die feit dat Jerusalem en die tempel in 70 n.C. oorrompel en platgestoot is. Hy wys hoe die een voorspelling na die ander in daardie verskriklike geleentheid vervul is – maar nie almal nie, né?  Dit was egter ‘n ongelooflike en beslissende besoeking van God aan die Joodse volk. Alles het daarna verander – die tyd van die Messias het daarna aangebreek.

Dis maar dit – ek wens die boek het my meer geleer, maar het darem lig op ‘n paar goed gekry – en ek gaan heel waarskynlik daardie kursus skryf!


Nog vrae, Here

 

As ‘n man u Naam bely en hy

versigtig leef, en dit en dat vermy

wat U nie sal behaag nie

(rook, drink, dobbel, vloek)

en tyd maak om te bid

en in u Woord U soek –

en as ‘n ander man sê hy glo ook,

maar harder leef en vloek

en hom minder steur aan reëls

en sê “God alleen kan oordeel,

los dit tussen Hom en my”

en ek by hom meer liefde kry

vir ander mense: is

SY God nie groter,

SY geloof nie regter, égter nie?

Die verkeerde een wat lief het,

is regter as die een wat reg het,

maar glad nie God se liefde wys.

Dit los my nog met baie vrae…