Waarvoor ek na 50 nie langer kans sien nie…

Het mos pas verjaar en op 50 is ek nou te oud vir die volgende:

1. uitgerekte en onrekbare sokkies met deurgetrapte hakke – van die goed skreeu al om genade
2. onderklere waarvan die rek deurkom (of probeer wegkom) omdat dit nou al vir die sewe maer en vet jare gedra word
3. hemde in kleure wat vir een belaglike seisoen in die 80′s hoogmode was (en ek die volgende seisoen toe in die bargain bin opgetel het om ook nou “in” te wees), asook die dashemde uit die tyd toe net die kraag moes pas – die res het soos ‘n markiestent uitgeklok t.w.v. boepmae – meters linne wat by ‘n broek ingebondel moes word
4. kunsleer skoene wat uitgetrap raak en ruik na presies drie maande (bargains, almal van hulle)
5. baadjies met breë krae of in die oorvou (Miami Vice) styl (80′s) wat laag met een knoop vasmaak – die goed was duur, man
6. daardie broeke wat net bo jou naeltjie vasknoop en al daardie broeke wie se knoop realisties gesproke nooit, ooit, ooit weer sal kan vasmaak nie asook al daardie jeans wat eenvoudig soos ‘n sak aan jou hang en vir jou absoluut NIKS doen, behalwe om jou ou-ballie-status te onderstreep nie (kyk dit IS moeilik om ‘n jean te kry wat vir my pas, so sterkte aan myself)
7. gym-tekkies wat nie eers meer geskik is vir gras sny of verf nie, en jou soos ‘n seer duim laat uitstaan in die gym, veral saam met ‘n paar dienlike kerkkouse
8. gunsteling T-hemde wat al ses jaar so gerieflik dra en slaap, deesdae so gaterig en uitgerek – dalk behoef dit ‘n jintelman van so om en by 50 om maar weer met regte slaapklere te slaap
9. koffie en tee wat na skottelgoedwater proe, brood en mash wat letterlik geen smaak het nie al proe jy hoe, kaas wat na rubber proe, jam wat supersoet is, maar aan absoluut geen vrug herinner nie, bittersuurtaniene wyn (‘n bargain!), verbrande tjops, ens. Ek het letterlik te min tyd oor om sulke kos te eet
10. handdoeke so dun jy kan die ou ballie daardeur sien
11. deodorant blikkies wat uit ‘n dierbare motief geskenk is, maar wat bots met alles wat ek self dierbaar ag

Op vyftig verdien ek goeie koffie, ‘n ordentlike skeermes, twin ply papier, ‘n goeie hemp, leerskoene, goeie naskeer (wat ek gekry het vir my 50ste verjaarsdag: New West van Aramis, dis briljant – dankie Maryke) en sulke geriefies sodat ek die distinguished gentleman kan word wat ek eintlik is, jy sien…


Ek glo…

In die laaste jaar (2011, my “heilige”, 7×7 jaar) het ek baie opinies teëgekom van mense wat nie meer glo nie.  Om te glo maak nie vir hulle meer sin nie.  Dit is nie logies nie, en hulle beleef nie ‘n behoefte om te glo nie.  Hulle geloofskrisis bring hulle by ongeloof uit, wat baie as ‘n bevryding beleef – ‘n omgekeerde bekering.  Ek is natuurlik nog altyd bewus van sulke opinies, maar dis asof dit die laaste jaar my meer gekonfronteer het.  Ook hierdie jaar is ek weer gekonfronteer met kerk-waaraan-ek-twyfel.  Dis so asof ons ten spyte van (of as gevolf van) baie dogma, kerkisme en politiek nie by geestelike volwassenheid uitkom nie – nie eers die leiers nie.  Beide het gemaak dat ek hierdie jaar baie moes nadink.  Ek glo, dis verseker, maar hoekom glo ek en wat?  Ek dink die heel basiese van my geloof lê net in drie stellings: (1) God is, (2) God is goed en (3) Jesus Christus het my met God versoen.  Vir ‘n tyd was dit al wat ek wou bely.  Vir kerklike doeleindes is ek gemaklik met die Apostolicum en die ander algemene, vroeg-kerklike belydenisse.  Ek wou egter meer van ‘n standpunt-inname maak en het lank aan die onderstaande geformuleer.  Dit beskryf hoe ek die Bybelse geloof vandag beleef.  Ek sal nog teksverwysings bysit waar toepaslik.  Ek is en bly ‘n gelowige, ‘n geliefde, ‘n volgeling van Jesus Christus.  Dis wie ek is.

Kliek hier vir my geloofsuiteensetting.


Sewe – jou kompas tussen lig en duisternis (Leon Fouche)

Leon Fouche. Sewe. Jou kompas tussen lig en duister.

(1999. Kaapstad: Lux Verbi).

