Category Archives: Diverse skrywerye

Waarvoor ek na 50 nie langer kans sien nie…

Het mos pas verjaar en op 50 is ek nou te oud vir die volgende:

1. uitgerekte en onrekbare sokkies met deurgetrapte hakke – van die goed skreeu al om genade
2. onderklere waarvan die rek deurkom (of probeer wegkom) omdat dit nou al vir die sewe maer en vet jare gedra word
3. hemde in kleure wat vir een belaglike seisoen in die 80’s hoogmode was (en ek die volgende seisoen toe in die bargain bin opgetel het om ook nou “in” te wees), asook die dashemde uit die tyd toe net die kraag moes pas – die res het soos ‘n markiestent uitgeklok t.w.v. boepmae – meters linne wat by ‘n broek ingebondel moes word
4. kunsleer skoene wat uitgetrap raak en ruik na presies drie maande (bargains, almal van hulle)
5. baadjies met breë krae of in die oorvou (Miami Vice) styl (80’s) wat laag met een knoop vasmaak – die goed was duur, man
6. daardie broeke wat net bo jou naeltjie vasknoop en al daardie broeke wie se knoop realisties gesproke nooit, ooit, ooit weer sal kan vasmaak nie asook al daardie jeans wat eenvoudig soos ‘n sak aan jou hang en vir jou absoluut NIKS doen, behalwe om jou ou-ballie-status te onderstreep nie (kyk dit IS moeilik om ‘n jean te kry wat vir my pas, so sterkte aan myself)
7. gym-tekkies wat nie eers meer geskik is vir gras sny of verf nie, en jou soos ‘n seer duim laat uitstaan in die gym, veral saam met ‘n paar dienlike kerkkouse
8. gunsteling T-hemde wat al ses jaar so gerieflik dra en slaap, deesdae so gaterig en uitgerek – dalk behoef dit ‘n jintelman van so om en by 50 om maar weer met regte slaapklere te slaap
9. koffie en tee wat na skottelgoedwater proe, brood en mash wat letterlik geen smaak het nie al proe jy hoe, kaas wat na rubber proe, jam wat supersoet is, maar aan absoluut geen vrug herinner nie, bittersuurtaniene wyn (‘n bargain!), verbrande tjops, ens. Ek het letterlik te min tyd oor om sulke kos te eet
10. handdoeke so dun jy kan die ou ballie daardeur sien
11. deodorant blikkies wat uit ‘n dierbare motief geskenk is, maar wat bots met alles wat ek self dierbaar ag

Op vyftig verdien ek goeie koffie, ‘n ordentlike skeermes, twin ply papier, ‘n goeie hemp, leerskoene, goeie naskeer (wat ek gekry het vir my 50ste verjaarsdag: New West van Aramis, dis briljant – dankie Maryke) en sulke geriefies sodat ek die distinguished gentleman kan word wat ek eintlik is, jy sien…

Advertisements

Ek glo…

In die laaste jaar (2011, my “heilige”, 7×7 jaar) het ek baie opinies teëgekom van mense wat nie meer glo nie.  Om te glo maak nie vir hulle meer sin nie.  Dit is nie logies nie, en hulle beleef nie ‘n behoefte om te glo nie.  Hulle geloofskrisis bring hulle by ongeloof uit, wat baie as ‘n bevryding beleef – ‘n omgekeerde bekering.  Ek is natuurlik nog altyd bewus van sulke opinies, maar dis asof dit die laaste jaar my meer gekonfronteer het.  Ook hierdie jaar is ek weer gekonfronteer met kerk-waaraan-ek-twyfel.  Dis so asof ons ten spyte van (of as gevolf van) baie dogma, kerkisme en politiek nie by geestelike volwassenheid uitkom nie – nie eers die leiers nie.  Beide het gemaak dat ek hierdie jaar baie moes nadink.  Ek glo, dis verseker, maar hoekom glo ek en wat?  Ek dink die heel basiese van my geloof lê net in drie stellings: (1) God is, (2) God is goed en (3) Jesus Christus het my met God versoen.  Vir ‘n tyd was dit al wat ek wou bely.  Vir kerklike doeleindes is ek gemaklik met die Apostolicum en die ander algemene, vroeg-kerklike belydenisse.  Ek wou egter meer van ‘n standpunt-inname maak en het lank aan die onderstaande geformuleer.  Dit beskryf hoe ek die Bybelse geloof vandag beleef.  Ek sal nog teksverwysings bysit waar toepaslik.  Ek is en bly ‘n gelowige, ‘n geliefde, ‘n volgeling van Jesus Christus.  Dis wie ek is.

Kliek hier vir my geloofsuiteensetting.


Die groot gevaar van eet (Deel 3)

Die slot-aflewering van ons hoogs wetenskaplike studie oor waarom ons nie behoort te eet, drink of asem te haal nie.  Die internet bewys aan ons dat dit tot ons dood sal lei.  Sterkte.

7)  Die gevare van suiker

Kom ons hanteer dit sommer nou en handel dit af.  Ons leef in ‘n suikermal wêreld.  Ons eet 470% meer suiker as wat ons in die natuur sou eet.  Ons kan suiker ook nie vermy nie, dis in alles:  ons tamatiesous, peanut butter, brood, bredies, soppe, groentes, ens. kry suiker by.  Hier is die gevaar.  Ons liggame is nie gemaak om soveel suiker te eet nie. As ons suiker in die bloedstroom kry, word insulien afgeskei om dit af te breek.  Halfpad deur ons lewe is die hele insulienmeganisme egter oorwerk en in sy peetjie en breek dit.  Dan sit ons met diabetes, wat natuurlik dodelik is.

Die probleem is dat verfynde suiker ‘n leë voedsel is: gestroop van alle voedingstowwe behalwe koolhidrate, is dit suiwer kilojoules.  Dit doen niks vir jou nie as om jou te laat vet word.  Dis egter nog niks – om suiker te metaboliseer stroop die liggaam homself van natrium, kalium, kalsium, magnesium en aluminium.  Om daarvoor te vergoed word jou liggaam se pH al hoe suurder.  Hoe meer suiker, hoe suurder jou liggaam – die oorsaak van o.a. Alzheimers, atritis, Chron’s,  psoriasis,  seniele demensie en wandelende bene.

Nee, ons moet dadelik ophou om suiker te eet.  Dit is totaal onnatuurlik in die dieet – geen dier neem soveel suiker in nie.  Daar is minstens 76 gevare daaraan verbonde.  Een daarvan is dat dit jou brein se werking onmiddelik vertraag – sinapse vuur 50% stadiger en ‘n glaserige blik in die oë ontstaan, veral hier teen 14:30.  Geweldige moegheid tree in en die pasiënt moet slaap.   11 glase water is nodig om een glas Coke se skade aan die brein te herstel, maar wie kan nou 11 glase water drink?  Geen wonder nie dat ons in ‘n idiotiese samelewing woon wat nie meer 7 met 8 kan maal sonder om ‘n calculator uit te ruk nie.

Moet nie meer ‘n kriesel suiker iewers ingooi nie – onthou, kos was nie bedoel om lekker te wees nie, maar om ons aan die lewe te hou.

