Category Archives: Leeslys

Seisoene van die Siel – Riaan van der Merwe

Vooraf-verskoning…

Ja, ek het lank laas hier ge-post en ek voel duly skuldig. Skuldig, skuldig, skuldig! Mea culpa! Ek is bloot te besig met ander dinge. Ek is – wat is pre-occupied in Afrikaans? Dis soos ‘n toiletdeur wie se slot skielik voor jou geskuif word van VACANT na OCCUPIED: onverbiddelik en finaal. “Hierdie toilet is ‘pre-occupied’ en jy moet maar ander plan maak, jy moet jouself inhou, jy moet wag”.  ‘n Totaal ontoepaslike beeld! Hoe ook al, ek doen verskillende dinge en was BESIG. Ek het wel tussendeur gelees, maar die een is te oorbekend en die ander te nonsens. Die boek hieronder was egter oulik en ek wil iets daaroor skryf. Ek is al weer met ‘n ander oulike boek besig, maar daaroor later.

Seisoene van die Siel – Riaan van der Merwe (2014, Communitas)

Koop dié boek in die Mall by hulle boekeweek, wanneer al die charities tweedehandse boeke uitstal, tientalle tafels vol. Hierdie is weer my tipe boek. Dr Riaan van der Merwe is ‘n leraar en geestelike begeleier wat weet waarvan hy praat. Hy was by Taizé, by Iona, by L’Abri, hy ken geestelike begeleiding en ken die kontemplatiewe spiritualiteit. Hy ken Merton, Nouwen, Scott Peck, Benner beter as ek en jy. Hy het oorsee studeer in dié dinge. Hy was oor die wêreld by retreats en bied dit ook aan. Hy was deur sy eie krisisse. Ek wil eintlik by hom gaan vir geestelike begeleiding (hy’s in die noordelike voorstede van Kaapstad), maar die afstandjie hou my so ‘n bietjie weg – maar dalk moet ek hom tog nader.

Hy skryf ‘n kort boekie, met net die nodige inligting, vol gedigte en gebede, sodat dit meer ‘n handleiding kan wees vir die praktyk as ‘n klomp teorie. Elke hoofstukkie eindig met ‘n “praxis pietatis” – geestelike oefeninge. Die boek gaan oor die seisoene van die lewe en hoe om geestelik met daardie seisoene om te gaan. Ek som op:

Hoofstuk 1 – Sy eie storie en die feit: life is hard, life is beautiful. Die lewe loop in seisoene: daar kom ‘n tyd vir alles.

Hoofstuk 2Organiese geestelike groei behels dat God, wat alleen die groei kan gee, met jou besig is. Wat kan ons doen? Ons kan net doen wat die boer doen: ons kan die beste omstandighede skep vir groei om plaas te vind. Dit doen ons deur die gebruike of gewoontes van ons geestelike lewe, ons “geestelike dissiplines”. Geestelike dissiplines is die ruimtes wat ons in ons lewe maak om God te beleef. Voorbeelde is gebed en die Woord en gaan dan na afsondering, vas, stilte, diens, die byeenkomste, onderwerping, belydenis, studie, lof en baie, baie ander.  Riaan gaan sekere dissiplines by sekere seisoene van die lewe pas.

Hoofstuk 3 – God werk nie op ‘n vaste formule af met elke mens nie. Elke mens se reis is uniek. Maar almal bevind hulle in ‘n seisoen. In hierdie hoofstuk gee hy die kenmerke van elke seisoen, en hy werk met vyf seisoene: Lente, Somer, Herfs, Winter en dan Nuwe Lente. Hy bespreek op ‘n kaart wat die kenmerke van elke seisoen is, sodat jy kan weet waar jy jou bevind, wat die hoofuitdagings en die vernaamste risiko’s vir vasval. Ek is nou in ‘n tipe herfs-winter, met tekens van ‘n nuwe lente.

Hoofstuk 4die Lente-seisoen

Lente is die seisoen van geestelike ontwaking of nuwe lewe. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Studie
  • Aanbidding
  • Viering

Hoofstuk 5die Somerseisoen

Somer is die seisoen van groei en floreer. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Gemeenskap
  • Diens

Hoofstuk 6die Herfs-seisoen

Herfs is die seisoen van vrug en stroping. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Examen
  • Geestelike Begeleiding

Hoofstuk 7die Winterseisoen

Winter is die seisoen van verdieping. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Afsondering en stilte
  • Kontemplatiewe gebed

Hoofstuk 8die Nuwe Lente

Nuwe Lente is die seisoen van herontwaking. Goeie geestelike dissiplines vir hierdie seisoen is:

  • Eenvoud
  • Geestelike ritmes

Hoofstuk 9Liggaam en siel deur die seisoene

Kort gedagtes oor dissiplines wat die liggaam toewy en bou

Hoofstuk 10Anderkant seisoene

“Alles op sy tyd”, sê die Prediker en dan sê dat God ook vir ons ‘n gevoel gegee het van die “onbepaalde tyd”. Ons is deel van iets veel groter.