Ek het hierdie boekie van Leon Foucher weer nadergetrek en vir die eerste keer deurgelees.  Dit is omdat dit ook oor die “sewe doodsondes” gaan – die tema van my vorige boek en omdat my gedagtes by ‘n kursus is wat ek dalk in 2013 in die trant wil doen.  Hoe meer ek egter daaroor nadink hoe meer besef ek:

 

  • die “sewe doodsondes” is ‘n antieke blik is op die basiese verkeerde motiewe in ‘n mens, wat tot sonde lei, maar dis heeltemaal uit voeling met ons eie verstaan van die innerlike.
  • ek hou wel van die gedagte van “wat lei tot wat” en “kom ons isoleer die wesenlike oorsaaklike faktore” en sal meer daaroor wil dink – watter motiewe lei tot watter dade en my eie “sondetafel” opstel.
  • die psigologie gee vir ons belangrike insig oor ons innerlike motiewe – ons is soos ons is om ‘n rede.  Die temas van verwerping en sinvolheid moet duidelik iewers funksioneer.
  • hoe om te deel met hierdie dinge word heeltemal te skraal en teologies gestel (bv. in hierdie boek).  Dit is nie genoeg om net te sê “hou op om afgunstig of minderwaardig te wees” nie, of om op die teenoorgestelde deugdes (bv. hoop of nederigheid) te “fokus” nie.  Ons het nodig om te kyk na emosies en persepsies, verslawing en gedragsverandering en die werk van die Heilige Gees, charismata-gesproke.  Geestelike dissiplines dink ek, is ‘n baie, baie nuttige benadering teenoor al hierdie dinge en ons moet die gepaste geestelike dissiplines teenoor hierdie sondes stel (dis egter nie die hele prentjie nie).  Daar moet egter ‘n praktiese uitkoms wees.
  • Ek dink daaraan dat wat ons noem “volwassenheid” of “heelheid”, selfs “heiligheid” die uiteinde is waarheen ons beweeg en dat mens se vertrekpunt dalk nie negatief in die “doodsonde” moet wees nie, maar positief in die teenoorgestelde deugdes as beskrywing daarvan.
  • Mens kan dieselfde metode as bg. volg met die Tien Gebooie – die Bybel se lys van “doodsondes” – soos ek inderdaad gedoen het met “Morele Kompas”.  Dalk moet mens net die bg. temas inkorporeer in ‘n algemene werk oor geestelike groei, of heiligheid.
  • Sonde is daar nog te konkreet en geïsoleerd, bv. vraatsug, maar geen dronkenskap nie.  As vraatsug vir “oormaat” staan, waarom dit nie net oormaat – of nog beter ongedissiplineerdheid noem nie – dan is dit waarliks iets oorsaaklik.   Ek sou die lys verander deur bv. vrees, ongeloof, gebrek aan verhouding met God, ens. in te sluit en iets soos afguns uit te sluit, ‘n kleiner (of gevolglike) sonde veroorsaak deur woede en vrees.

Anyways, terug tot by Leon Fouche se boek, wat ek nou veel meer waardeer het as toe ek dit eers gekoop en net deurgeblaai het.  Dis nie dat ek sy bespreking van die sondes ook so sou doen nie, maar daar is nogal heelwat nuggets en ek hou ook van sy baie quotes en value-adds, verskoon die Engels.  Net ‘n paar opmerkings vir myself vir later:

  • Ja, ek sien hy noem dit ‘n “kompas” – goed so
  • Ek moet ingaan op Donald Capps se gebruik van die doodsondes om die mens se lewensfases te tipeer
  • HOOGMOED neem ek net voluit na die ekkigheid toe (en sny dit wel aan) en maak dit die hoofsonde wat al die ander “aansteek” – ‘n SELF-gerigte lewe.
  • AFGUNS, soos gesê sal ek dalk uit die lysie haal – hy is net daar om tradisionele redes
  • WOEDE: ek stem nie dat woede eers sonde word as dit wraak behels nie – woede opsigself (bv. ook die “gees van woede” sonder duidelike objek) is baie destruktief op sigeself.  Ek stem saam dat liefde vir mense eers moontlik is (want mense is baie unlovable – Barna) as jy jou in God verloor het.  Die EK moet op die agtergrond wees en God moet deur jou kan liefhê.  ‘n Ander waarheid is ook dat liefde nie in die objek berus nie, maar in die subjek – as God my ‘n liefdevolle mens maak, is dit omdat ek in Hom genesing van my verwerping en issues beleef het (wat my verhoed om lief te hê) – altyd weer die konneksie met innerlike heelheid.
  • SLOTH maak Leon gewone apatie teenoor die wêreld om my, teenoor die populêre “luiheid” (en ek sien hier “ongedissiplineerdheid”) of Jamison se acedia as die onwilligheid om op my innerlike lewe/verhouding met God te let.  Individualisme en anhedonie maak natuurlik dat apatie ‘n groot probleem is.
  • GIERIGHEID is die sug na dinge, die sug na besit – nie net om te geniet nie, maar omdat ander dit begeer.  Dis weer ‘n soort hoogmoed.  Ek het gehou van sy bespreking (p89, 91) van die HÊ-styl (to have) en die WEES-styl (to be) deur Erich Fromm.
  • VRAATSUG gaan nie oor hoeveelhede nie, maar oor die gesindhede.  Oormaar is iets anders as oorvloed.  Matigheid is ‘n lewensingesteldheid (weer dissipline).  Die hele kwessie van ekonomiese ongelykheid en geregtigheid kom ter sprake, en die dissipline van eenvoud.
  • WELLUS gaan ook oor die noodwendige bevrediging van ‘n aptyt (en oor dissipline).  Seksuele begeerte is egter nie reeds wellus nie.  Wellus verbreek verhoudings (ook met God) ter wille van ‘n liggaamlike (en psigiese – dit is belangrik in ons bespreking) behoeftes.  Wellus is intimiteit sonder verhouding en sonder verantwoordelikheid.   Die oplossing is nie om die drif op te dam nie, maar om dit reg te kanaliseer.  Die hele gemeenskap se etos is ter sprake.