8) Diverse ander gevare

Die volgende is almal dodelik vir die liggaam en moet ten alle koste vermy word:

  • Alkohol – alkohol (etanol) is ‘n kragtige senugif wat in ‘n laboratorium berei word en veral gebruik word vir die preserving van embrio’s e.a. wetenskaplike monsters.  In die liggaam kruis dit feitlik onmiddelik die bloed-barrier na die brein, waar dit die pasiënt dronk laat voel en onbeheersd laat optree. 
  • Olie en vet – moet asb. niks in diep-olie braai nie.  Teen ‘n sekere temperatuur verander olie se chemiese verbindings en word dit gewone plastiek (akrielamied).  Geplastineerde hoender dus, is wat ons as take out eet, geplastineerde vis, chips, ens.  Jy kry die prentjie.  En om plastiek te eet lei tot kanker, punt.  Harde margarien is erger as botter – ook suiwer kilojoules (onthou vet is 3000 keer so energiedig as koolhidrate), maar dit word kunsmatig vervaardig.  Dis bv. pikswart voor dit geel verkleur word uit en uit sodat dit soos botter kan lyk.  Vroeër was margarien wit, maar dit het nie so goed verkoop nie.
  • Peper – peper breek nooit af nie, soos DDT – al die peper wat jy ooit eet bly in die liggaam tot jy oud is en maak van jou ‘n behoorlike korrelkop, en dis nie net woordspeling nie.
  • Sout – soos ons reeds gesê het, het ons nou genoeg natrium (sout is natriumchloried) gekry vir die res van ons lewe.  Dit verhoog die bloeddruk dadelik met 30 punte en hoë bloeddruk gee weer aanleiding tot probleme soos hartaanvalle, beroertes en die dood.  Stop dit!
  • Kleur, geur en preserveermiddels – hierdie stowwe is totaal en al kunsmatig.  Dit word vervaardig in groot fabrieke vanuit verf en ander chemikalië en word in groot hoeveelhede bygevoeg om te verhoed dat ander kunsmatige kosse skei, vrot, van kleur verander, ens.  Tamaties word bv. met tamatiegeursel aangevul om meer soos tamatie te proe, letterlik.  Al hierdie produkte word nie deur die liggaam herken nie, en veroorsaak hewige reaksies.  Kanker is die vernaamste siekte, asook chroniese inflammatoriese en outo-immuun siektes asook obsessiewe gedagtes.  Lees die etiket en as dit nie net die kos self bevat nie, sit dit terug.
  • Kunsmatige versoeters – aspartaam is vandag ‘n biljoen dollar industrie en tonne daarvan word vandag orals ingewerk om suiker te vervang.  Ongelukkig bevat aspartaam, asulfaam-K, ens. kragtige industriële gifstowwe (veral fenielalalien en aspartiet) wat suksesvol aangewend word teen slakke, sprinkane, rondewurm e.a. peste. Die feit dat dit ons koffie soet laat proe – gag dan het dit nog daardie leë chemiese smaak – behoort ons nie te oorreed om dit in te neem nie.  Dit word in verband gebring met kanker, visuele probleme, gewrigsprobleme, fibromialgie, MS, duiseligheid, hoofpyne, menstruele probleme, nagmerries en reisnaarheid.  Asseblief.
  • Coca Cola – daar is reeds verwys na die suiker of kunsmatige versoeter daarin (elke glas Coke het 12 lepels suiker in) – ons kan maar net byvoeg van die kragtige suur daarin (fosforsuur – kyk maar self).  Gooi ‘n vuil 2c stuk in Coke en sien dat dit blink gevreet is die volgende dag.  Gebruik Coke om ghries van jou enjin af te haal, of om verf te stroop.  Nou ja, dis wat dit doen aan die binnekant van jou maag – maagswere, duodenale poliepe e.a. aandoenings van die ingewande is die gevolg, asook ‘n uiters lae pH.  Jy kan Coke i.p.v. swembadsuur gebruik.
  • Take aways – ons het reeds verwys na dit wat diep in vet gebraai is – geplastineerdekos, m.a.w.  Laat ons dan net byvoeg dat take aways totaal te veel vet (dikwels in die vorm van kaas) en sout bevat en uiters ongesond is.  Dit lei tot ‘n vetterige lewer (soek maar op) en die hele metaboliese sindroom waaroor dit deesdae gaan.  Take aways vat omtrent al die gevare wat hierbo genoem is saam in een oorprysde pakkie.  As jy weekliks take aways eet, is daar nie hoop vir jou nie – jy was gewaarsku.

9) Die gevare van water

Ten slotte:  moet in hemelsnaam nie water drink nie.  Daar is nie suiwer water op die planeet oor nie.  Water bevat 230 soorte vreemde chemikalieë wat tot chroniese laegraadse inflammasie en dus outo-immuun reaksies lei, asook kanker.  Ons sal nie eers op die hele klug van gebottelde water ingaan nie.  Gebottelde water is ‘n anomalie, ‘n absolute bemarkingstruuk dat ons iets so algemeen soos lug en sand benodig in spesiale bottels.  Ver meer water word gebruik om die bottel te maak as wat die bottel kan bevat en die berge plastiekbottels wat 250 jaar neem om te vergaan groei net aan en aan.  Dit is ‘n skande dat elkeen nou loop met ‘n botteltjie water, ha ha en die “behandelde water” wat so verkoop word is niks anders nie as gesuiwerde kraanwater.  Ironies is hierdie water so suiwer dat dit minerale in ons liggame oplos en uitspoel en weereens tot ‘n lae pH aanleiding gee.  Dieetkenners waarsku dus ernstig teen die oormatige gebruik van gebottelde water.  Kraanwater is weer so gechlorineer en geflurideer dat ons maar netsowel chloor en fluoor by die lepelsvol kan eet, hou dus verby.  Soveel mikroflora het al in die dunderm gevrek van al die chloor dat geen hoeveelheid probiotika dit weer kan herleef nie.  Ha ha en dan eet mense die kunsmatige, versoete, gekleurde, gegeurde, gepreserveerde produk genaamd “joghurt” om hul spysvertering aan te help, shame, onbewus dat dit geen egte joghurt is nie.  Egte Bulgaarse joghurt is ‘n kragtige pekelrige en suur produk met so ‘n skerp reuk dat jy jou neus moet toedruk wanneer jy sluk). Moet in hemelsnaam ook nie “vars water” uit ‘n rivier drink nie, ‘n derde van alle water op aarde is so besoedel dat die visse daarvan vrek.  En hoe sal jy weet watter water dit is.  Cholera, bilharzia, difteria, Geelkoors, en Nylkoors en elefantitis word almal deur slegte water veroorsaak.  Nee asseblief, los die water maar eenkant.

Dit is veral ‘n mite dat mens agt glase water op ‘n dag moet drink – niemand weet waar dit vandaan kom nie, maar dit word deur artikelskrywers herhaal en herhaal todat mense dit nou glo.  Jou liggaam het ‘n eie sisteem wat vir jou sê as jy water nodig het en ons noem dit dors.  Dink net, as jy agt glase water per dag moes drink, sou jy al die pad moes kamerverlaat en jou niere, blaas en baas sou dit nie kon verduur nie.  Dr Tim Noakes het dit bevestig. Gelukkig doen niemand dit nie, alhoewel dit steeds weekliks in tydskrifte herhaal en herhaal word.  Dis nou joernaliste wat hul lyf koskenners hou.

10) Die gevare van lug

Hiermee dan die laaste aflewering van ons insiggewende reeks.  Asemhaling is ook besonder ongesond en behoort eerder gestaak te word, hoe eerder hoe beter.  Daar is baie redes:

Besoedeling is seker die vernaamste:  dit is die 13de grootste bron van sterftes in die wêreld.  Dit is oorbekend dat die lug gelaai is met tonne en tonne giftige gasse soos koolstofdioksied, koolstofmonoksied, swaelwaterstof en koolwaterstowwe – sulke goed.  Dit is die uitlaatgasse van derduisende fabrieke en miljoene motors.  Verder bevat die lug tabakrook (wat self bestaan uit 91 gifstowwe), gifstowwe wat op plante en diere gebruik is, vlugtige gasse afkomstig van verf en chemikalieë.

Lug is ook vol kieme, waarvan stafillokokkus hemolitus en pneumokkus aurelius die vernaamste is.  Griep is jou voorland.  Hou summier op asemhaal of gebruik ‘n masker, soos Michael Jackson of soos baie Oosterlinge wat nie skaam is om goeie maniere te hê nie.

Sommige koop ‘n apperaat genaamd ‘n ioniseerder.  Dit sou nou negatiewe ione in die lug vrylaat wat dan nou so gesond is.  Toetse het egter bewys dat dit hoë vlakke van osoon in die lug kan laat, en osoon in hoë dosisse is natuurlik giftig.