In ‘n sin is al hierdie temas oorbekend. Dis die temas wat NOU in die geestelike gesprek belangrik is. Dis soos ons geestelike groei NOU verstaan. Ek het self ook oor al oor hierdie temas geskryf (kyk hieronder vir kursusse waarin dit voorkom). Maar ek het wel waarde geput, hoor:

  • Ek het weer gesien wat my seisoen is en ek verstaan beter hoekom ek die dinge doen wat ek doen en hoekom ek voel wat ek voel.
  • Ek het gehou van sommige perspektiewe wat hy bied. Hy is meer gereformeerd as ek en ek is meer charismaties, dalk – maar ek het ook ‘n baie goeie inleiding in die kontemplatiewe gehad.
  • Ek love dit dat hy die vyf seisoene gebruik, van Calhoun, lyk my, bekendstel, nie vier nie, want anders eindig ons in die donker winter en DIT is doodgewoon nie wat die Bybel ons leer nie!

So – dankie.

Ons kursusse wat die tema van geestelike dissiplines insluit is:

Kliek gerus op die skakels om meer hieroor te lees

Dissiplines van die Meester – oor geestelike dissiplines

Veelkleurige Kleed – ons kursus oor gebed

Geestelike Vorming – ons “basiese dissipelskap”-kursus

Geestelike Lewe – ons kursus oor die dieper lewe

 

Advertisements

The Last Days according to Jesus (RC Sproul)

sproulThe Last Days according to Jesus. When did Jesus say he would return? (RC Sproul, Baker, New Ed 2015)

Lees weer die subtitel van hierdie boek van hierdie bekende Amerikaanse teoloog. When did Jesus say he would return?  ‘n Deksels goeie vraag! Enige-een wil mos die antwoord hierop lees, nie waar nie?  Veral iemand soos ek, wat my M oor Openbaring gedoen het en sommer hierdie jaar nog ‘n kleurvolle en oulike kursus deur Openbaring wil aanbied.  Onthou, Openbaring is nie waar ons begin as ons oor die eindtye wil leer nie, dis waar ons eindig. Ons begin by die Ou Testament se Messiasverwagting en die profete se beskrywing van die “Dag van die Here”, dan gaan ons na die Messias self – want Hy het toe gekom – en hoor wat HY sê. Dis waar Sproul se goeie vraag inkom. Wat JESUS sê is die raamwerk van ons hele toekomsverwagting (en ons vind dit in Mat 24-25, die sg. “Profetiese Rede”), en dan vul ons DIT in met wat Paulus (opstanding, Antichris), Johannes (Antichris) en Petrus (wederkoms) sê en DAN eers kom ons by Openbaring uit. Sien?

Hier is egter die teleurstelling: Sproul antwoord nêrens die vraag nie!  Nêrens. Die boek is in elk geval toe geen algemeen-populêre boek nie, maar ‘n baie teologiese handboek oor die eindtye. Dit bespreek veral die meriete van die preteriste teenoor die futuriste, as dit by Jesus en die ander Nuwe Testamentiese skrywers kom. Die preteriste sê dat die Nuwe Testament skryf met die oog op dit wat IN HULLE TYD, of in die lesers se tyd sou gebeur – anders sou dit nie sin maak nie, en die futuriste sê dis gemik op die einde, veel later, soos bv. ons tyd of later, selfs duisende jaar later. Anyway, Sproul haal preteriste aan om te wys hy glo hulle is maar reg – maar hy commit hom nêrens aan ‘n standpunt nie!  Dit gaan veral oor die feit dat Jerusalem en die tempel in 70 n.C. oorrompel en platgestoot is. Hy wys hoe die een voorspelling na die ander in daardie verskriklike geleentheid vervul is – maar nie almal nie, né?  Dit was egter ‘n ongelooflike en beslissende besoeking van God aan die Joodse volk. Alles het daarna verander – die tyd van die Messias het daarna aangebreek.

Dis maar dit – ek wens die boek het my meer geleer, maar het darem lig op ‘n paar goed gekry – en ek gaan heel waarskynlik daardie kursus skryf!


Die Weg-gewer – Bob Burg & John David Mann.

weggewerDie Weg-gewer. ‘n Storie oor ‘n kragtige sake-idee. Bob Burg en John David Mann. (Naledi, 2008)

Nooit van die boekie geweet nie! Dis ‘n sake-filosofie boek in die lyn van Who moved my Cheese en The Greatest Salesman in the World.  Dis een van daardie teen-intuïtiewe boeke wat leer dat om te ontvang jy moet gee, om ‘n leier te wees moet jy dien, en so aan.  Moenie ‘n go-getter wees nie, wees ‘n go-giver (die Engelse titel van die boek).  Almal soek hitte by die kaggel, maar jy kan eers hitte verwag as jy die vuur gestook het met hout.  Jy moet eers gee.  Wie’t ook sulke taal gepraat? Jesus, ja.  Die hele boek val my op as die manier waarop Jesus besigheid sou doen, as Jesus ‘n besigheidsman sou wees – en ek glo Hy sou ‘n uitstekende besigheidsman wees.

Trouens, ek het net gister (Sondag) gepreek oor amper dieselfde tema: dat jy nie seën kan ontvang as jy nie seën kan gee nie, dat jy bietjie moet vergeet van die ontvang-kant (almal in die kerk en in die besigheid is franties oor die ontvang-kant), maar dat jy moet werk aan die gee-kant. Die ontvang-kant sal dan vir homself sorg, want ‘n vloei sal aan die gang kom. 

