Lent 2022

Lent 2022
Woensdag, 13 April

Lydenstyd en alles is verkeerd:
spanning, siekte, slegte nuus,
die sinode met sy sake,
die gejaag, geraas, gewoel, gemaal,
en tussendeur onderliggend ‘n gevoel,
soos swart bome in ‘n droom,
van voorbode, fluisteringe dat dit erger kan:
dan die oorlog in die Oekraïne,
dan ‘n kollega in ‘n koma – genade, Here!
dan kom kanker, naby, naby… en
dan staan alles stil.

On a hill far away

Deur die jaag die poging tot ‘n vas,
wat weer a cold and broken halleluja was,
soos alle werke:
nooit altyd,
nooit kompleet,
nooit merietevol of roemryk in myself.

stood an old rugged cross,

Dis Paasfees, Here.

the emblem of suffering and shame,

en alle vrae, alle roem,
alle siekte, sonde, stryd staan stil,
verdwyn

where the Dearest and Best
for the world of lost sinners was slain.

En by die kruis, by die kruis sal ek bly,
vir nou, in al dié dinge, en
tot die stryd hier bene’e is volstry.

Amen.


Tussendag

Tussendag

Stil Saterdag, 3 April 2021
n.a.v. Sielsgoed deur RVV op Netwerk24

Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Fil. 3:14

Tussen Vrydag en die Sondag
lê daar nog ‘n dag, tussen kruis
en opstanding ‘n tyd van wag;
ja, tussen sterwe en die lewe
‘n oneindig lange Saterdag.

Here,
wat doen ons
terwyl ons op die drempel wag,
die liminale dag beleef,
van nie meer dood en nog nie Lewe?
Wel, beide dood én Lewe,
synde hierdie groot Stil Saterdag?
Ja, ons sterf, ons leef, ons wag
(soos U), ons draai ons lewe
na die Lewe, na die Ooste toe,
waar reeds die eerste straal verskyn.
En as hierna die Sondag breek,
sy Lig my haal, sy Lewe myne,
staan ek waarlik, ewig in
die Opstanding.
Amen.


Gabriel Faure – In Paradisum

Noem my swaarmoedig, maar ‘n groot favourite by my is die Requiem of Dodemis. Gabriel Faure se Requiem (ek het verskeie) is pragtig, veral die heel laaste deel, In Paradisum. In hierdie kort deel kom die siel in die hemel aan. Dit word gesing as die liggaam uit die kerk gedra word. Kyk hoe mooi is die woorde:

In Paradisum deducant Angeli
in tuo adventu suscipiant te Martyres
et perducant te in civitatem sanctam Jerusalem.
Chorus Angelorum te suscipiant
et cum Lazaro quondam paupere
aeternam habeas requiem.

May the angels lead you into paradise;
may the martyrs greet you at your arrival
and lead you into the holy City of Jerusalem.
May the choir of Angels greet you
and like Lazarus, who once was a poor man,
may you have eternal rest.

Swewende, hemelse musiek, geskryf in die mixolidiese modus (nog majeur/nog mineur). Die onderstaande Paradisum is mooi, en onder dit is die hele Requiem van Faure, mens behoort dit oor Paasfees heeltemal deur te luister, dis net 36 minute lank.

En hier is die hele Requiem (met beter klank):


lockdown lydenstyd

lockdown

      lydenstyd

18 Maart 2021

geïnfekteer met angs is alles onheilspellend als bedreig

          drie kruise is solank op Golgota geplant die lydingsbeker wag

die tweede golf slaan twee keer harder skerper swaarder

         die gésel val die skare skree soldate heen en weer moet keer

verwar gestry verskil vermy geperk geïsoleer

        gejou gespot en eensaam gaan die Aangetaste deur

no mask no entry sanitizing station here

       en Jesus’ bloed wat reinig loop van alle sonde

hou jou pols meneer jou liggaamstemperatuur skryf neer

     dan kom die spykers hande voete hoof raak wonde

die sterftes kom nou naby want die virus het muteer

    Hy roep en skree bebloed gemutileer

as die suurstof sak en op ‘n ventilator gaan

   en snak na asem waarom Vader Vader

mense sterf alleen in sale

  en leweloos hang Hy  

of word ontslaan gesond geënt

 gedood     

gered

en vry

Aangesteekte in die sy,

laat u lewe in my bly.