Dan is daar die probleem van lugversorgers (air conditioners), wat die lugweë uitdroog en tot lugweginfeksies aanleiding gee.  Onthou dat mamma altyd gesê “moenie in die trek sit nie”, nou ja ‘n lugversorger veroorsaak ‘n permanente trek.

Dan het mense die nare gewoonte om ‘n air freshener te spuit nadat hulle iewers was.  Bo en behalwe die feit dat die reuk daarvan gewoonlik veel slegter is dit wat dit veronderstel is om te maskeer, bevat dit gevaarlike vlakke van ftalate.  Al vyf soorte ftalate modifieer die hormoonvlakke, veral van kinders, en lei tot groot probleme.  Maak jou eie spray van water – dit bind met die onwelriekende molekules en neem dit grond toe – as dit nog onlekker ruik, spuit net nog water.   Nog beter, vermy swaeldraende voedselsoorte soos kool, uie, knoffel en aspersie.

Slot

Dames en here, dit is dus afdoende bewys dat ons nie vleis, hoender, vis, suiwel, groente, vugte, neute, stysel, suiker, olie en vet, sout en peper, preserveermiddels of take aways moet eet nie, nie water, melk, vrugtesap, alkohol of Coke moet drink nie, en liefs glad nie moet asemhaal nie.

Jammer dat my verhandeling bietjie lank geword het – dit was eintlik nog die verkorte weergawe.

Lekker dag!

(Volgende keer deel ek oor my gunsteling kosse)


Die groot gevaar van eet (Deel 2)

Ons gaan voort met ons interessante internet studie oor die gevare van eet, wat soos ons aflei dodelik is.  Hierdie keer gee ons die redes waarom jy groente, neute, vrugte en grane heeltemal uit jou dieet behoort te sny.  Let op:

4) Die gevaar van groente en neute

Daar is diegene wat wyslik besluit het om geen vleis te eet nie (vegetariërs) en sommige (sg. vegans) eet ook geen ander diereprodukte nie, maar dit help eintlik maar min.  Ons leef in ‘n wêreld waarin daar nie meer veilige groente bestaan nie.   Naas vleis is dit die gevaarlikste kos wat betref bakteriese lading.  Ons groente word van oor die hele wêreld ingevoer en in oorsese lande is daar doodeenvoudig geen gehaltebeheer nie.  Jy weet letterlik nie wat jy eet nie en mens moet nooit, nooit rou groente eet nie.  Tweehonderd mense is onlangs dood van tamaties wat gestoor was in rotgeïnfekteerde pakhuise – en waar gaan jy ‘n pakhuis kry sonder rotte, veral aangesien deesdae se obese, blikgevrete katte geen belangstelling meer in rotte het nie.  Naas die bakterieë is die gevaar eintlik maar gif.  DDT, die effektiefste gifstof wat bestaan, breek tot in ewigheid nooit af nie.  Dit word oorsee nog baie gebruik, en beland in ons ingewande waar dit die slegte en goeie kieme doodmaak. Krampe, hardlywigheid en ‘n bewerige maag is net die begin van die probleme. Let wel dit help nie jy kook dit nie, dis nie op die groente nie, dis in die groente.

Jy kry ook vandag dat kos geneties gemanipuleer word – DNA van verskillende spesies word sommer saamgevoeg, terwyl ons nie regtig weet wat ons maak nie, en as dit begin vermenigvuldig kan dit nooit ooit weer omgekeer word nie.  Monsteragtige gewasse is ons voorland en duisende websites waarsku daarteen, maar wetenskaplikes, omgekoop deur die internasionale bankiers en die Illuminati gaan net voort.  Ander kos word geïradieer, soos hulle sê (kyk maar op die pakkie): dit word met gamma strale (erger as x-strale) bestraal sodat alle bakterie dood is, wat wel gebeur, maar daarmee saam word die hele voedsel ook doodbestraal, voedingstowwe word verloor en chemiese verbindings vorm, soos benseen, asetoon en metieletielketoon.  As jy daardie groente versap en filtreer het jy suiwer diesel.  Sekere ou Mercedesse ry gemaklik op sulke groentesap. Nee dankie – mens wil nie daardie kans vat met jou lewe nie.

Die ander groot ding van groente is eintlik dat jy dit nie so nodig het nie.  Daar is ‘n geweldige hype aan die gang oor hoe gesond die likopeen, ens. nou vir jou sou wees, maar dit is sinister dat die aakligste vorms van groente dan nou kwansuis die gesondste sou wees.  Kom ons begin by kool, blomkool, brusselse spruite, pers kool, spinasie  en brokkoli.  Hierdie sg. groentes is so vreemd vir die menslike spysvertering dat dit onmiddelik lei tot die afskeiding van 670 ml meer swaelgasse in die grootderm, en flatus weet ons gaan net een kant toe.   Uie, preie en knoffel bevat dieselfde eienskappe,  deels omdat dit baie swaelverbindings bevat (wat eers die volgende dag deur die sweetkliere uitgeskei word) maar ook inulien, ‘n onafbreekbare polimeervesel wat regdeur die derms gaan, anderkant uit, en bydrae tot onuitstaanbare gasvorming.  Voeg daarby maar alle soorte boontjies, lensies, erte en ander peule – gelaai met onafbreekbare vesels wat komplikasies by sosiale geleenthede kan veroorsaak.  Aspersies, sampioene en brinjals is nie eers deel van die planteryk nie, maar fungi (swamme, soortgelyk aan wiere) met feitlik geen voedingstowwe nie.  So kan mens aangaan:  pampoen, squash, skorsies, ens. bestaan eintlik net uit vesel, water en karotien.  Slaai se voedingswaarde is feitlik nul en die internet wemel van verhale van slaai waarop ‘n wurm was, selfs Benedictus XXVI het ‘n wurm gekry op sy slaai toe hy deur die koningin onthaal het.  Die Britse pond het daardie dag met 12% geval.  Die lekkerder groente soos aartappels word dan weer afgemaak as sleg vir jou.  Wat is hier aan die gang?  Dit gaan eintlik maar oor ongelukkige en voorskriftelike mense wat vashou aan die credo dat die lewe nie geniet mag word nie en probeer om almal so suur (en opgeblase) soos hulle te maak.  Ai – likopeen, likopeen!  As jy meer likopeen eet, sal jy minder hartaanvalle kry, lekkerder slaap, beter bestuur en sommer die Lotto ook wen.  Die Italianers eet baie tamaties en hulle kry nie soveel hartaanvalle nie, is die redenasie.  Is dit dus die likopeen wat dit veroorsaak?  Wie weet?  Die Italianers ry ook in klein motortjies, luister na opera en behoort aan die Mafia – het iemand al daardie verbande nagevors?  Teoreties kan al daardie aktiwiteite tot gesondheid bydra.  Vermoed maar ‘n komplot.

Kyk, daar is seker meriete in groente, maar mens hoef nie alles te sluk wat vir jou opgedis word nie, by wyse van spreke.  Ons almal ken mense wat sommer oud geword het op vleis en brood.  In elk geval, daar is multivitamien-kapsules.  Drink die soort wat jou van A to Zinc alles gee wat jy die dag nodig het en geniet jou koolvrye, spinasievrye en pampoenvrye lewe.  Dit sal tot minder stres lei, en ons weet stres is ‘n killer.

5) Die gevare van vrugte

Dan is daar diegene onder ons wat dink hulle heil lê in fruitarianism – om net vrugte te eet, soos tannie Essie Honiball.  Dit kan gedoen word, maar wees baie, baie versigtig.  Dis amper nie die moeite werd nie.  Vrugte het groot probleme, veral as jy baie eet, wat glad nie aan te beveel is nie:

Vrugte het oor duisende jare groter en soeter geword.  Wat ons vandag eet as vrugte is lankal nie meer die wilde, klein, suur vruggies van lank gelede nie.  Daardie goed was nog gelaai met voedingstowwe, maar nie meer nie.  Vandag s’n  is eintlik glad nie natuurlik nie, maar die produk van genetiese manipulasie – nuwe vrugte word bv. elke week uitgevind, tot designer vierkantige waatlemoene, oranje waatlemoene en waatlemoene sonder pitte.  Dit is alles hoogs kunsmatig.