Hierdie outeurs deel vyf “sake-wette”, naamlik (ek skryf dit op my manier):
1) Die wet van WAARDE – jou waarde is wat jy gee, nie wat jy (in geld) verhaal nie. Voeg waarde toe, so ver as moontlik;
2) Die wet van VERGOEDING – jou inkomste word bepaal deur die hoeveelheid mense wat jy bedien, en die kwaliteit van jou diens (die gedagte is om so veel as moontlik mense te probeer dien);
3) Die wet van BEINVLOEDING – jou invloed word bepaal deur hoe hoog jy ander se belange bo jou eie plaas (om op HULLE belange te fokus gee jou ‘n “magnetiese persoonlikheid”)
4) Die wet van GELOOFWAARDIGHEID – die belangrikste waarde-toevoeging wat jy kan bied is jouself (glo in dit wat jy as MENS met ervaring en empatie kan bydra)
5) Die wet van ONTVANKLIKHEID – om te kan gee moet jy ook oop wees om te ontvang (anders wat gee jy?)

Ja, die boekie het my nou vreeslik aan die dink. Ek is nie ‘n sakeman nie, maar werk ook met mense en bedien hulle (en moet leef van hulle terugploeg). Dit onderstreep eintlik alles waaraan ek glo.

Nog twee goed:
1. cudos (in Afrikaans sê ons sommer net “koedoes”) aan Hein Kruger van http://www.krugerinternasionaal.co.za wat dit in Afrikaans laat vertaal het
2. As jy voorrade soek – ek het hierdie gekoop by BB (Bargain Books?) Diamond Pavilion, Kimberley. Hulle het hope gehad op uitverkoping teen R20. Koop vir al jou leiers, sê ek.


Die beoefening van vrede in tye van geweld – Pema Chödrön

vredeDie beoefening van vrede in tye van geweld – Pema Chödrön (Naledi, 2011)

Ek het hierdie boekie vir R20 gekoop daar in die Diamond Pavillion, Kimberley (ja, kan jy glo), en kom nou eers by dit uit.  Ek het eers gedink dis ‘n Christelike boek, maar toe besef dis ‘n Boedhistiese boek.  Nogtans het ek dit gelees – dis kort, in mooi Afrikaans en bevat interessante temas wat nie net eng aan die Boedhisme behoort nie.  Dis die eerste Boedhiste-boek wat ek lees, maar ek was verbaas hoe “Christelik” baie van dit is wat die outeur probeer oordra.  Baie kom ooreen met Jesus se uitsprake, en dit klink vir my ook amper soos Christelike skrywers oor die “dieper lewe” – ek dink aan Andrew Murray.  Daar is natuurlik sekere basiese beginsels wat alle godsdienste onderlê, want dit is eenvoudig maar die algemene waarheid. Niemand kan daarteen stry nie. Die boekie was min of meer interessant, alhoewel ek nou nie op elke detail saamgestem het nie, hoe anders?

Die vraag van Pema – sy is ‘n bekende Boedhistiese geestelike en skrywer – is wat mens kan doen te midde van al die geweld, haat en aggressie om ons?  Wat gebeur in ons harte as mense haatvolle uitsprake om ons maak, hoe reageer ons daarop?  Die Boedhiste se antwoord hierop is dat mens jou hart moet losmaak van uitsprake, mense en gebeure om jou – dat jy nie moet toelaat dat dit jou “haak” nie.  Jy behou jou vrede en jou liefde.

Die volgende is ‘n paar hoogtepunte – let op hoe Christelik sommige goed klink:

  1. Ons hart moet oop en “sag” bly teenoor mense – veral teenoor die wat werklik onaangenaam is, jou vyande. As jy eweneens met woede reageer en terug aanval is jy en jou vyand presies dieselfde. Oorloë behels immers twee kante wat beide voel dat hulle reg is. Hulle harte het rigied geword en hulle alleen is reg.  Dit verskaf die regverdiging vir hulle aanval.  “Oorlog en vrede begin in mense se harte”. Sy sê egter: “jy kan nie iemand haat as jy in sy skoene staan nie”.  Dus, jy beleef die ongemak, maar hou jou hart sag.  Jy verstaan jou vyand deur empatie en behou jou liefde.  As jy in die ongemak bly – wat baie moed verg – “saai ons die saad van vrede”. Jesus het ons ook geleer om vir ons vyande te bid, te seën en lief te hê.  Sjoe, dis moeilik om toe te pas, maar dis duidelik dat die siklus van geweld gebreek moet word.  Dis ook presies wat Jesus self gedoen het, nie waar nie?  Hy het nie gereageer nie.  Dit vra en bewerk ‘n hartsverandering – iets wat ons beslis preek.
  1. Dit is ‘n moeilike hartswerk, want ons is almal geneig om dadelik te reageer en ons eie voornemens te oortree. Ons moet egter onsself vergewe, want hulle glo elke mens is reeds goed genoeg en volmaak. Die mens is inherent onskuldig.  Ons noem verkeerde dinge natuurlik “sonde” en sonde lei tot skuld en skuld tot straf. Ek glo egter self glad nie dat die mens “net sleg” is nie.  Daardie idee is nie Bybels nie.  Die mens is sleg EN goed (dis die praktyk EN die Bybelboodskap) – maar die mens is nie goed genoeg om homself te red nie.  Dis waar Christus inkom. Hy red ons wel! 
  1. As ons dus die ongemak in onsself beleef oor ‘n ander se geweld of ons eie geweld, moet ons leer om geduld te beoefen. Ons moet die moed hê om te WAG – nie dadelik te reageer nie. Die Boedhistiese uitgangspunt is dat daar geen “oplossing” vir ons ongemak is nie. Dis ‘n misverstand. As ons net hierdie ou regsien, of net daardie ou uitskel, sal dinge in plek val en sal daar vastigheid en veiligheid kom. Hulle klem is eerder dat dinge wesenlik tydelik, vlietend en verbygaande bly.  Elke “oplossing” waarin ons vastigheid soek sal ook maar weer verbygaan.  Ons moet eerder leer om met die ongemak te leef.  Dis vir my maar ‘n negatiewe gedagte, maar daar is natuurlik ‘n waarheid in.  Hierdie wêreld is inderdaad gebroke, en vra ons geduld (lankmoedigheid) en geloof.  Dis verbygaande, ja inderdaad, maar ons beleef nie net hierdie wêreld nie, ons beleef ook alreeds die koninkryk.  Ons wag vir heelwat “oplossings” by die Here, en die Eendag is inderdaad vir ons die finale “Oplossing”.
  1. As ons geduld bly beoefen, leef ons met baie groter aanvaarding van ander en onsself. Ons hou op om alles te veroordeel of in “reg” of “verkeerd” te sorteer. Ons leer onsself beter ken. Ons leer helderder dink, want aggressie, versluier ons denke.  Dit word dalk makliker om elke omstandigheid die keuse uit te oefen om dag en oop te bly.  Humor en speelsheid is maniere om aan híérdie kant van die skerp snykant te bly as ons seergemaak of uitgelok word.  Ons leer om die “shenpa” te herken – dit is die “hoek” of sneller wat voor ons gehang word deur mense se stellings, aanvalle of gebeure wat ons uitlok om te reageer met woede of vrees.  As ons die stuwing in ons voel opkom, weet ons dat ons gehoek word en kan ons dit vermy.  Ons leer om los te kom van ons “verknogtigdhede” – ‘n woord wat my laat dink aan ‘n ou Christelike konsep dat ons “passies” ons probleem is.  Ons “passies” (of “sondige motiewe”) voer ons mee en lei tot sondes. “Doodsondes” omlyn in die Katolieke Kerk dan wat hierdie “passies” is wat ons verkeerd lei.
  1. Ons moet ons houding teenoor pyn verander. Daar sal altyd pyn, ongemak en dood wees. Lyding is deel van die lewe, maar Boedhiste glo lyding maak ons nie ongelukkig nie.  Wat ons ongelukkig maak is die feit dat ons wil hê alles moet perfek wees, dat ons daarteen baklei.  Ons soek al weer “oplossings” en vastigheid. In die Boedhisme is daar dus ‘n aanvaarding van lyding.  Ons moet ophou om onsself as vis-à-vis die lyding te posisioneer (as ons vyand).  Ons moet eerder die grens tussen ons en dit ophef en daarmee assosieer. Dis ONS lewe. Dis hoe dit is. Ons moet eerder daaruit probeer leer.  Lyding maak ons nederig, dit leer ons empatie, dit transformeer ons.  Dis weer ‘n kwessie van in die ongemak bly en nie toelaat om “gehaak” te word nie.  Ons moet in ‘n “positiewe onsekerheid” bly.  Sjoe, ons sien dit anders. Ons glo wel iets daarvan, want ja, lyding is deel van die lewe, maar lyding is ook die gevolg van sonde, en sonde is ons vyand.  Ons gaan daarteen baklei.  Ons gaan doen wat ons kan, en dit wat ons nie kan nie gaan ons aan God oorlaat.  Ons sluit ‘n wonder nie uit nie, en verder vertrou ons die Here IN die omstandighede.  Dan glo ons dat die ewigheid geen lyding meer sal hê nie.  Mens kan dit baie beter bespreek, maar lyding is ‘n ingewikkelde probleem en ek skryf reeds al te lank oor die boekie!  Die Boedhistiese standpunt laat my egter sterk dink aan Paulus.  Op meer as een plek (Rom 5, Rom 8) is sy “oplossing” vir lyding doodgewoon God se liefde.  In ons lyding is God se liefde ons realiteit, en in daardie realiteit is daar ook hoop.  God is natuurlik ook ‘n God wat verlos – né?  God is my sekerheid in die onsekerheid. 
  1. Ons moet in die “deernisvolle volharding” bly – of wat hulle ook noem “loving-kindness”. Dis ‘n absolute Bybelse woord, alhoewel ons daardie woord (“goedertierenheid”) as ‘n Goddelike eienskap sien. Nogtans is dieselfde tipe ding ook ons opdrag: om konstant met liefde teenoor vyande op te tree.  Om te bly seën as ons vervloek word.  Pema beskryf dit as ‘n asemhaling-oefening: jy asem jou negatiewe reaksie in (maak kontak daarmee) en asem dit dan doelbewus uit.  So werk jy dit uit jou uit.  Ag, ja wat – gaan nou nie daarteen baklei nie. 

Maar ek is bly ek’s ‘n Christen.

 

 


Think like Jesus – Kobus Neethling

neethlingThink like Jesus – Kobus Neethling, Hennie Stander, Raché Rutherford, (Carpe Diem, 2000)

Ag, ek was nie eintlik weggeblaas hierdeur nie.  Ek wou seker maar ook iets lees deur Dr. Kobus Neethling, bekende kreatiwiteitspesialis (deesdae minder in die nuus as vroeër), en hierdie boek was by die bibloteek se boekverkoop-rak vir ontrent R4, so iets.