Dan het Leon ten slotte oulik geskryf oor deugde – deugdes en goeie werke is iets algemeen (by almal), maar nie alles is “Christelike” deugdes nie, want dit word nie VIR HOM gedoen nie – dalk vir ‘n medemens of myself.  Dis die verskil.  Sy slotsom is (gepas) ‘n lewe deur die Gees, wat hy ten diepste definieer as ‘n lewe om Jesus te verheerlik.  Dis wat die Gees in ons doen: om die ou mens (ekkigheid) in ons te kruisig en om die nuwe mens (Christus) in ons te laat opstaan.  Ek sou dit nogal prakties wou maak in elkeen van hierdie sewe of hoeveel sondes – wat beteken dit prakties om die ekkigheid te kruisig wat gierigheid, vraatsug, wellus, ens. betref? Dan noem hy ook die vrug van die Gees wat eintlik mos ook die Nuwe Testament se lys “dood-deugdes” is.  Dalk moet mens jou kursus oor geestelike groei eerder daarop baseer?

As jy tot hier gelees het, is jy ‘n held, vriend – dankie dat jy my musings volg.  Ek is seker joune is interessanter.


Finding Happiness – Christopher Jamison

Finding happiness – Christopher Jamison  (2008, London: Weidenfeld & Nicolson)

Darem uiteindelik weer deur ‘n boek wat ek hier kan plaas (intussen drie fiksie boeke gelees, twee op aandrang van my kinders).  In elk geval hierdie boek het ek deeglik deurgewerk en opgesom in 12 bladsye, saam met my eie notas daaroor.  Ek wil weer kyk na Jamison (die ab van Worth Abdy) se eerste een Finding Sanctuary – ek is seker ek het dit al gelees en het dit trouens iewers (of is dit net ‘n uittreksel in gekopieerde formaat) sal moet gaan kyk, of dit bestel…  In elk geval, hierdie boek was nou nie vir my wow nie, maar ‘n goeie inleiding in die tema van die “sewe doodsondes”.  Die kerk het vroeër jare onderskei watter sondes lê agter watter ander sondes en toe oor honderde jare die “doodsondes” geformuleer.  Die lys was oorspronklik eintlik agt en Jamison bespreek. Die hele ding het ‘n baie middeleeuse gevoel en ek sou die lys natuurlik ‘n bietjie anders opstel.  Jamison beskryf eintlik die agt “gedagtes” of motiewe wat agter die sondes lê en dan wat die woestynvaders en Cassianus, Benedictus, ens. daaroor sê – praktiese raad.  Hy bespreek eers die konsep van “reinheid van hart” – die toestand wat ons voor God soek.  en bespreek dan die agt gedagtes:

  • acedia – die onwilligheid om jou innerlike en geestelike lewe te ondersoek
  • drie sondes van die liggaam: oormaat, wellus, hebsug
  • twee sondes van die siel: woede en hartseer (acedia pas ook hier in)
  • twee sondes van die gees: ydelheid en trots

Ek  het nogal baie geleer, nie soseer sy eie aanbieding nie, maar die Christelike vaders se insigte hieroor.  My eie belangstelling hierin is soos volg:

  • ek lees steeds die kontemplatiewe goed (onthou dis veel ouer as die huidige Amerikaanse benadering wat ons beleef as die enigste normatiewe “Bybelse” geloof)
  • ek is steeds op pad na ‘n beter integrasie van die bg. antieke Christelike en die moderne lewe in ‘n praktiese, egte geloofslewe.  Om te besef wat die basiese sondige motiewe in almal van ons is (asook die deugdes wat daarmee saamgaan: matigheid, kuisheid, vrygewigheid, ens.) is inderdaad stappe in die regte rigting
  • Ek wil iets hieroor opstel – wou al lank ‘n kursus maak soos Sewe Kleure Euwels of so iets – maar sal (1) die lys moderniseer, (2) die hoogtepunt (by “trots” – die sondes loop van lig na erg) na die “ekkigheid” (vlees) toe neem, wat hy snaaks genoeg nie doen nie, dis so wesenlik en (3) dit by die tema van “vestings” laat aansluit asook (4) die sin van die lewe en (5) les bes dit afsluit met die nuwe hart wat die Here ons gee en om daaruit te leef, want eie pogings om sondes te oorkom gaan nie werk nie.

Ja, ek hoop iets mooi kom hieruit.


Die Ring – Truida Heymann

Die Ring (Truida Heymann, Hemel en See, Vermont; 2002)

Ek het hierdie boek gelees as deel van my voorbereiding vir ‘n geestelike begeleidingsprogram wat ek iewers in volgende jaar wil opstel. Spiritual Direction is ‘n geestelike benadering wat nogal van Jungiaanse begrippe gebruik maak en ek het ‘n inleiding daarin gedoen en al heelwat gelees.  Ek het wel Jung in Sielkunde Honneurs gedoen, maar dit was laaank terug.  Jung werk met diep geestelike temas (t.s.v. die slegte beeld wat hy soms van evangelicals kry) en was ‘n soort-van-’n-gelowige (pa was ‘n predikant), maar hy het in sy tyd en konteks gewerk en ons is nie sielkundiges nie – ons is siele-herders.  Ons wil dit dus integreer met ‘n meer “Bybelse psigologie”, m.a.w. meer gebruik maak van die begrippe (bv. vlees en Gees) waarmee Paulus werk, die “kruis opneem” (ego kruisig) waarvan Jesus praat, ens.  Al hierdie temas is goed uitgewerk in die Christelike mistiek, as mens die werke van Andrew Murray, Watchmann Nee, ens. so kan beskryf.  Dit is egter algemeen en outyds geskryf, wat ek in gedagte het is al baie beter uiteengesit deur Dr Willem Nicol, maar ek wil dit ook programmaties aanbied – sommige sal sê dit is teen die hele aard van die spiritual direction, waarmee ek sal saamstem, maar ek soek steeds iets vir ons huidige konteks.  Spiritual direction is baie stadig en inderdaad diep, maar baie min het daarvoor tyd – dis soos geestelike psigo-analise.  Wat ek (ook vanuit my life coaching agtergrond) beoog is ‘n soort spiritual coaching – om iemand te begelei deur definitiewe temas waaruit hy gedwing word om geestelik en persoonlik (dit bly ‘n psigo-spirituele reis) dieper te gaan.  So ‘n ses maande (dit sal steeds ‘n intense proses wees wat tyd verg)  wat as kragtige katalisator sal dien vir sy verhouding met die Here en sy groei .  In elk geval – dit maar die agtergrond…  Wat Truida Heymann se boek betref:  sy deel oor die manlike en vroulike argetipes in die gees en die groei wat nodig is om by groter psigiese integrasie te kom.  Sy gebruik sprokies (ook modernes soos The Lord of the Rings) om aan te dui hoe diep hierdie argetipes vasgelê is in ons denke en kultuur.  Dis natuurlik ‘n suiwer sekulêre boek, maar die ooreenkomste en toepassings op die geestelike groei is veelvuldig.  Dit was ‘n joy om te lees – ek sien net ek moes eintlik haar eerste boek – DIE PAD NA HEELHEID – eerste gelees het en hoop om dit nog in die hande te kry.  Ek dink dis bietjie meer van toepassing op wat ek soek.  Dit lyk of dit oral uitverkoop is, kan iemand help?  Sal maar die skrywer of uitgewers self moet kontak.  Die voordeel van hierdie boeke lyk my is dat sy hierdie arcane en ingewikkelde goete in eenvoudige Afrikaans neerskryf sodat leke soos ek dit kan verstaan.  Ek is nie so seker hoe hierdie spesifieke tema gaan inpas in my program nie, maar ek het inderdaad weer ‘n waardering gekry vir:

  • die diep insigte rondom die werking van die onbewuste (alhoewel hierdie hele benadering tegnies so fyn onderskei dat dit later suiwer spekulasie is.  Ek dink oor die breë trekke kan mens saamstem.  Dit is bv. op hierdie spekulatiewe aspek dat die moderne hoofstroom sielkunde vir Jung verlaat het)
  • wat volwassenheid en persoonlike geestelike groei behels (alhoewel ons meer daarin sien as net hierdie – daar is bv. ook die verhouding tot God en die vergouding tot die wêreld ter sprake)
  • hoe die Here ons lei in ons geestelike groei – as ons net meer daarvan bewus sal raak en daarmee saam beweeg.  Wat Jung van drome, sinkronisiteit, God ens. sê is wat die Christene, ook van ons eie evangeliese tradisie, al lankal doen
  • ek moes natuurlik weer na my eie groei kyk en heelwat journalling doen oor my eie integrasie, skadu, verdediging, ens.