Vrugte bevat ook baie suiker.  Hei, sal jy sê – dis mos fuktose, nie sukrose nie.  So what.  Dit jaag die bloedsuiker op (sien by “Die gevare van suiker”), wat lei tot te veel insulien, en die gepaardgaande siklus.  Selfde met vrugtesap.  Ons verbeel ons die gehomogeniseerde (d.w.s. gekookte) mengsel van sappe is baie gesond, ha ha, maar dis so soet dat daar letterlik minder suiker in dieselfde hoeveelheid Coca Cola is.  Moet nooit vrugtesap skoon drink nie, dis hopeloos te soet, te suur en te sterk – verdun dit minstens met twee dele water.  Jy speel met jou lewe.  Jou arme tande.

Mens kan nie eintlik van vrugte leef nie.  Dokters is eens dat te veel vrugte tot ernstige gebreke sal lei soos tandbederf, verlies van spiermassa, onvermoë om ‘n goeie gewigte handhaaf (te maer), loopmaag, chroniese moegheid, dun hare, swak naels en vel en buitengewone geïrriteerdheid.  Eintlik logies, nie waar nie? Ek wonder ook oor die verstand.  Ek het ‘n website gelees van ‘n vrou wat sê sy eet twintig piesangs op ‘n dag en eerlikwaar, sy skryf baie nonsens.  Sy sê ons velle was eers groen en het nou bruin geword sedert die vrugte so useless geraak het. Dit maak mens bekommerd oor piesangs – skynbaar geweldige hoeveelhede kalium, magnesium en genoeg fosfor om ‘n hele kamer te verlig.  Is dit gesond?

Hier sit ons natuurlik weer met die situasie dat jy nie veel mag eet van die lekkerder vrugte soos piesangs nie, terwyl jy natuurlik “onbeperkte hoeveelhede” mag eet van suur goed soos pynappel, appelkose, groen vye, pomelo en suurlemoen.  Dis dan nou so gesond vir jou.  Natuurlik net in teorie nie, nie waar nie, want as jy in praktyk soveel suur vrugte eet, sal jou maag in water oplos en gepaardgaande met hengse krampe so uit-flush dat jy van dehidrasie en elektroliet wanbalans op ‘n hospitaalbed beland.  Dis doodsake – moet dit dus nie waag nie.  As jy dit oorleef en huis toe strompel is jy 5 kg ligter en meestal herken jou eie mense jou nie eers meer nie.

Nee, pas maar op vir vrugte.  Die ander ding is dat mens die pitte kan insluk, wat dan in jou maag kan ontkiem en opkom.  Veral appelpitte is berug daarvoor – ook pampoen (en dan sit hulle dit nog op brood). Die internet wemel van sulke verhale.

Net ‘n woordjie oor neute:  duidelik die saad van ‘n boom, bedoel vir sy eie voortplanting en nie vir menslike gebruik nie.  Vir kommersiële gebruik word dit eers in diep olie gekook, met soveel sout belaai dat dit die hele kalium-natrium meganisme in die liggaam onmiddelik uitgooi, en met gamma-strale geïradieer.  Ja, die liewe peanut. Verteer moeilik en lei in oormaat tot buitengewone hardlywigheid.  Dis asof die grootderm net moed opgee.  Hou verby.

6) Die gevare van graan

Nou kom ons ook by ‘n grote.  Baie belangrik.  Brood is uitgevind as kompakte bron van energie wat hou vir ‘n paar dae.  So kon die vroeë mens die onmiddelik bron van kos verlaat en op ‘n reis gaan.  Maar ons liggame is nie eintlik gemaak om brood te eet nie – sommige van ons se bloedgroepe laat dit ook nie toe nie, vandaar die intoleransies vir glutien, ens.  Glutien is ‘n industriële sterkte gom wat in koring voorkom en deur baie persone glad nie verteer kan word nie.  Graan is eintlik ‘n vreemde of kunsmatige kos vir die liggaam.  Dit bied hopeloos te veel kilojoules en stysel in die vorm van brood, pap, pasta, rys, ens. is verantwoordelik vir die geweldige toename in vetsugtigheid wat ons tans beleef.  Almal is oorgewig.  Dis ‘n epidemie.  Een ware verhaal is van ‘n vrou wat op ‘n plek op drie toilette moes sit, en toe sy opstaan neem sy toe die hele toiletgebou met haar saam – die mense het groot geskrik.  Oorgewig lei tot baie siektes soos hardlywigheid, aambeie, swak sirkulasie, hoë bloeddruk, diabetes en ‘n swak rug.   Die probleem is dat stysel in die liggaam summier in glukose (suiker) omgesit word en in die lewer gestoor word as glukogeen.  Daarna word dit as vet gestoor in die liggaam.  Kilojoules, kilojoules, kilojoules.  Daar is ‘n mistasting dat elke ete op ‘n basis van stysel moet staan.  Sommige neem die voedselgroep-piramide letterlik op en maak eers die hele bord vol stysel, en sit dan al die ander goed bo-op.  Vergeet dit asb. – jy het glad nie aartappels, rys, of ander stysel nodig op jou bord nie.  Hou gerus ook maar op om brood te eet – jy sal dadelik begin gewig verloor.  Sommige mense eet soveel as vier snye brood op ‘n dag, wat gewaarborg is om jou gewig te laat aansit.  Onthou, ons eet omtrent ‘n duisend keer te veel kilojoules per dag.  ‘n Dokter het my ingelig dat die kilojoules van die botter soggens op jou toast genoeg is om die dag te oorleef – al die res word net geberg, en die skaal sal dit vir jou bewys.

In elk geval, wat vandag as brood deurgaan is g’n brood nie, dis wind, sonder enige vesel hoegenaamd.  Terloops as jy gewone witbrood of selfs bruinbrood eet, het jy groot moeilikheid – as jy dan nou af en toe moet graan eet, eet dit in die vorm van baie growwe rog of garsbrood.  Bly te alle tye weg van koek, koekies, pasteie (blaardeeg) e.a. pattiserieë, wat net bestaan uit super gebleikte witmeel, suiker, vanilla, room en kunsmatige kleur- en geurmiddels.  Dit maak onmiddelik ‘n klont in jou maag (waar dit die hoofoorsaak is van sooibrand, reflux, hartkloppings en angsaanvalle, veral saam met koffie), verstop die derm solied en begin om te putrefieer (verrot).  Die dodelike gisting wat plaasvind om hierdie bolus te probeer verteer is erg, want die sg. “kos”, ha ha, is totaal steriel en onafbreekbaar.  Onmiddelik voel jy geweldig moeg soos daar meer en meer energie aangewend word om die klont te probeer oplos, en noodsaaklike minerale word uit die bloedstrooom, lewer en beenmurg onttrek.  Teen die tyd dat die sg. “kos” in die grootderm is, skei dit soveel gif af dat jy sit met skeelhoofpyne en akute buikkrampe.  Sonder groot hoeveelhede senna e.a. laksatiewe sal jy nooit ontslae kan raak van daardie stukkie sjokoladekoek nie.  Nee dankie – dis net nie die moeite werd nie.

Volgende keer (slot): die groot gevare van suiker, water en lug.  Bly weg!


Die groot gevaar van eet (Deel 1)

Die groot gevaar van eet

Het so pas op die internet rondgelees en dit is duidelik: ons is gedoem en moet ophou eet. Om te eet is fataal, in die letterlike, mediese sin van die woord.   Dit sal ons doodmaak.

Bevestig die volgende feite met jou dokter:

1) Die gevaar van vleis

Kom ons begin by die groot sondaar: vleis.  Ons het nie slagtande nie en is dus nie karnivore nie.  Baie mense se bloedgroep skakel hulle ook uit om vleis behoorlik te verteer.  Die vee word gevoer met weggooi vleis produkte, skynbaar gemeng met poefie, wat prione laat reproduseer in die brein (Jacob Kreutzfeldt, ook genoem malkoei-siekte,  of soos een ou gesê het PMS).  Die gevolg?  Gate wat in die brein val en diegene wat die vleis eet kry ook weer gate in die brein.  Baie is al dood daaraan, en ander wat ek ken het dit ook, vermoed ek.