Die rede dat die biblioteek nie hierdie skenking kon gebruik nie is dat die boek in die water geval het, oënskynlik.  Die bladsye is gekreukel en mens sien die watermerke.  Dis my eerste probleem met die boek – alhoewel dit natuurlik nou nie die boek self se skuld is nie.  Ek kan egter wel verstaan dat mens die boek in die badwater sal laat val, want dit het amper met my ook gebeur.

Dan het die voorblad my ook nie behaag nie (ek het probeer vasstel wie die uitleg gedoen het, maar hulle was te skaam om die naam te noem): dis te besig en bevat ‘n prent van Jesus – of is dit ‘n jong Rembrandt? – deur frosted glass, of water – so half uit fokus.  Dis asof hulle net ‘n swak foto van Jesus kon kry sonder om tantieme te betaal en toe sê hulle hei, kom ons gebruik Photoshop om dit nog swakker te maak, dan dui ons daarmee die “misterie” van Jesus se denke aan… hooeee. Dis dalk nogal gepas, want ek dink die misterie bly maar die misterie.

Dan is die fonts en uitleg binne in ook nie lekker nie.  Dis te woelig en te veel en te veel skaduwees onder fonts en onder blokkies en geskakeerde agtergronde – soos wat iemand maak wat al die fonts ontdek het op sy rekenaar en toe bietjie oorboord gaan.  Die einde is dat dit nie professioneel lyk nie – less is more as dit by fonts kom – maar dalk was dit die groot ding terug in 2000, toe die boek uitgegee is.  Seker maar – dis seker my straf omdat ek nie die boek reeds in 2000 gekoop het nie – dan sou ek sê, hei, check net al die cool fonts en effekte.  Nifty!

Dan is Prof Hennie Stander ook een van die skrywers en aangesien hy so ‘n decent mens is – die enigste van die drie skrywers wat ek ken – het ek jammer vir hom gevoel dat hy deel is van die boek.  Omdat ek ook so nou en dan ‘n dingetjie wegstuur na die uitgewers en dan soms teleurgesteld of geskok is om te sien hoe dit verander is – soms om letterlik die teenoorgestelde te sê as wat ek wou sê – glo ek dat hy sekere paragrawe geskryf het oor agtergrond by Jesus se dade, en seker toe maar self gesê het o jinne/ag nee toe die boek uiteindelik op sy lessenaar beland.  Prof, ek is saam met jou jammer – ek voel jou pyn (maar die pyn was in 2000, so jammer dat ek dit nou weer ophaal).

Die hoofprobleem is eintlik die inhoud.  Ek weet nie wat my probleem spesifiek is nie – en wil nie baie tyd daaraan spandeer nie – maar verskillende goed pla my. Ek is nie oortuig van die geldigheid van die ‘breinproses’ nie (dis veel ingewikkelder as dit), daar word vir my te veel geforseer en ingelees, dit is ‘n mengsel van geloof en wetenskap maar op ‘n nie-lekker manier, dit pla my dat ons nou Jesus se denke so netjies uitmekaar kan haal en verstaan (dit gaan nie vir my af nie) – sulke goed.  Alles wat die moderne mens nou ontdek en oor praat, bv. sisteemdenke, kompleksiteit, paradoksale denke, selfs die belangrikheid van kinders, die krag van ‘n visie by besighede, visualisering van sukses by sport, die vind ons nou by Jesus – sien, Hy het dit reeds gedoen!  Waar gesê word dat Jesus “image streaming” gedoen het – ‘n funksie van kontemplatiewe “vloei” (FLOW) – is Neethling net verkeerd, of hy sê dit net heeltemal verkeerd (want Jesus het wel ‘n kontemplatiewe godsdiens gehad, die Judaïsme).  Iets haper net aan hierdie argumente.  Dit neem weg van wie Jesus was as eerste eeuse Joodse Man – en maak Hom ‘n moderne besigheidsman met ‘n nuwe visie-stelling in sy aktestas of ‘n life coach wat pop-sielkunde leer aan ‘n span rugbyspelers.  Nee!  As Jesus die kinders op sy skoot tel en seën is dit omdat rabbi’s van sy tyd dit gedoen het, en omdat Hy kinders liefgehad het, en verstaan het dat hulle opregtheid DIT is wat tot God se koninkryk aanleiding gee – nie omdat Hy eintlik duisende jare vooruit kennis gehad het van hoe Amerikaners hulle kinders vandag grootmaak nie – welke pedagogiese beginsels ek in elk geval betwyfel, want baie van daardie kinders is uiters ongemanierd en bederf.  Ek weet nie, die argumente hou net-net water, volgens my, en die hele boek kommunikeer nie goed genoeg  nie.  Dis ‘n selfhelpboek, maar die toepassings – die selfhelp – het my nog nie gehelp nie.  Dit help nie om net te weet hoe Jesus gedink het nie (en dit lol ekstra as ek nie oortuig is van die argumente nie) – maar hoe moet ek nou skielik ook so begin dink?

