Category Archives: Speletjies wat ons speel

Speletjies #5 Kyk hoe Kry ek Jou Terug

Na aanleiding van Eric Berne se Games People Play (1986 – daar rond, of vroeër), wat sekere stereotipe menslike interaksies as games neergeskryf het, afgebreek as ‘n reeks “transaksies”, die volgende speletjies wat ek self waarneem onder mense:
BEGIN BY DEEL #1
 
chess

KKJT (KYK HOE KRY EK JOU TERUG)

Die games wat mense met mekaar speel kan ernstige afmetings afneem.   Om swart te wees, is soms erg vernederend. Moet egter nie swart afskryf nie.  Swart maak dikwels ‘n comeback.  Swart word wit op sy eie manier, baiekeer as wit nie by is nie…  ja, swart speel die games aan – sonder wit se medewete – en oorwin wit se troon dikwels met KKJTKyk hoe kry ek jou terug.

Die volgende is die subspeletjies van KKJT:

KKJT #1 ENSM (Ek is nou nie snaaks nie, maar)

Ons noem dit sommer skinder, maar onthou daar is ‘n hele magsdinamiek agter skinder.  Ek trek iemand anders af om sake te egaliseer. As wit afgetrek word, word swart opgehef.  Nou is ons meer gelyk – kyk, wit is nie so wit soos jy dink nie, en ek is nie so swart as wat jy dink, o nee meneer…  Daarom speel ons ENSM in geselskap.  Dit gaan so:  Ek is nou nie snaaks nie, maar…

  • het jy gesien hoe common WIT se smaak is – ek meen: kyk die huis, die meubels, die taal…
  • het jy gesien hoe min WIT weet/hoe verkeerd WIT altyd is…
  • het jy agtergekom hoe WIT kan spog/watter slegte maniere WIT het…

Swart se vriende stem almal saam met “haai jinne, wat vertel jy my nou…” en met “ja, nou die dag het sy reg by my verby gestap en nie eers gegroet nie” en so – presto – word swart as wit gekroon en voel hy of sy geregverdig – alhoewel die oorspronklike wit nou nie daarvan weet nie.

KKJT#2 ESIV (Ek sal jou iets vertel)

‘n Ander manier om iemand terug te kry is om ‘n bietjie meer subtiel te wees.  ENSM is so blatant.  ESIV is eintlik maar die dieselfde, maar klink beter.  Ons gooi maar net ‘n bietjie inligting in wat ‘n ander kan benadeel.  Daar is twee variasies:

Die eerste is maar om ‘n skinderstorie oor te dra onder so ‘n dekmanteltjie – Ek wil nou nie skinder nie, maar… Ek het by Anna gehoor dat WIT gisteraand ‘n groot fight gehad het met haar man – hy is mos so danig met sy sekretaresse en moet altyd so laat werk… (waarop al die vriende hulle asem hoorbaar intrek), of  Moet vir niemand sê nie, maar WIT het my vertel dat hulle kind gedruip het en sy jaar moet herhaal, hulle Alicia dalk swanger is, kan jy glo en maar ‘n eerste jaar.  Moenie sê jy het dit by my gehoor nie, dit sal nog uitkom…

Die tweede klink minder na skinder.  Dis maar net toevallig ‘n bietjie inligting oor iemand wat ek so heel toevallig kan ingooi met presies dieselfde doel – om wit te onttroon: ja, dis baie interessant maar WIT was, toe hy nog op skool was, deurmekaar met so ‘n slegte meisie – ja, ons was baie bekommerd … WIT het mos nooit haar matriek gemaak nie, is vroeg uit die skool….  WIT-hulle het mos grootgeword anderkant die spoor – dit het hom sy lewe lank gepla, pla mos nou glad nie vir my nie… 

Op die manier kan ons wit se “prestasies” bietjie relativeer.