Diere word met groeihormone ingespuit om hulle so vinnig so vet as moontlik te maak sodat hulle kan slagpale toe, ‘n bloederige plek wat jou nagmerries sal gee as jy ooit daar was.  ‘n Verband tussen obese diere en obese mense is onlangs bevind, soos mens seker kan verwag.   Hormone is ‘n besondere probleem omdat ons duidelik reeds te veel het, en dit is bewys dat mans deur vleis te eet veral baie vroulike hormone (estrogeen) inkry.  Almal ken seker daardie vleisliefhebbers wat met ouderdom ‘n sagte lyf kry, al hoe hoër begin praat, ‘n neiging tot shopping doen aanleer en ‘n welige bos hare kry (‘n bles word geassosieer met testosteroon, self ‘n potente gif en ‘n groot probleem tans op aarde, met al die oorloë en aggressie).

Dan kry die diere voorkomend antibiotika of hulle siek is of nie, wat veroorsaak dat ons met elke hap 43 soorte antibiotika inneem, waarvoor ons nou immuun geraak het – sekere bakterieë is nou so sterk dat geen antibiotika meer werk nie.  Hulle hou sekere soorte superantibiotikas toegesluit in hospitale as sulke superkieme sou toeslaan, maar dit vat so lank om toestemming te kry (tot by die minister van gesondheid) om die spesifieke Skedule 7 gifkas oop te sluit dat een vrou feitlik heeltemal opgevreet was deur ‘n nekrotiserende makrofage bakterie, daar was net ‘n been oor toe hulle by haar kom.  Die minister was skynbaar in die buiteland op ‘n toer, en sy moet nou weer die kode kry by haar lyfwag, wat ‘n tas met die kodes (dit verander daagliks) permanent vasgesluit hou aan sy pols, behalwe in hierdie geval het die tas verlê geraak in hulle hotelkamer.

In elk geval, terug na die vleis.  Vleisvet veroorsaak aanplaksels in die are en visserale vet rondom die organe en dus hartaanvalle en beroertes, asook kanker in die ingewande, pankreas, milt en beenmurg.  Braaivleis is ‘n besondere euwel, die rook is gelaai met omtrent 87 giftige karsinogene en as dit aangebrand het, is dit soos soliede houtskool wat jy eet, dit lei dadelik tot kanker van die slukderm, maag, dunderm, dikderm, rektum, ens.  Verwerkte vleis soos polonie, worsies, salami, patees, ens. is so tot die dood behandel met natrium om dit “vars” te hou, ha ha, dat baie mense nou aan natriumvergiftiging lei.  Let maar self op die etikette: Natriumbensoaat, Natriumglutamaat, Natriumchloried, Natriumnitraat en Natriumnitriet.  Daar is letterlik meer natrium in as vleis.  Natrium is net goed tot op ‘n punt, dan bring dit die hele selwanddeurlaatbaarheid-kwessie in gedrang en begin dit ons geleidelik preserveer.  Mens kry letterlik later so ‘n geel kleur en die reuk van formaldehied.  Jy het seker al sulke mense gesien.  Die salpeter (ook suiwer natrium) wat hulle op biltong en in droëwors sit is eintlik ‘n gif wat hulle gebruik om muskiete te spuit en skape te dip, sies, en pasteie word gewoonlik van perdevleis gemaak, gemeng met ‘n bietjie haas, of op die beste 3de graadse vleis wat by die slagpale afgekeur is.  Maak maar jou pastei oop, hier en daar sulke donker stukke vleis, eintlik meer senings, gelukkig is die pastei verder opgevul met ‘n vleisgeur stroop, semolina, tapioca en sellulose.  Hou verby.

Ek gaan nie eers in op die impak van al die vee op die osoonlaag nie – koeie is die oorsaak  van 61% van aardverwarming, hulle skei skynbaar geweldige winde af (suiwer koolstofdioksied, koolstofmonoksied en metaangas) as hulle so loop en gras eet.  Mens kan jou indink.

Moenie dink hoender is OK nie.  Hulle word in haglike omstandighede aangehou. Hul vleis is so vol adrenalien, kortisol, en ander streshormone a.g.v. die spanning waaronder hulle leef dat ons nou sit met epidemies van angstoestande, depressie, insomnia en enurese (bednatmaak).  Dit het niemand verbaas dat ons nou geleer het dat hoenders verby hulle vervaldatum met chlorox (Jik) afgespoel word, met water opgepomp en hervries word en weer op die rak geplaas word met ‘n nuwe vervaldatum en duurder prys nie, gegewe dat dit nou swaarder is.  As jy die hoendervel eet, en baie doen, kry jy natuurlik baie geel hoendervet in, wat gelaai is met oksidante.  Dan gaan ons nie eers in op die gevaarlike voëlgriep (avian flu) wat in die mis van hoenders uitbroei en ‘n groot gevaar word nie, gegewe dat daar 11 hoenders vir elke mens op aarde is. Hoenders pik hul eie poefie en ons pik natuurlik weer aan die hoender, by wese van spreke.  Laat ek eerder ophou.

Bly net weg van alle vleis, dis waarop dit neerkom.  ‘n Vleisvrye dieet is gewaarborg om jou 19 en ‘n half jaar langer te laat leef.  Mens voel ook veel ligter en energieker (na mens vleis geëet het voel mens so moeg en swaar omdat dit geweldig energie verg om dit te verteer – mens sink byvoorbeeld as jy ‘n ete met vleis ingehad het en kan verdrink), jy kry nie nagmerries nie en is minder opgeblase – selfs die flatus is skynbaar nie meer so onwelriekend nie.  Bly ook sommer weg van alle diereprodukte, maar daarby sal ons nog kom.

2) Die gevaar van vis

Gedink vis gaan jou redding wees?  Dink maar weer.  Vis is wel hoog in proteien en omega 3-vetsure, maar daar word toenemend bevind dat die kwikmetiel-ladings in vis abnormaal hoog is.  Alle stopsels (wat kwik amalgaam bevat) beland uiteindelik in die grond, en daarvandaan in die water, dan in die see, dan in die visse, en dan weer in ons – hierdie keer egter nie in die mond nie, maar in elke sel van die liggaam.  Massiewe hoeveelhede kwik, lood, bismut en tallium in mense veroorsaak tans omtrent alle soorte kankers en ander degeneratiewe siektes wat hulle tande laat uitval (ironies, nè), swak visie, bewerigheid en los stoelgange.  Daar word selfs gewaarsku dat jy nie eers naby sulke mense moet staan nie, a.g.v. die radiasie.  Dieselfde probleem kom voor as by vleis nl. dat die waters van die Noord Atlantiese Oseaan gelaai is met estrogeen.  Baie visse wat daar dood uitspoel is geslagloos, ja letterlik, a.g.v. die effek van estrogeen.  Dan wonder jy oor die probleme wat ons vandag beleef, nl. dat mense nie kan uitmaak wie of wat hulle is nie.  Jy is immers wat jy eet.  Katvis is besonder sleg, ‘n aas- en moddervreter met gene van sowel katte as visse.

Vis en ander seekos (en ons gaan nie eers in op die ernstige allergieë nie) gaan maklik af en kieme en parasiete bou geweldig vinnig op en iemand wat dit eet kan ‘n hewige anafilaktiese skok opdoen.  Baie mense is al dood van vrot vis.  Alle seekos wat nie vinne of skubbe het nie, m.a.w. kreef, krap, garnale ens. is molluske (slakke) en onrein verklaar in die Bybel – met goeie rede.