In breë trekke is ek eens met die tesis van hierdie boek en soos gesê, sal die eerste een nou wil lees.


Valuasie

Valuasie

Iewers in 2009

 

Die rafeling het seker lank begin

en eers so lig geskilf dat g’n kon sien

tot dit eintlik nou  te laat is.

Kyk hier, die meesterkering

(soos ons dit noem)

is uit sy matriks los –

die tekstuur begin reeds uit te klos

op plekke, hopeloos en onherstelbaar

(sien hier die deurgeskotenheid)

en kyk byvoorbeeld hier

die dowwe kolle: die kleur is weg,

dis feitlik leweloos,

die kuns totaal verlore -

dis net die beeld van wat dit was.

So dis regtig jammer,

‘n tragiese verlies,

die wesenlike waarde weg.

Aanvaar dit maar, bewaar

wat kan want

geen vakman sal vir jou kan red nie.


Rx 20min qd

Rx 20min qd

gaan sit by die see

gaan gee jou oor

aan sy gedruis

en hóór:

daar is min

wat sy geraas

nie sal genees nie

Tegniese nota:
die oomblik dat die meester kortikale beheer 25%
minder stroom vra (dit kan wissel)
en die G-RAS(t) [gekombineerde RAS telling]
na die derde pieng steeds onder 0.35 is
word alle bewerkingsvlakke bevorder met 1
en as die AB(f) [aktiewe bewussynfaktor] vir nog 100
sekondes of so negatief bly, moet talamiese beheer
noodwendig die surplus na subliminale prosesse roeteer:
die aansienlike besparing word gebruik
om die mees beheerde banke te herskemetiseer
(gewoonlik reekse gemerk ZZA – ZZZ)
– sowel as om die affektiewe vektore aan te pas
by die huidige meer geïntegreerde eméme –
die verminderde beheerlading op hierdie banke
bring ‘n energie-surplus teweeg wat kortikaal
(en elders) beskikbaar gestel kan word –
‘n wen-wen dus, as die proses maar net begin is

Jim Seybert – Leadership RE:Vision

Jim Seybert – Leadership RE:Vision (Tyndale, 2009)

As jy klaar is met Maxwell (en ek het alles gelees en aangebied wat hy doen) soek jy iets anders/meer oor leierskap.  Moenie ‘n fout maak nie, ek dink Maxwell lê die fondasie goed en elke Leadership 101 sal na hom verwys.  Dit gesê, ek dink Maxwell is nog in die ou skool van leiers wat tog maar glo leierskap is “groot” leierskap, dit wat “dinamiese” leiers doen.  Kom ons wees eerlik – sulke “sterk” leiers lees nie eintlik boeke oor leierskap nie: die krag van hulle hoë D persoonlikheid is vir hulle genoeg.  Ja, ek dink dis die “mindere” leiers onder ons wat boeke lees om “beter leiers” te wees.  Die konsep van leierskap het egter tereg uitgebrei na al die ander mense se leierspotensiaal ook – “tereg” want die wêreld is op ‘n koers weg van “groot” leierskap as dit enigsens monolities, monopolisties of manipulerend is.  Leierskap is op pad na insluitende en fasiliterende leierskap.  In elk geval, sonder leierskap sal niks gebeur nie (soos Maxwell sê) en daarom sal leierskap ‘n tema bly.  Ek het gedink Seybert gaan verby die bg. tradisionele leierskapgoed, en hy probeer.  Hy spreek praktiese issues oor leierskap aan.  Hy probeer tradisionele praktyke ondergrawe, wat sin maak op ‘n post moderne manier.  Maar hy val ook in dieselfde strik as Maxwell deur regtig obvious goed te lys – en van sy “ondermynende” gedagtes is in elk geval al die nuwe norm, sou ek sê, by groot organisasies.   Onthou my tog dat ek in ‘n kursus oor leierskap nie op vanselfsprekende goed dwell nie (en ek is besig om voor te berei vir so ‘n kursus, dis hoekom ek die boek lees).  Ek sal sy dertig kort hoofstukke net so in een sin of twee opsom op my eie manier:

#1 Moenie tyd mors nie – as ouens nie agter die visie inval nie, kan hulle nie langer deel van die span wees nie.  Dis beter dat hulle aanbeweeg (vra hulle mooi) as dat hulle aanhou dwarstrek.