KKJT#3 EIOW (Ek is ook wit)

Om KKJT te speel is vir mense baie lekker.  Daar is natuurlik ‘n speletjie wat mense met hulleself speel, nl. EIOW (Ek is ook wit), deur vir hulleself uit te maak dat hulle ook OK is.  Dis kan gesond wees as ek besef dat nie almal alles kan hê niem en dat jy baie het om voor dankbaar te wees en ook jou eie sterk punte het, m.a.w. as ek tog soos ‘n Wit voel op my manier.  Dit kan egter maar sad wees as ek eintlik soos ‘n Swart voel (en nie Wit in die openbaar kan troef nie) en dan maar met jou wraakgedagtes sit en EFJO (Ek fantaseer jou ondergang) speel waarin jy jou verkneukel in jou privaat fantasie van hoe Wit voor almal op ‘n piesangskil gly en op haar dinges beland, of bankkrot verklaar word na al sy gespog en hulle die Merc kom haal en hulle in ‘n ou woonstelletjie gaan bly, of hoe sy broek afval in die mall as hy by die roltrap opgaan, ja, op die dag dat hy sy ergste onderbroek aanhet!  Ha, ha, ha… – ja, dis maar sad.  Ek dink EIOW is nie ‘n regte game nie, want dit gebeur nie tussen persone nie.

Advertisements

Speletjies #4 Wen jou hier, wen jou daar

Na aanleiding van Eric Berne se Games People Play (1986 – daar rond, of vroeër), wat sekere stereotipe menslike interaksies as games neergeskryf het, afgebreek as ‘n reeks “transaksies”, die volgende speletjies wat ek self waarneem onder mense:
BEGIN BY DEEL #1

chess

WHWD (WEN JOU HIER, WEN JOU DAAR)

Daar is nog ander games ook wat mense speel om mekaar te wen en die volgende is alles voorbeelde van WHWD (Wen jou hier, wen jou daar):

WHWD#1 WKIP (Wie se kinders is die beste)

Ouers se waarde hou direk verband met hul kinders se prestasies, blykbaar.  Daarom is daar die uiters vervelige game WKIP wat mense in sitkamers speel om te vertel van Sannie se bekers vir redenaars, Jannie se kriekettoer,  Gertjie se drie A’s,ens.  Al daardie goed is nog niks.  Wit hou ‘n bietjie terug en kom dan –boom – in met Jakobus se  7 A’s, eerste rugbyspan, ens.  Al die swart Piete met hul ewe swart Pieties wat sukkel om deur te kom bly respekvol stil – arme losers – terwyl die WARE Wit inbeweeg en die gewaande Wit van die troon af vee met sy uitklophou van ‘n Anuschka wat nou ‘n dokter in Amerika is en soveel geld maak.  Daarna hoor jy net gorrels sluk soos hulle hul tee in stilte drink…

WHWD#2 WGIB (Wie se geskenk is die beste)

Om ‘n geskenk te ontvang is problematies.  Dit bring jou dadelik in die hele groot spel WGIBWie se geskenk is die beste?  Onthou, as jy ‘n geskenk kry, plaas dit jou onmiddelik in die skuld teen ‘n meetbare bedrag.  Jy moet nou die waarde van daardie  geskenk teruggee.  Jy kan ‘n soortgelyke geskenk teruggee, of die waarde daarvan in voordele, etes, kuiers, of wat ook al vir daardie persoon waardevol is.  Die bg. is die basiese van geskenke gee, wat as ‘n speletjie opsigself maklik ‘n mors van geld kan raak.  As mense ‘n groot (en onnodige) geskenk gee, is die gewer dadelik Wit en die ontvanger (wat dit bedoel as hy sê jy moes dit nie gedoen het nie) is Swart.  Die game waarin ons belangstel, is die leliker weergawe daarvan, nl. WGIB, waarvan die doel is om juis die posisie van Wit in te neem.  Ryk mense het hier die voordeel deur groter geskenke te kan gee, wat armer mense nie kan ewenaar nie.  Dit is een van die maniere waarop ryk mense armes domineer.   Armes kan nie die morele hoër grond koop deur geskenke soos rykes kan nie.  Sommige mense gee graag geskenke, maar weier om te ontvang.  Die oomblik as hulle iets terugontvang het, slaan hulle terug deur nog ‘n groot geskenk te gee – en Swart weer in die ondergeskikte posisie te hou.  So kan hulle aangaan deur PP (Ping Pong) te speel,of Swart kan reageer deur KKJT (word vorentoe bespreek) –  ironies om iemand terug te kry wat aan jou geskenke gee, nie waar nie, maar dis hoe dit werk, of deur skaamteloos voordeel te trek uit die Swart situasie deur DWSM (Die wêreld skud my).  Dis maar ‘n sad speletjie waarin Swart probeer om Wit te wees deur te glo dat hy dit eintlik verdien, aangesien hy so benadeel is, ens.  Dalk sal ons nog daarop ingaan.