3) Die gevaar van suiwel- en ander diereprodukte

Die mens is die enigste dier op aarde wat melk drink as hy reeds volwasse is.  Melk is duidelik gemaak vir die voeding van kleintjies totdat hulle gespeen is en na hulle natuurlike vaste kos kan oorskakel.  Dan drink hulle nooit weer melk nie.  Waar kom ons daaraan om aan te hou melk drink, en dan nog die melk van ander diere?  Dit is absoluut gross.  Geen wonder dat baie mense allergies of intolerant is vir melk nie. Hoekom is dit so?  Kom ons kyk waaruit melk bestaan: water, kaseïen, 59 aktiewe hormone, heelwat allergene, vet en cholesterol.  Die meeste koeimelk het meetbare vlakke van dit wat die koei geëet het (en soms kan jy daardie bitter bossies proe, nie waar nie), insluitende plantdoders, plaagdoders, dioksiene, tot 53 kragtige antibiotikas (insluitende LS-50), bloed, bakterieë en virusse – selfs radioaktiewe bestanddele (strontium-90) ens.  Glo my, ek het die slegstes nie eers genoem nie.  Homogenisering breek die groot molekules in melk af wat veroorsaak dat swaar metale, soos reeds genoem, en goed soos mycobacterium paratuberculosis in die organe beland, deur die bloed-barrier wat dit sou uithou, weereens met simptome soos sweterigheid, slegte slaap, huilerigheid en aandagafleibaarheid.   Pas op.

Moenie dink jy drink melk vir die kalsium nie.  Kalsium word net opgeneem saam met magnesium, wat in moedersmelk ver meer teenwoordig is as in koeimelk – slegs 11% van die kalsium in koeimelk kan opgeneem word.  Vergeet dit dus.  Die baie melk gaan jou eerder vet maak, want melk is reine dierevet en dit is sinneloos om die vet van jou vleis af te sny en dan melk te drink.  Die probleem van oorgewig en vetsug neem epidemiese proporsies aan en die drink van melk speel ‘n groot rol.  Alle vet mense is lief vir melk.  Is jy vet, maar drink nie melk nie?  Ek het nuus vir jou:  als wat van melk gesê is moet jy met tien maal vir joghurt, kaas en botter, lg. omtrent die naaste aan suiwer kilojoules as wat jy kan kom.

Nog net iets oor eiers.  Alhoewel die blote gedagte om ‘n ander spesie se eier te eet alleen nogal regtig barbaars en hartseer is (veral vir vroue), die volgende:  eiers is die kos van reptiele.  Laat mens dink, nè?  Die van ons wat wil eiers eet moet baie versigtig wees.  Rou eierwit kan baie gevaarlik wees a.g.v. bakterieladings en bulimie veroorsaak.  Selfs gaar eiers bevat genetiese materiaal en kan mense se reproduktiewe sisteme heeltemal uitgooi  veral a.g.v. die estrogeen.  Heelwat body builders, wat baie eiers eet, tot twee dosyn per dag, sit vandag met impotensie, lae libido en mikropenie (ironies, nie waar nie).  Ook vroue wat baie eiers eet kan sukkel met hormonale afwykings, ritmeprobleme, woede-uitbarstings, nagsweet en algemene buierigheid.

Ten slotte word eiers dikwels moeilik verteer in die kleinderm, en word die geel afgebreek in putrefiserende en swaelagtige gasse soos swaeldioksied, waterstofsulfied, metaan en merkaptaan wat die flatus geweldig onwelriekend affekteer.   Dit is skynbaar geneties – as die ouers die probleem het, het die kinders dit ook, alhoewel gemmer en ment getrek op warm water skynbaar help.

Ons het nie eers ingegaan op die produksie van eiers deur batteryhoenders onder skerp ligte nie – hulle is nou besig om ‘n mutante hoender te ontwerp wat nie voete, vere of oë het nie, dit lê net eiers dag en nag, vir ‘n wêreld wat reeds heeltemal te veel proteïene eet, maar skynbaar eierbedinges geraak het.  Korrupte amptenare steek hierdie feite vir ons weg, maar dit het wel uitgelek op ‘n website wat ek gesien het.

Bly eerder weg van alle diereprodukte!

(Volgende keer: die gevaar van groente, vrugte en graan)


The Blessing of the Vines

Het nou die dag die “Blessing of the Vines” bygewoon hier buite Stellenbosch op Nagenoeg en Beau Belle (langs Spier). Wat ‘n mooi en interessante ondervinding!  As predikant is dit vir my altyd interessant om te sien hoe ander die Here dien, en hierdie was ‘n katolieke geleentheid.  Ek sien myself mos ook as ‘n post-evangeliese, post-charismatiese en post-protestantse Christen en voel des te meer dat hier iets is waarby ek kan leer…  Ek gaan sommer so deur die seremonie gesels, dalk interesseer dit jou ook:

Die kerkie op NagenoegDie kerkie is vreeslik mooi geleë op die werf van Nagenoeg, maar naasliggend aan baie wingerde.  Te pragtig met sy gekleurde glasvensters.  Nogtans is dit ‘n funksionerende kerk, kompleet met altaar (op twee vaatjies), liturgiese ruimte, ikone van Jesus, beeld van Maria, gebedskerse en so aan.  Die diens begin met die eerste gesang (All things bright and beautiful gespeel op ‘n regte traporrel), waarby die vyf priesters, gelei deur die aartsbiskop van Kaapstad en twee senior lede van die bisdom, ingestap het.  Die aartsbiskop voor met sy herderstaf en biskoplike hoed.  Almal in volle drag – baie kleurvol.  By die ingang na die liturgiese ruimte voor stop hulle en buig, soos hulle doen (die altaar is ‘n simbool van Jesus se kruisdood) en soen dan die altaar.  Dan gaan sit hulle.  Die gemeente ken nogal hulle rituele en simbole want ons is deur verskeie gebede en voorlesings, en daar is heelwat gekniel en gestaan en geantwoord en saamgebid – ons protestante het heel tuis gevoel deur sommer net te bly sit en te probeer vriendelik lyk. Die een voorlesing was uit ‘n brief van Paulus en is deur ‘n gemeentelid gedoen, en die tweede was uit die evangelies, m.a.w. Jesus se woorde, deur ‘n priester.  Dit was ‘n heeltemal ander saak.  Hy het eers die Bybel gesoen en homself gekruis op sy kop, mond en hart en almal het opgestaan.  Ek was nogal beïndruk met die respek wat betoon is.  Die aartsbiskop het ‘n gepaste boodskap gelewer en op ‘n stadium die water wat gebruik sou word om die wingerde te bless, toegewy, ook met ‘n bietjie sout.  Toe was dit die nagmaal.  Nie-katolieke is mooi gevra om nie deel te neem nie, en daar is gevra hoeveel mense sou nagmaal neem.  Net die regte hoeveelheid brood (die ronde wafers) is toe gereed gemaak.  Toe is die elemente baie amptelik toegewy en gebreek – op hierdie stadium glo die katolieke dat die elemente die werklike liggaam en bloed van die Here word.  As die aartsbiskop tydens die nagmaal lees: this is my body of this is my blood, wys al die priesters daar met hul hande na die elemente, dit was mooi.  Ons het ook die Sanctus saam gesê, en mekaar die “kus van vrede” gegee – almal het mekaar net daar in die kerk gegroet en geseën, nie geweet die katolieke doen dit nie!  Toe is die deelnemers genooi om na vore te kom vir die nagmaal.  Ek sien die brood word nie meer in die mond gesit nie, maar in die hand; sommige (wat wou) is net geseën.  Terwyl nog dinge na die tyd plaasgevind het, het die een priester wat by die altaar gehelp het, al die orige brood opgeëet en die wyn opgedrink (aangesien dit nou heilige dinge is).  Die aartsbiskop het ons met heilige water besprinkel en ek het seker gemaak ek kry ook van die spray om nie op ‘n seën uit te mis nie… Toe het ons To God be the glory, great things He has done gesing en het hy die diens afgesluit met die seën.  Met die slotlied (Guide me O thou great redeemer) het al die priesters weer die altaar gesoen, by die ingang na die liturgiese ruimte omgedraai en daarheen gebuig, en toe in prosessie uitgestap, terwyl die aartsbiskop, met sy regop hoed en staf, nog links en regs almal onder die teken van die kruis probeer inkry…  Ek is daar uit met ‘n gevoel van verwondering – dit was vreemd, maar ek het ook definitief iets van die Here daar beleef. Dit was omtrent die volkleur en uitgebreide weergawe van wat ons ook maar in die Gereformeerde kerke sien, hier en daar ‘n vreemde element.  Ek was weer verbaas dat daar soveel is wat ons saambind, en was bly dat die Jesus Christus, my Here, by daardie diens Nommer Een was.