#2 Die kliënt is nie altyd reg nie – onbeskofte en onredelike mense hoef nie gepamperlang te word nie.  Stap die pad eerlik so ver as moontlik saam met hulle, en trek dan ‘n streep.  Genoeg is genoeg.

#3 Moenie suinig wees met jou mense nie – Christelike organisasies betaal dikwels die swakste omdat dit “oor die Here gaan” en verarm hulle werkers.  Wat ‘n swak getuienis – wees net redelik!

#4 Moenie jou mense oorwerk nie – in vandag se tye van besnoeiings moet drie mense vyf mense se werk doen, en hulle self gelukkig ag.  Beter tydsbestuur gaan nie help nie – wees net redelik!

#5 Almal maak foute – hulle gaan foute maak en hulle gaan dit of wegsteek (soos Adam en Eva) of vertroue hê om daarmee te deel.  Wees goed met jou contingency plans, maar onthou die mens kom voor die wins.

#6 Sê duidelik wat jy wil hê – as jy nie, gaan hulle doen wat HULLE wil hê, en dit gaan JOU skuld wees.  Sommige raas net oor dit wat hulle NIE wil hê – dit is eintlik swak leierskap.  Wat is die doel?

#7 Betaal die prys of los dit – soms wil ons so hard onderhandel dat daar vir die verkoper niks meer in is nie.  Betaal ‘n redelike prys – onthou, mens is altyd die belangrikste item in die vergelyking.

#8 Dra gesag oor – dikwels delegeer ons take, maar sonder ‘n duidelike mandaat of outoriteit.  As jy delegeer, delegeer ‘n duidelike outonomie of los dit as jy hom nie vertrou nie.  Bemagtig mense.

#9 Sê die slegte nuus – om mense te laat verstaan alles is reg, net om hulle later te fire omdat hulle dit nie maak nie, is bedrieglik.  Kry ‘n manier om dood-eerlik en steeds aanvaardend te wees.

#10 Pas op vir die “Paradoks van Sukses” – as iets in die verlede gewerk het, is dit geen waarborg dat jy nou ‘n kenner is, of dat dit weer gaan werk nie.  Bly oop, bly “onkundig” en vra aanhoudend goeie vrae: bv. “presies waarom doen ons nie beter nie?”

#11 Moenie net veilig speel nie – as jy net hou by wat laas jaar gewerk het, gaan jy nooit groei nie.  Alle leierskap behels die neem van risikos – ons noem dit geloof.

#12 Leierskap is oor die toekoms – “vergeet” die verlede, behalwe as jy foute wil vermy.  Stel goeie  bestuurders aan vir die hede, maar moenie vasklou nie – leierskap gaan oor verandering.

#13 Verstaan wie jy is – ja, dit gaan oor JOU in die sin dat jy ‘n unieke mens en leier is en as jy nie jouself verstaan nie, gaan jy nooit meer JY word en God se doel bereik nie.  Kom in kontak met jouself.

#14 Bestuur jou beeld – d.w.s. die beeld van die organisasie.  Ongelukkig, in vandag se wêreld van informasie, moet daar konstante kommunikasie wees, en ‘n konstante stroom goeie nuus.

#15 Staan in die kollig – moenie hoogmoedig of magsugtig raak nie, maar as mense jou nie kan sien lei, gaan hulle nie volg nie.  Wees DAAR, wees VOOR hulle – wees hulle leier.

#16 Aanvaar die verskille – ons moet leer dat ons gaan verskil, en ons moet verskille verwelkom.  Wees sterk genoeg daarvoor – incestuous amplification is waar ons al hoe meer dieselfde taal praat en mekaar warm vryf met hoe reg ons eintlik is.  ‘n Ander standpunt is dikwels die broodnodige korrektief.

#17 Moenie probeer wen nie – baie faktore is te buite jou beheer om nommer een te wees in jou veld.  Wees eenvoudig eerder uitstekend in alles wat jy doen, en laat jy kom waar jy wil.

#18 Moenie te vinnig groei nie – om kompeterend te wees beteken nie om alles te doen wat ander doen nie, of om bloot groot te probeer wees nie.  Moenie elke geleentheid aangryp nie.  Hou jou energievloei dop, jou volhoubaarheid.

#19 Eet saam met die mense – ja, Seybert bedoel die leiers en bestuurders moet meer dikwels saam met die werkers eet.  Dit bou vertroue en jy sal baie dinge leer oor jou organisasie.

#20 Droom drome – ons is dikwels net in die kei-harde wêreld van feite. Alles gaan egter oor innovasie en ons moet luister na diegene wat sê “Ek het ‘n wilde idee…” of “Kan ek iets heeltemaal anders voorstel?”