WHWD#3 WBVE (Wie betaal vir ete)

Dis nogal snaaks hoe mense WBVE (wat oorvleuel met WGIB) speel in die restaurant.  Die reëls is hier nogal onduidelik.  Die een se Wit is die ander se Swart.  Ek bedoel die volgende:

  • Wit betaal vir die ete, nadat Swart daaroor gekibbel het om die rekening ten minste te verdeel, en neem daardeur die posisie van wenner in, veral as hy met ‘n goue of platinum  kaart betaal.  Daar is geen tywfel nie.  As Wit daardeur voel soos die wenner of die Big Brother, is hy Wit;
  • Swart kan egter die game DWSM (Die wêreld skuld my) of  KRIJ (Kyk hoe ryk is jy) speel en net maak of hy kibbel oor die rekening, terwyl hy eintlik hoop dat Wit betaal en hy ‘n gratis ete score. As Wit dan die rekening opneem en soos ‘n verloorder (‘n Swart) voel, voel Swart soos Wit.

In die groter skema van dinge bly die betaler egter Wit en sowel Wit as Swart weet dit.

WHWD#4 WKVW (Wie ken vir wie)

Name-dropping is so ‘n vervelige saak, maar ons ken die reëls van WKVW – die een wat die belangrikste mense ken is die wenner en neem die Wit posisie in. Swart het probeer deur te vertel van die baas wat by hulle kom eet het, maar Wit neem die troon deur op voornaamterme te wees met ‘n bekende sanger/openbare figuur/parlementslid/sakeman/skrywer.  Deur iemand te ken, deel jy mos in sy faam, nie waar nie?  As iemand egter te lank op sy WKVW snaar tokkel, kap Swart maar net agteraf terug met ‘n variasie van KKJT (Kyk hoe kry ek jou terug):


Speletjies #3 Wie se Ervaring Is die Beste?

 

Na aanleiding van Eric Berne se Games People Play (1986 – daar rond, of vroeër), wat sekere stereotipe menslike interaksies as games neergeskryf het, afgebreek as ‘n reeks “transaksies”, die volgende speletjies wat ek self waarneem onder mense:
BEGIN BY DEEL #1

chess

WEIB (WIE SE ERVARING IS DIE BESTE?)

Mense kompeteer ook met mekaar oor hulle ervarings.  Ons noem die spel WEIB (Wie se ervaring is die beste?)  Die wenner is die een met die mees dramatiese ervaring.  Onthou, oor die algemeen is Wit die een wat praat en Swart die een wat luister. Wit kry die aandag, Swart gee die aandag.   Die volgende moontlikhede bestaan – uit vele meer:

WEIB #1 WISI (Wie se siekte was die ergste?)

Scenario:  Swart vertel van ‘n operasie wat hy deurgemaak het, of ‘n siekte waaraan hy gely het.  Almal luister en vir ‘n wyle dink hy lekker hy is Wit.  Dan neem iemand anders skielik die Wit posisie oor deur te vertel van ‘n veel erger operasie of horribale siekte.  Daardie persoon moenie dink hy is nou Wit nie, want dis net hier waar die eintlike Wit deurbreek met ‘n werklike gruwelike operasie wat hy deurgemaak het – sesdubbele bypass, wakker geword met pype oral en ‘n engel by die voet van die bed.  Nabydoodse ervaring kompleet met ‘n wit lig. ‘n Onmiskenbare Wit – al die ander in die sitkamer is getroef en neem onmiskenbaar die Swart posisie in.  Almal beaam dat dit werklik die beste storie is en drink in stil ontsag hul tee.