'n Heerlike piekniekNa die diens is ons op die trekkers se sleepwaentjies deur die wingerde en het die priester links en regs die heilige water op die winderde gespat as simbool van God se seën – ons het reeds in die kerk gebid vir ‘n goeie oes.  Daarna was dit piekniek onder die bome, en ons het nogal heerlik geëet.  Ek het ook bietjie met die aartsbiskop gaan gesels, waar hulle nou in gewone drag as gewone mense gesit en eet het.  Ek het sommer vir hom vertel hoe ek dit beleef het, en my waardering uitgespreek.  Hy was doodvriendelik en het gevra dat ek vir hom ook sal bid.  Later wou hulle hom leer hoe om die kop van die sjampanjebottel met ‘n swaard af te slaan (alhoewel ons in true SA-style ‘n panga gebruik), maar hy het opgegee na ‘n paar probeerslae.  Au sabrage deur 'n kennerDie leermeester het daarna met een slag die kop summier af geslaan.  Hierdie was mos my tweede “Blessing of the Vines” – alhoewel ek nie laas keer die diens kon bywoon nie – en ek is reeds laas jaar ingelyf in die geheim van die au sabrage.  My probeerslag het die eerste keer gewerk en ek het nog die kurk in sy stuk glas as die bewys.

Ek kan jou vertel hoe dit werk, maar dis ongelukkig ‘n geheim vir ons ingewydes…

 


Alles het beter geword

Alles het beter geword

Soos belowe, brei ek ‘n bietjie uit oor die voordele van ons tyd teenoor die verlede.  Ons kan verskriklik bly wees om in die huidige tyds-“gewrig” te leef (‘n mooi woord), want die voordele is amper eindeloos.  Dink bv. aan die volgende:

In die ou tye is daar ‘n totale oormaat klere gedra.  Alles was formeel.  My pa het feitlik altyd ‘n das aangehad.  G’n niks jeans, t-hemp en plakkies soos die meeste van ons rondloop nie.  Nee – flannelrige langbroek, wat vreeslik warm en jeukerig kon raak, lang kouse – vroeër tye skynbaar nog met sulke ophouertjies van rek bo gehou.  Ek praat nou van mans, nè, so onder die knie.  Dan, die onderbroek.   Niks anders nie as ‘n reuse Y-front (altyd wit) van daardie gaatjiesmateriaal.  [Ek sal my maar nie op die terrein begeef van vroue se girdles en garters en dergelike bloomers, brazieres en “buuste-lyfies” (wat dit ook al mag wees) en ander “vormdrag” en “steundrag”  wat hulle moes help indruk, opdruk en uitdruk nie.  Shame – dit was erg.]  Knarserige leerskoene was die norm, skynbaar altyd te klein of te groot.  Onthou, slegpassend was die in-ding.  Bolangs is daar eers ‘n onderhemp gedra (wat ons genoem het ‘n “wes”), dan ‘n hemp, onderbaadjie, baadjie en jas (indien nodig).  Strikdas.  Dan, om die ensemble af te rond, ‘n hoed.  Tot net omtrent 50 of 60 jaar gelede het alle mans altyd ‘n hoed gedra.  Dit was verpligtend.  As jy baie grand aangetrek was, ‘n pluiskeil of bolkeil, so nie so ‘n slap tipe hoed soos die private eyes van die 50’s (Columbo het nog so ‘n hoed gedra), of ‘n “stetson” (‘n cowboy-hoed soos wat John Wayne gedra het).   As jy totaal informeel was, moes jy steeds iets op jou kop hê, onthou dis verpligtend, en dan het jy ‘n pet gedra.  Maar iets moes op jou kop – om kaal kop te loop, was seker maar ‘n skande, dink ek.  Dan was jy amper klaar aangetrek, want al wat jy nog gekort het was ‘n stok in jou hand.  Ja inderdaad, jy kon nie die huis verlaat as jy nie ‘n wandelstaf in jou hand gehad het nie.  By die voordeur het ‘n hele klomp van hulle in die hall stand gestaan by die sambrele.  Kies maar een daar, boere-ooms was lief vir ‘n kierie met so ‘n gebuigde bokant.  Sommige was grand, so ‘n blink swart, versierde ding.  Ek weet eerlikwaar nie wat jy met so ‘n stok gedoen het nie, maar dit was seker handig om honde van jou weg te hou of om sienswaardighede uit te wys terwyl jy op jou wandeling was, of soos Ben Trovato sê, om vir die ou vrou mee te wys waar die tyd al staan (op die grandfather clock) en daar is nog nie tee gemaak nie!  In die ou tyd was daar baie meer tyd en is daar daagliks gewandel.  Iets wat ek nog onthou, is dat die ooms wat kantoorwerk gedoen het sulke silwer of goue kettinkies wat kon rek aan hulle bo-arms gedra het om hulle moue bo hulle polse te hou terwyl hulle skryf.  Anders was die moue heeltemal te lank.  Ek kan ook byvoeg dat alle klere hopeloos te groot was – reuse kardoesbroeke wat soos ‘n sak aan jou gehang het en ‘n oorgroot baadjie was die normale ding.  O ja, dan die pyp, sigaar of sigaret.  Letterlik almal het gerook.  Die restaurent, fliek en vliegtuig was altyd blou van die rook (daar was wel ‘n rookseksie, maar wat help dit as die rookseksie by die persoon langs jou begin?)

Dit bring my by TV en tegnologie (of die gebrek daaraan) – vandaar die lang wandelings.  Ons het natuurlik ‘n telefoon in die huis gehad, of soos my ouma gesê het, ‘n foun.  Sy het ook van ons mouter gepraat, wat my pa ge-“dryf” het.  My pa was on top of technology, want hy het sommer fonogramme (telegramme oor die foon) gestuur.  Jou telegram was die vinnigste boodskap wat jy kon deurkry na iemand toe – jy het ‘n vorm in die poskantoor gaan invul (of soos pa oor die foun uitgespel), waarna dit oor geteleks is, en ‘n briewebesteller het dan anderkant op sy rooi fiets gespring en gesaag om dit te gaan aflewer.   Dit was iets besonders as jy ‘n oproep van ‘n ander stad gehad het – my pa sou dan amper uitroep “hooflynoproep!” en dan ekstra hard praat.  Daar was ook radio.  Min of meer almal kon kortgolf opvang (met ‘n groot gesuis tussenin) en mediumgolf het ook ‘n paar stasies gehad.  FM, die helderste klank, was ietsie van ‘n luukse en nie almal kon dit opvang nie.  Daardie tyd is nuwe radios ook verkoop as “FM”-radios, darem nie sommer sulke hierjy kortgolf stelletjies nie.  Ons het ook ‘n platespeler gehad.  Nylon of iets is gebruik vir die hipermoderne 33 rpm groot swart musiekplaat (“long playing record”) – voor dit was plate dikker en van bakeliet, of so iets.  Elektronika was nog nie eintlik uitgevind nie, dus: geen TV, rekenaar, selfoon,  internet, ens.  As jou pa iewers rondry en vergeet het om jou by die skool op te tel, kon jy nie bel nie.  Jy het doodeenvoudig gewag.  Mens moes baie wag in daardie tye – maar dit was OK.  Jy was rustig – daar was tyd.  Ons het eintlik heel goed reggekom sonder selfone.  Daar was wel ‘n telefoonhokkie naby, waar jy 5c of 10c of 20c kon ingooi om te bel.  Maar nou ja, hulle was meeste van die tyd stukkend.

