Category Archives: Skilderings

Christos Pantokrator

dsc_0933-002Ons het Padlangs se kantoor oorgedoen en oorgeverf en die een muur is toe oop.  Ek gaan ‘n mooi leerstoel (nog) daar sit, langs ‘n tafeltjie met ‘n lamp, maar daar kort iets teen die muur.  Ek het dus besluit om iets te verf en gaan twee skilderye maak, waarvan hierdie die eerste is.  Dit is gebaseer op die oudste ikoon van Christus wat gevind is, die sg. “Pantokrator” wat in die St. Katerina klooster in die Sinai Woestyn gevind is, omtrent die 5de, 6de eeu. Die goue dele is wel met blink goud gedoen, wat mooi glim in die donkerte.  Ek is oor die algemeen tevrede met my poging, maar kan blykbaar nie wegkom van my growwe styl nie – hoe verder jy wegstaan, hoe beter lyk dit.  Van naby lyk dit maar oes.  In ‘n sin gee ek nie om nie, want dis nie ‘n foto nie, maar ek sukkel met die klein kwassie en die fyn werk. Dit lyk vir my nog baie kinderlik – jejune is die woord, dink ek.  Maar ja, ek is nog ‘n beginner.  Ek weet nie wat ander doen nie, maar het wel al die advies gekry om na olieverf toe te gaan – dis nog akriel, soos in die kunsklas.  Ai.  Maar nogtans het ek die Here gevra dat dit wel – soos ‘n regte ikoon doen – ook iets van Hom in my kantoor sal indra.

Advertisements

Blou bottels

Blou bottels

Blou bottels

Ek het nog een klaar gemaak – karring al ‘n week of drie aan en af hiermee en volstaan nou maar.  Ek is nog steeds by die stillewes, maar hierdie keer meer mensgemaakte goete probeer.  Hierdie is net ‘n paar goed daar by die huis rond. Dis aansienlik moeiliker as vrugte en ek het ‘n paar lesse geleer.  Soos:

  • volgende keer maar die bottels en vase uitmeet en met die liniaal teken
  • dis deksels moeilik om glas deurskynend te laat lyk
  • agtergronde bly maar ‘n probleem
  • dalk volgende na blomme toe beweeg?

Ek is nog ver van landskappe af!


Geel vrugte

Geel vrugteEk is steeds ‘n beginner met die verfery en het daarom gedink ek moet maar eers op stillewes konsentreer – veral vrugte is maklik.  Het tussendeur nog een aangepak – wou iets maak wat lig en helder/vrolik is, vir die kombuis dalk en toe uiteindelik met hierdie poging volstaan.  Foute oral, maar wat – dis nie ‘n foto nie.  Ongelukkig nog in die styl van Der Kleine Fritzie, soos my skilderma sou sê, verwysende na die swart rand om alles, soos in ‘n inkleurboek, maar dit maak dinge vir my regtig makliker en ek het gesien ander skilders doen ook sulke (verkeerde) dinge.  ‘n Ordentlike rand is tog maar belangrik in die lewe.  Ek sal vorentoe hopelik vorder na iets meer natuurlik.  Ten minste HET ek ‘n styl!

 

 


Ek vind dit moeilik/maklik

Jimi Skildery 3

Daarmee dan nou hierdie groepie enamel-goedjies.  Noem dit maar my enamel-fase. Dalk sal ek egter nog enamel-goedjies doen, want ek vind dit nie te moeilik nie – dis nou om dit te doen soos ek dit doen (der kleine Fritzie-styl).  Ja, om dit so grof en treurig te doen is maklik.  Die verf is heel samewerkend en tot ek actually min of meer kan skilder (nog lank weg) hou ek van die akriel.  Om dit eintlik REG te doen (soos regte skilders) lyk my is egter baie moeilik.  Op pad daarheen, moet ek heelwat fyner werk (fyner kwaste) en mooier kyk hoe die werklikheid lyk.  Ek verf soos ek drom speel, of basghitaar: ek kan saam plonk, of saam tjoef (respektiewelik)  en as die lied in drie drukke is, of die ritme eenvoudig sal jy nie eers agterkom dat ek maar basies speel nie.  Maar as daar ‘n nifty baslyn moet wees, of die drom moet fancy intel of die ritme is een van daardie af-aan goete, staan ek op en oorhandig.  Dan’t ek my fun gehad…  Met die skilder sal ek egter verder moet gaan – hoe anders gaan my skilderfaam versprei?


Tweede skilderding (en dit gaan al beter)

Jimi Skildery Enamel BruinWerk nog ‘n bietjie rof en eenvoudig – amper soos der kleine Fritzie, soos my ma sou gesê het – sy KON mos skilder en het my o.a. gewys dat  dinge in die regte lewe nie ‘n swart rand om het, soos in Fritzie se inkleurboeke, nie…  (hoekom lyk dinge egter soms so goed met ‘n swart rand om)?  Ek moet nog fyner werk (en reguiter, sien ek), maar het min of meer die enamel-ding onder die knie.  Gaan ‘n paar sulkes maak op bestelling (ja, ek het al bestellings – van Maryke) vir ons kombuis, en dan aanbeweeg na ander stillewes, soos vrugte en blomme.  Ek sal ‘n tydjie daarby stilstaan… Ek dink as mens dit min of meer kan doen kan jy na landskappe gaan, wat AANSIENLIK moeiliker is, en uiteindelik na diere en mense, wat BAIE moeilik is. Ek self is ook lus vir sulke abstrakte goedjies, of impressionistiese blikke op wat-ook-al, sal maar sien.

Ek moet net byvoeg dat ek die idee gekry het by wat Maria M (Esmelinda Visser, Augrabies) doen – soos gesien in TUIS, Sep 2011, p128).


Eerste beskildering van ‘n doek (sal dit nie ‘n skildery noem nie)

Het skildergoed gekry vir my verjaarsdag en hier is my eerste prent...  dis nog bietjie onvas en kinderlik maar mens moet iewers begin.  Ek dink ek moet veel stadiger en fyner.

Het skildergoed gekry vir my verjaarsdag en hier is my eerste prent… dis nog bietjie onvas en kinderlik maar mens moet iewers begin. Ek dink ek moet veel stadiger en fyner.  Moet byvoeg dit kom uit Leef , Aug 2010, p77 – net ‘n proeflopie, julle.