WEIB#2 WORB (Wie se oorsese reis was die beste?)

Swart hou hom Wit en vertel van sy vakansie in Langebaan.  Wit troef dit deur te vertel van sy vakansie in Botswana.  Die ware Wit breek deur te vertel van hulle oorsese reis.  ‘n Rare onderonsie ontstaan waarin sommige oppervlakkig saamstem oor hulle oorsese reise, maar onteenseglik WORB speel. Die Swart spelers luister in gefrustreerde stilte hoe die oorblwyende Wittes dit uitspook.  Ware Wit eindig triomfantelik as die een met die meeste reise die jaar, oorsese ondervindings, vreemde tale magtig, vliegmyle, ens.  Hy vertel dit asof dit vreeslik alledaags is om so te reis.  Die jaloerse res moet maar hergroepeer en kyk of hulle Wit met ‘n ander game kan troef – gewoonlik ENSM, waarin hulle besluit dat Wit ‘n groot snob is.

WEIB#3 LUFS (Luister na hierdie fantastiese storie)

‘n Ander manier om ‘n Wit wenner te wees is om stories te vertel.  Die wenner is die een wat die wonderlikste persoonlike gebeure kan verhaal.  Ek het al gesien hoe ‘n hele familie aandagtig luister na ‘n ouma wat vertel hoe oorlede oupa weer laasnag haar kom besoek het, hoe ‘n geestelike familielid die getuienis deel van toe die Here met hom in ‘n hoorbare stem gepraat het, hoe ongelooflik en amazing die afgelope jag, partytjie, motorongeluk, projek of konsert was.  Groot toevallighede is altyd nuuswaardig.  Groot storievertellers en mense wat lekker kan aandik maak die beste Wit.  Die rol van Swart is om te bewonder en te oe en aa.  Regtig?  Ongelooflik!  Fantasties!  Kan jy glo?  Hierdie game is ook ‘n voorbeeld van WHDI (Wie het die inligting?)


Speletjies #2 Wie het die inligting?

Na aanleiding van Eric Berne se Games People Play (1986 – daar rond, of vroeër), wat sekere stereotipe menslike interaksies as games neergeskryf het, afgebreek as ‘n reeks “transaksies”, die volgende speletjies wat ek self waarneem onder mense:
BEGIN BY DEEL #1

chess

WHDI (WIE HET DIE INLIGTING?)

Soos ons weet is kennis mag.  Die hele ekonomie wentel ook oor die koop van inligting, of anders gesê: ander se kennis.  Sedert alle tye is diegene met inligting in aanvraag.  Vandaar die populêre aanvoorstellings soos Het jy gehoor… Ek het gelees… en die geheimsinnige Ek het inligting ontvang…  Om inligting te hê is om die voorsprong te hê.  Vandaar die speletjie wat mense met mekaar speel genaamd WHDI (Wie het die inligting?).  Wit het die inligting en is die wenner.  Swart het dit nie geweet nie, en is die verloorder.  Die volgende variasies bestaan:

WHDI#1 EWEB (Ek weet beter)

Swart deel inligting in die sitkamer of langs die braaivleisvuur. Dit gaan oor enige alledaagse tema – dalk iets wat op die nuus gesien is, of een of ander algemene kennis.  Wit tree dan na vore en gee ekstra inligting wat Swart in die skadu stel.  Swart se inligting is onvolledig of half verkeerd. Wit se inligting maak dat mense oe en aa.  Swart verloor en bly stil. Hy voel soos ‘n idioot.  Wit gaan voort en deel nog   interessante titbits uit sy skat van kennis – ‘n ware wenner.  ‘n Variasie is die persoon wat dink hy het kennis of hy weet van beter, maar hy is eintlik verkeerd.  Hy deel sy onsin met groot vrymoedigheid.  Hy dink hy is Wit, maar hy is Swart – as die ander besef hy praat nonsens.  As iemand sy foute korrigeer is daardie persoon Wit. Die jammerte van hierdie persoon is dat hy nie sy les leer nie en reageer deur met groter ywer sy twak kwyt te raak – ‘n EWEB-groef.