Ja, ek het die boek ook verskeie kere amper in die badwater laat val – dis nie eintlik ‘n page turner nie, maar het maar deurgedruk – maar laat ek nie op ‘n lae, of nat, noot afsluit nie.  Die volgende was wel waardevol vir my:

  1. Om weer te lees van die volgende (dis nou ou nuus, maar terug in 2000 was dit seker nog radikale en nuwe gedagtes – sien, my eie skuld) – Jesus se denke was m.a.w.:
  • Metafories – gebruik ‘n direkte vergelyking: Ek is die deur, die weg, die lewe, ens.
  • Paradoksaal – laaste is eerstes, leiers is knegte, ens.
  • Intuïtief – profetiese aanvoeling
  • Image streaming – om so te fokus dat nuwe en nuwe betekenisse oopvou
  • Sistemies – dat alles onderdele van sisteme is
  • “Uit die boks” (“laterale denke” is die eerste, groot ding wat Kobus Neethling ons kom leer het)
  • Heelbrein (Kobus Neethling het ‘n model van links- en regsbreinigheid geskep, hoe geldig dit is weet ek nie)
  1. Neethling beskryf Jesus as ‘n Regs 1-denker, gekenmerk deur beelde, sisteme, groot prentjie en uitdaging. Nou toe nou – DIS NET SOOS EK! Ek het mos gedink ek’s special… Die ander soorte is (snaaks hy gee nie die name van elke soort nie): Regs 2 (passie, empatie, kompassie, sensitiwiteit), Links 1 (korrek, analities, gefokus, feitelik) en Links 2 (orde, institusie, beplanning, deeglikheid). Neethling sê mos ook dat Jesus eintlik ‘n heelbrein-denker was.  (Maar kom ons wees nou eerlik: hoe op aarde kan ‘n moderne mens antieke mense beoordeel volgens sulke kriteria? 1. Die sample van hulle gedrag wat op skrif na ons oorgekom het is hopeloos te klein en 2. die feitelike, empiriese wetenskap is maar eers 200 jaar of so met ons – in antieke tye was ALMAL regsbreinig volgens dié kriteria?)

Ek het so min plek oor op my boekrakke – sal die boek dalk aan die biblioteek skenk… Ek hoop net regtig nie ek gaan koop hom weer daar nie.

Nog iets: die boek kom saam met ‘n website: www.thinklikejesus.com.  Jy hoef egter nie daar te gaan nie, tensy jy ‘n verleidelike Australiese girl wil sien, geklee in ‘n vlag, wat vir jou koekeloer uit die hoek van haar oog.  Hoe meer ek na haar kyk, hoe jammerder is ek vir haar.  Sy het maar die joppie gevat en doen haar bes met die poseerdery en gekoekeloer, maar haar bene is te maer, en sy’s doodgewoon nie verleidelik nie.  Ek weet nie – die prentjie jel net nie vir my nie en dis natuurlik hoogs ironies teenoor die website se naam.  Die site is skynbaar al lankal teruggeneem en is te koop, of is gehijack, ai. Alles is net sad.

 


Ontmoeting met Heiliges – Lisel Joubert

HeiligesOntmoeting met Heiliges – Lisel Joubert (Naledi, 2015)

Dis darem maar scary hoe vinnig ‘n boek in die bargain bin beland. Ek weet van hierdie dinge, want ek is mos ‘n bargain bin-kenner, ja, ‘n egte bargain binner. (Daar skenk ek nou weer ‘n woord, hierdie keer aan die Engelse taal, your’e welcome! As ek maar ‘n boek kon maak van al die woorde wat ek geskep en geskenk het aan die Afrikaans en Engels, sou my bydrae wêreldwyd erken word – ek sê maar net).

In elk geval, boeke het in die verlede vir ‘n ewigheid gehou – as jy ‘n boek geskryf het, was jy m.a.w. vir ewig daarvoor onthou. Deesdae skryf almal boeke en publiseer dit, en die boekwinkels moet seker maak daar is altyd vars voorraad op die rakke. Dis soos musiek of flieks – jy kan g’n die ou albums of flieks meer kry nie, dis altyd net die nuutstes op die rakke. Ons is mos in ‘n verbruik-en-weggooi kultuur. Been there, done that, forget it – what’s next?  Dis verkeerd, hoor. Boeke  is ook vandag so. Nuwe boeke het ‘n rakleeftyd van so drie tot ses maande op ooghoogte, en daarna affer en affer, later jeel onner amper op die vloer. Na ‘n jaar word dit afgeslaan tot 50%-60% en na 18 maande is dit bargain bin toe, fienies en klaar, waar ek hierdie uitstekende boek, wat net laas jaar gepubliseer is (Desmond Tutu/Gerrit Brand prys gewen en alles), gekry het teen net R30.  Daarna word die groot stock wat nie verkoop is nie af en toe in CUM se opslaan groothandel outlet store (of so iets) verkoop teen R10 ‘n boek en so aan. Kyk, ek het mos ook ‘n paar boeke by CUM en ek wag self om hulle aan te koop teen daarrie bargain-pryse. Daar lê seker nog ‘n 1500 of so van Padlangs deur die Lewe in die stoor. Dan sal ek vir ewig aan almal krismispersente gee van my boek. Onthou, daar moet plek gemaak word vir die nuwe boeke en CUM-hulle stel elke semester omtrent 200 nuwe boeke bekend! Daar’s nie nog plek vir laas jaar se goeters ook nie, al is dit nou hoe goed gewees (en myne is goed hoor, al sê ek dit self, my familie sê ook so). Dis maar hoe die moderne wêreld werk. As iets vyf jaar oud is, glo ons eenvoudig dis nie meer geldig nie. 