Laat my lewe, U-wat-lewe,

laat U lewe in my lewe en

laat ek in U lewe bly.


Tien geestelike liedere waarna ek tans luister – 2020/2021

TIEN GEESTELIKE LIEDERE WAARNA EK TANS LUISTER: 2020/2021

1. Pelgrimsgebed van Amanda Strydom is ‘n geestelike lied, maar nie eintlik praise & worship nie. Ek sit dit maar eerste. Dis nogtans (nou ook) een van my gunstelinge – baie eg en rou.

Haar eie weergawe is hier (https://www.youtube.com/watch?v=24cNHGJB-tY&list=LL&index=4), maar ek hou veral van  Elbert Smelt & Rachel Rozier se weergawe. Hulle is Hollands maar sing in Afrikaans (https://www.youtube.com/watch?v=TkiSgc_OLUA&list=LL&index=9). Dis PRAGTIG – luister hard met goeie oorfone (wat ‘n goeie bas lewer), en dit geld vir al hierdie liedere.

2. Hierdie plaaslike loflied is baie goed. Ek is nie altyd lus vir hoë opwinding nie, maar die woorde en fraserings hiervan, en die atmosfeer in die ouditorium, spreek reg tot in my hart. Dis baie bemoedigend:

Suddenly – CRC Music

3. Ek hou van Lauren Daigle se stem en styl. Moderne tipe gospel – ek hou van die eenvoud:

How can it be – Lauren Daigle

4. The Odes. Daar is ‘n antieke Christelike gesangboek gevind, die sg. “Odes of Solomon”, die oudste nog, met pragtige en tog vreemde woorde. Musikante en worship leiers het toe in 2008 (dink ek) twee volumes odes uitgegee wat hulle van musiek verskaf het (die musiek was natuurlik verlore). Ek luister deesdae veral Ode 40, maar noem ook Ode 3 en Ode 1. Hier is hulle:

Sing Allelu (Ode 40) – Fernando Ortega

I’m putting on the Love of the Lord (Ode 3)

Like a Crown (Ode 1)

Nou volg hier ‘n klompie liedere in die styl waarna ek deesdae graag luister – stadiger, dieper, eenvoudiger, minimalisties, meditatief. Ek glo nie almal sal daarvan hou nie, maar to each his own. Dalk is jy te jonk vir dit 😊

5. Holy Holy Holy – Phil Wickham (ek het ‘n gedig ook hieroor geskryf – dis hier: https://jimileroux.wordpress.com/2016/06/13/in-die-spore-van-sy-geregtigheid/)

6. Be Still – The Fray (klink vir my baie hipster, maar só mooi)

7. It is well with my soul – Darlene Zschech (verwerking van die bekende lied, luister na die drom wat kom en gaan)

8. Psalm 23 (Surely Goodness, surely mercy) – Shane & Shane

Covid het ons sleg gevang en 2020 was vir my ‘n slegte jaar. Hierdie (effens ouer) lied het my baie geïnspireer. Meesleurende melodie, pragtige stem.  

9. Angel of the Lord – Hillsong (Miriam Webster)

Ten slotte, my beste worship lied – nog steeds – van alle tye. Hierdie is die lied wat op my begrafnis gespeel sal word. Elke woord is vir my belangrik. Die beste weergawe is hieronder, moenie na die ander luister nie. Dis bietjie anders (en mooier) as die een wat ons in die kerk gesing het, of moet ek sê flou gesing.

10. Oh Lord, You’re Beautiful – Keith Green

Ek wil eintlik AL my liedere op YouTube gaan vind en in playlists en goed sorteer. Ek hou van BAIE soorte musiek.

Kyk elders op hierdie blog vir my ander favourites van vroeër. Hulle bly gunstelinge.

Eer aan die Here!


Pa – na baie jare

Ek wou jare gelede al vir pa ‘n gedig skryf maar kon nie die woorde vind nie. Ek het verskeie keer begin, maar dit was altyd onbevredigend. Toe het ek so ‘n week of twee gelede hierdie geskryf en dit vandag weer so bietjie verander. Ek glo DIT is wat al die tyd op my hart was.

Pa
23 Julie 2020

Pa
het my geleer
ware mans praat met God
en bid vir almal om te hoor
en mans sweet as hulle buite werk
of dinge bou of gate boor en leer
hulle kinders en sorg dat daar genoeg is
dat hul sou veilig voel en mans gee net
en bly getrou al kan ma nie teruggee
nie en doen al hierdie dinge sonder om
dit ooit te sê en as jy kanker kry wil
mans nie hê die kinders moet ontstel
word nie en dra die pak
alleen
en my pa was
James le Roux.