WHDI #2 LEIL (Laat ek jou iets leer)

‘n Ander EWEB-groef is as mense altyd van alles beter weet en almal iets wil leer. Mense wat LEIL speel is permanent in wat Eric Berne Parent-mode noem (of meer korrek die Parent Ego-staat).   Sommige mense be-ouer almal om hulle en leer hulle belangrike lessies oor alles in die lewe.  Hulle oorvloei jou met inligting oor hulle vervelige stokperdjies, kwasi-kennis of sedelessies. Hulle glo dit hou hulle Wit en dus die wenner.  Die ander luister aanvanklik gedienstig en speel dus die rol van Swart, maar kort voor lank is dit onhoudbaar en beweeg iemand vinnig vooruit om die Wit posisie oor te neem deur radikaal nie belang te stel in die onophoudelike geteem nie.  Dit is pateties om te sien hoe die eersmalige Wit, nou onverwags Swart, letterlik agter jou sal aanloop met verdere inligting, ewe vervelig.  Die snaakste is om ‘n aantal persone te sien wat ewe hard LEIL speel met mekaar sonder dat  enige een in die Swart posisie wil inglip.

WHDI #3 EKGE (Ek het geheime kennis)

Sommige mense laat jou glo hulle het geheime kennis.  Dit maak hulle Wit, die wenner en baie belangrik. EKGE neem verskeie variasies aan:  Sommige deel jou inside-info (in gedempte stemtoon) mee uit die binnekringe van die spioenasie dienste.  Hulle het “inligting gekry” dat die sg. aardverwarming ‘n reuse komplot is waardeur mense geld maak, dat die VSA-regering self die Twin Towers afgeskiet het, dat ‘n enjin ontwerp is wat met water werk, maar dat die patent deur die motorvervaardigers weggesteek word, dat die Antichris reeds in Amerika bekend gemaak is, dat die wegraping einde van die jaar sal plaasvind.  ‘n Ander variasie is mense wat siektes kan genees met hul geheime kennis van patente druppels, vitamiene en nutriënte, boererate, ens. Gebruik net dit, doen net dat. Dit maak hulle Wit en jou Swart. Ander beweeg na Wit deur jou te vertel dat alles wat jy eet jou sal doodmaak – vet, suiker, rooivleis, stysel, alkohol, kafeien – basies als wat lekker is.  Onthou doodgaan is die ultimate Swart. Al wat Swart kan doen is om te wys op ‘n oom of tannie wat ten spyte van al die vleis en botter 103 geword het.  Dit ontsenu Wit nogal effens.


Wie Maak Die Kos – #1

Na aanleiding van Eric Berne se Games People Play (1986 – daar rond, of vroeër), wat sekere stereotipe menslike interaksies as games neergeskryf het, afgebreek as ‘n reeks “transaksies”, die volgende speletjies wat ek self waarneem onder mense:
chess

WMDK (WIE MAAK DIE KOS?)

WMDK (Wie maak die kos?) is ‘n speletjie wat sommige vroue met mekaar speel.  Dit kom van die ding wat sommige vroue het dat die een wat die kos maak die wenner is.  Hoekom dit so is, kan seker in evolusionêre terme beskryf word.  Let op, die kok ontvang ook aan die einde die lof en prys oor die heerlike kos.  Daar is dus ‘n voordeel.  Dit kom op die volgende neer: Wit – die kosmaker – maak die kos, en swart – die teenstander – moet dit eet.  Dit maak Wit die wenner.  Die volgende is subspeletjies van WMDK:

WMDK #1 KEBO (Kom eet by ons) 

Die eenvoudigste voorbeeld is Wit wat Swart en haar gesin vir ‘n ete nooi, en ‘n keurige ete maak.  Dit is in elke opsig uitstekend.  Swart eet en komplimenteer die kos.  As Swart daardeur geïntimideer voel, het Wit gewen.  Swart is nou in die skuld by Wit om haar ook te nooi vir ‘n ete.  Sy moet die ete ewenaar of verkieslik oortref, om ook te kan wen.  Dit kan oorgaan in die game PP (Ping pong), wat nogal lank kan aanhou (en fantastiese etes kan oplewer).  Die alternatief is dat Swart ‘n ander manier moet vind om Wit te troef, bv. deur WKIP (Wie se kinders is die beste?).