Wat motors betref, ‘n uitvinding van so 100 jaar oud:  toe ek jonk was, het mense nie eintlik viersilinder karre gekoop nie.  Dit was te swak.  Daar was net ‘n paar Japanese modelle (en hulle het ‘n slegte naam gehad) wat vier silinders gehad het en dan daardie piepklein Italiaanse minikarretjies met drie wiele wat klein enjintjies gehad het.  Niemand sou in daardie tyd gedink het dat Toyota vandag die hoofverkoper in die wêreld is nie (en dat Korea karre sou maak, sou net belaglik wees) – dat Ford die maak met ‘n slegte naam sou word (op ‘n tyd), en Chev moes baklei vir enige markaandeel hoegenaamd, sou almal stom geslaan het, want daardie tyd was dit maar ‘n stryd tussen Ford en Chev.  BMW en Audi het in daardie tyd sulke pieperige sedannetjies gemaak, en Volkswagen se aanbod was die Kewer (en ‘n derde van alle karre op die pad was Kewers, en dis nou letterlik, en die Kombi. Mercedese was eers so ronderig, en later met sulke effense vlerkies agter by die agterligte.  Onthou, dit was die tyd van die groot karre – reusagtige bonnets, oop kappe, kunsleer banke voor en agter, stuurwiel met silwer ring op vir die toeter, gear lever in die stuurkolom, vlerke agter.  Ramblers, Buicks, Fairlanes, Chryslers, Dodges en die versameling Fords en Chevs. Om terug te keer: ordentlike karre het ses silinders gehad (ons het ‘n Chev 3.8 gehad en dit was nog nie die grote nie – hy was 4.1 liter), en die groter karre was 8 silinders.  Studebaker het hulle nooit verwerdig om iets anders as 8 silinderkarre te maak.  Ja, reuse karre, reuse enjins, reuse snelhede, Mariebeskuit-dun wieletjies, ellendige remme, geen sitplekgordels – in kort, doodskiste op wiele.  Ek onthou dat die meeste karre toe ek nog klein was aangesit kon word deur dit voor met ‘n slinger te draai.  Daar was wel ‘n elektriese aansitter, maar as jy met ‘n pap battery sit, kon jy dan sommer die kar met die slinger start.

Kom ons beweeg na “lewenstyl” (as mens dit so kan noem, ha ha).  Vroeër was die toilet buite die huis – die “kleinhuisie” het agter op die werf gestaan.  Dit was ‘n onbeskryflike aaklige plek, ‘n plank met ‘n gat in en ‘n stappeltjie koerantpapier.  Klomp vlieë, natuurlik.  Daar is nie op die toilet tyd verspil deur ‘n lesery of ‘n getuur nie, nee meneer!  Dankie tog vir die uitvinding van die “binnetoilet” oftewel die “spoeltoilet”.  Die spoelbak was daar hoog teen die muur en daar was letterlik ‘n ketting wat getrek moes word om die toilet te laat spoel – vandaar dat die ou mense sou praat van “die ketting trek”, lank na die letterlike ketting verdwyn het.  Ai, en dan was daar ook die gebruik om onder die bed ‘n chamber pot te hou,  sooo gerieflik dan hoef mens mos nie in die nag na die kleinhuisie toe te gaan nie.  The less said, the better – die lewe het ook vir die chamber maids van hierdie wêreld drasties verbeter!   In elk geval, meer onlangs is die toilet in die badkamer geplaas (‘n onpraktiese reëling), vroeër was dit altyd ‘n aparte vertrek.  Trouens , nog vroeër was daar geen badkamers in huise nie.  Elke slaapkamer het ‘n wastafeltjie gehad met ‘n marmerblad, en ‘n kom en beker.  Uit die beker het jy water in die kom gegooi en dan het jy voor slapenstyd jou lyf gewas met ‘n waslap en seep – soggens net gou gesig gewas en jy was reg!

Onthou – geen haardroërs nie.  Hare was dus maar au naturel – m.a.w. dis gekam en so gelaat soos dit was.  Mans het die natuur gefnuik deur Brylkreem op te sit – ‘n ligte room waarmee jy jou hare natgelek en plat op jou kop kon hou die hele dag.  Ek onthou ‘n advertensie in ‘n fliek. ‘n Klomp mans staan en kyk vir die kamera.  ‘n Wind kom op en almal se hare waai deurmekaar, behalwe een s’n.  Sy platgelekte hare bly styf teen sy kop – aha, die Brylkreem-man!  Grease is the word… Kom ons wees reguit – feitlik almal se hare was in daardie tyd lelik.  Vroue se hare is opge-tease, en ingekrul, maar vir baie mense was dit sondig om jou hare te kleur.  Hulle was dus vroeg grys.  Dan was mense in die ou tyd ook baie vroeg oud – eerlik, op 40 het mense gelyk soos deesdae se 60 – die wear en tear was erg.  Sonskade ook.  Die in ding was tan – almal het ge-tan so dikwels as hulle kon.  Ure en ure is in die son gelê en hulleself beetrooi verbrand, natuurlik.  Om nie eers van die tande te praat nie… onthou, geen ortodonsie, inplantate, caps of bleiking was moontlik nie.  Meeste mense het maar skewe tanne gehad en dit was dit.  As die gat groot was, het die tandarts sommer die tand uitgepluk – spaar jou baie moeite vir die toekoms!  Trouens, dit was ‘n mode op ‘n tyd om al jou perfekte tande op 16 te laat uittrek en te vervang met plastiektande wat wankelend in jou mond vasplak en jou verhoed om vir die res van jou lewe steak, biltong, appels, ens. te eet.  Wat het hulle gedink?

Wat ons gesondheid oor die algemeen betref, is ons dus baie beter af as ons voorsate.  Die ou mense het hulle eie idee gehad oor siektes en genesing, wat totaal onwetenskaplik was.  As jy oorpyn gehad het is dit “reggedokter” (ha-ha) deur warm soetolie in die oor te gooi – nodeloos om te sê dit het geen effek gehad nie.  Gebarsde oordrom was jou voorland.  As jy masels het, moet jy net nooit naartjies eet nie, of bad nie, om te verhoed dat dit “binne toe slaan”, en as baba se tande “in die kaste inskiet” help ‘n bietjie brandewyn op die gums – meer brandewyn werk natuurlik  nog beter!  Brandwonde het dadelik botter, of tandepasta opgekry, en iemand met koors is warm toegewikkel.  Dan sal die koors hemelhoog styg en kan hy dit uitsweet (of sterf).  Tandpyn is behandel met naeltjie-olie en vratjies is met ‘n halwe aartappel gevryf.  Dan plant jy die aartappel en as dit opkom, val die vratjie af. Wat “hulle” sê (“hulle” was ‘n kragtige bron van waarhede) ook gewerk het vir vratjie is om dit op volmaan maan toe te blaas.  Jy blaas net oor die vratjie in die rigting van die maan.  Dan het mense daarin gespesialiseer om te verneem van rate wat sou werk vir dit of vir dat.  Daar was geen logiese verband tussen die siekte en die raat nie, maar dis absoluut geglo. Aambeie?  As jy gebad het, droog jou hande eerste vinnig af, tot dit kurkdroog is.  Droog dan die res van jou lyf af.  Aambeie sal vinnig verdwyn.  Hou aan om op hierdie manier af te droog en jy sal nooit weer las hê nie.  Sekere ernstige siektes van die ou dae bestaan nie eers meer nie – mense het bv. ‘n “senuwee-ineenstorting” gekry (of aan hulle “senuwees gely”).  Baie medisyne is gebruik om “die bloed te suiwer”.  Daar bestaan natuurlik nie meer sulke diagnoses nie.  Een van die ergste goed wat met jou kon gebeur was om “koue te vat” – dit het gebeur as jy te koel aangetrek was, of in ‘n trek gesit het.  As jy verkoue gekry het, het jy gedink aan ‘n keer wat jy dalk voor ‘n oop deur of venster gesit het, of jy sou sê dit het skielik koud geword onlangs, of mense sou sê dit is koud en dan weer warm, koud en dan weer warm.  Daar’s jou verklaring!  Niemand het gedink dit gaan oor verkouevirusse nie.  Jy kon natuurlik ook ‘n “koue op die blaas”, of op die niere kry.  Hou tog net alle vensters toe!

En trek jou wes aan!