Watter voorreg!

Watter voorreg!

3 Julie 2020

 

‘n Ode aan Theuns Louw,

wat gesê het dat hy eintlik

‘Theuns Warm’ is, omdat mens

nie lou moet wees nie.

 

Die fletsblou oë het jou eers gevang

swart hare agtertoe gekam:

‘n Ou Testamentiese profeet.

Ek was bang, natuurlik, bietjie,

en het soms gedink hy was verkeerd,

God se Posbode, wat boodskappe

reguit oorgedra het, skrynend soms,

God sê so en God sê so, vir jóú!

En as daar twee of drie getuies

in die omtrek staan, stel hy hul

net daar aan, die stempels

op ‘n brief wat afgelewer is.

Ek het baie by Oom Theuns geleer,

oor geloof en krag, hoe duiwe wys

dat God se Gees teenwoordig is.

Maar wanneer hy jou arm vat,

en sy staalblou blik jou oë hou,

en praat oor God en God se dinge

en hoe Hy hom gebruik, dan sê hy,

met ‘n stem wat bewend breek:

“Watter voorreg, watter voorreg!”

 

So, as ek die duiwe sien,

as ek iets goeds beleef, iets mooi,

as God dáár is, sê ek, meer en meer:

“Watter voorreg, watter voorreg!”

Ek hoor dit in sý stem, nie myne nie,

en dit roer my steeds, trouens

trane loop, want dis of ek dit

later beter eers verstaan het:

 

watter

ongelooflike

voorreg!


Gebed om die vervulling met die Heilige Gees (2)

Gebed om die vervulling met die Heilige Gees (2)

31 Mei 2020 Pinkstersondag

 

Die vlam in die rooi glas

van hierdie gebedskers

herinner my aan U, Here.

Dit maak, op my manier,

hierdie oomblik heilig.

Vlam só in my vandag,

al is die glas opaak,

dat ander deur u Heiligheid

geraak word. Hierdie kers

het immers net

hierdie

een

doel.

 


Gebed vir Geesvervulling

Gebed vir Geesvervulling

31 Maart 2019

 

Kom, o Heilige Gees!

Ledig my en maak my vol.

Ontbrand my hart met vuur,

transformeer my siel en

gee vir my die sin van Christus:

genade, liefde, vrede, krag –

laat my hande Syne wees.

Maak my deursigtiger vandag,

laat ú lig heilig skyn in my.

Bedek my soos ‘n kleed,

hang om my soos wierook.

Amen.

 


‘n Geel gebed vir Lent

‘n Geel gebed vir Lent

12 April 2019

 

Lof kom aan U toe, Here.

Al is die dae soos die hoëveldse winter

waar alles binne buite koud raak saans:

staalrame, klinkermure, vaalgeel gras,

sementpaadjies tussen breë beddings niks,

waar vreemdes binne praat, waar vaders vloek,

waar dit ruik na rook en politoer en kos,

‘n oom, te oud, iewers in ‘n kamer

onder growwe grys komberse hoes –

en jy weet jy hoort oralster, behalwe hier.

 

Lof kom aan U toe, Here.

Al is die parkeerterrein mismoedig leeg,

die geel son flou van voor, die teer wat blink

in leë strate, waar robots in ‘n ry af rooi wys,

alles beelde letterlik van niks nie, hoor,

almal huis toe reeds behalwe daar

‘n boemelaar, wat dwaal om plek te soek

en jy self ook graag wou tuiskom,

in jou eie huis, maar altyd, altyd eers ‘n

‘n ander draai moet ry.

 

Lof kom aan U toe, Here.

Al kan jy hierdie Lent nie eers een gebed

geskryf kry nie (die beste deel van Lydenstyd,

wat oor die algemeen mos maar vir my misluk).

Maar toe almal alreeds huis toe was,

vir die aand-geselligheid en iets voedsaam om te nuttig

toe die skemer skraal raak en U alleen laat om te hang,

was dit wáárlik lydenstyd – verlate, búíte, bitterlik –

en dít is Lent: om net U te sien, Gekruisigde, dis al,

en te wéét, te wéét:

my Heenkome,

my Tuiskoms,

my Warm Welkom.