‘n Variasie is as Wit kom kuier en Swart wil kos of koek bedien.  Wit weier om kos of koek te neem, want sy is ongelukkig vol of op ‘n dieet.  Swart moet die aftog blaas en verloor die transaksie.

WMDK #2 HEMK (Hulle eet my kos)

Die eenvoudigste voorbeeld is waar ons ‘n bring-en-braai hou, of saam op ‘n piekniek gaan.  Wit se kos is beter of lekkerder as die ander s’n en is die populêrste.  Swart se kossies bly agter en Wit wen vanselfsprekend met vlieënde vaandels.  As Swart weier om dit te eet, bewys dit net hoe kleinlik sy is en verloor sy nog verder.

‘n Ander een wat ek al gesien het is die volgende:  Wit kom kuier vir die naweek en bring ‘n hele klomp kos saam.  Swart voel ondergeploeg in haar eie kombuis en sê: “jy moes nooit al hierdie kos gebring het nie”. Wit neem die morele hoë grond omdat sy die kos gebring het en wen ook deurdat haar kos die hele naweek lank geëet moet word voor dit sleg word.  Swart se planne vir etes vir die naweek is gekelder.  Sy moet saam eet en ter wille van goeie maniere ook nog vertel hoe lekker dit is.  Wit wen dus (ook deur EBOK). ‘n Variasie op die bg. is die volgende:  Swart kom kuier vir die naweek en bring ‘n hele klomp kos saam.  Wit sê: “jy moes nooit al hierdie kos gebring het nie”, maar laat nie haar planne omverwerp nie.  Sy vind slim planne om nie Swart se kos te gebruik nie en maak haar eie.  Swart se kos bly staan.  Swart moet Wit se kos eet en komplimenteer.  Swart is die verloorder en voel soos een.

WMDK #3 EBOK (Ek beheer die kombuis)

Hierdie een kan lelik raak.  ‘n Vrou se kombuis is haar heiligdom en as ‘n ander een daar kom “oorvat”, is daar pêrre.  Twee vrouens in dieselfde kombuis deug nie.  Nogtans probeer hulle so nou en dan wen in ‘n ander se kombuis, bv. soos volg:  Wit en haar gesin kom kuier vir ‘n ete en gaan “help” vir Swart in die kombuis om die kos te maak.  Dit bring Wit op die morele hoër grond.  Wit kan egter dit verder vat en begin “advies” gee oor hoe Swart die kos moet maak.  Haar planne vir dieselfde geregte is beter as Swart s’n.  Sy kan ook aanbied om sekere disse oor te neem.  Swart kan ingee en Wit toelaat om die kombuis te domineer – ‘n ernstige nederlaag.  Die variasie is as Swart EBOK probeer en kom “help”, maar Wit sê “nee, dis nie nodig nie, gaan gesels gerus in die sitkamer, ek is nou klaar”, of so iets.  Swart se aanslag is afgeslaan en Wit seëvier in haar eie kombuis. Sy bring die disse triomfantelik uit die kombuis en ontvang die lof daarvoor.

‘n Algemene voorbeeld van hierdie speletjie is wanneer ons konferensie hou.  Die vroue betrek die algemene kombuis en daar is onmiddelik ‘n onderliggende maar intense stryd  oor wie die kombuis gaan beheer en dus as Wit uit die stryd gaan tree.  Daar is altyd ‘n dominante vrou wat seëvier.  Die vroue wat verloor kan aanhou met pogings tot EBOK oor sekere disse of kan ondermynend optree met ENSM (Ek is nou nie snaaks nie, maar…) en die disse agteraf kritiseer.