#21 Aanvaar die foute – die belangrikste oor foute is om die verhouding te behou en daaruit te leer.  Foute wys op swak plekke in die sisteem.  Hoe jy ‘n fout hanteer, sê baie oor jou volwassenheid.  Beskerm veral jou jong leiers en lei hulle reg.

#22 Neem ‘n breek en rus – alle leiers moet gereeld wegkom en ook vir hulle werkers dieselfde geleentheid gee.  Covey se Kwadrant II ens.  Herstel, slyp die byl, ens.

#23 Kry ‘n goeie nommer 2 – dit gaan nie hier oor ‘n mentorling nie, maar oor ‘n chief of staff – jou uitvoerder, die een wat jou op hoogte hou, wat saam met jou reis, wat jou komplementeer, ja – wat dalk in opleiding is, maar nie jou kompetisie nie. Moenie ‘n lone ranger wees nie.

#24 Speel skaak, nie dambord nie – mik vir die langtermyn, nie die korttermyn nie.  Daar moet short term gains wees, maar nie quick fixes, wat nie volhoubaar is nie. Mik om te build, nie net te bless nie (McClung)

#25 Volg JOU leier – en dit beteken die Here – bly in kontak oor jou taak, dit is immers jou roeping

#26 Laat hulle lag en sing – dis bewys dat mense wat die werkplek geniet meer produktief is.  Dit moet dus standaard wees om sosiale dinge te reël, of om die reëls te verslap sodat mense net meer ontspanne is by die werk en dit geniet.

#27 Wees net meer vrygewig – geld, tyd, bonusse – sulke goed.  Moenie hulle doodmaak met jou strengheid nie.

#28 Staan by jou waardes – besluit watter waardes is ononderhandelbaar.  Bly ‘n waarde-gedrewe organisasie – om ‘n bietjie meer markaandeel te bekom en jou unieke voorsprong prys te gee maak of jou niche te verloor nie noodwendig sin nie.

#29 Bly in jou gawes – as jy in jou kragte bly, kan jy soos ‘n arend opstyg.

#30 Op watter terrein het God onlangs jou denke verander?   God doen konstant nuwe dinge, en Hy inspireer ons konstant tot nuwe dinge – kyk maar in die Bybel vir die nuwe en verbasende dinge wat Hy onder sy mense gewerk het.

 


Hands & Fehr – Spiritual Wholeness for Clergy

Hands, Donald R & Fehr, Wayne L: Spiritual Wholeness for Clergy (Alban Institute, 1994)

Ek het hierdie boek al jare gelede deurgegaan, maar moes hom onlangs weer deurlees vir ‘n student wat hieruit ‘n werkopdrag ingelewer het. Dis asof ek dit weer nuut gelees het en ek is absoluut beïndruk. Trouens, dit is vir my ‘n bestiering, omdat dit ‘n goeie bydrae maak vir die geestelike begeleiding-program (spiritual coaching) wat ek aan werk vir leraars, maak ook elkeen wat na heelheid soek in sy lewe. Ek wil die program ‘n opvolg maak van ons huidige “Innerlike Heling”. Hands & Feher se boek gaan oor leraars wat uitgebrand is en wat weer in kontak gebring moet word, met hulle self, God en ander. Hands & Fehr se value-add is die sinvolle etiologie wat hulle verskaf (die proses van deformasie) , asook ‘n tipe circumplex-model waarmee hulle werk. Ek kan van hulle gedagtes gebruik, maar sal dit moet uitbrei na vier dimensies (waarmee ek werk), nie net hulle drie nie, en dan dit oor die boeg gooi van heelheid (soos ek in die eerste kursus reeds gedoen het), nie net intimiteit nie.  Goeie, deeglike boek.  Al Alban se goed is goed (www.alban.org).


Robert E Webber – Ancient-Future Time

Robert E Webber: Ancient-Future Time (Baker, 2004)