Nie ek nie, hoor! Teen R20 en R30 koop ek heerlik laas jaar se boeke (en vorige jare, ek gee nie om nie) en lees dit in die bed, in die bad, op die waar-ook-al. Dis steeds goeie boeke!

Anyway, Lisel Joubert het hier inderdaad ‘n goeie boek geskryf: sy gee doodeenvoudig kort biografieë van ‘n klomp saints, vaders, skrywers en geestelike leiers deur die geskiedenis tot vandag. Elke keer maak sy afleidings oor wat ‘n “heilige” (‘n saint) is.  Sy werk nie met die katolieke saints nie, maar stel ‘n hele verskeidenheid mense bekend: ek het gelees oor

  • kerkvaders soos Chrusostomos, Hieronimus, Augustinus, Siprianus, Klemens, Origenes;
  • woestynvaders soos Antonius, Pseudo-Dionisius (ek dink hy pas hier in), Johannes van Damaskus;
  • monastici soos Franciskus, Ignatius, Benediktus, Bernardus;
  • mistici soos Johannes van die Kruis, Teresa van Avila, Mechthild van Magdeburg, Juliana van Norwich, Katharina van Sienna, Teresa van Lisieux, Meister Eckard;
  • na-middeleeuse figure soos Dante, Thomas Aquinas, Jeanne d’Arc;
  • reformiste soos Erasmus, Luther, Calvyn, Menno Simons, John Wesley,
  • moderner geestelike mense soos John Bunyon, Karl Barth, Andrew Murray, William Seymour van Azuzastraat, Edith Stein, Simone Weil, Teilhard de Chardin, Hans Urs von Balthasar, Schleiermacher, Moeder Teresa;
  • vryheidsteoloë soos Martin Luther King en Oscar Romero

en dan nog random mense soos Pascal, Bach, Pous Johannes Paulus XXII en nog ‘n hele klomp ander – 85 in totaal. Dis katolieke, ortodokse, protestante, charismate, Jode en hier en daar “ketters” ook. Ja, mens kan van hulle ook iets leer.

Ek het al van die meeste van hierdie mense gelees of geleer, maar het nou meer die MENS leer ken.  Ek het net weer die volgende gesien:

Elkeen van hierdie mense het Jesus met oorgawe gedien, trouens, hulle hele lewe was daaraan gewy om iets van Jesus se boodskap aan die wêreld oor te dra. Elkeen het dit op sy eie manier gedoen en binne die konteks waarin hy was. In DAARDIE konteks het hy probeer om Jesus meer ‘n realiteit te laat word.

Dan was dit goed om weer ‘n bietjie uit te breek uit die maklike ou gedagte dat net my kerk van al die kerke die enigste regte kerk is en dat net ons die dinge reg verstaan. AL DIE RES is verkeerd en basies maar verlore. Ja, so het ons grootgeword! As jy tot bekering kom, bedank jy die NGK, maar daar is seker so hier en daar ook ‘n kind van God nog daar oor (God se genade is mos groot), maar dan nie veel in die ander gereformeerde kerke nie, hulle is maar geestelik dood en die katolieke is helemaal way off – eintlik maar die Antichris se kerk – en goed soos die ortodokse, Mormone en Jehowas was maar die name van way, way off kultusse van gevaarlike mense.  As jy rook is jy verlore en as jy wierook brand is jy katoliek of New Age – beide ewe verkeerd. “Gelukkig” met die tyd kom jy agter jou eie kerk se mense kom ook maar erg kort Christelik en geestelik, al is ons nou ook hoe “reg”(dis vir ‘n lang tyd eers ‘n probleem wat jy nie lekker kan kleinkry nie) en soos jy Christene van ander kerke ontmoet voor wie jy eintlik nederig voel, besef jy wag-‘n-bietjie die Here werk wraggies daar ook en van sy kinders is sowaar daar ook, kan-jy-glo?  Dan val daar sommer ‘n las van jou skouers af.  Ja, daar het die Here my kom vrymaak van ‘n stuk hoogmoed en arrogansie. Iewers het ek net opgehou om te besluit wie gered en nie gered is nie. Dis SY werk.  My werk is om sy liefde aan elkeen te bewys, wie hulle ook al is.  Dit sluit nie uit dat ek glo wat ek glo oor die saligheid nie en dat ek dit mag motiveer en verkondig.  Ja, natuurlik.

Ek het nou weer 85 mense ontmoet wat Jesus met oorgawe gedien het.  Ek kan by elkeen iets leer. En nie een was in MY kerk nie!


Die Boeke van Esdras

EsdrasDie Boeke van Esdras (1996, Libanon Uitgewers, Mosselbaai)

Ons dink ons Bybel se boeke is die Bybel vir almal, maar dis eintlik maar die Protestantse Bybel. Die Katolieke Bybel het ekstra boeke (Tobit, Judit, verdere hoofstukke van Ester, 1 en 2 Makkabeërs, Wysheid van Salomo, Jesus ben Sirag, Barug, Briewe van Jeremia, verdere hoofstukke van Daniël) as die “deutero-kanon” (=tweede kanon). Teologies aanvaar en lees ons as Protestante ook hierdie boeke, maar lei nie dogma daaruit af nie. Omdat dit egter nie in ons Bybel is nie, ken ons dit glad nie. Dis interessant dat Martin Luther (net 500 jaar terug) die boeke van Hebreërs, Jakobus, Judas en Openbaring uit die Bybel wou uithaal. Hy het glad nie geglo dit is Skrif nie, maar sy volgelinge wou nie saamspeel nie. Daardie boeke staan egter heel agter in die Duitse Bybel tot vandag.

Die Ortodokse Bybel bevat nóg meer boeke (die bg. plus ook 1 Esdras, asook 3 en 4 Makkabeërs en die Gebed van Manasse). Hier en daar is daar antieke kerke wat nog verdere boeke aanvaar, soos bv. die Ethiopiese Ortodokse Kerk, wat ook nog die boek van ‘Henog’ aanvaar, ‘n bekende en wyd gelese boek onder vroeë Christene wat in die Nuwe Testament aangehaal word (Henog 1:9 word aangehaal in Judas 1:14-15) en vir omtrent 200 deel was van die Christelike Bybel.  Hulle glo Henog (in Engels Enoch) was die eerste wat letters gemaak het en het hierdie boek in hulle taal, Ge’ez, geskryf.  Hulle glo hulle taal is dus die oudste taal in die wêreld. Ek moet sê die skrif lyk nogal antiek – so lyk die eerste reels van Henog in Ge’ez:

Henog

 

 

Eers in die 4de eeu n.C. het die Westerse (=katolieke) kerk sy” kanon” (=die boeke wat aanvaar is as gesagsvol) finaal vasgemaak. Die ‘Pastor van Hermas’ was bv. ook lank deel van die Nuwe Testament. Ons Protestante het ons kanon van die Katolieke gekry, maar die deutero-kanon weggelaat, in ooreenstemming met die Hebreeuse Ou Testament.

Dis interessant om te besef dat die Vroeë Joodse Christene nie soseer die Hebreeuse Ou Testament gelees het nie, maar die Griekse vertaling daarvan, genoem die Septuagint. As die Nuwe Testament die Ou Testament aanhaal, haal dit die Griekse Ou Testament aan, nie die Hebreeuse nie. Van belang is dat die vroeë Christene geglo het die Septuagint is net so geïnspireer soos die Hebreeuse Ou Testament. Die deutero-kanon was egter deel van die Septuagint, en daarom het die vroeë Christene daardie boeke in hulle Bybel gehad! Later (100 nC) het die Jode hul eie Hebreeuse kanon ook vasgemaak (dit was nog vloeibaar) en toe eers val die deutero-kanon uit (sommige sê dis omdat daardie boeke verwysings gemaak het wat Jesus as Christus ondersteun) – maar toe was daardie boeke al dekades deel van die Christene se Ou Testament! By die Reformasie het ons toe ook daardie boeke uitgehaal – soos gesê – en die Protestantse kanon kom nou ooreen met die Joodse.

Die punt is net dat verskillende Christene Bybels het wat verskil – sedert antieke tye. Daar is geen manier om te bewys dat ons Bybel nou die “regte” boeke het nie – dis eenvoudig ‘n saak van geloof. Ons moet egter leer om nie die Bybel te aanbid nie – die LEWENDE WOORD is Christus, en die Bybel is die menslike geskrifte wat deur die Gees geïnspireer en gebruik word om ons van Christus te vertel. Ons moet tien teen een ons opinie van “inspirasie” so bietjie wyer maak.

Hierdie boekie het ek vir R4 opgetel by die biblioteek. Dit is die “Boeke van Esdras”, waarvan 1 Esdras ooreenkom met Esra in ons Bybel (maar dit het ‘n paar ekstra hoofstukke), en dan is daar 2 Esdras wat twee Christelike dele bevat, o.a. ‘n verwysing na God se Seun en ‘n Joodse apokaliptiese deel. 2de Esdras is nêrens as kanonies aanvaar nie, maar word (bv. saam met Ps 151) as appendikse by sommige ou Bybels gevoeg. Esdras is die Grieks vir Esra, maar die onderskeie name word so behou, om die verskillende boeke uit mekaar te ken.

Dit was 79 bladsye, nie maklik om te lees nie! Die tweede (apokaliptiese) deel is baie soos Openbaring: verskeie visioene, ‘n engel (Uriël) wat dit verduidelik, beelde soos die arend met drie koppe en twaalf vlerke wat verskillende regerings voorstel, die vrou wat ‘n stad word (laat ons dink aan die Nuwe Jerusalem) en dan God se oordele. Daar is die waarskuwing van ‘n groot verdrukking, maar God belowe om sy gelowiges te bewaar.

Sjoe, soms is die beskrywings erg – amper soos ‘n nagmerrie. Ek haal aan uit 2 Esdras 5:4-8:

4. As die Allerhoogste gee dat jy lewe, sal jy na die derde basuin sien dat die son skielik in die nag sal skyn en die maan drie maal per dag.
5. En bloed sal uit die hout drup en die klippe sal uitroep en die mense sal benoud wees.
6. En hy sal heers wat nie op die aarde verwag word nie en die voëls sal wegtrek;
7. En die see van Sodom sal sy vis uitgooi en ‘n geluid in die nag maak, wat baie nie sal ken nie, maar hulle sal almal die stem daarvan hoor.
8. Die aarde sal oopgaan op baie plekke en die vuur sal ook dikwels te voorskyn kom, en die wilde wesens sal wegtrek en maandstondige vroue sal wangedrogte baar.

Ja, dalk sal ons maar hou by die Openbaring wat ons ken! Ek wil regtig dat ons nou ‘n slag behoorlik deur Openbaring werk!

Lekker dag.