Webber skryf ‘n boek oor die sg. Christelike Jaar, ‘n regula wat vir my meer en meer beteken soos my lewe aangaan.  Dit orden my lewe en my aanbidding en verplig my om alles te dek, nie net my gunsteling temas nie.  Dit gee my die geleentheid om jaar vir jaar deur Christus se werk te gaan en bied geleenthede vir vas en fees.  In ons evangeliese en charismatiese tradisies (ja, dis tradisie en ons klou vreeslik daaraan) ken ons dit net skraps – hou net by Kersfees, Paasfees en Pinkster, maar daar is meer.  Soos die postmoderne mens terugloop op sy wortels ontdek hy weer hierdie gebruike, wat steeds deur die grootste deel van die kerk gevier word.  Die mens van vandag wil wegbeweeg van ‘n serebrale, rasionale geloof en wil beleef, wil doen.  Twee strome uit die tradisionele kerk bestaan dus (selfs in die tradisionele kerk): die charismatiese en die kontemplatiewe.  Elkeen is nodig want dit verskil en vandag se mens se geloof is soos die huisheer wat uit sy skatkis ou en nuwe haal. Mense voeg by hulle geloofsbeoefening wat vir hulle sinvol is en iets unieks ontwikkel. Ja, die gevaar is uiterlikheid en formalisme – m.a.w. as ek deur die motions gaan as my hart nie daarin is nie, as ek dink dat dit al is wat nodig is.  As daar geen verhouding is nie.  Nee, daar moet ‘n diep persoonlike verhouding met God wees, maar elke inhoud het tog reeds ‘n vorm, hierdie een is net ‘n vorm wat na die eeue (dis eeue-oud) ons steeds sinvol lei en doelgerig wys op Hom waaroor alles gaan.  Webber gaan deur die hele Christelike jaar in sy boek (en elke deel het sy klem en temas), en ek het nogal deeglik daardeur gegaan, maar hou dit vir verwysing – dis so ‘n tipe boek.  Vir die wat belangstel, gee ek eerder ‘n oorsig oor die Christelike Kalender:

DIE EERSTE DEEL GAAN OOR DIE LEWENSLOOP VAN JESUS

1. Advent – die jaar begin met die vierde Sondag voor Kersfees, waarin ons die koms van Here verwag (en ook die wederkoms);

2. Kersfees is die 12 dae tussen 25 Desember en 5 Januarie en celebrate die geboorte van die Here – ook in ons moet Hy gebore word;

3. Epifanie op die 6de Januarie is die Oosterse Kerk se Kersfees, en in die Weste gaan dit oor sy verskyning in meer algemene terme: dit gaan oor sy aanbidding deur die drie wyse manne, sy doop en die begin van sy bediening.  Die roep van sy dissipels, sy wonders.  Dit gaan daaroor dat God in Jesus die aarde besoek en hoe ek daarvan deel is. Epifanie is die dag, maar die Tyd na Epifanie is die 6 tot 9 weke daarna afhangende van waar Paasfees in die jaar lê;

4. “Aswoensdag” is die sewende Woensdag voor Paasfees. Aswoensdag is die begin van die “Vaste” (Lent) of wat in ons kerke “Lydenstyd” genoem word – ‘n 40 dae (Sondae uitgesluit) tyd van vas, belydenis en barmhartigheid.  Die tema is Jesus se verwerping en lyding en wat dit vir ons beteken.  Die Vaste loop uit op “Lydensweek” of “Heilige Week” – die laaste week van die Here, wat ingelui word deur Palmsondag.  Dit is ‘n spesiale week vol betekenis en loop op na Goeie Vrydag en sg Stil Saterdag;

5. Paasfees, die opstanding van die Here is ‘n groot fees en lui die Paastyd in – die 40 dae waarin Jesus verskyn het tot op Hemelvaart.  Die temas is oorwinning (ook oor die Bose), nuwe lewe en die Here se intrede vir ons by die Vader.  Paasfees terloops is op die eerste Sondag na die eerste volmaan na die lente-ewening (in die Noordelike Halfrond).  Dit is steeds naby die Joodse Pasga, waar dit alles begin het.  Die verskil kom in by die gebruik van verskillende kalenders, Pasga is op die 15de Nissan (wat begin die aand van die 14de).  Ons gebruik die sg. Gregoriaanse kalender.

6. Tradisioneel loop Paastyd tot op Pinkster, maar in Suid-Afrika is daar tradisioneel Pinksterdienste (d.w.s. ‘n aparte Pinkstertyd) in die 10 dae van Hemelvaart tot Pinstersondag – dit gaan oor die Heilige Gees: sy krag, sy vervulling, bekering, ens.  Pinkstersondag is die 50ste dag na Paasfees.

DIE TWEEDE DEEL GAAN OOR DIE NALATENSKAP VAN JESUS

7. Na Pinkstersondag is dit Koninkrykstyd of wat die ou kerke noem “Ordinary Time” – tot en met Advent, m.a.w. omtrent ses maande.  Hierdie tyd vloei uit die vorige: Jesus het opgevaar, die Gees is uitgestort en die kerk moet aangaan met sy werk.  Dit gaan oor proklamasie en bediening, oor die koninkryk. Ons preek oor Jesus se lering en wat dit vir ons beteken.  Ons leef as Christene in die wêreld.  Die eerste Sondag in hierdie tyd (na Pinskter) is “Trinitatis” (Drie-Eenheid) en die laaste een is “Christus die Koning”, net voor Advent, wanneer alles weer begin. Hervormingsdag is op 31 Oktober, wat ons herinner dat hervorming inderdaad nodig was, en steeds is…


Follow

Get every new post delivered to your Inbox.